Die ANC-padkaart na ondergang

Dit is teen hierdie tyd vir die meeste mense duidelik dat die ANC nie die land kan regeer nie. Na bykans drie dekades aan bewind raak die uitdagings net te veel.

Wladimir Lenin, Friedrich Engels en Karl Marx (v.l.n.r.) was belangrike ontwikkelaars van die sosialistiese idee.

Wat minder duidelik is, is wat die hoofrede vir hierdie onvermoë is. Die grondoorsaak van die regeringsgedrewe landsverval is dat hulle ideologies nie in staat is om die land suksesvol te regeer nie. Dis nie dat hulle nie wíl nie, hulle kán nie, omdat hulle ʼn onregeerbare ideologie navolg.

Daar is belangrike lesse te leer uit ʼn studie van die padkaart na ondergang wat vele linkse regerings histories gevolg het.

Tien mylpale op die padkaart na ondergang

1. Ideologiese godsdiens

Die reis na mislukking begin met ʼn linkse ideologie wat die beste bedoelings het om ʼn beter lewe vir almal te skep. Ware sosialiste is so oortuig van hulle saak dat dit in die praktyk eerder ʼn politieke godsdiens as ʼn politieke filosofie is. Dit is waarom die talle mislukkings van die ideologie nie tot ʼn grondige herbesinning lei nie, en dieselfde foute weer en weer gemaak word.

Hulle klou vas aan Marx se siening dat sosialisme die finale fase van historiese ontwikkeling is, wat onafwendbaar volg nadat die primitiewe, slawe-, feodale en kapitalistiese eras misluk het. Daarom sien hulle sosialisme as die mees ontwikkelde en gevorderde ideologie, wat vir altyd ʼn einde wil bring aan menslike swaarkry wat deur die voorafgaande onmenslike stelsels veroorsaak is.

Alle ongelykheid word as verontregting gesien, met opstand en gelykmaking as die oplossing. Marx se voorskrif oor die kortpad na sosialisme word vandag nog net so luid soos die Evangelie verkondig: veg eers vir demokrasie en gebruik dan die politieke mag om die ekonomiese mag deur die instelling van sosialisme te verkry.

Vir sosialiste is Marx die Messias; Lenin is Paulus, Das Kapital is die Bybel, die uiteindelike sosialistiese werkersparadys is die hemel, demokrasie is die eerste stap na sosialistiese saligheid, kapitaliste is die duiwel, die ongelykheid wat privaatbesit meebring is die sonde, die party is die kerk, partyamptenare is die priesterorde, andersdenkendes die ketters, die konsentrasiekamp is die hel, en die klassestryd verteenwoordig die stryd tussen goed en kwaad.

Die belangrikste kenmerk van sosialisme is dat dit ʼn aggressiewe ideologie is, waar teenstand tot ʼn “heilige” oorlog kan lei en waar die utopiese einddoel die uiterste metodes regverdig.

Die belangrikste rede vir die mislukking van hierdie ideologie, is dat dit in wese ʼn opposisie- en struggle-ideologie is en nie ʼn “regeerideologie” wat moderne, uitgewerkte regeerinstrumente ontwikkel het nie. Die vereistes vir ʼn suksesvolle oorname van ʼn land, bots ongelukkig lynreg met die vereistes wat nodig is vir die suksesvolle regeer van die land.

2. Hemel op aarde

Sosialiste wil nie net die werklikheid verbeter nie, hulle wil dit grondliggend eers omskep en dan herskep. Daarom kan die ou orde nie net hervorm word nie, dit moet omvergewerp en van nuuts af herbou word. Hierin lê die grondoorsaak van die mislukking van linkse omwentelings: té veel, té vinnig, té radikaal en in die verkeerde rigting.

3. Groot staat

ʼn Belangrike oorsprong van die historiese geskil tussen links en regs is die grondliggende verskil in die siening oor die rol van die mark teenoor die staat. Waar ondersteuners van die vrye mark die wil van alle vrye mense om hul lewens te verbeter as die sterkste enjin van ontwikkeling sien, glo aanhangers van staatsbeheer dat ʼn groot en sterk staat daarvoor verantwoordelik is.

Daarom skep die politiek verwagtings waaraan die staat en die ekonomie nie kan voldoen nie. Opstande oor swak dienslewering, gevolg deur dieselfde onwerkbare “omkeerstrategieë”, is kenmerkend van hierdie siklus na die bodem.

4. Groot planne

Vryheidsliewende state se doelwitte is hoofsaaklik beperk tot die beskerming van hulle burgers se regte, soos lewe, eiendom en persoonlike vryheid. Die kern van hierdie stelsels gaan dus daaroor dat die staat so min as moontlik moet doen.

Linkse state staan direk daarteenoor, omdat hulle weer soveel moontlik vir hulle burgers wil doen. Hierdie state beklemtoon sosiaal-ekonomiese menseregte, wat ook in die Suid-Afrikaanse Grondwet opgeneem is. Ons glo dat die staat mense se regte moet beskerm, hulle glo dat die staat mense se regte vir hulle moet gee.

Die probleem is dat daar ʼn regstreekse teenstelling tussen hierdie twee groepe regte is. Die eerste geslag regte beperk die staat se mag en beklemtoon die vryheid van die burger, terwyl die tweede geslag regte die staat se mag vergroot deur ʼn plig op die staat lê om meer vir die burgers te doen.

Die spanning tussen hierdie twee geslagte regte en hulle ondersteuners in lande met groot ongelykhede, word so groot dat dit nie lank saam kan bestaan nie. Eiendomsreg en die oppergesag van die reg kan byvoorbeeld nie saam met ʼn welsynstelsel en die herverdeling van welvaart voortbestaan nie.

Die groot vraag bly of demokrasie en kapitalisme in ʼn land soos Suid-Afrika blywend kan saambestaan? Demokrasie gee vir die meerderheid die mag, terwyl sosialisme welvaart vir ʼn minderheid skep.

5. Magsbalans bepaal spoed

Die globale en Suid-Afrikaanse magsbalans tydens die Kodesa-onderhandelinge van die 1990’s was nie ten gunste van die ANC nie. Daarom moes hulle noodgedwonge toegewings maak om die mag te kry, maar noudat die globale en Suid-Afrikaanse magsverhoudinge verander het, gebruik hulle die mag om hulle oorspronklike doelwitte te verwesenlik.

6. Nasiebou

Die linkse staat eis jaloers alle lojaliteite op en glo dat demokratiese ruimtes vir die vryheid van persone, volke en kultuurgroepe, die media en die regbank die nasionale eenheid ondermyn. Daarom is die klem daarop om almal by die “staatnasie” in te lyf. Daar word aktief gewerk om verdelingslyne soos tale en kulture uit te vee en nasionale eenheid te beklemtoon, in die naam van gelaaide woorde soos insluiting en inklusiwiteit.

Uiteindelik moet minderhede veg vir die basiese regte en vryhede wat meerderhede as vanselfsprekend aanvaar, en word hulle gereeld in die naam van demokrasie verontreg en selfs verdruk.

7. Groot mislukkings

Die groot planne van linkse regerings lei feitlik sonder uitsondering tot groot mislukkings. Die gaping tussen wat die regering wil doen en wat die staat kan doen word al hoe groter, omdat die staat se uitvoerende vermoë terselfdertyd deur die regering ondermyn en afgebreek word deur beleidsrigtings soos verteenwoordigendheid.

Die oorlading van die staat, en die oorskatting van die mag en vermoë van die staat om feitlik enige probleem op te los, is kenmerkend van totalitêre ideologieë. Die burgery wil naderhand eerder stem vir ʼn lewe as om vir een te werk.

8. Meer mag, minder vryheid

Die staat moet meer en meer mag en hulpbronne sentraliseer om sy groot agenda te kan uitvoer. Dit vereis dat die staat al hoe meer in die vryhede van sy burgers, die ekonomie, die reg en die media moet inmeng. Daardeur word die demokrasie en politieke mag juis die werktuig om die burgers se vryheid te ondermyn, en lei die proses algaande tot groter verontregting en later oorheersing.

9. Verdrukking deur demokrasie

Voordat die Westerse liberale demokrasie die algemene wêreldstandaard geword het waaraan almal moes voldoen, kon outokratiese en totalitêre regerings hulle burgers makliker hardhandig onderdruk.

Deesdae moet selfs verdrukkende regerings soos dié van Zimbabwe voorgee om demokraties te wees met verkiesings, parlemente en al. So word “demografiese” meerderheidsregering meermale meerderheidsoorheersing. Demokrasie word dus ʼn werktuig van verdrukking in plaas van ʼn stelsel wat vryheid vir almal moes bring.       

10. Van verdrukking tot verval

Die innerlike teenstellings van die stelsel word uiteindelik so groot dat dit net nie meer werk nie. Die staat begin stuk vir stuk, dorp vir dorp of diens vir diens verval; mense kom al sterker in opstand daarteen in die naam van swak dienslewering; die veiligheidsmagte moet al meer magte kry om al sterker in te gryp om gewelddadige opstande te keer; verontregting begin algemeen plaasvind; die burgery se vryhede word al meer beperk; armoede, werkloosheid en ellende neem krisisafmetings aan; en gaandeweg neem die staat al meer en groter beheer oor totdat dit in volskaalse verdrukking en algemene armoede eindig. Die linkse planne om hemel op aarde te skep, eindig in hel op aarde.

Die belangriker vraag is wat daaraan gedoen kan word, en hoe Westerlinge en Afrikaners wat nie saam oor die afgrond wil val nie uit hierdie krisis kan kom.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

marius ·

Heel korrek . Daar is geen ridder en nog minder ‘n perd wat die hool gaan red nie .

Hendrik ·

Die ridder op die witperk stel nie belang om die hool te red nie. Hy stel belang om sy eie mense te red en elke dorp/metro/gebied kan deur selfstandige selfbestuur gered word. Wat ons soek is iemand soos jy Maruis en jou komitee, om in jou gebied leierskap te vat en die selfstandige selfbestuur aksie te loods.

Republikein in die Wes Kaap ·

Nie veel wat Afrikaners kan doen nie. Die stroom het ons reeds oor die waterval gestoot.

Sokrates ·

Baie dankie vir n helder uiteensetting van die padkaart na ondergang. Nou is nie die tyd om net vas te val in eindelose kla, verwyt, leedvermaak, swartgalligheid en verlammende moedeloosheid nie. Daar is leiers wat reeds jare voor ons uittrek, wat die pad aandui, baksteen vir baksteen, en wat die bul by die horings vat, mense soos Flip Buys. Komaan mense, daar is werk om te doen. In jou huis, straat, gemeenskap. Begin by jouself. Grootsheid word nie gebore waar n gees van hedonisme en slagofferskap heers nie, maar juis in die donker nag van die siel,…dit is nou die uitdaging waarop elkeen van ons wat Suid-Afrika liefhet, moet antwoord.

Republikein in die Wes Kaap ·

Net jammer Flip spring van plan tot plan. Wat het geword van die 30 ankerdorpe waar ontwikkeling sou plaasvind?

piet ·

Sosialisme is ‘n groot trekpleister vir mense wat tans niks het nie en nie in die posisie is om enigiets tans van die staat te kry nie.

skurweberg ·

Nie eers technologiese wonderwerk sal vandag mense se gevestigde waardes wat deur doelbewuuste breinspoeling verander en gevestig is, verander nie. Dis die invloed en houvas wat ‘n ideologie op die menslike psige kry.

Mense wat as profete in die Ou Testament op ‘n bepaalde tyd verskyn het, het deur vreeslose uitsprake hoogtes bereik, omdat hulle-hulle taak as ‘n roeping ontvang, ervaar en hanteer het.

annie ·

Waarom het Afrika/ons ANC, liberale-kommunisme as ‘n immer-beleid as Rusland en ander lande reeds daarvan afgesien of afgewater het, nadat dit geblyk het dat dit tot agteruitgang lei? Afrika se lewensuitkyk is tans gelykstaande daaraan bv ewige veronskuldiging, selfverryking en uitbuiting as regstelling van die glo onregte. Verduidelings, slegsê of preek oor die foutiewe sienswyses help nie. Voorkoming van totale magsoorname blyk tans die enigste medisyne daarteen te wees. Kan langdurige lyding weens eie dwaashede dalk tot insig lei?

Watsenaam ·

Annie, Die lewe is soos die pendulim van n oupa staan horlosie. In Suid Afrika swaai die pendulim van reg na verkeerd en weer andersom. Dit hang af van wat jou persepsie van reg of verkeerd is. As jou beginsels Christelik van aard is, weet jy wat reg of verkeerd is. Ons blanke voorvaders se poging om inheemse volke dieselfde waardes as blanke waardes te leer het klaenswaardig misluk. Vandag sit die handhawers van lewens waardes, self respek en nasie trots met tamaties sous op ons gesigte. Inheemse volke, het na aanleiding wat ons so pas van Flip Buys geleer het, nog nie hierdie lewens waardes aangeleer nie, en sal ook nooit nie.

Hendrik ·

Volgende kommetaarstuk moet wees wat is ons besig om te doen en dan kan die ouens wat se ‘ons kan nie saamstaan’ geen verskoning he om nie saam te werk vir selfstandige selfbestuur wat se eindoel selfbeskikking is volgens Artikel 235 van die demokratiese grondwet. Niks onwettigs nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die selfstandige selfbestuur brigade koop wel tyd en sal iewat langer oorleef as die res van ons.

Hendrik ·

Ons woon in ‘n selfstandige onafhanklike ankerdorp en dit werk. Daar hang geen swaard oor ons kop en ons lewens word nie gereel deur water- en elektriese beurtkrag nie. Ek ondersteun wel WesKaap sessesie maar ons gemeenskap hoef nie toestemming te vra vanaf die sentrale regering of inwoners en teengestaan deur woke/linkse inwoners nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Hendrik, julle sal oorleef. Die res van ons se toekoms is duister.

piet ·

Die groepe/partye wat hulself as champions van die selfbeskikkingsidee voorgehou het, doen niks om die doelstelling te bewerkstellig nie. Die hele idee is teen hierdie tyd al so afgewater….

James ·

Om die vraag in die laasste paragraaf te antwoord: Selfbeskikking in ‘n eie staat. Al beteken dit oorlog. Dis al.

Watsenaam ·

Nou praat jy! drie hoera’s. Ek is in, net een voorwaarde, gee vir ons grond vanaf Orania tot iewers waar n hawe is, en ons sal hierdie regering wys wat selfbeskikking en waare regering is!

Marthinus W ·

“Oorlog is soet vir hulle wat dit nie ken nie”, Desiderius Erasmus.

Marthinus W ·

Britse historikus Paul Johnson het in 1992 reeds geskryf dat die onafhanklikheidswording van soveel Afrikalande gedurende die 1960’s te vroeg was. Hulle was nog nie reg om n land te regeer nie. Dieselfde kan van die ANC gese word: hulle het voor 1994 nog nooit ‘n land regeer nie, terwyl ons wittes bietjie oefening in het vanaf 1652 [al is dit net as goewerneur, veldkornet, ens.]

Die hoofstrroommedia wys dit nie, maar die afgelope jaar of twee is daar baie Afrika-leiers wat opstaan en duidelik, met gesonde verstand en oortuiging, verduidelik dat hulle moeg is om deur Brussel, Parys, Washington, of wie ookal regeer te word. Zimbabwe het verlede maand n verbod geplaas op die uitvoer van lithium [wat in elke battery gebuik word]; hulle gaan dit beter beheer. Indien die ANC ten volle nutteloos was, sou ons hele land lankal in duie gestort het. Daar is n klein groepie bekwames in die regering wat die land van die afgrond af weghou.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

PUIK GESTEL: “”Vir sosialiste is Marx die Messias; Lenin is Paulus, Das Kapital is die Bybel, die uiteindelike sosialistiese werkersparadys is die hemel, demokrasie is die eerste stap na sosialistiese saligheid, kapitalisme is die duiwel, die ongelykheid wat privaatbesit meebring, is die sonde, die party is die kerk, partyamptenare is die priesterorde, andersdenkendes die ketters, die konsentrasiekamp is die hel, en die klassestryd verteenwoordig die stryd tussen goed en kwaad”.
Ek reken dat George Orwell die skrywer 100% sou gegee het vir hierdie opsomming!
Ek haat sosialiste en kommuniste wat vir my wil dink en besluit en misbruik van die wieg tot die graf.
Ek haat kapitaliste wat gewetenloos teer op die sweet van die medemens. Daar is geen utopiese staatsbestel en grondwet nie. Finish en klaar.

Groen Ghoen ·

Netso, Vrydenker. Margaret Thatcher se stelling dat sosialisme uiteindelik daartoe lei dat ander mense se geld opraak laat ‘n mens dink. Die afgelope twee jare se Covid petalje het bewys dat dit moontlik is om die hele planeet se bevolking te beheer deur vrees en ‘n enkele tema wat deur die media uitgedra word. Al wat nog moet bykom is die totale digitale beheer, maar dit is reeds in China in plek (danksy Amerikaanse tegnologie).

André ·

Die probleem met hierdie ideologie is dat, hoe meer dit vaal, hoe vaster klou hulle daaraan. Ook, hoe meer stemme hulle verloor, hoe vuiler speel hulle. Hulle is nie hier om saam te werk om die land te bou nie (en hulle bou niks by hulle self nie). Hulle sal hierdie land af brand net sodat niemand anders dit kan regeer nie. Ek, persoonlik, sien geen oplossing vir hierdie probleem nie. Ek kan nie sien hoe daar ‘n ander politieke party ooit in beheer gaan kom nie. Ons sit nou met hierdie bosluis…

Republikein in die Wes Kaap ·

Realistiese siening. Afrikaners is skaars 4.1 % van die bevolking. ‘n Minderheid in ‘n mislukte land is ‘n double whammy.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.