Die ANC se KOÖPtasie-wenresep

flip-buys-2017-11-02

Flip Buys is die voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: René Roux.

Die ANC het so pas weer die verkiesing loshande gewen, ongeag hul ramspoedige regeringsrekord.

Talle kommentators het verwag dat die ANC swakker gaan vaar as gevolg van die krisis waarin hulle die land ná 25 jaar inregeer het. Swart armes ly die meeste onder die ANC-regering, en daarom vind mense dit onbegryplik dat meer as 6 miljoen mense oënskynlik weer vir hul eie benadeling gestem het. Uiteenlopende verklarings word hiervoor gebied, soos die ANC se status as die swart bevrydingsparty, wat kiesers eerder vir identiteit as beleid laat stem.

Dis vanselfsprekend dat die party se bevrydingstatus, oudpres. Mandela se politieke nalatenskap, die ANC se politieke kultuur en die gevoel van talle swart mense dat die ANC “hul party is”, tot groot lojaliteit onder miljoene van sy kiesers lei.

“Steunkoop”-strategie

Die party se wenresep sedert 1994 was egter om die belangrikste tien magsbasisse se steun te koop met staatsmag en belastinggeld. Die onderliggende denke is dat kiesers nie eerstens moet werk vir ʼn lewe nie, maar ANC moet te stem vir ʼn lewe. Die swart elite se steun is eerstens gekoop deur bemagtigingstransaksies wat talle kitsmiljoenêrs geskep het. Tweedens het die ANC die swart politieke middelkas se steun gekoop met derduisende goedbetaalde staatsdiensposte en rassekwotas in die privaat sektor.

Derdens is miljoene armes se steun gekoop met die grootste welsynstelsel in die ontwikkelende wêreld. Vierdens is die sosialistiese blok se steun gekoop deur die alliansie met Cosatu en die SAKP, en die opneem van sy leiersfigure en beleidsrigtings in die regering. Vyfdens is die Afrikaniste se steun gekoop met die ANC se klem op ras. Sesdens is die tradisionele blok se steun gekoop deur die opname van hul leiers in die party en die erkenning en vergoeding van tradisionele leiers.

Daarby het die ANC probeer om die ou magsorde deur die inlywing van die NP in te trek as die sewende been van hierdie strategie. Die agtste steungroep is die wit sakelui, wie se samewerking verkry is deurdat die ekonomiese beleid ruimte vir hulle gemaak het in ruil vir die ondersteuning van ANC se rassebeleidsrigtings. Die negende been van hierdie strategie was om die steun van liberale elitegroepe soos die media en akademici te kry, deur minstens lippediens te betoon aan die liberale Grondwet en die demokratiese bestel.

Om hierdie almal-insluitende “steunkoop”-strategie af te rond (’n tiende strategie), is die breë bevolking se lojaliteit verseker deur toe te sien dat die staatsmedia die stelsel regverdig – deur skoolleerplanne en deur die vestiging van die ANC-regering se mag oor alle sektore van die samelewing heen deur middel van die rasgedrewe transformasiestrategie.

Die ANC se idees het die regerende idees van die samelewing geword, waarbinne die meeste joernaliste en kommentators die daaglikse werklikheid vir hul lesers en kykers vertolk.

EFF en ANC

Die DA kry minder as 5% swart steun, en dit lyk of die party teen ʼn demografiese plafon vasgegroei het. Hulle kan ook nie die ANC se beloftes aan hierdie tien groepe klop nie. Al is die EFF ’n politieke stiefkind van die ANC, het hierdie twee sosialistiese partye saam twee derdes van die steun wat genoeg is om veranderings aan die Grondwet aan te bring.

Die EFF het waarskynlik die ANC nog verder na links gedruk. Aan die ander kant kan die ANC se oorweldigende steun hom hopelik die selfvertroue gee om wel die noodsaaklike veranderings aan te bring wat die ekonomie weer kan laat groei.

Net die tyd sal leer of die ANC in die komende jare sy koöptasiestrategie net so behendig kan toepas soos in die verlede, of dit later onbekostigbaar gaan word, en of sy regeringsvermoë as gevolg van sy eie beleidsrigtings verder gaan afneem. Kiesersgedrag is nie altyd soos kopersgedrag nie. Die ANC se suksesvolle steunkoopstrategie maak hulle goeie politici, maar die werklikheid het gewys hulle is swak regeerders.

Die ANC sal nie die eerste bevrydingsparty wees wie se innerlike teenstellings uiteindelik so groot word, dat dit die party laat verbrokkel nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
apie

Briljant uiteengesit.

Gerhard

Ek wens soms die ANC kan uitgestem word, sodat Afrikaners kan sien om die ANC uit te stem nie die probleem oplos nie.

Koos

Dit gaan nie net oor die ANC wat uitgestem moet word nie, NEE, dit gaan juis daaroor dat intelligente kiesers móét insien dat die ANC se hierbo uiteengesette sogenaamde “steunkoop”- strategie nie volhoubaar is nie en reeds besig is om geleidelik te begin verkrummel.

Dus, lig kiesers behoorlik in oor die gedoemde strategie en sien hoe vinnig verkrummel die uiters swak regeerder van ons dag se aanhang met die volgende nasionale verkiesing.

Andreas

Hou Ciril Ramaphosa weg van die mikrofoon.

lewies

Wat se die volkekundiges oor hierdie verskynsel? dit lyk na wantrou tussen bevolkingsgroepe. Hierdie saak le dieper as wat ons kan sien. Is dit nie miskien tyd dat ‘n onafhanklike multi-dissiplinere span kan help om agter die waarheid van kultuurtendense vs menslike gedrag te kom nie.