Die ANC moet ʼn denkskuif maak

ANC-logo

ANC se logo op ‘n muur in Soweto, Johannesburg. Foto: Ben Sutherland/Flickr.com

Deur Jeannette Gnade

Baie is al gesê oor pres. Jacob Zuma se vernedering in Bloemfontein tydens Cosatu se Werkersdagvieringe. Hy is vooraf gewaarsku dat talle vakbonde wat by Cosatu geaffilieer is hom nie daar wil hê nie, maar die premier van die Vrystaat, Ace Magashule, het blykbaar die president gerusgestel dat hy met ope arms verwelkom sou word.

Dit het nie gebeur nie en die eerste keer in sy termyn moes mnr. Zuma die aftog blaas. Wat die voorval in ʼn vreemde en selfs simboliese lig plaas, is dat die ANC juis in die Waaihoek Wesleyaanse kerk net buite Bloemfontein in 1912 gestig is. Wie het ooit gedink dat die leier van die regerende party wat homself ewigheidswaarde toegeëien het, 105 jaar later so behandel sou word?

Boonop het die land se grootste biddiens – Dis tyd – ook pas buite die Rosestad plaasgevind. Dit is tyd dat die ANC homself in oënskou neem en eerlik oor sy ware identiteit besluit.

Die party se stigterslede het hoofsaaklik ʼn grondvisie gehad. Verskeie besoeke is aan Brittanje gebring omdat dié land die koloniale heerser in Suid-Afrika was. Die daaropvolgende ANC-leiers het ʼn soort burgerregte-organisasie bedryf wat alle voorregte en moontlikhede vir hulle eie ondersteuners wou opeis.

Daarna begin die vryheidstryd wat vanuit die buiteland gevoer is en toe begin die gewapende offensief. Nóg later beding die ANC vir ʼn demokrasie sonder om te besef dat ʼn demokratiese bestel na alle kante toe werk. Daar word ʼn Grondwet aanvaar wat eiendomsreg verskans en gelyke behandeling voorsien vir die land se uiteenlopende volksgroepe.

Nie lank nie, of die ANC word weer ʼn bevrydingsbeweging omdat hy nie aan die massa se eise kan voldoen nie. Terselfdertyd word sy stigters se grondvisie weer geïnkorporeer, behalwe dat dit nou deur middel van onteiening gedoen sal word. Die land se wit minderheid word andermaal verduiwel en as diewe, onderdrukkers en kapitaal-monopoliste voorgehou. Tans is dit die ANC se era van staatskaping, selfverryking, en grootskaalse magsmisbruik. Gevolglik is daar ʼn reuse-toename in die aantal mense wat onder die broodlyn moet lewe omdat al hulle vooruitsigte opgedroog het.

Dit is asof die ANC al sy beginsels en waardigheid verloor het.

Hoe meer die party se leiers daaroor vermaan word, hoe erger word die ondeursigtigheid en verontagsaming van vasgelegde reëls en regulasies. Hoe meer die ANC struikel en spartel, hoe meer word die skuld op buite-faktore en selfs die buiteland gepak.

Die African National Congress sal drasties moet herbesin of aanvaar dat sy rakleeftyd nader kom. Daar is ʼn nuwe land aan die opstaan.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Verwonderd ·

Die ANC het nog altyd ‘n ongeskrewe beleid gehad om soos die res van Afrika die grond geweldadig te vat. Die ooreenkomste van die vroeë 90s was slegs ‘n stap in die rigting. Dit word telkens herhaal in retroriek en tans probeer hulle dit deur sinnelose wette impliementeer. Dit word nou veral gedryf omdat die top bestuur in heel waarskynlikheid toe gesluit gaan word vir hulle vergryppe. Hulle hou die oë van hulle ondersteuners op die verlede, daar kan geen versoening of vooruitgang wees, sonder ‘n visie vir die toekoms nie. SA se probleem is groter as swak leierskap. Hopelik kan die burgers ‘n verskillende uitkoms afdwing.

John ·

Ek is ook verwonderd dat mense steeds glo die ANC is so ‘n voorbeeldige organisasie wat altyd net die goeie en die beste nagejaag het en nou weer na sy wonderlike ou waardes moet kan terugkeer. Al die leiers het altyd maar net eie belang vooropgestel en die miljarde wat deur die jare ge-in is het klokslag soos mis voor die Afrika-son verdwyn…

Nico K ·

Nee, die ANC se tyd is nie verby nie. Dat hulle moeg is vir Zuma en begin besef dat hy korrup is, is moontlik. Maar hul ondersteuners glo nog steeds aan die beginsel dat grond en rykdom herverdeel moet word. Veral op die platteland en onder die armes.

aP ·

mens kan aanvaar dat SA al hoe meer soos die res van afrika gaan lyk – Stedelik en plattelands. Dit gaan beteken dat die meeste mense in groot metropole sal woon soos nou, waar daar alreeds infrastruktuur is, en sal uit sy nate bars . Ook dat die plattelandse dorpies meer sal verval en als in onbruik verval. Gauteng, die Kaapse skiereiland en ‘n paar omringende dorpe in die Weskaap , soos ander groot metropole, sal bakens wees . Groot inkomstes uit toerisme sal begin platval en misdaad gaan toeneem soos mense meer verarm. Die regering het nie die agtergrond van die weste nie. Afrika floreer op chaos terwyl die weste ingestel is op dissipline en struktuur

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.