Die ANC se magstryd en minderhede

Pres. Cyril Ramaphosa kom by die Sefako Makgatho-presidensiële gastehuis in Pretoria aan. (Foto: Twitter)

Dit is nogal interessant om van hier ver na die interne woelinge in die ANC te kyk. (Byna sê ek dis “vermaaklik”, maar dit klink te leedvermakerig, en dit bring jou nêrens nie.)

Met die 57,5% van die stemme wat die ANC in die laaste algemene verkiesing behaal het, het hy ’n oortuigende oorwinning behaal. Dit was wel ’n waarskuwende klap van die kiesers, want dis beduidend minder as die 62,15% van vyf jaar gelede.

Die partybase het die verlore dekade van Jacob Zuma hoofsaaklik gebruik om hulself te verryk en die land met hul fundamentele onbekwaamheid in die rigting van ’n afgrond te stuur. Die vyf persentasiepunte minder wat die ANC vanjaar getrek het, was ’n antwoord op dié skaamtelose korrupsie en magsmisbruik.

Dat die party nie ’n aansienlik harder klap in die gesig ondervind het nie, was slegs te danke aan die feit dat hy ’n nuwe leier in die vorm van pres. Cyril Ramaphosa gekry het. Ramaphosa het die indruk probeer wek van iemand wat korrupsie, nepotisme en magsmisbruik aan bande wil lê. Baie kiesers by wie die momentum van die ANC-erfenis van bevryding nog aanwesig is, het toe besluit om hom ’n kans te gee.

Ook het Ramaphosa geluide in die rigting van minderhede gemaak wat op sigself positief klink.

Daar is egter ’n belangrike faktor wat verhinder dat ek op en af spring van opgewondenheid.

Ramaphosa het naamlik nog verreweg nie die verbete magstryd in die ANC gewen nie. Eers as dít gebeur het, kan minderhede dálk hul ingehoue asem uitblaas.

Ramaphosa gee die indruk dat hy erns wil maak met die uitroei van baantjies vir boeties, selfverryking en onbekwame kaders in belangrike posisies waar hulle die land die afgrond inhelp. Die probleem is dat sy instrument – die ANC – ’n lang en oneerbare tradisie van korrupsie, nepotisme en magsmisbruik het, een wat al terugstrek tot die jare sestig, toe die party in ballingskap was.

Om maar ’n voorbeeld te noem: Die party het ’n hoogs gesofistikeerde insurgensiestrategie in sy struggle teen apartheid opgestel, een wat voldoen aan al die vereistes van revolusionêre oorlogvoering. Baie gesofistikeerde denke is duidelik in die strategie belê.

Maar die ANC was toe al skuldig aan die probleem wat hom in regering sou verlam: Selfs die beste teorie bly net dit – teorie. Die ANC was nog nóóit in sy bestaan in staat om iets prakties te dóén en ’n sukses daarvan te maak nie.

Daarom het die struggle gedegenereer tot ’n chaotiese en ordinêre terrorisme teen onskuldige burgerlikes (van wie baie swart), en ’n ernstige erosie van sy eie mense se respek vir gesag. Daarvan pluk die ANC vandag, met die dramatiese omvang van misdaad (waarvan swart mense nog veel meer as wit mense die slagoffer is) die wrange vrugte van sy eie onbekwaamheid.

Maar goed, Ramaphosa het die leierskapstryd naelskraap gewen. Maar ofskoon hy vermoedelik ernstig teen die misstande wil optree, sit hy met ’n sterk faksie in die party wat nie van plan is om die voordele van korrupsie en selfverryking sonder ’n yslike geveg prys te gee nie.

Vandaar die berig in die naweek se Sunday Times dat sommige grootkoppe met ’n opstand teen Ramaphosa dreig, tensy die party se integriteitskommissie sy ondersoek na hul misdade stopsit. Bepaalde individue eis selfs dat die kommissie in sy geheel ontbind word.

Dis nou die kommissie wat aanbeveel het dat 23 mense se name van die ANC se kandidaatlys vir die verkiesing weens “korrupsie, wanbestuur en ander wandade” geskrap word.

Die verontwaardiging is begryplik. Die ANC het immers deur die jare die voertuig vir selfverryking en korrupsie geword. “Dis nou óns beurt om te eet,” het byna ’n ongeskrewe ANC-leuse geword.

En nou kom die verdekselse Ramaphosa en sy integriteitskommissie en dreig om dit alles omver te gooi. Dít nadat vorige geslagte “geëet” en daarmee weggekom het! Wie dink die blikskottels is hulle, in elk geval?

Die name van etlike van die berugte Zuma-kripvreters verskyn nie op die lys van Ramaphosa se nuwe kabinet nie. ’n Mens dink aan byvoorbeeld Bathabile Dlamini, Malusi Gigaba, Nomvula Mokonyane en Mosebenzi Zwane.

David Mabuza, visepresident, het voorheen bekend gestaan as ’n lojale Zuma-kader. Hy het blykbaar nou gesien aan watter kant sy brood gebotter is, en het dus omgeswaai.

Maar ander name het hulself in Luthuli-huis, die ANC se hoofkwartier in Johannesburg, verskans en hier dink ‘n mens veral aan die berugte Ace Magashule, wat sy dreigement om Pieter-Louis Myburgh weens dié se onthulling van sy skaamtelose korrupsie hof toe te sleep, steeds nie uitgevoer het nie.

Dit hou die gevaar in dat die uitvoerende mag deur Ramaphosa oorheers word, maar die party-strukture in Luthuli-Huis deur die Zuma-faksie. En dit beteken dat Ramaphosa se geveg om die onbetwiste baas in die ANC te word steeds nie verby is nie.

Wat beteken dit vir die minderhede?

Enersyds beteken dit dat haters van Afrikaans, soos Panyaza Lesufi, sal voortgaan om Afrikaanstalige skole te teiken. Dat Lesufi eers van sy onderwysportefeulje in Gauteng verwyder en toe twee dae later weer daarin teruggeplaas is, wys dat die anti-Afrikaanse element in die ANC steeds behoorlik sterk is.

Lesufi staan ook bekend as ’n Zuma-aanhanger. Moet hom en sy medehaters van Afrikaans nie afskryf nie.

Ramaphosa self klink na ’n rasionele man wat besef die minderhede is ’n bate vir die land. Wat daarvan oortuig is dat die minderhede se werkywer, kundigheid en ervaring ingespan moet word om Suid-Afrika uit sy neergang te haal en weer op die wenpad te plaas.

Maar hy is ook ’n praktiese politikus. Hy weet die ANC is vir hom ’n remskoen wat sy beweegruimte beperk.

Moet dus nie te vinnig te veel van hom verwag nie.

Daarom sal die magstryd in die ANC in die komende weke, maande en jare met arendsoë dopgehou word. Baie gaan daarvan afhang.

Intussen kan dit geen kwaad doen om vir wysheid te bid nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Gert ·

(ANC + EFF)se stempersentasie het byna presies dieselfde gebly, en EFF is maar net ‘n faksie van die ANC, so duidelik het hulle ‘n sterk mandaat van die kiesers om die plundery voort te sit. Ek bevraagteken ook dat Ramaphosa die korrupsie wil stop, hy was dan self deurgaans deel van dit.

Judge Dredd ·

Korrek.
2014 – ANC 62.15 + EFF 6.35 = 68.5%
2019 – ANC 57.5 + EFF 10.79 = 68.29%

Die enigste werklike verskil na Zuma tragedie is dat die oningeligtes besluit het om selfs nog meer radikaal links en praktyke wat ons oor die afgrond gaan druk – te stem.

Nou hoe bou ‘n mens ‘n nasie met sulke mense?

JAN ·

Krygswet is die operasionele strategiese doel..
Trokke lorries is nuwe sagte teikens word nou verbrand. Reuse verkeer sabotasie. … Naas eskalerende plaasaanvalle.
Reeds sprake van weermag ingreep.

Stephan de S ·

Die artikel is n getroue weergawe van die hartseer-werklikheid van ons land se politiek situasie. Behalwe dat ons debat moet voer oor ons situasie met die oog op n werkbare plan……..tot op hede het baie ouens baie idees en glo hulle het die oplossing , maar voor jy genoeg mense kry wat saamstem en jou entoesiasties volg , is dit net n droom en geen oplossing nie……..kan ons net bid vir wysheid. Wanneer n mens bid , sê jy daardeur : ek is magteloos maar hoop/verwag wysheid vir die toekoms. Dit bemagtig n mens en stop jou v verdere dwase redenasies wat geen realistiese kans het op verwerkliking.

Andreas ·

Hierdie is genoeg om te besef die land is nie net in ‘n jammerlike toestand nie, maar word deur die ANC regering en Cyril gefaal.

Ons is al eintlik ‘n paar kerwe laer as rommelstatus, maar die graderingsagentskappe besef seker as hulle die werklikheid in hul gradering moet weerspieël, sal dit die doodskoot wees waarvan die land moeilik gaan herstel, indien enigsins. Hulle gee dus die vier here (ministers) aan die hoof van die ekonomie nog blaaskans, o ja, en vir Cyril se haas.

En dan is daar ‘n dag of so gelede voor die Zondo kommissie getuig die rede wat die Guptas gegee het waarom hulle hul eie mense by ANN7 aangestel het, en nie Suid Afrikaners nie.

Robert ·

Leopold – Goeie Artikel. Jy moet net onthou dat Adriaan Basson vas glo Lesufi nie Afrikaans haat nie. As jy dit uit Nederland kan raaksien wonder ek werklik watter oogklappe Basson aan het.

B ·

So lang storie kort – status quo van die afgelope 25j word gehandhaaf vir die voorsienbare toekoms.

Andreas ·

So, die Guptas, die Watsons en hul gekaapte meelopers in die staat se strukture word nou die een na die ander deur die Zondo kommissie ontbloot, maar nou klink dit my ‘n faksie binne die ANC, van daardie wat ondersoek word, het weer vir Cyril gekaap.

humor ·

Los vir Basson, hy is so van die spoor af gebore niks kan hom verander nie, behalwe die dood.

Dirk ·

Die skrywer se laaste paragraaf is die mees insiggewende van die artikel. CR en misleiding is sinoniem met mekaar. Enige positiewe geluide teenoor minderhede is vir beleggings, vir investering, alles vir geldelike hulp tot voordeel van die ANC. Indien geldelike hulp nie gaan kom nie, sal sy valse masker vinnig afval. Dan sal gewetenloos sinoniem wees met die meneer!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.