Die ANC is die nuwe koloniste

helen-zille4

Argieffoto.

Die debat oor kolonialisme wat opnuut deur premier Helen Zille se stelling ontketen is, verswyg ʼn uiters belangrike vorm van kolonialisme, en dit is die wydverspreide voortsetting van kolonialisme wat byna orals ná onafhanklikheid in Afrika voorgekom het. Die skadu van hierdie spesiale vorm van kolonialisme hang nou ook swaar oor Suid-Afrika.

Die ANC se amptelike siening is dat witmense in Suid-Afrika “koloniste van ʼn spesiale soort” was. Daarmee het hulle bedoel dat ons nie koloniste soos die Portugese en Engelse was wat weer na die moederland kon teruggaan nie, maar dat ons nietemin swartmense gekoloniseer het.

Oor hierdie siening kan ʼn mens baie redeneer, maar dis nie die doel van hierdie artikel nie. Die vraag is of die ANC nie dalk geword het waarteen hulle geveg het nie, naamlik “Spesiale Soort Koloniste” wat ander gemeenskappe oorheers.

Dis geen vreemde verskynsel dat die “bevryders” self oorheersers word nie. In talle Afrikakolonies het diegene wat teen die koloniale moondhede in opstand gekom het ná onafhanklikheid hulle politieke mag gebruik om die minderheidsgroepe te oorheers. Dit was dus ʼn swaai vanaf “eksterne kolonisme” na “interne” kolonisasie.

Die meerderheidsgroep het die politieke mag wat hulle vanweë hulle etniese of rassemeerderheid gekry het, misbruik om minderheidsgroepe te verdruk. Hierdie verdrukking het talle vorme aangeneem, wat gewissel het vanaf “sagter” vorme van verdrukking soos uitsluiting van besluitneming oor sake wat hulle raak tot uiterste vorme soos uitdrywing of selfs uitwissing.

Demokrasie versus vryheid

Tussen hierdie twee pole het daar baie ander vorme van oorheersing voorgekom. Die Westerse aanname dat demokrasie orals tot vryheid sou lei, is in Afrika gereeld verkeerd bewys. Daarom het meerderheidsregering gou in die meeste Afrikastate oorgegaan na meerderheidsoorheersing. Die regerende groep het die staat gekaap om vir hulle mense werk te gee, die belastinggeld vir hulle kiesers te gebruik, ekonomiese voordele vir hulle groep in te stem, of om minderheidsgroepe se belange te benadeel.

In Suid-Afrika gebeur dit byvoorbeeld dat die ANC die grondwetlike voorsiening vir “gelykheid” al in 1997 by sy Mafikeng-kongres met die aanvaarding van sy Transformasiebeleid verander het in “verteenwoordigendheid”. Dit het gebeur net ná die “finale” Grondwet van 1996, wat beteken dat hulle met hierdie politieke besluit al die betekenis van die Grondwet net ʼn jaar ná die inwerkingstelling daarvan verander het!

Die doel van “verteenwoordigendheid” is dat alles in die land die bevolkingsamestelling moet weerspieël, volgens die rasformule van 80% swart, 8% wit, 8% bruin en 2% Indiër. Daarmee wou hulle verseker dat alle instellings onder swart en ANC-beheer moet wees. Daarmee saam gebruik hulle hul meerderheidsmag om minderheidsgroepe soos Afrikaners se instellings, onder meer skole en universiteite, oor te vat (koloniseer?), ons taal uit te skuif en ons geskiedenis te kriminaliseer.

Politieke uitwissing

Die bekende Harvard politieke wetenskaplike, prof. Samuel Huntington, het hierdie verskynsel treffend beskryf. Huntington voer aan dat terwyl nie-Westerse gemeenskappe ondergeskik aan hul Westerse heersers was, hulle Westerse waardes gebruik het om hul teenstand teen Westerse oorheersing te regverdig. Daarom het hulle aangedring op Westerse waardes soos politieke bevryding, demokrasie, menseregte en die verwerping van diskriminasie. Nadat hulle egter vryheid en politieke mag verkry het, het hulle nie gehuiwer om daardie selfde Westerse waardes, wat hulle gebruik het om mag te bekom, te verwerp nie.

Die rewolusie teen die Weste was eers geregverdig deur die gebruik van Westerse waardes as politieke “wapens” om bevryding te bewerkstellig. Nadat hulle dus demokraties aan die bewind gekom het, het hulle die demokrasie gaandeweg uitgehol en al meer outokraties opgetree. Staatshoofde het begin inmeng met die vryheid van die media, die howe, opposisiepartye, staatsinstellings soos die openbare beskermer, en kultuurgroepe, en hulle nie gesteur aan die normale demokratiese wigte en teenwigte nie. Die formele demokratiese vorme en instellings soos die parlement is behou, maar dit was eerder forums wat gebruik is om hul oorheersing te vestig en te regverdig as wat dit ʼn uitstalvenster vir demokrasie was.

Demokratiese vryheid

Die wese van demokrasie gaan oor vryheid, nie oor die meerderheid nie. Natuurlik voldoen Suid-Afrika nog aan die formele vereistes vir demokrasie, soos gereelde verkiesings, ‘n veelpartystelsel, onafhanklike howe, en ʼn vrye media. Maar demokrasie gaan oor veel meer as dit, en dis hoekom die Economist en Freedom House die land reeds as ʼn gebrekkige demokrasie beskryf. Die staat se inmenging in die vryheid van wit en bruin werknemers om vrylik beroepe te kies, staatsinmenging in die ekonomie en maatskappye se vryheid, eiendomsreg, universiteite, kultuurgroepe, skole, die SABC, die groeiende druk op die howe en die ANC se projek om alle “magshefbome” te beheer wys hoe sterk die druk op vryheid is.

Die Amerikaanse staatsman Henry Kissinger het hierdie probleem raakgesien en goed opgesom: “In die Weste het demokrasie ontwikkel uit homogene samelewings. Daar was nie institusionele versperrings vir ʼn minderheid om ʼn meerderheid te word nie. In die Weste is verkiesingsneerlae gesien as ʼn tydelike terugslag wat weer omgekeer kan word. Maar in multi-etniese lande beteken minderheidstatus gereeld permanente diskriminasie en die risiko van politieke uitwissing.”

Demokratiese oorheersing

Dit is interessant dat die ANC nie meer huiwer om sy doelwitte van rasse-oorheersing te verberg met sy beleid van “Afrikaan-oorheersing” nie. Hulle streef onbeskaamd na transformasie in die vorm van demografiese verteenwoordigendheid, met die uitgesproke doel om elke “magshefboom” in die land te beheer – alles in die naam van demokrasie en die stryd teen “rassisme”.

Die beste antwoord hierop is gegee deur die Belgies-Amerikaanse politieke wetenskaplike, Pierre Vanderberghe, oor die verskil tussen ʼn gewone en ʼn rassedemokrasie:

“If your constituency has the good fortune to contain a demographic majority, racism can easily be disguised as democracy. A racially-defined majority is a far cry of a majority made up of shifting coalitions of individuals on the basis of a commonality of beliefs and interests.”

ANC-kolonisasie

Die ANC misbruik die demokrasie in Suid-Afrika deur oor elke aspek van minderheidsgroepe se lewens te besluit, ongeag die gevolge vir ons grondliggende belange. Dit is nie demokratiese vryheid nie, maar meerderheidsoorheersing. In die praktyk het hulle geword waarteen hulle geveg het: Spesiale Soort Koloniste. Wit minderheidsoorheersing in die vorm van kolonialisme en apartheid is verby, maar die ANC sit volgens die patroon van soveel post-koloniale Afrikalande sy eie vorm van kolonisasie voort.

Daarom moet die “dekoloniseringsprojek” en transformasie as “verteenwoordigendheid” gesien word vir wat dit is: ʼn spesiale soort kolonisasieveldtog om die land en al sy instellings te koloniseer.

Kolonisasie in enige vorm kan nooit geregverdig word nie, ongeag die “voordele” wat dit vir die onderdruktes sou meebring. Ons land se “demografiese demokrasie” beteken volgens die ANC dat minderheidsgroepe se persoonlike regte oorheers word deur dié van die meerderheid se persoonlike regte. Maar die erkenning van kulturele gemeenskapsregte is die voorwaarde vir die gelyke beoefening van individuele regte. Sonder hierdie kulturele vryheid is ons demokrasie net vryheid vir die demografiese meerderheid. Dis tog nie demokraties as die ANC selfs met net 51% van die stemme 100% van die mag oor feitlik alles in die land het nie.

Daarom streef die Solidariteit Beweging as eietydse Helpmekaar-beweging vir grondwetlike selfstandigheid en kulturele vryheid. Afrikaners is net soveel geregtig op vryheid as enige ander persoon of gemeenskap in die wêreld.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Jean ·

So vreemd dat die ANC nou wil land en eiendom afvat, maar destyds toe die ‘kolonialiste’ volgens hulle dit gedoen het was dit verkeerd. Die Blankes wat tans eiendom besit, het dit NIE verniet gekry nie, nerens nie, nie die huise, of plase of besighede nie. Hoekom moet dit NOU afgevat word en geen vergoeding aangebied word nie? Dit lyk ook nie asof die ANC die begrip EIENAARSKAP verstaan nie. Baie van die mense wat claim hulle is van hulle grond verwyder, het hulle KAART EN TRANSPORT gehad van die eindom, of het hulle die eiendom besit omdat hulle daar GEPLAK het? Ongelukkig kan iemand wat 200 jaar gelede op ‘n plek geplak het en hy intussen al deur honderde eienaars se hande was, nie dit NOU verniet kry nie of hoe? Hoekom verdeel die regering nie eers die REGERINGSGROND en plase wat onbewerk le nie, hoekom target hulle altyd die STERK plase wat goed bewerk is en ‘n goeie inkomste lewer? Niks hou vir ewig nie, na een of twee jaar is daardie plase ook niks werd nie, het die ANC NIKS geleer uit ZIMBABWE en al die ander Afrikalande nie?

Rynhardt ·

Flip Buys, hoekom brandmerk u die Anc nou as die nuwe kolonialiste? Ek bedoel, u het altyd gaan onderhandel met die Anc en dan kom die Afrikaner tweede en derde, soos gewoonlik.Flip, hoekom nou die ommeswaai? Dit bring my by die volgende.Hoekom tree Afrukabers nog steeds in die bres vir die liberaal, Helen Zille? Ek het Zille en haar DA vir jare aangevat oor haar regstellende aksie, grondonteiening teen die Afrikaner asook dat haar party gekant is teen florerende Afeikaanse skole.Sy en DA weier om vir ons mense op te staa.Haar huidige student, Maimane vaar uit teen wittes.Die punt us, waarom kom Afrikaners op vir liberale wat teen ons is? Kan enige iemand of selfs van maroela se mense dit vir my verduidelik asseblief? As n wit Anc vrou more ook die trekpas kry oor kolonialisme, gaan ons Afrikaners ook in die bres tree vir hierdie wit Anc vrou, al het sy nog nooit vir ons opgestaan nie, maar sy het wel diskriminerende wetgewing teen ons geondersteun?Afrikaners, ek verstaan dit nie, hoekom tree ons in die bres vir ons vyande?? Ek vra weer, hoekom??

Hendrik ·

Beteken dit as die Solidariteits Beweging grondwetlike selfstandigheid en kulterele vryheid ondersteun dat hulle selfbeskikking vir die Afrikaner ondersteun? As dit so is dan moet ons dit nou volspoed doen want die tydloop leeg….

Boerseun ·

Hendrik. Dis nou juis Soliforum so probleem. Hulle is nog van opinie die grondwet is die redder van als. Daar het van die VN ook geen lawaai gekom na hulle voorlegging oor rassisme.

Skim ·

HOEKOM het Zille JAMMER gevra? Dit is die grootste probleem die EFF en ANC bly by hulle standpunt en die eerste kritiek wat Zille kry, back sy off. Die ANC en EFF se net altyd hulle is uit konteks aangehaal, soos presies hier gebeur het en verder gebeur daar niks nie. NEE WAT die Black Sash tannie se stert het nou lekker slae gekry deur die lat wat sy vir haarself gepluk het. Dit is jou LOJALE ondersteuners Zille, dit is die stemme waarna jy al die jare gevry het , KRY VIR JOU!!

Stephan ·

Dankie Flip. Dis so n insiggewende artikel oor die staatshuishouding in n multi kulturele land dat n mens dit amper as n “grondwet” vir besinning oor die onderwerp kan beskou. Mag ook hd gedagtes erens op papier vasgele word.

Wesley Coetzee ·

Hier is nou iets wat my uitsiening oor dinge werklik verryk het. Dankie Flip. Ek stem soms nie saam met jy en jou mense se siening oor dinge nie, maar oplossings en goeie denke kom ook van die wat jy nie dalk om dieslefde vuur mee sit nie.

Ek is n baie, ek hou glad nie van die “label” nie, maar liberale mens wat regte wil sien tot alle kante toe, nie net eensydige voortgaan van een tipe of ras mens nie. Ek glo nie als is n “racist conspiracy” nie, waar ek glo baie mense sien net ras en kleur in elke situasie, maar wanneer groepe magtige mense bymekaar kom en beleid voort sit wat net een of die ander groep bevoordeel word, is dit n probleem.

Ons as Afrikaners het dieselfde fout begaan in die verlede en ons kinders gaan nog baie hard klippe moet kou daaroor. Mag hierdie nuwe ANC “kolonialisme” n vinnig dood vrek sodat daar nie verder probleme veroorsaak word vir ons nageslag om mee te sit nie.

dirk ·

Uitstekende stuk mnr Buys. Die ANC het inderdaad met hul 80-8-8-2 veral die mense van die kaap vervreem en marginaliseer. n Mens se enigste redding is ‘n vaste werk in die vorm van n besigheid van een of ander aard. Of as ‘n gekontrakteerde konsultant

Cathy Kotze ·

Daar is een ding wat ek gladnie kleinkry nie.

Volgens Afrikane kan niks vergelyk met hulle ellende onder sogenaamde kolonisasie nie.

Waarom vlug duisende van hulle tans uit hulle “bevryde” Afrika na Europa, die TUISTE van die koloniste?

Henry ·

Sedert die Europese moondhede hul koloniale besittinge in Subsahara Afrika aan die onderskeie plaaslike bevolkings oorhandig het, het die meerderheid van daardie state na 60 jaar van “onafhanklikheid”, steeds geen vordering gemaak na ‘n meer welvarende, regverdige en/of demokratiese bedeling nie. Met die uitsondering van enkele state wat deur klein bevolkingsgetalle en groot grondgebied gekenmerk word, soos Botswana en Namibië, het die res gewoon agteruit geboer. Om dit sagkens en polities korrek te stel.

Bestaan daar enige hoop dat hierdie droewe land ‘n uitsondering op die reël gaan wees?

Solank as wat daar meer as 50 miljoen ondersteuners is, wat op onbeheerste wyse vermeerder, sal die bykans 4 miljoen wittes wat hier woon, vir lief moet neem met die feit dat ons behoeftes ondergeskik gestel sal word aan die behoeftes van die 50 miljoen. Is maar hoe dit is.

Selfregeringsdrome en ‘n eie “afsonderlike” Utopia sal die pypdroom bly van siele wat in die verlede tyd leef en nie die harde en woeste waarhede van hierdie vasteland wil erken, of herken nie.

Tensy die huidige regime iewers vorentoe ‘n ander weg inslaan as die res van hul makkers in Subsahara Afrika; wat voormalige kolonies in bedelaarstate ge-transformeer het; ge-BBBE; ge-kwota en ge-watookal het; sal hierdie droewe land wat soveel belofte ingehou het; gewoon in nog een van Afrika se gruverhale omskep word.

Intussen steun my huis en ek vir Afriforum en Solidariteit, wat vir ons en talle van ons pelle, die enigste positiewe en uitvoerbare moontlikhede bied.

;-)

JC ·

Baie dankie Flip, uitstekende artikel. Afrikaners en Solidariteit/Afriforum gaan nog ‘n LAAAANG pad stap, no thanks aan die ANC karnallies. Ons het hulle BESLIS NIE NODIG NIE!! Die tragiese en ongelukkige realiteit is dat die ANC nog veel meer swartmense onderdruk as Afrikaners/ander blankes, deur hul korrupsie en onbevoegdheid. Wanner gaan kiesers wakker skrik en hulle los? En die cANCer moet ophou praat van Afrikane asof dit sinoniem is met swart Afrikane. Ek is ook ‘n Afrikaan en blank en Afrikaans!! Wafferse ideologiste/koloniste, hoe minder jy jou steur aan hul belaglike en siek praatjies hoe beter dink ek vir jou geestestoestand! ;-)

John ·

Die eerste blankes aan die Kaap het die halfwegstasie bloot uitgebou. Toe Brittanje die Kaap geannekseer het, het hulle na die Kaap as een van hul kolonies verwys, nie die Franse Hugenote nie. Zuma het aanvanklik gese die Boere/Afrikaners is die enigste wit stam in Afrika. Hoekom nou die ommekeer?

leon - Centurion ·

Dankie Flip, uitstekende artikel! Ek is bly jy beklemtoon die 1997 Anc Mafikeng-kongres. Die Anc het van die begin af duidelik laat blyk dat die onderhandelde skikking en die Grondwet bloot deel was van ‘n dinamiese proses met rasse-oorheersing as eind doel. Die meerderheid blankes, al die “slim” NP onderhandelaars en die grondwetskrywers is deur die Anc om die bos gely. Ek, tot my skaamte ook.

Die Anc en Eff steek nie meer hul afkeur aan die onderhandelde skikking en selfs die grondwet weg nie. Die blanke en veral die Afrikaner word meer en meer geteiken. Universiteite, skole, grond en die werkplek. Rowwe tye kom!

Enersyds moet elke regdenkende Afrikaner die Solidariteit beweging ondersteun. Maar ek voel daar is behoefte aan ‘n demokratiesverkose liggaam, komplimenterend tot Solidariteit, wat nog meer agressief op die politieke terrein die Afrikaner kan verteenwoordig. Jammer aan die FF+ maar julle invloed is beperk binne die formele politieke bestel.

Henriette Jacobs ·

Weer eens weldeurdag en in die kol! Dankie vir jul onvermoeide ywer, doelgerigtheid en dat reg en geregtigheid jul prioriteit is. Bid daagliks vir julle en Afriforum.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.