Die ANC-vryvreters en verkiesingsbeloftes

’n Foto van president Cyril Ramaphosa van die ANC wat op 1 Mei 2019 in die Clermont-township geneem is. (Foto: RAJESH JANTILAL / AFP)

Slaan enige koerant oop of lees die opskrifte aanlyn. Wanprestasie, tenderbedrog, korrupsie, swendelary en oneerlikheid oorheers die nuus. Dit is asof die kaders en hulle leiers in ʼn laaste desperate poging probeer om te plunder wat nie reeds gesteel is nie.

In ʼn onlangse byeenkoms van die ANC-kaders se hersiening van sy verkiesingsmanifes in Boksburg, het die ANC bestek geneem van sy beloftes. Dit moes tydens die gesprek duidelik geword het dat die ANC se warmlugbeloftes die laaste jare nie realiseer nie. Dit het president Ramaphosa genoop om die skuld elders te soek. So is die skuld gepak op die Covid-19-pandemie, staatskaping en die voortgesette ekonomiese probleme sowel as die Julie 2021-onluste.

Trouens die president is soos volg aangehaal: “Die tydperk waarin ek president geword het, is moontlik die mees uitdagende tydperk wat enige president in die demokratiese era nog ooit in die gesig gestaar het. Geen ander president het soveel uitdagings, wat nie net ek het nie maar die hele land, in die gesig gestaar nie.” Trouens die president het gemeld dat hy 14 struikelblokke in sy pad gehad het. Covid-19 wat die hele wêreld gekonfronteer het, bly vir die ANC en die president ʼn gerieflike verskoning. Die ander struikelblokke waarna die president verwys is waarskynlik deur die ANC self geskep of vererger.

Die president verwys gerieflik na staatskaping asof dit ʼn ander administrasie of ʼn ander party was wat baat gevind het daarby. Net so word die ANC as party en sy leiers se aandadigheid aan korrupsie ook altyd weggepraat. Hiermee val die ANC in die patroon van soveel ander Afrika-lande se bevrydingsbewegings.

Die ANC wat so gereeld en hoogheilig sy vryheidsvegter-ideale in die dekades voor apartheid voorhou, het hedendaagse vryvreters geword en verval in die Afrika-patroon. Prof. William Gumede van Wits skryf hieroor in April 2021 en sê dat “in baie Afrikalande ondersteun die armes, gemarginaliseerdes en desperates gereeld die leiers en partye wat op die oog af teen hul eie belange ingaan en sodoende verhoog hulle armoede, marginalisering en onderontwikkeling net nog verder.”

Prof. Gumede kom dan tot die gevolgtrekking dat een van die redes hoekom Afrika sedert die einde van kolonialisme arm gebly het, die gevolg is van “magshonger, gewelddadige en wrede leiers”. Dit is dié leiers met hul populistiese retoriek, korrupte gedrag en swak beleid wat hul lande se ekonomieë laat ineenstort wat lei tot massa-hongersnood, ineenstorting van die samelewing en geweld.

Die bevrydingsbewegings wat insluit Suid-Afrika se African National Congress (ANC), Zimbabwe se Zimbabwe African National Union-Patriotic Front (Zanu-PF), Algerië se National Liberation Front (NLF), Angola se People’s Movement for the Liberation of Angola (MPLA) en Mosambiek se Mosambique Liberation Front (Frelimo) het in die stryd vir onafhanklikheid tot gewapende verset oorgegaan. Bevryding van kolonialisme, apartheid, en onderdrukking is wel verkry maar dit het op sy beurt tot rampspoed vir die lande gelei.

Die ANC se bevrydingsgeskiedenis het die beweging eens op die platform van hoë moraliteit geplaas. Vryheid is verkry maar die vryvreters val vandag oor hulle voete om te aas en te plunder. Hiermee het die ANC in die moeras beland waaruit hy nie meer kan kom nie. Die president se beloofde daeraad (New Dawn) van 2019 en 2020 en daarna is nie deur 14 struikelblokke belemmer of gekniehalter nie. Dit is gesteel deur sy eie party, die ANC.

Hierdie nuuskommentaar is deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

annie ·

Indien gedrag oor en oor en oor herhaal word, kan dit seker as endemies aan… beskryf word. Waarom doen ons dit nie? Omdat ons deur dieselfde mense voorgespring is wat aanvoer dat iemand wat sekere gedrag aan hulle koppel onwettig en wreed en rassisties wees. En so tjommel ons dan mar aan en aan en skryf duisende boeke vol sonder om die waarheid reguit te uiter.

Republikein in die Wes Kaap ·

Regdenkendes stem saam. Maar wat nou gemaak? Teen 2030 gaan ons steeds kla. Ons gaan ouer wees met minder geld. Maak planne!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.