Die ANC se munisipale kleivoete …

Twee mense is dood en vier gewond tydens die gewelddadige betogings wat in Philippi en Mitchells Plain in die Wes-Kaap in Mei gewoed het. Foto: Twitter via @AfriNewsAgency

Deur Jeannette Gnade

Die ouditeur-generaal het pas bevind dat munisipale bestuur in Suid-Afrika op die afgrond huiwer. Net 13% van die 257 plaaslike rade wat ondersoek is, het ʼn skoon oudit ontvang terwyl onreëlmatige besteding tot meer as 28 miljard rand gestyg het. Die meeste munisipaliteite in die land word deur die ANC beheer, wat die politieke situasie in Suid-Afrika weer by die hare insleep. Ontleders sê swak bestuur in die drievlakregering het baie te make met die ANC se neiging om kaders te ontplooi of mense wat individuele partyleiers se loopbane bevorder het, met goedbetaalde bestuursposte te beloon.

Die Moerane-kommissie wat politieke moorde in KwaZulu-Natal ondersoek, het gehoor dat die stryd om ANC-raadslede te word of sodanige poste te behou, dikwels die aanleidende oorsaak van die talle polities gemotiveerde moorde in die provinsie is. Dit is blykbaar ʼn dodelike wedywering wat hoofsaaklik in die ANC woed. Die logiese afleiding wat hieruit gemaak word, is dat die mense wat in munisipaliteite saamgegroepeer word, glad nie in tel is nie. Dit gaan nie oor goeie dienslewering en ontwikkeling of selfs oorlewing nie, maar oor mag en geld.

Nou vermoed Kaapstad se DA-beheerde metroraad dat die skielike betogings-ontploffing oor grond en behuising in die stad polities aangevuur word deur die ANC wat die Wes-Kaap ten alle koste weer terug onder sy beheer wil kry. Die EFF is moontlik die stille vennoot.

Die raad het oplaas die Suid-Afrikaanse Polisie gevra om ʼn prioriteitsgroepering op die been te bring ten einde die kommerwekkende toename in protesoptredes vas te vat. Gedurende die eerste vier en ʼn half maande vanjaar was daar nie minder nie as 145 gewelddadige betogings in vergelyking met die 84 in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar. Dit verteenwoordig ʼn toename van 73%.

In ʼn poging om mense te ontmoedig om plekke te beset wat nie geskik is vir menslike gebruik nie, moet die stad se antigrondbesettingseenheid gemiddeld 15 000 onwettige strukture en kleimpenne per maand verwyder. Vanjaar moes 26 000 strukture afgebreek word.

Volgens die metroraad kan of wil mense net nie verstaan dat grondbesetting nood- en basiese dienslewering in die wiele ry, of toekomstige projekte om mense se lewensomstandighede te verbeter, kelder nie. Nie eers die erger blootstelling aan oorstromings, brande, gevare en gesondheidsrisiko’s skrik die grondbesetters af nie. Boonop eis hulle met die intrapslag dat die onbewoonbare stukke grond met basiese dienste soos krag, water en sanitasie toegerus word. Dit is nie alleen onprakties nie, maar onbekostigbaar.

Vir privaat grondeienaars word dit ʼn nagmerrie. Hulle moet voortdurend hul eiendomme teen groot onkoste ontoeganklik maak, of ten duurste hofbevele bekom om besetters te verwyder.

Meer as 30 brandpuntgebiede vir onwettige besetting is tot dusver uitgewys waarvan Vrygrond, Parkwood, Ocean View, Gugulethu, Khayelitsha, Macassar en Mitchells Plain waarskynlik die ergste is. Die ANC is na bewering druk besig met veldtogte in dié gebiede om stemme te wen vir aanstaande jaar se verkiesing.

Besef die mense van die Kaap nie dat hulle armoede as ʼn wapen teen hulle gebruik word nie?

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Belastingbetalers skuldig ·

Ons as belastingbetalers is net so skuldig want ons betaal maar net al te gewillig sonder om ons ekonomiese mag te gebruik om die regerig te dwing om korrupsie vas te vat.

Jerry ·

Die mense van die Kaap se armoede word nie teen hulle gebruik nie, dit word vir hulle gebruik en teen witbevoorregting, gnade tog !

Pietman ·

Onlus en protesopteogte is al lank reeds ‘n politieke wapen en ontstaan glad nie spontaan nie. Dit word beplan en georganiseer met moedswillige intensies. Dit word met valse gerugte, vals beskuldigings op media/sodsiale media aangeblaas. As die DA dit nie teen die tyd weet nie is hulle vas aan die slaap. En as hulle dit nie geweet het nie kan hulle nie stratgieë beplan om die gevolge daarvan te neutraliseer nie, Die DA is veronderstel om elke enkele onwaarheid van politieke opponente aan die groot klok te hang en sodoende hulle as leunaars te ontbloot – ag nee wat, lyk my hulle is te besig met ‘n geskarrel agter posisies aan om wakker te word. DA verval maar net in ‘n hopelose impotensie.

Frans C ·

Baie mense het geen benul van hoe stadsrade bhoort te funksioneer nie.Lyk myselfs DA raadslede sukkel.Die Randwater raad besluit op ‘n samewerkingsvergadering van 18.10.2017 om sy tarief vir grootmaatverskaffing te verhoog van R2.713 per kubieke meter (kiloliter) na R3.055 per kubieke meter.Dit is ‘n verhoging van R0.204 of 12.6%.

Nou wat sê die agbare Burgermeester van Ekurhuleni.Die Rand Waterraad het sy tarief
met 12.6% verhoog dus is die Raad genoodsaak om sy tariewe ook met 12.6% te verhoog.Dit word blykbaar sonder teenstem aanvaar.
Tans betaal ek vir 9 kiloliter water sonder BTW R134.01,dws R14.89 per kiloliter.
Die Raad moet dus die tarief verhoog met R14.89 met R0.204 (RWR verhoging),dus na R15.09 per kiloliter.

Maar dit gaan blykbaar volgens die toespraak nie gebeur nie en gaan die tarief van R14.89 met 12.6% verhoog word met R1.88!na R16.77 per kiloliter.As dit ‘n werklikheid word weet ek wragtig nie of dit die moeite werd is om vir enige politieke party te stem,want ek het nog geen teenstem van enige politieke party teen dit gehoor nie.Of het die agbare burgermeester uit onkunde gepraat!

Sou graag wil weet hoe die verskil tussen die Rand Water Raad en Ekurhuleni watertarief opgemaak word,of is dit te veel gevra.

Vic ·

Ek het besluit om nie meer kwaad te word vir wat als in ons land aangaan nie,wat sal wees sal wees wat sal gebeur sal gebeur,ons uitverkoping het gebeur

Casper Labuschagne ·

Postkoloniale verval kom voor waar ‘n meritokrasie vervang word met ‘n stelsel waar persone nie volgens bevoegdheid aangestel word nie maar volgens ‘n meriete waar politieke kwalifikasie, ras en geslag die oorwegende faktore is. Vergelyk die kurwe van ‘n bal wat in die lug opgegooi word en waarna die opwaartse stukrag van ‘n meritokrasie uitloop en op die bokant van die kurwe word ‘n staat van ewewigtigheid bereik waar die kragte gelyk is, maar daarna word die afwaartse kurwe onafwendbaar al hoe sneller en steiler.

Na 1994 is die kundigheid van die meritokrasie in munisipaliteite vervang met aanstellings wat nie op die meriete van bevoegdheid gemaak is nie. Bankrotskap gebeur eers stadig, en dan skielik. En die oorgawe van stadig na skielik is waar die meeste munisipaliteite nou is – die slaggate en algemene verval was die simptome en nie die siekte nie, maar die kanker het nou terminaal geword waar daar baie werkers is en ontelbare middelvlak bestuurders is wat in kantore sit met wonderlike titels op hul deure. Maar niks werk nie want al is die organisasie groot en die salarisse is baie, is die bevoegdhede maar min en die werkers wat eintlik kan werk, is selfs nog minder.

Een van die antonieme van ‘n meritokrasie is ‘n kakistokrasie – regering deur die heel slegste en mees ongekwalifiseerde persone. Hoekom klink dit bekend as ons van munisipaliteite praat?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.