Die antwoord op ’n rampokrasie is die gemeenskap

Ter illustrasie (Foto: Andrey Metelev via Unsplash)

Suid-Afrika steier onder ʼn kragkrisis. Die argitek daarvan is die regering, maar meer spesifiek die ANC. Hulle het ʼn toksiese ideologie van sentralisering en ras, gemeng met selfsugtige sistemiese korrupsie.

Hierdie toksiese mengsel skakel ons krag af. Die onlangse onthullings van André de Ruyter oor sistemiese korrupsie tot op kabinetsvlak het ons geruk. Mag word gesentraliseer, kaders word ontplooi en die elite eet saam uit die trog.

Die kragkrisis neem krisisafmetings aan en die president kondig ʼn ramptoestand aan – méér mag aan die ANC-regering.

Die regering wat die ramp veroorsaak het, kry dus nóg meer mag om dit op los. Daarmee saam gaan die opheffing van sekere oorsigtelike prosesse en demokratiese regte.

ʼn Ramptoestand is ingrypend en moet met versigtigheid hanteer word.

ʼn Ramptoestand gee magte aan ʼn regering wat provinsies toemaak, aandklokreëls afkondig, besluit watter klere jy moet aantrek en wat jy kan eet. Dit gee ook toegang tot fondse en tenders, en gee mag wat kan plunder.

Regeringsmislukkings voldoen nie aan die definisie van ʼn ramp nie. Dit kan wel ʼn ramp wees as ons van een mislukking na die ander, wat elke keer ʼn ramp verklaar word, strompel. Vandag is dit krag, môre water, oormôre ander infrastruktuur. Ons kan in ʼn permanente ramptoestand wees met meer mag aan die regering met meer geleentheid om sonder oorsig te eet. Dit sal ʼn rampokrasie wees.

Die kragramptoestand kon nie daargelaat word nie. Dit sou ʼn gevaarlike presedent van ʼn rampokrasie skep. Dit kon ʼn glybaan skep vir ʼn kultuur van te veel mag aan die regering en ons regering is te mal daaroor.

ʼn Krisis ontstaan en die eerste reaksie van die regering is ʼn ramptoestand, al is daar voldoende ander wetgewing in plek om die kragkrisis op te los. Hulle hou daarvan om sterkmannetjie te wees. Die probleem is die wil en vermoë van die regering, maar hulle oplossing is mag.

Solidariteit moes hof toe gaan om die magsvergryp te stuit. Die regering het beslis nie sélf besluit om die ramptoestand te stop nie. Hulle hou van sentrale beplanning. Hulle het ook nie sélf besluit om die Covid-19-ramptoestand te stop nie. Hulle het daarvan ook gehou. Solidariteit en AfriForum moes in dié geval ook die regering dwing om die Covid-19-ramptoestand stop te sit.

Solidariteit, Outa (die ander applikant) en die regering sou met die regter vergader om die saak teen die elektrisiteitramptoestand te bespreek en tydlyne vas te maak. Die regsvalbyl was gelig en sou op die onsinnige ramptoestand val.

Volgens die Mail & Gaurdian het ʼn regeringsamptenaar erken die regsproses het groot foute ontbloot en dat die regering in groot moeilikheid was.

Hulle wou nie, maar moes afstand doen van mag wat hulle nie toegekom het nie. Hulle is gedwing.

Die ramptoestand is teruggetrek. Dit was egter nie net ʼn oorwinning oor ʼn onregmatige ramptoestand nie, maar ook oor die gevaar van ʼn rampokrasie.

Wat sou gebeur het as die burgerlike samelewing nie toegetree het nie?

Suid-Afrika steier onder ʼn kragkrisis. Die antwoord hierop is egter nie meer mag en regering nie, maar meer privaat en gemeenskap. Grootskaalse kleinskaalse kragopwekking tot op gemeenskapvlak is nodig.

Eskom is ʼn gevallestudie van Suid-Afrika – te veel mag en regering. Die antwoord lê in meer privaat en gemeenskap. Die antwoord op die Suid-Afrikaanse ramp lê by mense wat antwoorde, ver van die mag van die regering, gaan soek.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

capie ·

Die huidige regime maak net reg vir die volgende ramp. Die groot een. Die moontlikheid dat hulle ‘n verkiesing kan verloor en dan so ‘n finale beheer kan oorneem wat polisie en weermag staat insluit en opposisie tot die status van lande soos Rusland, China en Zimbabwe terugdruk. Die howe sal geen invoed meer op hulle he nie.

Hendrik ·

Sonder stembus getalle teen die huidige regering sal niks verander nie. Besigheidshede moet nou intree en net eenvoudig nee se vir arbeidswetgewing soos #AA, #BEE en die laaste drakoniese ras wetgewing goedgekeur deur CR17.

Republikein in die Wes Kaap ·

Indien almal saamstaan kan dit gebeur.

Republikein in die Wes Kaap ·

Net jammer die breë gemeenskap is grotendeels uitgehol en verarm, met geen opleiding, kundigheid en geld om hul situasie te verbeter nie. En dis doelbewus gedoen. Van die ~61 miljoen bevolking leef 28 miljoen op SASSA toelaes. Nog vier miljoen werk vir die staat. Hoogstens een miljoen het wel die geld en kennis om dinge te laat gebeur. Die res sal op hulle teer. Dis ongelukkig nie volhoubaar oor die langtermyn nie. Die regime sal hul vernietigingswerk bloot voortsit.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Die Marxistiese ANC en EFF wil verseker dat Suid-Afrika deel is van ‘n Elitistiese Outoritêre Globale Orde onder die rookskerm van ‘n “Multi-pool Wêreld Orde as teenvoeter teen die Westerse Demokratiese Orde. En Rusland is die ANC/EFF se rolmodel. Gordel jouself vas vir ingrypende veranderinge aan die kom in die huidige wêreld orde. Ek wonder net: Waarom wil menigde Afrikane uit Afrika uitwyk na die VSA, Kanada, Engeland en Wes-Europa met min tekens dat hulle wil emigreer na die BRICS lande? Enige gedagtes hieroor?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.