Die ANC-regering se binnedringing van persoonlike ruimte

anglo-boereoorlog-begraafplaas

Een van die talle Anglo-Boereoorlog-begraafplase landswyd

Fransjohan Pretorius

So, dis glo amptelik. Die naam vir die oorlog van 1899-1902 is nou volgens aankondiging van Nathi Mthethwa, minister van kuns en kultuur, die Suid-Afrikaanse Oorlog.

Ek weet van nêrens in die geskiedenis dat ʼn regering voorgeskryf het wat die naam vir ʼn oorlog moet wees nie. Dis net ons magsbeluste en -bewuste ANC-regering wat daarop aandring om ons persoonlike ruimte, ons voorkamers, ons studeerkamers en ons biblioteke binne te dring en alles na hulle wil te wil reguleer.

Oorloë het name op informele grondslag gekry deur algemeen gewilde verwysings daarna deur joernaliste, historici, die burgerlike bevolking en, ja, selfs politici. Maar dit is nêrens elders deur regerings afgedwing nie. Regerings het wel name daarvoor gebruik, maar nie afgedwing nie.

Die oorlog van 1899-1902 het al verskeie name gekry. Eintlik is daar nie één naam wat volkome aanvaarbaar is tot uitsluiting van ander nie vir ʼn oorlog wat ek – met voorbehoude én gebreke – verkies om “die Anglo-Boereoorlog” te noem. My vrywillige keuse, mnr. Mthethwa.

Name wat in Brittanje gebruik word, selfs sedert die oorlog, sluit in “the Boer War”, “the Transvaal War” en “the South African War” – die mense teen wie die Britte geveg het, en waar.

Uiteraard is die probleem met “the Boer War” dat dit subjektief en eensydig is – van die Britse kant. “The Transvaal War” is eweneens problematies en bowendien neem dit nie in ag nie dat die Oranje-Vrijstaat, wat ʼn politieke en militêre verbond met die Transvaal gehad het, ook aan die oorlog deelgeneem het.

“The South African War” is ʼn naam wat reeds van 1900 dateer. Sekerlik was daar meriete in die naam. Dit het (hoewel eensydig) vertel waar die oorlog plaasgevind het.

So drie of vier dekades gelede is “the South African War” herontdek, toe dit deur Britse en Suid-Afrikaanse Engelssprekende historici aangeneem is. Daar is meriete in hulle argument. Nie alleen is dit ʼn aanduiding waar die oorlog gewoed het nie, maar veral was hulle standpunt dat alle inwoners in suidelike Afrika – die Kaapkolonie en Natal, Brits-Betsjoeanaland, Basoetoland, Swaziland, en die twee Boererepublieke, naamlik die Transvaal en die Oranje-Vrijstaat – daardeur geraak is of daarby betrokke was.

En hulle was reg. Ses weke ná die uitbreek van die oorlog het die Kgatla onder leiding van ʼn Britse kolonne ʼn aantal Boeremans, -vroue en -kinders by Derdepoort in Wes-Transvaal vermoor. Aan Britse kant was daar teen die einde van die oorlog sowat 30 000 swart en bruin gewapende mans in die Britse leër wat as soldate, blokhuiswagte en verkenners diens gedoen het. Daarteenoor het maar sowat 20 000 Boere-bittereinders in Junie 1902 die wapen neergelê. In veral die hoefyster wat die Wes-, Noord- en Oos-Transvaal vorm – van die Tswana verby die Venda en Swazi tot by die Zulu – het swart gemeenskappe in die guerrilla-fase van die Boere se afwesigheid van die plase gebruik gemaak om grond wat hulle in die tweede helfte van die negentiende eeu aan die Boere prysgegee het, te herbeset. Meer as 14 000 swart mans was wadrywers in die Britse leër.

Toe die Boerekommando’s die Kaapkolonie binneval, het swart en veral bruin gemeenskappe die kant van koningin Victoria en later koning Edward gekies, en hulle só die onmin van die Boerekommando’s op die hals gehaal. Die gevolg was bittere vyandskap en lewensverlies aan albei kante.

Aan Boerekant was tussen 9 000 en 11 000 swart mans as agterryers in die Boerekommando’s aan diens om kos te maak en perde te versorg. By uitsondering het enkele van hulle – téén regeringsbeleid – aan Boerekant die wapen opgeneem.

Die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902 het die status quo van vóór die oorlog gehandhaaf, met ander woorde in die Kaapkolonie en Natal was daar gekwalifiseerde stemreg wat aan ʼn groepie swart en bruin mans stemreg gegee het. Die situasie van voor die oorlog in die voormalige Boererepublieke is ook gehandhaaf, wat beteken dat slegs wit mans stemreg gehad het. Die situasie is met Uniewording in 1910 gehandhaaf. Dit het in 1912 tot die stigting van die South African Native National Council (die voorloper van die ANC) gelei.

Vanuit hierdie oogpunt maak die benaming Suid-Afrikaanse Oorlog sin.

Die enigste probleem – en dit is ʼn grote – is dat Brittanje, wat deur verreweg die meeste historici in Brittanje en Suid-Afrika as die belangrikste bydraer tot die uitbreek van die oorlog erken word (en met 450 000 troepe aan die oorlog deelgeneem het), nie in die naam voorkom nie.

Die Weste praat van die Viëtnamese Oorlog. Ewe eensydig noem die Viëtnamese dit klaarblyklik “die Oorlog van Weerstand teen die Amerikaners”. Net so het “die Suid-Afrikaanse Oorlog” ʼn kleur van eensydigheid.

Gedurende die herdenking van die Anglo-Boereoorlog tussen 1999 en 2002 het die regering se departement van kuns en kultuur met die naam “the Anglo-Boer South African War” gekom. Vir hierdie abhorasie het niemand behalwe die regering kans gesien nie, en die naam het ʼn welverdiende dood gesterf.

Dit maak miskien sin dat die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein se naam na die Suid-Afrikaanse Oorlogsmuseum verander is. Tereg het die museumbestuur ter wille van oorlewing die museumbeleid oopgestoot, sodat alle groepe wat in die oorlog betrokke was of daardeur geraak is, nou in die uitstallings erken word. Benewens steeds erkenning aan die Boererepublieke, is daar die Sol Plaatje-saal met erkenning aan swart betrokkenheid (Plaatje se dagboek van ʼn gedeelte van die beleg van Mafeking is die enigste wat tot dusver aan swart kant in die oorlog opgediep is). Daar is ook ʼn uitstalling van ʼn Britse hospitaal en Britse grafte, en ʼn muur met die name van gestorwenes aan sowel swart as Boerekant. En daar is museumpublikasies oor sowel wit as swart betrokkenheid, iets wat terloops al die afgelope drie dekades deur Afrikanerhistorici (André Wessels en Fransjohan Pretorius) in publikasies erken word.

Maar mnr. Mthehwa, vir die Afrikaner is en sal dit steeds “die Anglo-Boereoorlog” bly. Vir sommige Afrikaners is dit subjektief gekose “die Engelse Oorlog” (omdat hulle die Britte se veroorsaking van die oorlog aandui), of die “Tweede Vryheidsoorlog”, in aansluiting by die Eerste Vryheidsoorlog of Brits-Transvaalse Oorlog van 1880-1881. Die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek (vyf dele) het die benamings Eerste en Tweede Anglo-Boereoorlog vir die oorloë van onderskeidelik 1880-1881 en 1899-1902 gekies.

Die voordeel van die naam “die Anglo-Boereoorlog” is dat dit tereg die diplomatieke en politieke teenstanders uitlig tussen wie die oorlog gewoed het. Oor die hele wêreld is “Anglo” ʼn erkende naam vir Britse belange.

Die probleem is natuurlik dat “Anglo” op die Engelse kant dui. Wat dan van die Skotse, Ierse, Walliese, Australiese, Nieu-Seelandse, Kanadese, Kaapse en Natalse regimente wat aan Britse kant deelgeneem het?

Die sowat 2 000 buitelandse vrywilligers wat aan Boerekant kom veg het – Nederlanders, Duitsers, Franse, Russe, Iere, Amerikaners, en so meer – het nie hul regerings verteenwoordig nie en kan myns insiens nie in die naam opgeneem word nie.

Uiteindelik moet elkeen vir homself (mnr. Mthethwa: elkeen vir homself) die naam kies wat vir hom die aanneemlikste is. Vir my is dit “die Anglo-Boereoorlog”. Solank ons erken dat “die Suid-Afrikaanse Oorlog” ook Brittanje en sy wit kolonies ingesluit het, en dat “die Anglo-Boereoorlog” ook ander Britte en Suid-Afrikaanse swart en bruin mense insluit wat militêr betrokke was en polities en sosiaal deur die oorlog geraak is. Want dit is ons almal se oorlog.

  • Die minister van kuns en kultuur, mnr. Mthethwa, het aangekondig dat hy verkeerd aangehaal is en dat die naam van die oorlog van 1899-1902 nie amptelik verander is na die Suid-Afrikaanse Oorlog nie.Dit is verblydende woorde.

    My artikel is dus gedeeltelik op foutiewe beriggewing gebaseer.

    Indien die regering egter die naam in die toekoms amptelik verander, bly my kritiek van toepassing.

    Intussen bly my standpunt oor die naam van die oorlog, soos vervat in my artikel, steeds van krag. Daar is geen werklik aanvaarbare naam vir die oorlog nie, solank elkeen wat ‘n naam gebruik, moet besef dit was ‘n oorlog wat diplomatiek en polities tussen Brittanje en die Boererepublieke was, en dat die Britse kolonies daarby betrokke was, en swart mense, en dat almal in Suid-Afrika daardeur geraak is. Ek verkies die naam Anglo-Boereoorlog met bogenoemde voorbehoude.

  • Fransjohan Pretorius is emeritusprofessor, Departement Historiese en Erfenisstudies, Universiteit van Pretoria, en voorsitter van die Geskiedeniskommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

BUSFARK VAN PLETSEN ·

Die slag van bloedrivier gaan seker nou ook verander wonder wat dit gaan wees

Fanie ·

Dit lyk my hulle voel minderwaardig oor hulle eie geskiedenis. Daarom moet alles nou anders heet. Het by die straatname mos begin.

Netta ·

Prof. Fransjohan Pretorius is vir seker ‘n uiters bekwame historikus. Ek deel prof. Pretorius se siening hier. As ons rondom die herbenaming van die Tweede Anglo-Boere Oorlog dink, moet ‘n mens werklik sê dit kan nòg die een nóg die ander genoem word. As ons sou praat van die “Suid-Afrikaanse Oorlog” misken ons die oorloë wat voorheen geveg is, soos die ses Xhosa-oorloë en die Eerste ABO (1880 – 1881). Dit misken dan ook die ander rolspelers in dié oorlog: Kanadese, Franse, Russe, Duitsers, Hollanders, Australiërs en Nieu-Seelanders wat aan beide kante geveg en diens verrig het. Praat ons van die Anglo-Boere Oorlog misken ons weer die deelname van die Kaapse Kleurlinge en Swartes. Om te sê dit is die Transvaalse of net Boere-Oorlog, is ook verkeerd – reconnaissance operasies het in die Kaap Kolonie plaasgevind; die Oranje Vrystaat was die ZAR se alliansie in vyandelikhede; daar was konsentrasiekampe en “martial law” in al vier die destydse kolonies of vrye state. Miskien moet die regering minder krap aan dinge wat was en eerder konsentreer daarop om die nuwe SA ‘n werkende land te maak. Laat elkeen praat en dink van die oorlog, na sy/haar wense!

WK Smiy ·

Die skryfwyse “Suid-Afrikaanse Oorlogmusem” beteken dat dit ‘n museum vir SA is en nie een vir die Suid-Afrikaanse Oprlog nie. Beter sou wees “Suid-Afrikaanse Oorlog-Museum”.

Vra maar net ·

Wat van ‘n naam soos die “Eerste Eerste Wereldoorlog”? Die hele Britse Ryk was hier om die twee landjies op te neuk. En die twee landjies het die magtige Ryk vir amper drie jaar besig gehou. Die 2000 buitelanders wat aan die Boerekant was kan mos die prentjie voltooi?

Bruno Stef ·

My oorlede ma het altyd van die vrouemonument gepraat want Oumagrootjie/Oupagrootjie en haar twee ouer susters is as kinders in die konsentrasie kampe dood.

chrisp ·

Dit is eintlik dwaas verby .
Die geagte Nathi het werk om te doen daar is tientalle voorbeelde van oorloe waar hy die name dringend van sal moet verander .
Hy kan sommer begin in 1497(Russiese Sweedse oorlog ) dit dalk verander na die mees “gepaste” naam – Russiese- Sweedse-Deense oorlog. Wanneer hy dan tot by 2015 kom kan hy maar weer van 1497 af terugwerk.

Hef aan u Edele daars werk om te doen.

Flippie ·

Die oorlog was tussen die Boererepublieke en Britanje. Twee state teen ‘n ander staat. Ek kan nie my herhinder dat enige ander land of gemeenskap amptelik oorlog teen die Britanje of die Boererepublieke verklaar nie. Natal en die Kaap was deel van Britanje.

Nee wat ,die Anglo-Boere oorlog is die regte be naming.

Pogings om die naam te verander is net gemik op die ontmagtiging en diskriminering teen die Boere nageslag.

Winston ·

Dink ons moet n waarheids kommissie saamstel. Brittanje moet ook boete doen vir die moorde in konsentrasie kampe tydens die Anglo Boere Oorlog. Harry kom ry hier rond en maak of sy geskiedenis nooit bestaan het nie. Hulle bly n lafhartige nasie. Patetiese spul soos almal wat karring aan ons verlede. Los dit uit soos dit was.

Frik Lotz ·

Die ANC maak en breek nes hul wil en wil alles van die Afrikaner vernietig. Dis tyd dat ons sê genoeg is genoeg. Dankie ook aan die VF Plus dat hul opstaan vir ons mense teen die magsbehepte ANC.

Elmarie ·

Een ding weet ek – moet nie boer in ‘n hoek probeer vas keer nie. Ek dink ons as Afrikaners moet begin saamstaan. Genoeg is genoeg.

Johan 2 ·

So as ek dit reg verstaan was die swart krygers dan aan britse kant, dit maak hul dus die kolonialiste! Wonder of hul dit weet.
Die Boere het by die ooreenkoms gebly en swart mense slegs as nievegtende (ongewapende)personeel aangewend.
Ek is jammer om te sê maar 4 geslagte verder en ek sien nogsteeds die Engelse as ons vyhand no 1 want geen ander groep het ons soveel skade aangedoen nie….en ek dink hul set dit voort.

Rietrot ·

Die Engelse het ander lande ook skade aangedoen. Hulle is deeglik bewus van alles. Geskiedenis is opgeskryf.

anna ·

Die arme siele wil n oorlog steel .Wat wil hulle nog gaps. Kan of kon nog nooit iets self doen nie. Nou wil hulle dit ook op hulle naam kry. Vreeslike minderwaardigheids gevoel.Die enigste manier hoe hulle werd voel is om n naam of in hierdie geval n oorlog n ander naam gee. Die wereld lag vir hulle.

Neels ·

Die regering se betrokkenheid by die herbenaming van die ABO is net n simptoom van hulle mentaliteit. Die slegte nuus, en iets waarop ons voorbereid moet wees, is dat dit nie hier gaan stop nie. Die staat/party (ANC) is besig om himself op al hoe meer terreine in te wikkel soos bv. die aanstelling van onderwysres, die toelatings vereistes tot openbare skole, die besluit rondom die area waar dokers voortaan praktyke mag open en vele meer. Dankie Prof. Fransjohan vir jou samevatting en perspektief. Die ABO is n greep uit ons geskiedenis wat ons baie na aan die hart le.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.