Die ANC oor grond, in hul eie woorde

dr-frans-cronje-sairr

Dr. Frans Cronjé. Foto: Youtube.com.

Deur Frans Cronje

President Jacob Zuma het op 9 Februarie in die parlement gepraat oor verandering van die Grondwet om sonder vergoeding beslag te lê op grond in privaat besit. ’n Paar weke later het die ANC in die parlement geweier om ’n EFF-voorstel te ondersteun om presies dit te doen. Daarna was daar heelwat redenering oor wat die ANC in die mou voer. Ek sal in hierdie artikel die ANC vir jou die antwoord laat gee – in hul eie woorde.

Kort ná mnr. Zuma se toespraak, op 10 Februarie, is die minister van grondsake, mnr. Gugile Nkwinti, waar hy op die trappe van die parlement gestaan het, deur Netwerk24 aangehaal toe hy gesê het: “Dit is uitstekend. Hierdie besluite kom van die opvolg-ANC-lekgotla. Dit is nie besluite van die president nie.”

Op 28 Februarie het die minister van binnelandse sake, mnr. Malusi Gigaba, in die aanlyn ANC-blad ANC Today geskryf dat “die radikale grondhervormingsbeleide van hierdie ANC-geleide regering … die grondloosheid en gebrek van die meerderheid sal beëindig”.

Nadat die ANC die EFF-mosie oor verandering van die Grondwet verwerp het, het City Press op 5 Maart die adjunkminister van staatsdiens en administrasie, Ayanda Dlodlo, soos volg aangehaal: “Die party se beswaar teen hierdie week se mosie in die parlement, wat deur die EFF ingestel is, het baie van ons ANC-lede verward en seergemaak gelaat … Ons het gevoel dat die party, deur hierdie mosie vir die aanpassing van die Grondwet se eiendomsklousule te verwerp, ’n geleentheid verkwis het.”

Ook op 5 Maart is die ANC se hoofsweep in die parlement, mnr. Jackson Mthembu (wat die EFF-mosie teengestaan het), deur News24 soos volg aangehaal: “Ons het nie die grondkwessie behoorlik gehanteer nie. Ons moenie sê dat die struikelblok met grondhervorming die Grondwet is wanneer ons nie eens artikel 25 getoets het nie … Ons het nie die idee om grond in die openbare belang te onteien en minimaal daarvoor te betaal getoets nie.”

Dit is die belangrikste aanhaling in die hele debat. Mnr. Mthembu se LP’s het nie ten gunste van eindomsreg teen die EFF-voorstel gestem nie. Inteendeel glo mnr. Mthembu dat grond binne perke van die Grondwet gevat kan word sonder om veel daarvoor te betaal. Landbou-ontleders is dus verkeerd om te sê dat die ANC in die parlement ten gunste van eiendomsreg en kommersiële landbou opgetree het.

Op 10 Maart is adjunkpresident Ramaphosa deur Business Day aangehaal waar hy gesê het: “Die aanpassing van die Grondwet is weliswaar ’n strategie … die inwerkingstelling van wat in die Grondwet is, is ’n ander strategie. Die ANC se verbintenis is diep en deeglik. Ons sal hierdie probleem oplos.”

Op 12 Maart is die ANC se beleidshoof, mnr. Enoch Godongwana, soos volg deur die Mail and Guardian aangehaal: “Die huidige (ANC-) beleid praat nie van onteiening sonder vergoeding nie … Wat in 2012 in Mangaung gesê is, is dat eiendom of grond wat wederregtelik geneem is aan onteiening sonder vergoeding onderworpe moet wees met behoorlike aandag aan artikel 25 van die Grondwet.” Die artikel gaan voort om ’n ander senior ANC-leier aan te haal wat gesê het dat alle grond wederregtelik verkry is.

Die Mail and Guardian het ook die leier van die ANC-jeugliga, mnr. Collen Maine, aangehaal waar hy gesê het: “Selfs indien die EFF ons politieke vyand is, sê ons oor die grondkwessie dieselfde ding en moes ons met hom saamgestem het. Daardie dag sal baie streng beoordeel word, want ons het die verkeerde besluit geneem.”

Ook in is president Zuma deur Reuters soos volg aangehaal: “Ons moet sterk maatreëls tref wat ons ekonomie, waarby grondeienaarskap inbegrepe is, baie vinnig sal transformeer … Ons is besig om (wette) aan te pas om vinniger grondhervorming moontlik te maak, waaronder grondonteiening sonder vergoeding waarvoor in die Grondwet voorsiening gemaak word.”

My vertolking van die aanhalings, veral dié van mnr. Mthembu aan Netwerk24 soos op 5 Maart geplaas, is dat daar binne die ANC geen werklike konflik oor grond bestaan nie. Die strydende partye stem dus wesenlik saam dat grond gevat en herversprei moet word terwyl die minimum moontlike vergoeding daarvoor betaal word.

  • Cronje is ʼn scenario-beplanner en hoof van die www.irr.org.za. Sy tweede boek, ’n Tydsreisigersgids vir Suid-Afrika in 2030 word in Mei vanjaar in Afrikaans deur Tafelberg-Uitgewers gepubliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Elize C ·

Skuus, ek verstaan die dinge nie so mooi nie….. as grond (onder die wette van die land op daardie tydstip) aangekoop en betaal is, nou net gevat kan word sonder vergoeding, wat gebeur met die (onteiende) eienaars? Word hulle net eenvoudig ‘n sekere tyd gegee om die plek te ontruim, en basta met waarheen nou? So moet HULLE nou maar langs die snelweg (en oral anders waar oop stukke grond is) ‘n sinkhuisie gaan opslaan? So hoe is die probleem nou opgelos? Hoekom kan mense wie ‘n paar maande op bv ‘n plaas gebly het as werker, nie van die eiendom verwyder word indien hy nie meer in diens is nie – omrede hy dan nou al SO lank en SO lank daar bly, en nou moet hy eers ander soortgelyke blyplek gegee word voordat jy hom van jou eiendom mag laat verwyder? Gaan huidige eienaars ander soortgelyke blyplek aangebied word voor hulle eenvoudig verwilder word van hul wettig aangekoopte eiendom, wat met geld betaal is waarvoor hard gewerk is? Ek verstaan regtig nie hoe daar gedink word dat een verkeerd met ‘n ander verkeerd reggemaak kan word nie. As landswette eers verander/aangepas/ geskrap moet word sodat die heersende politieke party dinge kan doen soos hulle wil, is dit mos logies dat dinge nie “above board” is nie. Demokraties???? Wat’s dit, kan mens dit eet…..??

Boerseun ·

Dis eenvoudig. Geen hof of konstitusie gaan Boere help as hulle kom vir grond nie. Die vraag wel is wat ons Boere gaan doen sodra die wette verander word en grond gevat word? Gaan ons begin vaskop of soos die Zim boere ons na nuttelose howe went (wat afriforum and agriSA se plan is)?

Eric schoeman ·

Dis waar ons die lyn in die sand moet trek hulle sal die eerste plaas op n plek vat wat n sagte keuse vir almal sal wees en waar dit moeilik sal wees vir die boere om saam te drom as die eerste plaas gevat word moet die boere bymekaarkom maar nie by daai plaas nie .nee ons moet ons bymekaarkom plek goed bedink waar ons nie net betoog nie maar ook aksie neem ek stel voor iewers waar dit n impak kan he soos bv die johannesburg stock exchange en die unie gebou en tulie huis of selfs een van die groot kragstasies of eiwers waar die boere by die munisipaliteit van daai aria kan betoog verkieslik op 2 of 3 plekke en dan n tax staaking in n trust acount betaal waar ons dan met daai geld verdere aksie moet neem genoeg is genoeg

Geselsie ·

Ons mense sal niks doen nie, behalwe die ander wang draai soos ons jare lank gebreinspoel is. Ons glo mos gebed sonder aksie sal als regmaak.
Onthou bietjie, ons mense is nie suksesvol omdat ons mooi kan bid nie, maar ook omdat ons hardwerkend is. Die feit is maar net: God help mense wat hulself (en mekaar) wil help!
Maar gaan bid maar saam oom Angus…

Pieter Botes ·

Wanneer gaan die mene besef jy kan Nie Die ANC of enige sogenaamde onderhandelaar vertrou nie
Hoekom bly mense steeds wag dat alles afgebreek, afgebrand , verwoes en gesteel word. Dat die Kriminele floreer en aanvalle en moorde pleeg na willekeur om elke keer agterna passief te raas en te skel. ” wag tot hulle my aanval. Wag tot hulle my grond vat. Wag tot…. ” wag tot… Wat gaan julle doen.?
Hou op om julle self te flous. Doen iets. Punt. Tree nou pro-aktief met aksie op. Moenie net bid vloek en skel nie. Dit bring ons nerens nie. Maak jou bydrae nou dat die regte mense in plek gestel kan word op alle vlakke en plekke wat hierdie eensydige oorlog kan stop. Laat die wat dit kan doen, dit doen. Ondersteun hulle. Equalizerwc.com
Die tyd vir Pro -aktiewe optrede is nou.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.