Die ANC se “demokratiese” diktatorskap

wolwe-en-een-skaap

Is dit ‘n demokrasie as twee wolwe en ‘n skaap oor aandete moet besluit? Foto: Blog.eternalvigilance.me

Dis nie demokrasie as twee wolwe en ’n skaap stem oor aandete nie- Van Zyl Slabbert

Is die ANC besig om ‘n “demokratiese” diktatorskap te vestig? Hierdie vraag pla my nou al ʼn hele ruk. Ek kan al die ontkennings hoor, soos “ons is dan ʼn demokrasie”, die “beste grondwet in die wêreld sal ons beskerm” en al die ander gerusstellings wat mens al uit jou kop ken.

Maar hoekom bly die vraag knaag? ʼn Tydjie gelede het die Gautengse LUR vir Onderwys, ene meneer Lesufi, ʼn privaatskool gedreig en byna gesluit oor die ANC se staatmaker-“stemvanger”,− rassisme. ʼn Afrikaanse koerantman het nogal sy optrede verwelkom, “in belang van nie-rassige onderwys.”

Ek was verstom. Nie oor Lesufi nie, hy maak immers ʼn (politieke) lewe uit die rassistiese opjaag van rassespoke. Maar ek was verslae toe ek besef dat die stomme koerantman dink dat Lesufi sy eie liberale beweegredes in hierdie saak deel!

Die koerantman het sekerlik gemeen dis verkeerd en onliberaal as die skool op grond van ras diskrimineer. Dis al erg genoeg, want die koerantman moes van beter geweet het. Enige effens ingeligte persoon sou dadelik besef het dis sommer ʼn rookskerm vir Lesufi se eie rassevooroordeel en outokratiese neigings.

Lesufi se misbruik van sy politieke mag om sy ideologiese doelwitte en rassepolitiek te bevorder, het al vroeg in die jaar duidelik geword. Hy moes deur die hof gekeer word toe hy Afrikaanse skole wou dwing om saam te smelt, en omdat hy strydig met die Skolewet beheerliggame se magte wou oorneem om die skole se toelatingsbeleid te bepaal.

Liberalisme

Dis baie ver verwyderd van die liberale skrywer/denker Alan Paton se definisie van Liberalisme: “… a generosity of spirit, a tolerance of others, and an understanding of otherness. A commitment to the rule of law. An abhorrence of authoritarianism. A love of freedom and justice.”

Toegegee, Paton se woorde was vol sonskyn, maar die kern van Liberalisme gaan beslis eerder oor vryheid en verdraagsaamheid as oor dreigemente van toesluit.

Maar hoekom is ʼn ingeligte liberale koerantman dan so goedgelowig om ʼn linkse populis soos Lesufi te glo? My teorie is dat die koerantman se ideologiese meerderwaardigheid en Westerse wêreldbeeld hom verblind vir die gevaarlike linkse ideologie wat Lesufi dryf. Ons koerantman leef in ʼn ideologiese droomwêreld waar die Westerse Liberalisme die wêreldstandaard is. Hy glo die linkse wêreld het finaal verdwyn met die val van die Kommunisme, dat Liberalisme nou die norm is. Hy begryp glad nie dat Lesufi met dieselfde woorde totaal iets anders bedoel nie! Die liberale ideologiese onderskatting van die linkses se werklike bedoelings het al tot bloedige onderdrukking in baie lande gelei.

Liberaal en links

Laat ek kortliks die verskil tussen liberaal en links verduidelik. Die kern van die liberale gedagte is dat die individu vry van staatsonderdrukking moet wees. Hierdie “vryheidsregte” is die eerste keer in die Amerikaanse Grondwet opgeneem, en gaan oor die vryheid van persone teenoor die staat. Dit veronderstel dan ook ʼn “swak” staat wat net vir sy burgers se veiligheid sorg, maar verder uit hulle lewens bly.

Daarteenoor gaan die linkse “gelykheidsregte” verder as vryheid; die linkses streef na ʼn “sterk” staat wat ook vir die bevolking kan sorg. Die linkse staat is ʼn magtige staat met ʼn “groot agenda”, wat in belang van gelykheid gewone burgers, sakelui, die media, howe en die burgerlike samelewing se vryheid kan beperk om gelyke uitkomste te verseker. Dit gaan nie oor gelyke behandeling nie, maar om almal gelyk te probeer maak.

Kom ons gebruik die voorbeeld van eiendomsreg, een van die oorspronklike liberale vryheidsregte wat die sluitsteen van liberale grondwette vorm. Daarteenoor staan die linkse gelykheidsreg van die herverdeling van eiendom volgens bevolkingsgroottes. Die botsing tussen liberale eiendomsreg en linkse herverdeling blyk duidelik hieruit − dit kan nie saam bestaan nie. Maar die probleem is dat die gelykheidsregte ook in ons Grondwet opgeneem is, in artikels 26 en 27. Dis die eerste maal na die Koue Oorlog dat dít gebeur, en is die rede waarom ons Grondwet die “modernste ter wêreld” genoem word! Die ANC gebruik nou hulle politieke mag gaandeweg om eiendomsreg te verwater, en so gelykheid ten koste van vryheid af te dwing.

Vryheid versus gelykheid

Dis presies hoekom linkse regerings uiteindelik mense verdruk: die afdwing van gelyke uitkomste vereis die verdrukking van mense. Linkses verdedig altyd die bloedspoor van hulle diktators deur te sê dat die betrokke leier net sleg was, maar nie die ideologie nie. Maar The Economist het al lankal gesê dat linkse leiers verdrukkend móét wees as hulle hul “groot agendas” wil uitvoer. Om te kan herverdeel, moet Mugabe die wit boere se grond afvat, die howe ontman, die media stilmaak en die opposisie verdruk.

Daarom het liberale denkers soos oudregter Jan Steyn gewaarsku: “It is naive to believe that one can adopt the basic economic tenets of socialism, without also inheriting its authoritarian political structures and limitations of personal freedom. There is ample evidence to substantiate the argument that there is a real and unbreakable connection between economic and political freedom, both of which may be lost if the state unduly expands its role in society.”

Daarom moes ons liberale koerantman veel eerder die skool se vryheid teen Lesufi se “gelykheid” verdedig het! Lesufi se inmenging in ʼn privaat skool het veel meer te doen met wat Karl Marx die “diktatorskap van die werkersklas” noem, as met ʼn strewe om die kinders se grondwetlike regte te beskerm. Die koerantman is soos ʼn waghond wat die kind in plaas van die aanvaller aan die keel gryp!

Demokratiese diktatorskap

Die Afrikaanse skole se verdediging van hulle grondwetlike regte word deur Lesufi en sy koerantman as “regs” beskryf. Regte word nou regs! Dit alles in die naam van demokrasie gedoen, want Lesufi is mos die demokraties verkose LUR van Onderwys! Maar politieke mag sonder die oppergesag van die reg is volgens die legendariese skaakspeler Garry Kasparov nie demokrasie nie, maar populistiese verdrukking.

Soos die Vlaams-Amerikaanse politieke wetenskaplike, Pierre Vandenberghe, dit gestel het: “If your constituency has the good fortune to contain a demographic majority, racism can easily be disguised as democracy. A racially-defined majority is a far cry of a majority made up of shifting coalitions of individuals on the basis of a commonality of beliefs and interests.”

Nader aan Suid-Afrika beleef ons nou waarteen professor David Welsh van Kaapstad gewaarsku het: “Simple majority rule … can easily – and commonly does − degenerate into a ‘tyranny of the majority’ when elections assume the form of a racial census. Undeniably, majorities have rights, but so do minorities. If … majorities use their power to steamroller minorities, denying them influence even in decisions that affect their vital interests, the quality of democracy will deteriorate.”

Dr Van Zyl Slabbert het hierdie tipe “demokratiese diktatorskap” treffend beskryf as  wanneer “twee wolwe en ʼn skaap demokraties moet besluit wat hulle vir aandete gaan hê.”

ANC-inmenging

Karl Marx het in sy Kommunistiese Manifes ʼn diktatorskap van die werkersklas (Proletariaat) beskryf. Hy het geglo dat die georganiseerde “werkersklas”, oftewel die Kommuniste, die ander klasse moet verdruk om hulle doelwitte te kan bereik. Die ANC is wel vandág nie meer ortodokse Marxiste nie, maar die onderliggende totalitêre grondslag van die Marxisme blyk al duideliker uit die ANC se onverdraagsaamheid teenoor en inmenging in die vryheid van mense, sakelui, die media, die howe, staatsinstellings en die burgerlike samelewing asook die vryheid van taal- en kultuurgroepe. Dáárteen moet burgers van alle oortuigings waak, want die aantasting van die vryheid van een is ʼn inbreuk op die vryheid van almal.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Therese van Schalkwyk ·

Skitterend!

Kan net hoop dat ons nie-so-ingeligte “liberale koerantman” hierdie voortreflike stuk onder oë kry. Twyfel egter sterk of daar salf te smeer is.

Dr. Van Zyl Slabbert se ” twee wolwe en ‘n skaap” het in SA letterlike betekenis gekry. ‘n Mens kan skaars ‘n koerant oopmaak sonder om te lees van die blanke minderheidsgroep wat uitgewis word op die wreedste maniere. Die wonderlike Grondwet laat my absoluut koud.

Armando ·

Ek wonder partykeer of dit geleerde, ingeprente ideologie is, of blote wil om oor alles te regeer, soos dit maar is onder die swartes van Suid-Afrika nie. Hulle glo dat die hoofman, die koning, oor alles seggenskap het en dat hy die stam en in ons tyd en politieke bestel, die volk verteenwoordig. Jy moet jou onderwerp, want dis hoe dit is.

Josef du Toit ·

Die teenstelling is selfs nog dieper, naamlik tussen demo(ne)krasie en verteenwoordigende regering. In eg-verteenwoordigende regering word besluite tot op die mees plaaslike vlak afgewentel, en word konsensus nagestreef, met die deurgaanse behoud van ‘n reg tot afstigting deur ‘n minderheid wanneer die’ se belange in ‘n teenoorgestelde baan staan as die besluitvormende meerderheid.

Die gereformeerde beginsel by die verhouding tussen kerk en staat, naamlik dat beide onder die Koningskap van Christus staan, en daarvolgens in eie sfeer moet optree, behoort opsigself perk en paal te stel teenoor demokratiese waardes wat ‘n menslike meerderheid tot absolute reg verhef, selfs ten koste van die Godgegewe regte (die enigste ware regte) van die minderheid.

Deur die werking van God se algemene (nie-reddende) genade, waardeur ‘n egte gewete en kennis van goed en kwaad tot ‘n mate steeds in die 18de eeuse klassieke liberalisme teenwoordig was (oneindig ver verwyderd van die groot staat-denke van huidige linkse politiek), het die skrywers van die Amerikaanse grondwet demokrasie so dikwels as hulle kon volmondig verwerp, onder andere in die oorspronklike weergawe van die aanhaling van Van Zyl Slabbert in die artikel hierbo. Aan Ben Franklin word die volgende toegeskryf: “Demokrasie is twee wolwe en ‘n lam wat stem oor wat om vir middagete te he^. Vryheid is ‘n goedgewapende lam wat die uitslag betwis.”

Nog ‘n voorbeeld is Thomas Jefferson, van wie die volgende aanhaling kom: “’n Demokrasie is niks meer as regering deur die gepeupel nie, waar 51% van die mense die regte wegneem van die ander 49%.”

Bruno Stef ·

In die vorige bedeling wat deur die media so ondersteun is dat destydse waarskuwings as belaglik afgemaak en ontken was is ons vandag in die selfde bootjie as destyds maar die probleem het net vererger.Dit is ongelooflik dat die gewone kieserspubliek so oningelig of traak my nie agtig is dat alles vir hulle lepels gewys gevoer moet word.Mense wat toegang tot die internet het versprei die boodskap so ver as moontlik en neem kennis van Solidariteit se werklike erns ten bate van die Afrikaner volk.Die rugstekers in ons eie gemeenskap was maar altyd daar maar ek dink hulle word nou vinniger ontmasker al praat hulle jou taal hulle benadeel die Afrikaner vir eie gewin.

George ·

Ek het nog altyd gedink die vyand voor jou is nie so gevaarlik soos die “eie magte” agter jou.

Tertius ·

Demokrasie bewys ditself na my mening as ‘n mislukte ideologie. Die Afrikaan verstaan nie hoe die wereld saamgestel is nie en ken glad nie sy eie of wereld geskiedenis nie. Die ANC groep is ‘n euwel vanaf sy ontstaan en sal so voortgaan as ‘n ‘vernietiger’ totdat dit verslaan en uitgeroei word. Die Afrikaner sit in ‘n moeras van redenasies, verbeeldings, ‘n verwarde aangetrokkenheid tot verkeerde dinge, sy verdraaide verlede en ‘n besmette gewete. Die Afrikaner sal sekerlik moet ‘skoon’ kom en van nuut af begin om as volk voort te bestaan sonder die invloede van die euwels van die verlede en die hede .,. dit sal moeilik wees.

Henry McDonald ·

Ek beskou my nie as ‘n Afrikaner (wat dit ookal is)nie wel as ‘n Suid-Afrikaner wat in hierdie land gebore is en derhalwe op volle burgerskap geregtig is. Ek het nie saam met Jan van Riebeeck hieraangekom nie maar my verre voorouers wel lank daarna. Ja ek was deel van die oorlog toe aan my gesê is my land word bedreig deur die Kommunisme met Kubane op die grense en aanvalle met hoofsaaklik Russiese wapentuig op die burgerlike bevolking binnelands en Oosblok lande opgeleides wat dade van terreur binnelands met landmyne Ak47’s Russiese Limpetmyne en F.1 handgranate gepleeg het.
Na die val van Kommunisme en die Berlynse muur het ek die veranderingsinisiatiewe volmondig gesteun – want ek het besef hier verandering moes kom die beleid van destyds was een wat my mede-Suid Afrikaners wat in hierdie land gebore is van hul menswaardigheid ontneem het. Wat nou aan gebeur is: plaasaanvalle waarin meer as duisend boere reeds vermoor is, feitlik daaglikse voorvalle waar gewapende bendes met Ak.47’s dade van geweld pleeg, weereens burgerlikes wat ‘n afskuwelik prys vir wat op die land losgelaat is moet moet betaal dan reageer ek soos volg: hierdie is nie die demokrasie wat ek destyds ondersteun het nie. Ook nie die grootskaalse korrupsie vanuit hoë regeringskringe tot die kleinste munsipaliteit in die Boesmanland nie, nie die moorde wat nou feitlik daagliks op weerlose burgerliks met die afskuwelikste geweld denkbaar gepleeg word nie. Dan dink ek weer aan die bewoording van ‘n plakkaat tydens ‘n betoging teen die moordvlaag wat dele van Johannesburg en omstreke geteister het: GENOCIDE IN THE NAME OF DEMOCRACY! Dan sien ek die wydverspreide armoede onder ‘n groot deel van die bevolking wat in my omgewing onder die broodlyn lewe dan let ek op hoe mense in koue winterweer moet toustaan by sopkombuise om gevoed te word mense met ‘n uitsiglose lewe sonder werk sonder inkomste sonder voedsel dan vra ek myself die vraag af hoekom het my swart tuinwerker aan my gesê ‘Ek gaan nie weer stem nie – want dit het met my en my gesin beter gegaan onder apartheid!’ Maar soos die misdaadskrywer Benjamin Bennet in sy boek getiteld ‘TOO LATE FOR TEARS’ skryf is dit inderdaad ‘TOO LATE FOR TEARS’ Om wat besig is om in hierdie geteisterde land plaas te vind die hoof te bied behoort diegene wat daardeur geraak word organisasies soos AFRIFORUM volhartig te steun en te ondersteun in groot getalle aan te sluit sodoende ‘n spreekbuis te word om deur hierdie organisasies juis dit wat tans in hierdie DEMOKRASIE aan gebeur is met alle mag teen te staan. Dit is inderdaad laat in die dag wanneer selfs die senior lede van die Regbank moet opstaan en beswaar aanteken teen wat aan gebeur is met regsuitsprake en hofbevele wat net summier ignoreer word – IN THE NAME OF DEMOCRACY ? Inderdaad……….

Jaco Prins ·

Die situasie waarin ons vandag onsself vind is dieselfde waarin ons voorvaders hulself bevind het net oor 300 jaar gelede toe hulle hier aangeland het. Ons is net klaar hier en moet net wakkerskrik en die linkse marxiste onder ons omverwerp en tot die stryd tree. Dié stryd word immers so teen ons gevoer van ’94 af, dit raak net nou eers sigbaar.

Coenraad ·

Van die klassieke liberalisme sien ‘n mens deesdae maar min in die wêreld. Die “liberale” van ons tyd is in baie gevalle maar net linkse radikale -of so sien ek dit. Daar het ‘n vermenging van die twee konsepte plaasgevind wat baie verwarrend is.

Sover demokrasie aanbetref is die probleem dat ‘n mens nie die meerderheid kan verontagsaam nie. Waar die gemeenskap bestaan uit ‘n klomp splintergroepe lei dit ook tot onstabiliteit (bv Italië). Die ideaal is seker as jy ‘n redelike homogene samelewing het – wat ons nie het nie maar wat die ANC probeer skep deur ons almal deur een vleismeul te druk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.