Die Balfour-verklaring en die waarheid van die wet van onbedoelde gevolge

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Verlede week op 2 November, om presies te wees – net mooi ’n eeu gelede dat ’n kort brief van die Britse minister van buitelandse sake, lord Balfour, aan die Joodse bankier lord Rothschild, ’n knuppel in die hoenderhok gegooi het. Dit het bygedra tot die skep van ’n kruitvat in die Midde-Ooste wat selfs nou nog gereeld ontplof.

Die brief het gelui:

Dear Lord Rothschild,

I have much pleasure in conveying to you on behalf of His Majesty’s Government, the following declaration of sympathy with Jewish Zionist aspirations which has been submitted to, and approved by, the Cabinet.

His Majesty’s Government view with favour the establishment in Palestine of a national home for the Jewish people, and will use their best endeavors to facilitate the achievement of this object, it being clearly understood that nothing shall be done which may prejudice the civil and religious rights of existing non-Jewish communities in Palestine or the rights and political status enjoyed by Jews in any other country.

I should be grateful if you would bring this declaration to the knowledge of the Zionist Federation.

Dit is sedertdien in Israel en in Joodse kringe wêreldwyd tereg beskou as die dokument wat die stigting van die staat Israel in 1948 moontlik gemaak het. Kragtens dié beleid het die Britte, mandaathouers oor Palestina, beduidende Joodse immigrasie na die gebied toegelaat, wat uiteindelik demografiese feite op voetsoolvlak geskep het.

Balfour het geen idealistiese motief gehad nie. Hy was ’n klipharde realis wat Britse geopolitieke belange wou dien.

Die historiese konteks was belangrik. Brittanje was destyds gewikkel in ’n oorlog met Turkye, wat Palestina oorheers het. Om die Turke te verdryf het die Britte bondgenote nodig gehad, en dus het hulle ’n tipiese tweegatjakkals-taktiek gevolg.

Enersyds het twee Britse en Franse diplomate, Mark Sykes en Georges Picot, in Mei 1916 ooreengekom om die Midde-Ooste ná die Eerste Wêreldoorlog tussen die twee lande te verdeel.

Deur middel van die militêr briljante, maar polities naïewe kol. Thomas Lawrence (“Lawrence of Arabia”) se rol het die Britte en Franse die steun van die Arabiese stamme met vae beloftes oor vryheid van die Turke verkry. Die internasionale Joodse steun was belangrik vir die behoud van die Britse invloed in Palestina en die streek rondom die strategies belangrike Suez-kanaal.

Tipies van die Europese diplomasie van die tyd, was die idee om skimpe te gooi en toespelings te maak, maar geen afdwingbare beloftes nie. Let byvoorbeeld op Balfour se gebruik van die vae begrip “national home”, wat nie dieselfde status as “staat” het nie.

Dié dubbelhartigheid het sowel die Britte as die Franse in staat gestel om hul oorheersing van die Midde-Ooste tot ná die Tweede Wêreldoorlog voort te sit. Dié oorlog het sake egter in ’n stroomversnelling laat beland.

Albei lande het die steun van onderhorige volke – van Indië tot Palestina – nodig gehad teen die Duitsers en Japannese. Dit het eersgenoemdes se nasionalisme en sug na nasionale vryheid dramaties laat toeneem.

In Indië het die Britte die skrif aan die muur gesien en hulle in 1947 aan dié subkontinent onttrek. In Israel het tienduisende Joodse vlugtelinge aangekom en die nasionalistiese gevoelens van die Arabiese meerderheid aangejaag.

Albei groepe het op grond van die Britte se tweegatjakkalsbenadering gemeen dat dié agter húlle staan. Inderwaarheid wou die Britte nie hul vingers verder verbrand aan ’n situasie wat, mede deur hul eie toedoen, onbeheerbaar aan die word was nie.

Die Jode, wat pas ’n geskatte ses miljoen geloofsgenote in die Nazi’s se uitwissingskampe verloor het, was deur hul ervarings getraumatiseer en het gesweer dat só iets nooit weer sou gebeur nie. Die enigste manier om dit te voorkom, was ’n Joodse staat in Israel.

En aangesien die Jode eeue lank ’n eie staat daar had, was dit húl eiendom.

Die Arabiese nasionaliste het dit beskou as etniese suiwering. Hulle en hul voorouers het immers byna 2 000 jaar daar gewoon sedert die Romeine die Jode weggevoer en oor die bekende aarde versprei het. Dit was húl eiendom, het hulle gevoel.

Só het die Sykes-Picot-verdrag en die Balfour-verklaring soos so dikwels in die geskiedenis die waarheid van die Wet van Onbedoelde Gevolge bewys. Oneerlikheid hou nie die langste nie.

Die geskiedenis is bekend. Die Jode het in 1948 daarin geslaag om ’n staat in die grootste deel van Palestina uit te roep, maar in die proses het hulle honderdduisende Arabiere van huis en haard verjaag.

Dit is iets wat groot haat en bitterheid veroorsaak het. Dit was deels die aanleiding vir verskeie oorloë tussen Israel en sy buurstate.

’n Mens moet natuurlik genuanseerd na die saak kyk en jou nie deur propaganda, van welke kant ook, laat verlei nie.

Enersyds is dit moeilik om sonder simpatie te wees vir die Jode, wat eeue lank met Pase die versugting “volgende jaar in Jerusalem!” gehad het. Terselfdertyd is die Arabiere se regte, wat hulle in byna 2 000 jaar gevestig het, ontken.

Dit was ’n nulsom-spel, ’n situasie waar geen werklike kompromis moontlik was nie. Selfs vandag nog wil die Israeliese regering van premier Binyamin Netanyahu niks van ’n Palestynse staat weet nie, terwyl verreweg die meeste Arabiere steeds uit is op ’n vernietiging van Israel.

Dit het in ’n stadium, so 20 jaar gelede, gelyk of ’n oplossing gevind kon word. In onderhandelings tussen die destydse premier, Yitshak Rabin, en die Palestynse leier, Jasser Arafat, is ’n Palestynse staat op die Westeroewer van die Jordaan en die Gasastrook in die vooruitsig gestel, in ruil vir die Palestynse erkenning van Israel se bestaansreg.

Maar ’n Joodse fanatikus het Rabin vermoor. En Arafat het kleinkoppie getrek.

Op dié manier is die situasie as ’t ware bevries. Die Israeli’s glo hul voortbestaan kan slegs gewaarborg word deur die Palestyne onder te hou; laasgenoemdes wil steeds niks weet van Israel se reg om te bestaan nie.

Dis basies ’n onoplosbare situasie. En daarin het die Britse en Franse verraad, soos gemanifesteer in die Sykes-Picot-verdrag en die Balfour-Verklaring, ’n beduidende rol gespeel.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

DewaldS ·

Dankie vir ‘n interessante en op-die-oog-af gebalanseerde rubriek. Daar is baie historici wat die ses miljoen sterf-gevalle baie ernstig bevraagteken. Sou hulle reg wees in hulle skattings dat die getal BAIE kleiner moet wees, dan los dit ons met die dilemma van genoegsame motivering vir so ‘n geweldige politieke ingreep?

Leopold Scholtz ·

Beste Dewald, die getal van 6 miljoen is ‘n skatting; niemand weet presies hoeveel mense vermoor is nie. Tog, die moorde is taamlik goed gedokumenteer. En ses miljoen kom heel waarskynlik in die omgewing van die egte getal. Die historici wat dit bevraagteken, is ‘n klein groepie wat nie in die oorweldigende hoofstroom ernstig opgeneem word nie. Lekker dag verder.

DewaldS ·

Geen akademikus wat sy sout werd is, sal omgee of hy ernstig in die hoofstroom opgeneem word nie. En terwyl dit in baie Europese lande ‘n oortreding is om die getalle te bevraagteken (selfs met ondersteunende navorsing), sal die geloofwaardigheid van die huidige politieke bestel, die hoofstroom-pers en hulle napraters maar steeds omtrent dieselfde as ‘n sewe-rand noot wees.

Ben Niemand ·

Goed raak gevat, Dewalds! Die hoofstroom-pers bewys byna daagliks hoe ongeloofwaardig dit is, maar, nes ‘n hardnekkige Afrika Staats President, sal dit nêrens heen gaan nie.

Sarie ·

Miskien moet jy vir Malema hierdie geskiedenisles stuur.? Interessant dat die Jode nog altyd hul etnisiteit beskerm maar ander volkere veral die kommunistiese Jode soos hier in ons land moet volgens hul weg doen met etnisiteit.

Eish ·

Ek moet ruiterlik erken dat ek na die artikel eers besef wat die agtergrond vir die Midde-Oosterse konflik werklik in tydsperspektief is. Die stam van Juda (Jode van vandag) is die laaste stam van Israel wat weggevoer is vanweë hul ongehoorsaamheid. (Deuterononium se waarskuwing ) Die res van Israel is reeds 400 jaar voorheen weggevoer en het nooit teruggekeer nie. Die ware Israel is dus baie groter as dié gebied wat die Jode vandag okkupeer.

Die enigste oplossing vir die krisis daar, is n ingryping van Bo. Dis n godsdiensoorlog ( soos meeste maar is)

Tog, is die Israeliete se kaart en transport reeds opgeteken in die Boek van die tyd.

Het nie geweet ·

Ironies is dit dieselfde Lord Rothchild wat vir Cecil John Rhodes finansieel ondersteun het om destyds De Beers te stig en wat Rhodes bemagtig het om die Tweede Anglo Boereoorlog te inisieer om totale beheer oor die goudmyne te verkry. Nadat hulle reeds saam met Barney Bernato totaal beheer oor diamante gehad het.

Dat Rothchild, ondanks die ABO moord op tiene van duisende onskuldige Boere, en die vernietiging van die Boererepublieke, in 1917 vir ‘n eie Joodse grondgebied vra, is m.i. uiters skynheilig en vermetel.

Willie ·

‘n Geskiedkundig feit is dat Rothchild vir Cecil John Rhodes finansieel ondersteun het om beheer oor Suid-Afrika se goudmyne te kry deur die tweede Anglo Boereoorlog. Sy rykdom is bekom oor die dooie liggame van tienduisende onskuldige Boere. En na sy meedoen aan die vernietiging van die Boereruplieke vra hy Britse hulp vir die stig van ‘n eie tuisland?

John ·

Dit is waar dat nie alle Jode engeltjies is/was nie. Dit Bybel is die eerste om dit telkens uit te wys. Wat ook waar is, is dat as jy my ring wat verlore geraak het deur ander se toedoen, optel en dit oorlaat en jou nasate en menige ander vreemde vriende daarna (en ek het uitstekende bewyse dat dit wel myne is/was dmv van geskrifte en sketse) en jy en ander hou dit vir 2 000 en verhoed my en my erfgename telkens om dit terug te kry, is dit steeds nie jou eiendom nie, al wil jy dit so graag hou en aandring op ‘finders keepers’. Simpatie van elders maak jou ook nie die eienaar nie. Die oorspronlike eienaar leef wel nog en weet presies wat waar is en Sy Woorde oor die grenslyne het oor meer as 2 000 jaar ook behoue gebly… en die’ oorspronlike Eienaars is ‘n Magtige Wese… Wie gaan die saak uiteindelik wen, veral as die Ou Eienaar ook die Regter in die saak sal wees, einde der dae?

Jaun ·

En so dra die wêreld van vandag nog steeds swaar aan die Engelse se nalatenskap … Kan iemand asb vir die heer Malema uitwys dat die regte waaroor hy vir hom en sy “mense” galbraak, dieselfde regte is wat hy vir die Jode ontsê …

Herman G ·

Ja, interessant dat Lord Rothschild by beide betrokke was.

Een ding wat baie uit die oog verloor word is dat die selfde getal Jode uit Arabiese state (veral Yemen & Irak) uitgeskop is, as die Palistyne wat uit Israel uitgeskop is. Vandag leef die nasate van die Palistynse vlugtelinge nog steed in vlugteling kampe, maar die Jode van Arabiese lande is volle geintegreer in die Isreali samelewing.

‘n Ander interessante feit is dat Isreal se BBP per capita gelyk is aan Saudi Arabie sin, maar hulle het geen minerale nie.

Nico K ·

Dit is baie moeilik om iemand se motief agter ‘n daad te bepaal. Dr Scholtz bevraagteken Balfour se motief om die Jode ‘n eie staat te gee en glo dit was vir eie gewin. Mag wees, maar dit is tog interessant dat dieselfde Balfour in 1926 ‘n (baie minder bekende) verklaring gemaak het wat direk gelei het tot die die statuut van Westminister wat volle self regering vir die Britse gebiede Australiê, NZ, Kanada, Ierland en SA gegge het. Ek weet van geen bymotief in daardie verklaring nie. Miskien het Brittanje bloot besef dat die dae van kolonies verby gaan. Baie mense glo nog dat SA onafhankliheid verky het in 1910. Ander beweer 1961. My mening is ons het onafhankliheid verkry in 1931 met die statuut van Westminister wat gekom het van die Balfour verklaring.

Laaste Woord ·

Maar teen 1931 is die apartheidstrukrure reeds gevestig waarvoor die Afrikaner later alleen die rekening sou moes betaal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.