Die behoud van liberalisme

cilliers-brink

Cilliers Brink. Foto: Twitter.com

Deur Cilliers Brink

Danie Goosen se pleidooi aan Afrikaners om ’n konserwatiewe waardestel bo ’n liberale een te kies, val snaaks op die oor vir ʼn paar redes.

Aan die begin van die 20ste eeu was konserwatisme die tradisie van die Britse Jingo’s, die geselskap van Rhodes en Milner, en die ander Engelse toffieneuse wat neergekyk het op die Boerevolk en hul taal.

Destyds het Afrikaners se beste vriend uit die liberale kamp gekom. Emily Hobhouse het haar ontferm oor Boerevroue en -kinders in die konsentrasiekampe, en die wêreld se aandag help vestig op die vergrype van die Britse Ryk.

Haar voorbeeld is vandag nog ʼn liberale baken in ʼn land wat hom so maklik aan rasse nasionalisme vergryp. Dit was terloops ook ’n Liberale regering in Brittanje wat die heerskappy van die Jingo’s in Suid-Afrika kortgeknip het na die oorlog.

Baie het in die tussentyd verander maar vandag is daar steeds Tories, of te wel konserwatiewes in die Britse tradisie, wat die Boere-konsentrasiekampe probeer goedpraat. Een van hulle is Jacob Rees-Mogg, deesdae leier van die Britse laerhuis.

Die punt is nie om konserwatisme af te skryf omdat verwronge idees somtyds daaruit voortvloei nie, maar eerder te wys dat konserwatisme as sodanig nie ʼn samehorige waardestel is nie. Om konserwatief te wees, is om iets na waarde te ag en te wil behou. So wat “konserwatief” in ’n gegewe konteks beteken, hang af van wat jy wil behou.

Wat was beskermingswaardig vir die Britse Jingo’s hier in Suid-Afrika? Die glorie van die Britse Ryk, die idee dat beskawing geskep word met die praat van Engels, en die aanleer van Engelse gewoontes.

Die Ier Edmund Burke word allerweë beskou as die vader van konserwatisme, maar op sy tyd was Burke ʼn leidende lid van die sogenaamde Whigs, die party van 18de eeuse liberalisme.

Die erfgoed wat Burke wou bewaar, wat sy voorsate met groot opoffering en selfs gewelddadige verset teen die koning bekom het, sluit in habeas corpus, eiendomsregte, en die reg op ʼn verhoor deur ʼn jurie (in plaas van die koning). Anders as die meeste Tories van sy tyd, was Burke ook ʼn vroeë opponent van die slawehandel, en het hy die burgerregte van Ierse Katolieke bepleit.

In ʼn verwoestende kritiek op die Franse Rewolusie waarsku hy teen die utopiese idee dat ʼn volk al sy oorgeërfde instellings tot niet kan maak, en ʼn burgerlike samelewing van voor af kan oprig, sonder om homself uit te lewer aan tirannie.

Burke se afkeer aan utopiese rasionalisme word gedeel deur latere liberale, onder meer, Frederich Hayek, wat waarsku teen staatsbeplanning, en Karl Popper, wat grootskaalse sosiale herskeppingsprojekte verwerp.

Tog erken Burke wel dat sekere instellings nie beskermingswaardig is nie. Hy verwys met goedkeuring na Engeland se eie Glorious Revolution, en onderskei dit van die manier waarop die Franse die baba met die badwater uitgegooi het. Hy ondersteun ook die verset van Amerikaanse kolonialiste teen Britse onderwerping.

Vir die sogenaamde vader van konserwatisme (so het hy eers lank ná sy dood geheet) was die waardes van 18de eeuse liberalisme beskermingswaardig. Dit beteken allermins dat liberale en konserwatiewes altyd aan dieselfde kant baklei.

In die liberale wêreldbeskouing is elke indiwidu uniek, en beskik hy oor die vermoë om besluite vir sy eie beswil te neem. Daarom is liberale vryheid eerstens die vryheid teen dwang, hetsy deur die koning, die staat, of die buurman.

Niks in liberalisme verhoed ʼn indiwidu om hom by ʼn groep te skaar nie. Maar anders as rassenasionaliste, glo liberale dat empatie nie beperk is tot jou “eie mense” nie, en daarom kan ’n indiwidu deel wees van ʼn veelvoud van gemeenskappe. So kon Emily Hobhouse tegelykertyd Brits, liberaal, en pro-Boer wees.

Tot die mate wat instelling die soewereiniteit van die indiwidu gestand doen, sal liberale konserwatief staan teenoor sulke instellings, nes die klassiek liberale Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) hom beywer vir die beskerming van artikel 25 van die Grondwet.

Daarenteen moet liberale hulle verset, in die manier waarop Burke hom teen die slawehandel verset het, wanneer bestaande instellings indruis teen indiwiduele vryheid. Nes die IRV apartheid opponeer het, is dit vandag een van die voorste opponente van wetgewing wat die indiwidu reduseer tot ’n verteenwoordiger van sy rasgroep.

Ek stem saam met Goosen dat Afrikaners verantwoordelikheid moet neem vir die dinge wat hulle as gemeenskap na waarde ag, en dis wat hulle terloops sedert 1994 toenemend doen. Dit sou ’n fout wees om te veel af te hang van die instellings wat voor 1994 deur die staat gebou en onderhou is.

Skole wat verengels is staatsskole. Universiteite wat Afrikaans as onderrigtaal uitfaseer, is staatsuniversiteite. Afrikaners wat voorheen vir die staatdiens gewerk het, en boere wat deur staatsubsidies en pryskontrole beskerm is, het lank terug dieselfde les geleer.

Maar daar is baie wat die Afrikaanse gemeenskap sedert 1994 bymekaar gemaak het, en wat vandag beskermingswaardig is. Nuwe sakeondernemings is gebou, nuwe welvaart is geskep, nuwe instellings is opgerig, nuwe letterkunde is verwek, en nuwe belangegroepe is saamgeroep.

Al hierdie dinge het gebeur onder ’n liberale grondwetlike bestel en in ʼn vrye spasie wat deur indiwiduele regte beskerm is, telkens met die hulp van hofuitsprake. Tot die mate wat hierdie regte nou meer as ooit tevore deur die rassenasionalistiese ANC bedreig word, en waar dit in plekke soos Zimbabwe nooit grondslag gevind het nie, besef mens dat ’n liberale demokrasie nie van blote abstrakte waarde is nie.

Dit behoort behoue te bly.

  • Cilliers Brink is ʼn parlementslid van die DA en skryf in sy eie hoedanigheid.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

37 Kommentare

Kallie ·

Wat in ‘n naam? Die Liberale Party in Oz is eintlik konserwatief.

Attie. ·

Die Britse konserwatiewe party glo “Britanje eerste”….hulle is konserwatief vir Britanje, nie vir SA nie….Net soos die Konserwatiefste parry in SA glo aan SA eerste. In VSA is Donald Trump konserwatief want hy glo Amerika kom eerste. Snaaks dat ‘n skrywer dit nie weet nie.

Gwen ·

Attie, u sê wat ek wou sê. Konserwatisme en liberalisme verskil van land tot land. Afrikaners as volk was nog deur die dekades oorwegend konserwatief (behoudend). Die hedendaagse Afrikaanses is diegene wat om liberalisme pleit.

Jimmy ·

Afrikaners was histories nog altyd liberaal in hul denke. Maar toe kom apartheid wat beskou word as konserwatief en “regs”. Na ‘n paar dekades glo ons nou ons is behoudend, goed en reg.

Petrus ·

Jimmy, Willem de Klerk se etikette van “verlig” en “verkramp” het Afrikaners nog verder deurmekaar gemaak. Maar ek stem saam met jou. Afrikaners is eintlik liberaal. Ons hou nie daarvan om ingeperk te word nie. Ons wil vry wees. Indien iets nie reg is nie breek ons weg. Kyk maar na al die kerk en politieke wegbrekers. Ons stig ons eie skole en universiteite. Binnekort dalk nog hospitale. Ons hou nie van diskriminasie nie. Ons hou ook nie van politici wat alewig inneng nie. Die dapper mense in Orania is ook liberaal, anders sou hulle nog êrens in SA gewoon het.

Kobus ·

Sonder liberale Afrikaners sou ons nooit die Groot Trek beleef het nie. Ons sou nou nog in die Kaap van Goeie Hoop gewoon het, as getroue Britse onderdane.

Gert ·

Die probleem myns insiens is dat almal hou van die naam liberalis, so nou eien almal dit toe, van sosialiste tot die “konserwatiewes” in Australië. Die beste oplossing nou is om die woord af te skaf, en sommer ook die woord populis wat deur die linkses aangewend word vir almal wat nie links is nie, ongeag wat hulle wel is. Laat elkeen homself beskryf met sy regte naam, bv. Sosialis, Nasionalis, ensovoorts. Dit sal ons baie tydmors spaar om te debatteer oor wat liberalisme eintlik is.
Terloops, oorspronklik was liberaliste eintlik sterk gekant teen staatsmag, nou is omtrent almal wat hulleself liberaal noem, voorstanders van al hoe meer mag vir die staat.

Ben ·

Brinkie jy is sleg deurmekaar ou maat en jy ploeg met behoudendes se kalwers Die DA het niks om te wys wat vir konserwatiewe Afrikaners saak maak nie

Jeremia ·

Het die skrywer al ooit per ongeluk van die geldige term: “volk” gehoor? Of pas dit nie in die raamwerk van sy beredenering nie?
Waarom hamer op sogenaamde rasse nasionalisme?
In Engels is die enigste soortgelyke term, “nation”. Maar weer eens word daar onderskei tussen nasie en volk in Afrikaans.
Weet die skrywer dat daar ‘n baie groot verskil is tussen iemand wat homself as ‘n Afrikaner beskou en iemand wat bloot Afrikaans praat?
Liberalisme en konserwatisme is “ganz nicht einfach” (glad nie eenvoudig nie), en volksnasionalisme is nou eers ‘n tameletjie om behoorlik mee water te trap!

BenvR ·

Dit is interresant hoe die politiek verander het in 30jaar. Klassieke liberaliste word vandag as konserwatief beskou…. van Zyl Slabbert se PFP ondersteuners is vandag tuis by die VV+ (induviduele vryheid met klem op gelyke geleenthede en meritokrasie met minimale regerings inmenging in n vrye mark)
Vandag se progressiewes / “liberales” is eintlik sosialiste/kommuniste (oormatige regerings beheer ook oor persoonlike besluite, met wetgewing wat gelyke uitkomste probeer afdwing onafhanklik vd vermoë vd individu)

Andre ·

Liberalisme is niks anders as komunisme nie ons boere se grootste vyanad

Jimmy ·

In Rusland word die Kommunistiese Party as konsewatief beskou. Hulle noem Putin ‘n liberalis.

apie ·

Konserwatisme was in die ou dae maar net behoudende mense en ordentlikheid. Die meeste mense in ons land was so. Dit was die gedagte van hard werk en jou loon verdien. die nuwe liberales is nie werkers nie, hulle is net n klomp klaers en manipuleerders. Gelukkig is dit oral besig om oor te waai soos misdaad vererger die wereld oor. Die goed wat mens in die algemene koerante lees is net so belaglik en oneties.. Van wanneer af moet almal hulle standaarde verlaag om die breë populasie te pas? Dankbaar daar is nog regdenkendes

Liberaal ·

Basies is Links-liberalisme die verkondiging en bevordering van die humanistiese dogma van inter-rassige “vryheid, gelykheid, broederskap, verbroedering, versoening, vermenging en multi-kulturalisme”. Dit is ook die dogma van die Vrymesselary en die Theosophical Society. Dit is ‘n valse, bose en Babiloniese sisteem wat verwerp behoort te word. Die meeste wittes in SA is egter onderhorig hieraan, daarom is SA lankal verby die punt van herstel.

Thinus Erasmus ·

Bravo Cilliers, jy bewys net die voorwaar moeilike en inherent teenstrydige konsep van liberalisme! Jou persoonlike oortuigings en strewes is die teenoorgestelde van myne, en dis ons albei se reg. Maar sou ek nou myself skaar by ń groep wat dieselfde siening as ek huldig, dan protesteer jy daarteen en noem ons name en dryf selfs die spot met ons. En net daar sit jy jou liberale pot mis – want omdat ek lynreg met jou is, gun jy my nie dieselfde liberale vryhede as vir jouself nie.
Want sien, as ń persoon of nasie besluit hul wil ń monarg hê en hul wil as slawe vir hom werk, het hul mos vir hulself die beste besluit geneem!
En as ek eksklusief met net sekere mense wil assosieer is dit my eie besluit en my liberale reg! Daarom kan die konserwatis die liberaal verdra om te doen wat hy wil waar hy wil, maar by sy eie plek. Maar die liberalis wil sy wil op almal afdwing deur oral te doen wat hy goeddink maar die konserwatis nie eers toelaat om in sy eie plek behoudend te leef nie.
ns. Jammer as ek dit so eenvoudig en konserwatief stel.

marco polo ·

Goed gestel, Thinus. Die liberalis is liberaal, totdat jy van hom verskil.

Therese van Schalkwyk ·

Ai, Thinus Erasmus, dankie dat jy dit so goed verwoord..
Konserwatiewes se tegemoetkomendheid is ook ongelukkig hul ondergang.
Voorbeelde hiervan wemel.

Dirk Breytenbach ·

Thinus die hedendaagse liberale denkrigting is eintlik glad nie meer liberaal nie maar sosialisties of kommunisties van aard. Die liberale Amerikaners het ‘n nuwe vorm van liberalisme ontdek en is onverdraagsaam, gun niemand ‘n bestaan volgens hul eie keuse nie en klaarblyklik die swakste verloorders op aarde. In SA deel ons daardie vorm en ek is nie seker of ons dit ondersteun uit bangheid of onkunde nie. Kyk waarmee hou die liberale opposisie in die VSA hulself besig sedert hulle nie meer die regering van die dag is nie (vennynig, agterbaks, mors van energie wat beter aangewend kan word vir hul land asook ver verwyder van hul eie werklikhede ens). Verder staan hedendaagse liberale algehele staatsbeheer voor wat fataal is en wil veral vir mense voorskryf hoe hulle moet dink, wat glad nie in die ooorspronklike libralsime so bedoel was nie. Ek dink dis tyd dat hedendaagse liberale denkrigting groep vir hulself ‘n nuwe groepnaam uitdink. My beskeie opinie is, jammer Thinus jou idee van liberalisme kan nie vir SA of vir die wereld daarbuite werk nie.

Peet ·

Jő, nou is ek darem “confused”
Mens moet jou medemens respekteer wat hulfelf kroon met sekere benaderings. Probleme ontstaan waaneer breë beginsels die goeie funksie van die breë samelewing stuur in ‘n rigting van uitsluiting van groepe of alle staatsfunksies dien om bevoikingsgroepe te forser om dienste soos byvoorbeeld onderwys, medies, beskerming ens. So gesentraliseer word dat alle standaarde gelykvormig maar minderwaardig isonder die waan dat dit regverdig is. DIT HET RAMPSOEDIGE gevolge vir produkivitet. Wees gewaarsku. “Fancy” name mag goed klink maar daar is altyd dié wat dit sal eksploiteer. Weet nie wat ons regering se beginsel (indien enige) maar die resultant is power.

thinus erasmus ·

Dankie Marco en Therese – ek moet hartseer erken jy is absoluut reg!

Stephan de S ·

As mens Cilliers se artikel ontleed,ontdek jy spoedig die teenstrydighede in sy argumente en besef jy dit ruik na skone politieke opportunisme en napratery van n sekere denkrigting. Hy sê ….. die liberale idee glo elke individu is uniek en beskik oor die vermoe om besluite vir sy eie beswil te neem. In die dieselfde asem verwys hy onsmaaklik na rasse nasionalisme. Asof sekere mense nie besluite mag neem na hul beswil nie. Daarby voeg hy by die liberale vryheid is teen dwang. Duidelik in sy oë net solank as wat mense hul polities en sosiaal wil orden volgens sy eie voorskrifte.
Hy verwys na n aantal voordele ( vlgs sy beskouing)wat ons in SA geniet en noem dit die vrug v n liberale grondwet en vrye spasie……hoeveel vrye keuses het nie-swartes in SA en hoe word Afrikaners nie in n dwangbuis geplaas nie.? Die politieke elite in die stede sal dit beslis nie belewe nie.
Die verskil tussen liberaal en konserwatief is uiteindelik daaarin dat die individu nie die middelpunt is maar die mense waarbinne en deur wie hy tot stand gekom het en hom gevorm het. Ten slotte vlgs Cilliers mag vrye individue hul vlgs politieke partye groepeer maaar nie vlgs ras nie. Uit watter boek kry hy dit?

Attie. ·

Mag almal hierdie kommentare lees en tot die volgende verkiesing sal onthou dat die DA nes die VP vanouds, liberaal is en ‘n vyand van die Afrikaner is. Ek glo vas dat die liberale skrywer ook ‘n Eenwereld Regering voorstaan. Dit is duidelik, na die artikel meer as ooit, dat die DA die RSA op ‘n verkeerde spoor wil neem. Hoop net die kiesers neem waar wat die VP/DA agent kwytraak.

Kobus ·

Attie, hordes geharde Afrikaner VP lede uit ou SAP families het later by die KP aangesluit en leierskapposte beklee.

Tiaan ·

Daar is n aansienlike verskil tussen die klassieke en moderne liberalisme. Dit moet die Cilliers’s van die wêreld verstaan. Die moderne liberalisme is vandag niks meer as net n front-maatskappy van die kommunisme nie. Ons leef in die moderne tyd en daarom geld die interpetasie van vandag en nie die klassieke verstaan daarvan nie. As jy liberalisme wil aanbied as iets om te verdedig, ontworstel hom van sy bedmaatjies in die Marxisme.
Daarinteen moet die bewakers en aanhangers van die konserwatisme ewen eens veg om die dwalinge uit ons poorte te weer…

Fanie ·

Sjoe! Hoe verdwaal mens so? Moontlik indien jy nie n kompas moreel of andersins het nie. Liberalisme kweek selfvernietiging terwyl konserwatisme selfbehoud verseker. Fox News het dit so mooi gestel toe een van die kommentators gesê het “We thought that liberals are good people with bad ideas yet they are bad people with bad ideas!”

Jerry ·

Al bestaan daar drie verskillende ideologiee wat aangehang word in die rassenasionalistiese ANC is daar tog n gesamentlike gemeenskaplike strewe om kolonialisme met sosialisme te vervang vir bevryding en vryheid. Kommunisme en Marxisme kan vereenselwig met sosialisme vir die groter saak. Aan die anderkant van die draad het jy hoofsaaklik net die twee westerse liberale en konserwatiewe ideologiee, maar met geen gesamentlike gemeenskaplike strewe nie. Die twee is soveel werelde van mekaar verwyder dat dit menslik gesproke byna onmoontlik is om mekaar nie in alles te opponeer nie. Om die kersie op die koek te plaas, is die twee groepe nog leierloos ook! Terwyl daar leiers met Salomo se wysheid afwesig blyk te wees by die twee groepe, moet mense wat verstandig en regdenkend is en wie kan, hulle grond, eiendom en besittings verkoop en emigreer! SA is lankal al verby die punt dat groepe aan dieselfde kant van die draad mekaar wragtigwaar steeds kan bly opponeer terwyl die ANC rustig voortgaan om te nasionaliseer en al wat slaap, te kaap!

Bizza ·

Liberalisme vernietig orde en lei tot chaos. Die uiterste van liberalisme is dat almal kan doen wat hulle wil in die naam van menseregte sonder enige gevolge.

CG ·

Goeie genade, mnr. Brink! In die derde laaste paragraaf stel u dit hoe goed dit met die Afrikaner sedert 1994 gaan “… onder ‘n liberale grondwetlike bestel…. (2e laaste paragraaf). Onder dieselfde wonderlike liberale bestel het honderdeduisende Afrikaners verarm, het honderdeduisende geëmigreer, is duisende vermoor, gemartel en aangerand; word ons almal sleggesê en verwyt vir alles wat verkeerd is; is ons tweederangse burgers wat deurlopend gedreig word. En u hou die Afrikaner se lot sedert 1994 voor as ‘n voorbeeld van die deugde van liberalisme? Goeie genade, meneer Brink!!!

Helgard Muller ·

(Hopelik is eerste gedeelte nie weg is in die kuberruim nie?)

Klassiek liberaal, is dus maar net ‘n etiket wat op sy mees basiese vlak se ons onderskryf nie aan dieselfde liberalisme as progressiewe liberale nie. Op ander vlak is die aparte intellektuele baan. Dit is egter problematies want progressiewe liberalisme kan en antwoord wel dat hulle liberalisme ook teruggetrek kan word na klassieke liberale denkers en dat hul weergawe bloot ‘n aanpassing is op vorige tradisies.

Ek dink dit is waar klassieke liberale eintlik vandag twee interessante uitgangspunte moet verdedig. Eerstens, hulle vorm van liberalisme is eintlik konserwatiewe liberalisme (waarop moderne liberale hulle aanvat) en ‘n spesifieke tradisie in die algemeen. ‘n Liberalisme wat baie stadiger beweeg het as progressiewe liberalisme en baie meer skeptiese is op opvolgende vorme van liberalisme veral in terme van linkse invloede en spesifiek positiewe regte. Dit is ook dan nie regtig soos verrassend dat “klassieke liberalisme” dalk beste beskerm is binne die politieke tradisies en party politiek van konserwatiewe partye in die Weste nie?

Tweedens, dat idees, eintlik nie regtig so ‘n goeie anker is as wat liberale dink nie, veral as jy ‘n “klassieke liberalisme” wil beskerm en bewaar. Juis omdat idees smeebaar (werkbaar?) is beteken dit jy kan eintlik enige idees op ‘n rasionale vlak regverdig en klassieke liberalisme so ‘n binne huis vyand gee. Dit is waar konserwatisme eintlik ‘n baie beter argument het.

Die lewe ·

Sogenaamde liberalisme en sogenaamde konserwatisme verskil van mens tot mens omdat onder andere denkwyses, opvoeding en sosio-ekonomiese agtergronde verskil. Wat die mens op ‘n spesifieke tydstip die meeste voordeel gee is vir die individu reg en goed op daardie tydstip. Wanneer die mens se regte en/of lewenswyse bedreig word of aangeraak word bepaal hul denkwyse afhangende wat hy/sy vrees en/of glo. Die mens vrees die onbekende.

Sogenaamde liberale en sogenaamde konserwatiewe denke is dus ‘n menslike reaksie op wat gebeur en hoe die person geraak word in ‘n sekere tydvak wat grootliks deur verandering en/of vrees beinvloed word. Verandering/vrees kan politieke, ekonomiese, sosiale en/of verandering in godsdienstige oortuigings insluit.

En dan is daar nog die balans tussen die “ego”, die “super ego” en die “alter ego” asook die komplekse identiteit en emosionele volwassenheid van die individu wat alles erg deurmekaar krap.

Die mens wil aan iets glo wat vir hulle sin maak, dus sal sommiges sê dat liberalisme sleg is en konserwatisme goed is of andersom. En hulle sal selfs aankarring en wroeg om hulle standpunt te bewys. Dit is nie so eenvoudig nie.

Petrus ·

Jy is 100% reg. Lyk my sommige mense dink dis belangrik om êrens in ‘n boksie te klim en hulself te definieer. Die lewe is ingewikkeld genoeg.

Mens bly mens ·

Niks is vir die mens meer belangrik as om die grootste voordeel of erkenning uit enige situasie te kry nie. Hetsy as ‘n individu of kollektief as ‘n groep mense met dieselfde oortuigings. Daarom sal sommiges gerieflik vergeet hoe sekere stelsels ander mense erg benadeel , vergruis en vertrap het. Solank hulle net nie self benadeel word nie is alles reg en dan is hulle sogenaamde “konserwatisme” baie goed. Maar sodra hulle leefwyse enigsins geraak word is dit die slegte sogenaamde liberale se skuld ensovoorts, ensovoorts. En andersom – dan blameer die liberales weer die konserwatiewes.

Kortom: Die mens soek na die meeste voordeel uit enige situasie en blameer ander mense wanneer hulle nie hulle sin kry nie of wanneeer hulle nie bevoordeel word nie.

Miskien is die lewe heeltemal te kort om die sogenaamde konserwatiewe/liberale debat deur mense met voete van klei (myself ingesluit) ernstig op te neem. Daarom verkies ek eerder om die beste van ‘n slegte saak of slegte omstandighede te maak en om nie ander te blameer vir my bestaan nie.

Dirk Breytenbach ·

Verskoning, in my kommentaar vandag het ek eintlik vir Cilliers Brink aangespreek maar Thinus se naam verkeerdelik gebruik. Jammer vir die ongerief.

francois ·

Petrus jy is so reg oor die boksies waarin mense inklim. Om van die werklike realitieite van die lewe te ontvlug. Binne daardie boksies gebruik mense onder andere die sogenaamde “liberale” of “konserwatiewe” denkpatrone soos dit gerieflik is en logies sin maak vir hulle. Die meerderheid mense gee nie ‘n bloue duit om of ‘n persoon “liberaal”, “konserwatief” of ‘n “verligte” Priscilla Queen of the Desert is nie. Net solank hulle eie gemaksone, regte, voorregte en voordele en leefwyse nie aangetas word nie is als reg, whatever die sogenaamde deur die mens uitgedink verligte/verkrampte/liberale/konserwatiewe gier of mode van die dag is. Want die mens hou nie van verandering nie en blameer alles en almal as hulle ongemaklik voel deur die onvermydelike veranderinge van die lewe.

Boerseun ·

Dit maak my bang om te dink dat die skrywer namens my wil praat as n leier in die parlement dien. Die stuk is glad nie deurdagtig nie en die swak begrip van hoekom die Boere getrek het uit die Kaap en Rhodes se “neerkyk” op die Boere wys dat die skrywer se kennis maar leem is op die onderwerp.

In elk geval op die tydstip in die wereld is die twee kante maar bietjie anders as 200 jaar gelede. Die behoud van die individu onder sy keuse van omstandighede (koservatief in die behoud van sy volk en kultuur en binne n beskermde raamwerk soos n land of gebied), teenoor behoud van die individu onder geen keuse van sy omstandighede (liberaal in die voortstrewe van n oop grens wereld binne n voorgeskrewe raamwerk). E sal n antwoord op die stuk van iemand soos Sebastien of Jaco graag wil sien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.