Die ANC: sukses of mislukking?

ANC-logo

ANC se logo op ‘n muur in Soweto, Johannesburg. Foto: Ben Sutherland/Flickr.com

Deur Francois Venter

Ongeag of ’n mens die ANC ondersteun, met die organisasie simpatie het, of dit opponeer, ’n beoordeling van hul prestasie as regering sedert 1993 lyk met die eerste oogopslag hoofsaaklik na ’n mislukking: virale korrupsie, interne onstabiliteit en onlogiese besluitneming.

Kyk egter weer: die ANC teken stelselmatig die een strategiese sukses na die ander aan. Kyk nie na die verval van infrastruktuur, die ineenstorting van munisipale, provinsiale en nasionale regeringstrukture, die ekonomiese smarte, die eskalerende armoede of die land se krimpende internasionale statuur nie. Gaan lees eerder ’n bietjie oor die nasionale demokratiese revolusie (NDR) op www.anc.org.za om insig te kry in dit waarmee die ANC eintlik besig is.

Die NDR is nie ’n spookstorie nie. President Ramaphosa verwys nogal gereeld in sy toesprake daarna. So het hy byvoorbeeld op 8 Januarie 2018 die lede van die ANC “Agents of revolutionary change” genoem, want ’n kritieke historiese fase van die NDR het, volgens hom, aangebreek. Toe hy op 31 Mei 2018 die sogenaamde kamerade uit die geledere van jong sakelui en akademici toegespreek het, het hy hulle aangespoor om hul “massiewe” verantwoordelikheid na te kom om die NDR te laat slaag.

Ten spyte van die demokratiese beeld wat die organisasie voorhou wanneer sy verteenwoordigers deur die passies van grondwetlike demokrasie gaan, is die ANC se kern-credo steeds onmiskenbaar ’n Leninistiese revolusionêre ideologie, hoe ongeloofwaardig dit ook al mag klink.

Natuurlik is nie al die lede of al die leiers van die ANC oortuigde kommuniste nie, maar die NDR-dogma leef kragtig voort: daarvolgens was die magsverkryging van 1994 nie die eindpunt van ’n revolusie nie, maar vir die beleidmakers in die organisasie die beginpunt van die transformasie na sosialisme – weer eens, hoe onrealisties dit ook al mag lyk.

Hoe moet ’n mens hierdie werklikheid verstaan? Om aan die mag te kon kom, het die ANC ’n plaaslike en internasionale beeld as oorwinnaar oor die wydverdoemde apartheidstelsel vertroetel. Omdat Suid-Afrika ten minste reeds sedert die 1960’s nie meer as ’n Britse kolonie beskryf kon word nie, het die ANC se ideoloë onder Russiese inspirasie die idee van ’n wit regeerde Suid-Afrika as “Colonialism of a special type” wat revolusionêr omvergewerp moet word, ontwikkel. Die Leninistiese taal van daardie idee is steeds baie prominent in die ANC se dialoog ingeburger. Lees gerus ter bevestiging Ben Turok se meningstuk in die Daily Maverick van 13 Augustus 2018. Tans is die mees blatante gebruikers van daardie idioom die EFF, wat eintlik niks anders as ’n wegbreekfaksie van die ANC se jeugliga is nie, maar gefrustreerd geraak het met die stadige pas waarteen dit gerealiseer word. Die idioom leef egter sterk voort in die ANC self, maar word met groter versigtigheid oorgedra terwyl die langtermynstrategie met sorgvuldige beplanning ontplooi word.

Soms skemer dit deur (soos in president Ramaphosa se parlementêre nooienstoespraak as president) dat die Vryheidsmanifes van 1955 vir die ANC meer gesag dra as die land se Grondwet. In die Vryheidsmanifes word die oogmerke van die NDR gelegitimeer, byvoorbeeld: “Our people have been robbed of their birth right to land, liberty and peace” (wat Ramaphosa brandmerk as dié oersonde en meer onlangs as ’n soort kanker (festering sore); “The mineral wealth beneath the soil, the banks and monopoly industry shall be transferred to the ownership of the people as a whole” (wat regstellende aksie, swart bemagtiging onder staatsdwang en die moontlike nasionalisering van die Reserwebank regverdig); “All the land (shall be) re-divided amongst those who work it to banish famine and land hunger” (onteiening sonder vergoeding van die “colonialists of a special type” se eiendom); “The courts shall be representative of all the people” (“transformasie” van die regbank), en “Free medical care and hospitalisation shall be provided for all” (die voorgestelde nasionale gesondheidsversekeringsplan).

Die ANC laat in hul interne kommunikasie geen twyfel daaroor dat die organisasie nie as ’n “narrow electoral or parliamentary party” gesien moet word nie, maar dat hulle namens “our people” moet bly regeer as ’n massabevrydingsbeweging gefundeer in sy revolusionêre tradisies.

Waarvoor die ANC beny kan word, is die behendigheid waarmee hulle hul dekolonialiserende oogmerke stap vir stap onder ’n openbare vaandel van morele geregtigheid binne ’n liberaal-demokratiese grondwetlike bedeling bereik. Hierdie “suksesse” is, ten spyte van die organisasie se (geregverdigde) beeld van morele verval, gebrekkig aan voldoende vaardighede om ’n moderne staat te regeer, en is die toenemende interne magstryd, duidelik sigbaar uit wat reeds deur die ANC se parlementêre meerderheid bereik is:

  • In 1998 is die Wet op Gelyke Indiensneming aangeneem met die doel om regstellende aksie, gebaseer op die rasseklassifikasie voor te skryf.
  • Die ongedefinieerde en hoogs plooibare begrip “transformasie” is in die omgangswoordeskat ingevoer om as ʼn moreel onaanvegbare imperatief te geld waardeur die ongeregtighede van die verlede uit die weg geruim moet word. So word die transformasie van elke samelewingskring as vanselfsprekend voorgehou.
  • Deur die onverbloemde praktyk van kaderontplooiing is die staatsadministrasie op alle regeringsvlakke van nie-ondersteuners van die ANC gesuiwer en (met min besorgdheid oor bekwaamheid) met vertrouelinge vervang.
  • In 1998 het die Nasionale Waterwet ’n einde gemaak aan private regte op water deur die nasionale regering tot openbare trustee van die land se waterhulpbronne te verklaar en aan die betrokke minister die mag toe te ken om dit te beheer.
  • Kragtens artikel 217 van die Grondwet wat deur die ANC ingevoer is om vorige benadeling as deurslaggewende maatstaf vir staatsverkryging te vestig, is die stelsel van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) teen 2000 deur ’n kommissie onder die voorsitterskap van Cyril Ramaphosa ontwikkel. Die onverbloemde oogmerk daarvan is om wit eienaarskap van sakebelange dwangmatig aan swart eienaars oor te dra.
  • In 2002 is die land se minerale en petroleumhulpbronne ingevolge parlementêre wetgewing in die hande van die staat as beskermer geplaas ten einde transformasie- en bemagtigingsdoelwitte te bevorder. Die konstitusionele hof het in 2013 by monde van hoofregter Mogoeng Mogoeng beslis dat dit nie as onteiening van mineraleregte vertolk moet word nie.
  • Die stelsel van maatskaplike toelae het in die afgelope jare van nagenoeg 4 tot 17 miljoen begunstigdes gegroei. Daardeur is ongeveer een derde van die totale bevolking ekonomies-afhanklik van die staat gemaak.
  • Die onlangse aankondiging van die regering se planne rakende die infasering van ’n nasionale gesondheidsversekeringstelsel, waardeur die gesondheidsektor min of meer onder volledige staatsbeheer gebring moet word, pas volledig in die beeld van die NDR.
  • Die ontketening van die debat oor onteiening sonder vergoeding en die moontlike wysiging van artikel 25 van die Grondwet is onmiskenbaar bedoel om deel te vorm van die ANC se “revolusionêre suksesverhaal”.

Sedert 1994 is die land se howe tereg beleef as ’n rasionele bolwerk teen onregmatige owerheidsoptrede en die regbank het ’n internasionale reputasie van uitnemendheid opgebou.

Daar is egter goeie rede om bekommerd te begin raak, want vir ’n geruime tyd reeds is die transformasie van die regbank ’n uitgesproke doelwit van die ANC. Afgesien van die blatante politisering van die Regterlike Dienskommissie (RDK), lewer die promulgering en implementering van die Wet op Regspraktyk van 2014 rede vir kommer.

Die gestelde oogmerk met die Wet is die transformasie en herstrukturering van die regsprofessie asook die heropleiding van regspraktisyns, wat in die motivering van die wetsontwerp geëien is as die belangrikste bron van kandidate vir die regbank. Die wet gebruik begrippe soos “transformational” en “constitutional imperatives” sonder om dit te definieer, waardeur die vertolking en toepassing daarvan oorgelaat word aan die diskresie van die regering en die amptenary. Daarby is dit ook opsigtelik dat sommige regters van die konstitusionele hof in ’n paar onlangse uitsprake nie versuim het om hul vooroordele teen Afrikaans, Afrikaners en nie-swart Suid-Afrikaners tot uitdrukking te bring nie.

Hierdie realiteite moet egter nie paniek en mismoedigheid veroorsaak nie. Waarteen wel gewaak moet word, is die illusie dat alles wel is en dat Ramaforie realisties is. Die man is in ’n verbete stryd om politieke oorlewing gewikkel wat meebring dat sy ideologiese onderrok op al hoe meer plekke begin uithang. Aan die ander kant is Ramafobie ook nie geregverdig nie, want sy legendariese strategiese vaardigheid is ’n groot nasionale bate wat realisme kan bevorder.

Wat Suid-Afrikaners teen die agtergrond van die ANC se prestasies van die afgelope 25 jaar te doen staan, is om daarop aan te dring dat, wanneer die organisasie hom as politieke party voordoen en wanneer sy troepemagte (“deployees”) in die openbare en sakesektore uitsprake maak, hulle presies moet sê wat hulle bedoel. Voorbeelde van vrae wat hulle behoort te beantwoord is: Wat beteken transformasie presies; Wat is hul werklike siening van die verskil tussen hul revolusionêre bevrydingsbeweging en die regering; en wat beteken elk van die NDR-begrippe “nasionaal”, “demokraties” en “revolusie” eintlik?

  • Francois Venter is ‘n buitengewone professor aan die Noordwes-Universiteit (NWU) en was voorheen dekaan van regte aan die Potchefstroomkampus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Liberaal

Die Nuwe Wereldorde het lekker vasskopplek in Potch universiteit gekry, nou kan ons globale elite die groot bastion van Afrikaneronderrig oorvat.

Heinrich

Dankie Francois, dit is ‘n baie insiggewende stuk! “There is no rush in Africa”, en ons almal weet dat hulle sê “Africa is for Africans”, so dit is baie duidelik waarheen hulle ons almal stoomroller (teen Afrika spoed, maar tog steeds vorentoe): net nog ‘n mislukte Afrika-staat wat eens op ‘n tyd gefloreer het.

Celtis Africana

” Hierdie realiteit moet egter nie paniek en mismoedigheid veroorsaak nie.” Ek dink nie die gemiddelde Afrikaansprekende Afrikaner koester baie positiwiteit oor hul geboorteland nie. Veral nie met die skrywer se verwysing na die doelwit van die regerende party om n sosialistiese staat mee te bring nie. Die verwysing na die Suid Afrikaners en vrae wat hul moet vra is niksseggend. Die meerderheid Suid Afrikaners ondersteun die model waaraan die regering werk. Die minderheid ondersteun nie n sosialistiese staat nie. Vrae vra gaan ons niks in die sak bring nie. Ons is in n situasie waar ons daagliks al hoe… Lees meer »

Gerhard

Die twee verskillende groepe in die ANC probeer dieselfde vermag. Al verskil is dat die een groep dit oornag wil he en die ander dit stadig wil doen sonder dat die padda uit die pot spring. In beide gevalle bly daar niks van die Afrikaner oor nie.

dejager

Die Afrikaner is die enigste werklike bedreiging wat die hele partytjie kan beëindig-vir goed.Ek sien ń blink toekoms anderkant die onvermydelike donkerte waarop nou afgepyl word.