Die ANC se rekord van geweld teen boere

In ʼn artikel wat Vrydag, 16 September, in die ANC Today gepubliseer is, het Ayanda Dlodlo, sekretaris-generaal van Umkhonto we Sizwe-vereniging vir Militêre Veterane (MKMVA), regter Collin Lamont se onlangse beslissing in die haatspraaksaak teen ANC-jeugligaleier, Julius Malema, skerp gekritiseer. Dlodlo skryf dat die beslissing poog om die geskiedenis van die MKMVA uit te wis. Sy voer aan dat wanneer MK-kaders “awudubula ibhunu” (“skiet die Boer”) gesing het, “ibhunu” na die militêre vyand en nie Afrikaners in die algemeen, verwys het nie. Mdlodlo skryf:

“In MK militêre-taal, en natuurlik ook in die struggle-spreektaal, is ‘ibhunu’ die ‘vyand’. In teenstelling met regter Lamont se siening, was ʼn hausfrau wat apartheid ondersteun het, nie noodwendig die ‘vyand’ of ‘ibhunu’ nie; so ook nie ʼn boer wat nié ʼn verlengstuk van die Suid-Afrikaanse Weermag-brigade (SAW) as ʼn lid van die kommando’s was nie. Nie almal wat apartheid ondersteun het, was dus uit ʼn militêre perspektief die ‘vyand’ nie.” (Vir Dlodlo was die definisie van ‘ibhunu’ as die spesifieke vyand “vernietig toe ons bevryding gevind het. Vandag is daar nie meer ‘ibhunu’ nie. ‘Ibhunu’ is saam met apartheid dood.”)

Dlodlo erken uitdruklik dat wit boere, wat wel lede van die kommandostelsel was, as ‘ibhunu’ beskou is, met ander woorde, as regmatige teiken om aan te val. Boere is ruiterlik deur MK-kaders tydens middel tot laat 80s aangeval, en veral tussen 1985 en 1987 tydens die ANC se landmyn-veldtog in die noordelike grensgebied. Dit is insiggewend om weer na hierdie periode te kyk, aangesien dit lig werp op die ANC se begrip van die ‘vyand’.

Op 26 November 1985 is twee mense in twee afsonderlike landmynontploffings op paaie naby Messina in die destydse Noord-Transvaal beseer. ʼn Berig in die Pretoria News op dieselfde dag het verkondig dat dit “die eerste keer is dat landmyne op Suid-Afrikaanse paaie geplant is.” (Edward Meluba, ʼn passasier in een van die voertuie, het later aan sy wonde beswyk.) Vier lede van die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) is die volgende dag lig beseer nadat hulle troepevoertuig ʼn landmyn afgetrap het terwyl hulle die area vir landmyne gefynkam het.

'Radio Freedom' was die ANC en Umkhonto We Sizwe se sender uit Lusaka.

Op 28 November 1985 het die ANC op Radio Freedom tydens ʼn uitsending vanaf Addis Ababa eer ingeoes vir die aanvalle. Volgens hulle was die landmyne in Messina ʼn “teken van die verskerping van die struggle wat in ons land deur ons mense aanskou word.” Die ANC het wit Suid-Afrikaners gewaarsku dat dié en ander soortgelyke aktiwiteite binnekort “aan die orde van die dag” sou wees en gewaarsku dat “hulle ook in gedagte moet hou dat sulke aktiwiteite nie net opgeskerp sal word nie, maar ook sal uitbrei en die land sal verswelg, woongebiede ingesluit.”

Die eerste persoon wat in dié aanvalle dood is, is Jas Balie (25), ʼn swart trekkerbestuurder. Sy trekker het op 27 November ʼn landmyn op ʼn plaaspad afgetrap en hy het die volgende dag aan sy beserings beswyk. ʼn Paar dae later is nóg ʼn swart plaasarbeider, Philemon Ngcobo, dood nadat sy trekker op ʼn plaas in die area opgeblaas is. Op 16 Desember is ses mense dood nadat hulle bakkie ʼn landmyn op ʼn wildsplaas naby Messina afgetrap het. Kobie van Eck (34), haar kinders Ignatius (2) en Nellmarie (8), en Marie Denyschen (59) en haar kleinkinders Kobus (3) en Karna (9), het in dié ontploffing omgekom.

In ʼn uitsending op Radio Freedom op 6 Januarie 1986 het die ANC wesenlik verantwoordelikheid vir die sterftes aanvaar. Die berig het die oorledenes as “ses wit boere en een swart persoon” aangedui. In die uitsending is gesê dat “die ANC se hoofkwartiere in Lusaka nie verantwoordelikheid vir die ontploffings aanvaar alvorens hy verslag van sy stryders binne die land se grense ontvang het nie”, maar dat “dit nie regtig eers belangrik is of die ANC uiteindelik verantwoordelikheid vir die aanvalle aanvaar nie, aangesien dit in elk geval een van die bedrywighede is wat deel uitmaak van die voortdurende en toenemende gewapende struggle binne Suid-Afrika. Wie ook al die aanval uitgevoer of beplan het is verseker ʼn Suid-Afrikaanse patriot…”

Vroeg in Januarie 1986 is Elize de Beer (32) en haar skoonpa Hubert de Beer (63) dood nadat hulle voertuig ʼn landmyn op ʼn plaas naby die Botswana-grens naby Ellisras in die Noord-Transvaal afgetrap het.

In ʼn uitsending op Radio Freedom op 26 Februarie 1986 het Chris Hani, die destydse politieke weermagkommissaris en adjunk-bevelvoerder van MK, dit duidelik gemaak dat hoewel MK nie wit burgerlikes sommerso geteiken het nie, wit boere wel as regmatige teikens geag is:

“Umkhonto we Sizwe is ʼn revolusionêre weermag en is nie van plan om chaos onder witmense, burgerlikes of kinders te saai nie, maar ons gaan ons aanvalle verskerp teen die vyand se werkers, bedoelende lede van die polisiemag, lede van die SAW, dié wat in beheer daarvan is om ons mense te terroriseer en te teister, daardie boere en ander burgerlikes wat deel is van die weermag (die militêre, paramilitêre en reserviste) in ons land. Maar kamerade, ons is realiste. Dié aksies gaan in wit woongebiede plaasvind en dit is onvermydelik dat wit burgerlikes sal sterf.”

(Volgens ʼn gelyktydige persverslag gedurende middel Mei 1986 is twee MK-kaders dood toe hulle ʼn landmyn laat ontplof het terwyl hulle besig was om dit op ʼn plaas naby Hectorspruit te plant. ʼn Plaasarbeider, Mzanzi Mabone, is ook in die ontploffing dood.)

In Mei 1986 is Biza Mahlangu (25) en Daniel Sindane (40) dood nadat die minibus waarin hulle gery het, ʼn landmyn naby Davel in die destydse Oos-Transvaal afgetrap het. Op 17 Augustus 1986 is drie vroue en twee kinders dood nadat die BMW waarin hulle gery het, ʼn landmyn naby Nelspruit getref het. Ernelena Sebiti (28), Lindiwe Mdluli (20), Katie Sambo (23) sowel as Joyce en Regina Nkowayne, albei jonger as een jaar oud, is ook in die ontploffing dood.

Op 28 Oktober 1986 het die ANC tydens ʼn lang uitsending op Radio Freedom die aanvalle verdedig (sien volledige transkripsie hier). Luidens die uitsending:

“Gebiede rondom die noordelike grens van ons land het die afgelope ruk ʼn vlaag landmynontploffings beleef waartydens ʼn aantal rassistiese boere óf gesterf het, óf ernstig beseer is. Die voorpunt in die vryheidstryd van ons mense, die ANC, het die gebiede lankal tot oorloggebied verklaar. Dit is omdat die boere in hierdie gebiede reeds ten volle by die vyand se sogenaamde veiligheids- en verdedigingsnetwerk ingeskakel is. Wit mans, vroue en jeugdiges is ʼn onlosmaaklike deel van die militêre en paramilitêre eenhede van die SAW.”

Die ANC se regverdiging om wit boere te teiken het egter veel verder gestrek as bloot hulle verteenwoordiging in die SAW se strukture. “Die wit boeregemeenskap [bestaan uit] uitbuiters wat ʼn slawe-eienaarsmentaliteit het…” het die ANC gesê. “Hulle eis die grond vir hulself op en beweer dat dit aan hulle behoort… Die Boere dwing hulle teenwoordigheid en heerskappy met koelbloedige onmenslikheid af. Hulle huiwer nie om ʼn plaaswerker dood te slaan nie. Hulle sien niks daarmee verkeerd om ons kinders op nagmerrie “pretritte” te vat of swart vroulike plaasarbeiders seksueel aan te rand nie: En dit alles onder die vaandel van wit beskawing, wit mag, superwinste en vrye ondernemerskap.”

Buiten die belofte dat MK-bedrywighede in plaasgebiede verskerp sou word, het die ANC ook swart plaasarbeiders – wat volgens hulle nie die teikens van hul bedrywighede was nie – aangehits om wit Boere te vervolg. “Julle skuld die Boere niks nie. Dit is hulle wat jóú skuld, omdat hulle deur jou armoede en arbeid vet en ryk geword het. Ondermyn sy bedrywighede op die plaas. Vernietig sy oeste. Saboteer sy toerusting en masjinerie. Gewaagde bedrywighede van Umkhonto we Sizwe is nie die enigste manier om die vyand te konfronteer nie. Sabotering is deel van die mense se oorlog: Moenie toelaat dat die Boere jou teen jou eie mense bewapen nie. Vat die wapens en kommunikasietoerusting… en alles waarop jy jou hande kan lê en gebruik dit teen die uitbuitende Boere.”

Op 2 November 1986 sterf onderkorporaal Albert Marthinus Le Roux nadat sy perd ʼn landmyn naby Baberton afgetrap het. Op 29 Maart 1986 sterf twee Motha-broers, ene mev. Phikhiti en ʼn onbekende swart vrou nadat die voertuig waarin hulle gereis het, ʼn landmyn afgetrap het. (Siphiwe Nyanda, Solly Shoke en Dick Mkhonto het in 2000 amnestie vir hierdie twee aanvalle ontvang.)

In Mei 1987 sterf Karel Thou nadat die vragmotor wat hy gebruik het om tien ander mense te vervoer, ʼn landmyn laat naby Messina afgetrap het. Dié bedrywighede is uiteindelik laat 1987 deur die ANC afgeskaf.

Tussen November 1985 en Mei 1987 is minstens 24 mense in die ANC se landmyn-veldtog dood  (buiten die drie wat in die Hectorspruit-voorval dood is). Vyftien van hierdie oorledenes was swart en nege wit. Van die wit Suid-Afrikaners wat in aanvalle dood is, was drie vroue, vier kinders en twee mans. Onderkorporaal le Roux was die enigste soldaat en die enigste wit man wat oud genoeg was om by die weermag aan te sluit wat tydens die veldtog dood is.

Die Waarheid- en Versoeningskommissie het, ondanks sy openlike simpatie vir die ANC, bevind dat “die ANC se landmyn-veldtog tydens 1985 en 1987 in die Noord- en Oos-Transvaalse platteland nie verskoon kan word nie, aangesien dit tot ernstige menseregtevergrype gelei het, insluitend plaasarbeiders en kinders wat in die aanvalle gesterf het of beseer is. Die ANC word aanspreeklik gehou vir hierdie ernstige skending van menseregte.”

Transkripsies van uitsendings op Radio Freedom dui aan dat die aanvalle op Boere en hul families gemik was. Die konsep “ibhunu” – soos gedefinieer deur Dlodlo – was elasties en kon, indien nodig, uitgebrei word om wit manlike boere en hul vroue en kinders (om nie eers te praat van swart ‘”medewerkers” nie) in te sluit. Die uitsending op 28 Oktober 1986 dui ook daarop dat boere nie net vir hul betrokkenheid by SAW-strukture geteiken was nie, maar ook as gevolg van ras- en ideologiese redes. Buitendien het die ANC met die aanvalle volgehou, ondanks die deurlopende hoë sterftesyfer onder swart burgerlikes regdeur die veldtog.

In 1957 het C.W. de Kiewiet opgemerk, “Afrikaners wat erg gegrief is, het ʼn spesiale gevoel van onskuld en opregtheid ontwikkel, wat hulle vermoë om ʼn samelewing met gasvryheid teenoor almal in die vooruitsig te stel, of selfs om foute by hulself raak te sien, verhinder het.”

Dit blyk of ʼn soortgelyke gees aan die werk is onder die ANC en sy ondersteuners in hulle skerp verdediging van hulle reg om “awudubula ibhunu” te sing wanneer dit hulle pas en ongeag wat die gevolge daarvan mag wees.

Die ANC se gevoel van “onskuldig en opregtheid” blyk so groot te wees dat dit lyk of hulle nie in staat is om betekenisvol verantwoordelikheid vir hul misdade tydens die gewapende struggle te neem nie of sy totale mislukking om, toe hy uiteindelik aan bewind kom, die boere te beskerm teen die mees afskuwelike misdadige geweld.

*Die artikel het oorspronklik hier verskyn, op Politicsweb.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: James Myburgh

James Myburgh is redakteur van Politicsweb.co.za - deel van die Moneyweb-groep.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

koos de la rey ·

die ANC is baie selektief as dit kom by die verlede. Die swart op swart geweld (intimidasie en onderdrukking in die townships tydens apartheid) word glad nie oor gepraat nie. Stompie Sepei wat deur Winnie se “gangsters” vermoor is, assok die “necklacing” word oor geswyg. Wat in die doodskampe gebeur het, word nog meer toe gesmeer. Wonder of die (swart) mense wat deur Joe Modise en Jacob Zuma gefolter is in kampe soos Quattro in Angola ook gesien word as ‘ibhunu’?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.