Die ANC se grootste mislukking

menslike-kapitaal

Foto: Olu Eletu/Unsplash.com

Mense maak die land. En vaardighede, kennis en onderrigvlakke maak mense beter. Regerings kan hierdie proses aanhelp of kniehalter deur beleidmaking. Hierdie aksiomatiese (klinkklare) waarhede kan niemand meer ontken of ontduik nie.

Honderd jaar gelede was minerale en ander natuurlike hulpbronne grootliks nog ’n belangrike hoeksteen van lande se rykdom en vooruitgang. Dit is hoekom daar iets soos kolonialisme was – sodat die metropolitaanse moondhede natuurlike hulpbronne vir hul eie ekonomieë kon bekom wat nie geredelik in hul eie lande beskikbaar is nie. Hierdie hulpbronne is egter in Europa verwerk en veredel tot iets wat veel beter en bruikbaar is en dit is selfs terugverkoop aan die mense van Afrika. Hierdie verdeling was ’n proses wat nie in Afrika gebeur het nie omdat die kennis daarvoor nie hier bestaan het nie.

Afrika is vandag nog ryk aan sulke hulpbronne, maar dit bly verreweg die armste vasteland ter wêreld. En daar is ’n nuwe soort kolonialisme aan die gang – dalk ’n sagter weergawe, maar nietemin ’n vorm van heerskappy. China het sy menslike kapitaal – en ook tuisvervaardigde tegnologie – met oorgawe begin inspan om te myn en infrastruktuur te bou om sodoende sy eie doeleindes te dien terwyl daar ook uiteraard sekere voordele vir Afrika geskep word. Maar China, nes die Europese koloniale moondhede, is nie hoofsaaklik in Afrika bedrywig uit altruïstiese redes nie. Daar word aan ’n hedendaagse Silk Road gebou.

Die ewigdurende probleem met Afrika – en ook met ander Derdewêreldstreke en -lande – is dat dit nie die menslike kapitaal het om sy hulpbronne te veredel of hoë ekonomiese waarde toe te voeg nie. Afrikaleiers, hetsy deur onbevoegdheid of ’n doelbewuste poging, het klaaglik daarin misluk om hul mense se potensiaal te ontsluit. Behalwe vir Suid-Afrika, is die vakbondwese op die res van die vasteland baie swak ontwikkeld omdat industrialisering en die groei van die formele arbeidsmark erg agterweë gebly het. Treurige beleggings en standaarde wat skool- en tersiêre onderrig betref, swak beskerming van eiendomsreg sowel as lae en onderontwikkelde voedselproduksie is maar net sommige van die faktore wat postkoloniale Afrika steeds rysmier.

Dienslewering alleen skep nie menslike kapitaal

Dit het veroorsaak dat slegs Suid-Afrika in die Afrikastreek suid van die Sahara oor ’n taamlik gevorderde en gesofistikeerde ekonomie beskik en dit het weer daartoe aanleiding gegee dat Afrika sy beste talent te wyte aan die breinkwyn aan Europa, Amerika en toenemend ook Asië afstaan.

Daar word allerweë groot gewag gemaak van die diensleweringsuksesse van die ANC oor die afgelope 24 jaar. En daar is groot meriete en waarheid hierin. Krag- en watervoorsiening is aansienlik uitgebrei. Riolering is verbeter in die townships. Hierdie vordering is weliswaar vanaf ’n lae basis en ek glo enige demokraties-verkose regering sou dit kon regkry – beter regeerders sou waarskynlik veel meer kon vermag.

Daar is egter ook yslike mislukkings, en dienslewering alleenlik help mense nie om vir hulself te begin sorg nie. Tesame met knouende arbeidsbeleid, het die ANC en sy alliansievennote die skoolstelsel ondermyn en geweier om die kopskuif van die heeltemal uitgediende nywerheidsera na die moderne kennisekonomie (waar menslike vernuf, tegnologie en inligting die “eenheid van betaling” is) te maak. Natuurlik word daar nou en dan in amptelike beleidsdokumente lippediens hieraan bewys, maar dit vind nie werklik tasbare neerslag in meeste openbare skole en ander sektore van die ekonomie nie. Hierdie mislukking oorskadu ook al die ander suksesse, want sonder hierdie verbeterings gaan Suid-Afrika se hoë werkloosheidskoers – wat selfs hoër is as in 1994 – nie verlaag word nie.

Daar word beraam dat tot ’n derde van alle witboordjiewerkers se werk in die volgende 15 jaar ernstig in die gedrang kan wees weens die toenemend plaasvervangende rol wat tegnologie speel. En dan wonder Cosatu hoekom sy blouboordjielede (wie se werk baie vinniger geoutomatiseer en vervang kan word) so vinnig besig is om hul werk te verloor. Aggressiewe stakings, ’n weiering om die nuwe spelreëls te aanvaar en skadelike beleide soos minimumlone is bloot petrol op hierdie wegholbrand van kennis en kunsmatige intelligensie.

Hoop is nie ’n strategie

Die Wêreldbank het onlangs ’n menslike ontwikkelingsindeks uitgereik. Reeds aan die begin van die inleiding word daar aangevoer dat deur mense se vaardighede, gesondheid, kennis en veerkrag – altesame beskryf as hul menslike ontwikkelingskapitaal – te verbeter, hulle meer innoverend, produktief en buigsaam sal wees.

In die 2019 World Development Report (WDR): The Changing Nature of Work word daar insgelyks aangevoer dat markte toenemend op soek is na mense met hoë vlakke van ontwikkelingskapitaal, veral gevorderde kognitiewe en sosiogedragsvaardighede. Dit is iets wat nie gaan verander nie – ongeag hoeveel die EFF, Cosatu, die SAKP en ANC daaroor gil of dit probeer ontken. Dis eintlik nie nuwe eise wat aan mense en werkers gestel word nie, maar almal sal daarby moet aanpas of professioneel wegkwyn.

In die verslag word kriteria soos die vlakke van skoolonderrig, kinders se vroeë ontwikkeling, produktiwiteit en die algehele gesondheidsomgewing gebruik om tellings vir die onderskeie lande in die wêreld te bereken. Die gewone Afrika-sondaars wat op ander indekse ook swak vaar – soos Tsjad, Suid-Soedan, Mali en Niger – beklee tewens die laaste paar plekke op hierdie indeks. Die gewone presteerders – meestal Asiese en Westerse lande soos Singapoer, Japan, Finland en Australië – is heel bo-aan. Maar waar Suid-Afrika op feitlik elke ander indeks iewers in die middel of selfs in die boonste helfte lê, is dit 126ste uit 157 lande op hierdie ranglys. Selfs veel armer Afrika-lande soos Malawi, Swaziland, Ghana en Zimbabwe is bo Suid-Afrika geleë.

Dit is skokkend en tekenend van die ANC se enorme mislukking op hierdie allerbelangrike gebied. Oor die redes vir hierdie erbarmlike toestand kan lank bespiegel word: Die ANC se vyandigheid jeens die private sektor en wit mense om te help, emigrasie van kundiges, die regering se uitermate ingryping en geloof dat slegs die staat alle probleme kan oplos, massiewe korrupsie asook uiters onverstandige beleide wat beleggings wegdryf. Dalk is die situasie in ons openbare skole en hospitale weens werklike onbevoegdheid geskep, of miskien is dit doelbewus. Ek vermoed dit is ’n toksiese mengsel van albei.

Die feit is, hoop is nie ’n strategie nie. Om liries oor iets in beleidsdokumente te raak, gaan dit nie maak gebeur nie. Daar moet gewerk en belê word om dit te verwesenlik en dit begin by ’n geloof dat iets werklik die regte weg is om in te slaan. Laasgenoemde is wat ons doen by die Solidariteit Beweging en AfriForum deur opleiding en werklike bemagtiging en beskerming, maar ons dweepsieke regering glo hulle kan volgens hul eie reëls speel en wen.

Sonder behoorlike onderwys gaan regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging (SEB) net op verdere mislukking en skade uitloop. Die gebrek aan menslike kapitaal is die ANC se grootste mislukking ná ’n kwarteeu in regering.

Vele ander probleme vloei voort uit hierdie feit.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ʼn entrepreneur, sake-konsultant en onafhanklike politieke kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Basson ·

Die opskrif moes wees:

“Die ANC IS ‘n mislukking”

Die probleem is m.i die kloof tussen denkwyses en insig (+ vermoe) – ek vermoed (na harde lesse) dat dit nie oorkombaar is nie.

Francois vRvO ·

Baie waar Dr. Brink , die gebrek aan kennis is ons ondergang. Maar die gebrek aan sosiogedragsvaardighede kan nie herstel word in skole of universiteite nie.
Die massas word lamgele deur al hulle hoop te vestig op die ANC , wat moreel bankrot is.
Integriteit , eerlikheid , betroubaarheid en verantwoordelikheid is eienskape wat nie geleer kan word op skole nie, en die mense wat dit het , word opsetlik uit die stelsel verwyder.
Daar is nie meer plek vir ‘n eerlike besigheidsman in die ANC raamwerk nie.
So , wat staan ons te doen?
Daar is ‘n enorme mark vir betroubare projekbestuurders , hulle is skaars soos hoendertande.

Santie ·

Puik uiteengesit, soos altyd. Ergste waarheid is dat die ANC soveel kundigheid hier het om te tap, maar te moedwillig is om dit te doen. Soos tweejariges wat daarop aandrng om alles self te doen.

koos1 ·

Soooo jammer dat niemand in die ANC nie hierdie stuk gaan lees nie. Of lees en dadelik die skrywer, wit mense, afriforum of wat ook al gaan aanval, want sien, hierdie artikel val nie saam met hulle seining en optrede nie.
MAAR die waarheid moet uitbasuin word! Die ANC is net aanbewind deur oningeligte kiesers en as ons die punt gaan bereik waar AL ons kiesers ingeligtes is, dan sal geen ANC, DA, COPE ens. weer aan bewind kom nie.
Soos die mense slimmer word, moet die politiek ook aanpas om te oorleef.

Anoniem ·

Die verskoning is mos altyd: “ons leer deur ons foute”

Jerry ·

Baie goed vir jou Eugene. Uiteindelik is daar n meningsvormer wat begin wyse insig toon! Wanneer jy se dit lyk asof die ANC deur onbevoegdheid en doelbewus misluk, dan slaan jy die spyker op die kop. Die radikale rewolusionere denkwyse wat regdeur Afrika gevolg was om van die kolonialiste ontslae te raak was nooit net militer nie, maar eerder om Afrika so onaantreklik as moontlik te maak sodat kolonialiste nie in Afrika sal wil bly nie, maar wel later sal wil investeer nadat die rewolusioneres die politieke en ekonomiese mag het. Die voormalige minister van waterwese het onder Zuma reguit gese dat die ANC die rand sal laat val en die rand weer sal optel. In rewolusionere taal beteken dit dat die ANC die ekonomie doelbewus sal laat val totdat hulle totale mag het en meeste kolonialiste SA verlaat het voordat die ANC weer die ekonomie sal herstel soos wat tans die geval blyk te wees onder CR. Die rewolusionere denke is dus daarop gerig om onbevoegde kaders te ontplooi op alle vlakke van die samelewing ten einde doelbewus te misluk. Hulle wag dan net totdat mense afgele is en implimenteer dan n reddingsplan sodat hulle hulle eie mense kan aanstel. Jy kan die beste beleid en lewensvatbare planne maak, hulle sal jou goeie werkbare plan gebruik deur doelbewus presies die teenoorgestelde te implimenteer om te misluk en jou dan te blameer. Hoe meer ondraaglik en pynlik dit vir die kolonialiste raak, hoe groter raak die rewolusionere oorwinning!

Johann ·

Na die verkiesing in 1994 en die ANC aan bewind gekom het, het ek geweet SA is op pad af. Dit was nie of dit gaan gebeur. Dit was net ‘n kwessie van wanner. As ons kyk na die res van Afrika sien ons geen land wat vooruit beweeg nie.

Eish ·

” Die feit is, hoop is nie n strategie nie.”
Hoop gedy juis wanneer n praktiese strategie op die tafel is en ingekoop is daarin…
Die gevoel is tog asof daar in n lugleegte bestaan waarin die strategie verwesenlik word.
Met die pole wat bestaan tussen minderheidsgroepe teenoor die meerderheidsregering, bestaan die moontlikheid wel dat die werk ongedaan gemaak kan word deur drakoniese optrede, soos wetgewing. Dit beleef ons dan ook reeds die afgelope kwarteeu deur byvoorbeeld BEE wetgewing en interpretasie daarvan.
Indien voor n keuse, sou ek liefs territoriale selfbeskikking verkies, juis omdat die insette daarin, n groter kans tot standhoudende verandering het.
Maar dis net ek…

alida ·

Vertaal die stuk en vryf dit onder die ANC se neuse. Die SARS tannie is baie slim sy sal verstaan waarvan ons praat.

JAN ·

Die enigste redding uit die rampspoedige gevolge van globalisasie is NATIONALISME.
Na 50 jaar is hierdie duiwelse malligheid van Tsafendas se delusies en hallusinasies tabakdroom iets van die verlede .
Die Burgeroorlog het sopas gesterf..
Trump het sopas verklaar dat ware Nationalisme die globale redding sal wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.