Die belangrikste woord in die Afrikaanse taal

balans-loop-op-die-treinspoor

Foto: Chinmay Singh/Pexels.com

Wat is die belangrikste woord in die Afrikaanse taal? ’n Stoere Afrikaner-oom het my een keer hierdie vraag gevra. Dit is tipies een van daardie vrae waarop ’n mens gewoonlik nie antwoord nie, maar net knikkend na die persoon kyk in die hoop dat hy sy vraag self sal antwoord. Dis natuurlik presies wat ek gedoen het. In my stilswye het daar egter ’n reeks woorde deur my gedagtes gerits. As gelowige mens het ek onmiddellik geestelik begin dink. Karaktereienskappe soos “integriteit” het by my opgegaan. ’n Politieke begrip soos “selfstandigheid” sou ook kon werk.

“Balans!” breek hy die stilte. “Die woord ‘balans’ is die belangrikste woord in die Afrikaanse taal.” Hy verduidelik dat dit ’n woord is wat oral van toepassing is en dat daar geen geval is waar die konsep nie toegepas behoort te word nie. “’n Goeie ding kan vinnig ’n slegte ding word as jy nie balans toepas nie.”

Hoe waar is dit nie.

In ’n kultureelplurale samelewing soos Suid-Afrika waar uiteenlopende kultuurgroepe uiteenlopende politieke sienings het, is dit baie maklik om perspektief te verloor en die woordjie “balans” iewers saam met die badwater uit te gooi – soveel meer wanneer ’n meerderheidsgroep met ’n politieke agenda in die regeringstoel sit en waar minderheidsgroepe aan die wil van dié meerderheid oorgelewer is.

Suid-Afrika is ’n land met ’n omstrede geskiedenis – ’n geskiedenis waaroor daar warm debat gevoer word en ’n geskiedenis ten opsigte waarvan die fyner nuanses dikwels weggekam word. Die tragiese is dat die grofste verdraaiings van die land se geskiedenis dikwels in skoolhandboeke voorkom. Een geskiedenishandboek verklaar byvoorbeeld dat Nelson Mandela in die tronk gegooi is omdat hy ’n goeie leier was en dat die voormalige regering nie daarvan gehou het nie. ’n Ander suggereer dat die bloedige konflik tussen die ANC en die IVP grootliks te wyte is aan die feit dat die IVP op die ANC jaloers was. Dit is te verstane as ’n mens toegee dat die regering (lees “die regerende party”) bepaal wat in geskiedenisboeke vir kinders geleer moet word en dat prominente ANC-woordvoerders dikwels die vreemdste stellings oor die geskiedenis maak. ’n Onlangse voorbeeld is dié van woordvoerder Keith Khoza, wat erken dat die ANC sy geskiedenis “oorgeskryf” het aangesien dit deur die vorige bedeling verdraai is.

Stellings soos hierdie kan maklik ’n teenreaksie uit Afrikanergeledere uitlok. Daarom hoor ons ook soms stellings wat daarop sinspeel dat Afrikaners nooit foute gemaak het nie en dat alles wat gebeur het en wat op die oog af vreemd lyk op die een of ander manier geregverdig kan word as die omstandighede in ag geneem word. Dit ís dalk so dat Afrikaners soms vreemde goed aangevang het in gevalle waar die konteks beter perspektief op die onderwerp kan plaas. Versagtende omstandighede impliseer egter nie noodwendig onskuld nie.

Die antwoord lê in balans. Elke persoon moet volwassenheid aan die dag kan lê om te kan toegee en erken wanneer daar verkeerd opgetree is. Verkeerde optredes impliseer egter nie dat ’n volk of ’n nasie boos is nie. Sekere politici maak nietemin seker dat ’n dubbele standaard ten opsigte van Afrikanergeskiedenis in stand gehou word.

My ore tuit al wanneer ek die woord “apartheid” of “foute van die verlede” hoor – begrippe wat op elke moontlike terrein in ons keelgate afgedwing word. Dat die minderheidsregering ’n stelsel van afsonderlike ontwikkeling toegepas het, kan nie betwis word nie; dat daar sekere dinge gebeur het wat nie moreel regverdig kan word nie behoort ook nie betwis te word nie. Die gebalanseerde antwoord is egter dat die geskiedenis geëvalueer moet word binne die konteks van daardie tyd en dat goeie en slegte lesse uit die verlede geleer kan word.

Die probleem wat Afrikaners sal moet konfronteer, is die feit dat daar vandag byna ’n carte blanche op die veroordeling van Afrikaners se geskiedenis bestaan. Daar is breë konsensus dat apartheid verkeerd is en byna niemand wil as ’n apartheidsapologeet gebrandmerk word nie. Hierdie situasie is heel opportunisties deur linkse populiste uitgebuit. Daarom hoor ons vandag dat allerhande bose dade tydens apartheid aan wit mense toegedig word, ten spyte daarvan dat daar geen historiese gronde bestaan om hierdie bewerings te maak nie. Só hoor ons byvoorbeeld dat apartheid ’n volksmoord of ’n beleid van slawerny was, of dat apartheid die morele ekwivalent van Nazi-Duitsland is. Daar word ook aangevoer dat swart armoede die gevolg van apartheid is (asof swart armoede nie sou bestaan het indien dit nie vir apartheid was nie). Redelike, ingeligte mense vind dit egter baie moeilik om op hierdie ongegronde bewerings oor die verlede te reageer, want enige poging om aan te voer dat apartheid “nie so sleg was” as wat diegene aanvoer wat hul eie bose verlede fabriseer nie, lei daartoe dat jy as ’n apologeet vir apartheid uitgekryt word, wat noodwendig beteken dat jy ’n rassis moet wees.

Hierdie situasie is nie volhoubaar nie. Afrikaners sal uiteindelik óf politieke selfmoord pleeg deur hulself tot in die verdoemenis te verskuldig, óf ons sal op een of ander manier weerstand moet begin bied teen die kriminalisering van ons verlede.

Feitelikheid, ongeag politieke korrektheid, is die enigste wyse waarop balans en ’n gesonde perspektief op die verlede herstel kan word.

Balans – slegs wanneer ons hierdie belangrike woordjie met betrekking tot ons geskiedenis kan toepas, sal ons werklik iets daaruit kan leer.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Dr. Ernst Roets is beleidshoof van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Wonder ·

Ek stem saam met jou Ernst. As jy jou foute wil wegsteek, gebruik jy iemand anders se dekmantel.

JC ·

Wat betref Hermann Giliomee se relaas oor die “slegte” apartheid in sy geniale boek: ” Die Afrikaners- ‘n biografie”- is dit uitstekend en objektief. Hoogs aanbevole.

Annie ·

Puik artikel! Laat my onwillekeurig terugdink aan Griekse filosofieklas, baie dekades gelede.. aurea mediocritas…

Heinrich ·

Balans is egter nie ‘n konsep wat die ANC kultuur onder beheer het nie (of eintlik enigsins verstaan nie). Die ANC kultuur (en veral die EFF kultuur) is die van rou emosie, omdat gebalanseerde denke hoërvlak denke vereis, en aan die hand van al die voorliggende feite is hierdie hoërvlak denke totaal en al afwesig, en alhoewel die artikel baie nugter en objektief is, is dit ‘preaching to the converted’.

Jerry ·

Die persepsie van n bose stelsel en bose Afrikaners wat bestaan by diegene wat gely het onder apartheid kan nie deur balans of feitelikhede ongedaan gemaak word nie. Die beeld van apartheid en die Afrikaner as die onderdrukker en ander verdraaide feite is te diep ingewortel in die psige van die onderdruktes. Die Afrikaners wat dink hulle kan deur balans en feitelikhede die verlede regmaak en steeds maak en breek soos hulle wil omdat ons n demokratiese bestel, regstaat en grondwet het, verstaan nie die netelige posisie waarin die Afrikaner homself bevind of staan doodeenvoudig in ontkenning daarvan.

John ·

… maar elkeen van ons het sy eie idee wat balans is en daar le die knoop dog al sou ons weet word balans nie in der mate in die Bybel uitgestippel nie en dit het nogal ‘n koue berekende ondertoon; so bietjie naziagtig…

Theresa ·

Ek hou baie van die artikel. Ongelukkig, soos met baie dinge, skep der duisende hul eie definisie van die woord/daad. Juis hieroor kry “balans” verskeie vorme van optrede, verdoeming en veroordeling. Dit bly egter iets om na te streef in die ware sin (en betekenis) van die woord.

Eish ·

Niemand kan twee here dien nie; want òf hy sal die een haat en die ander liefhê, òf hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie!
MATTHÉÜS 6:24 AFR53
Die balans konnotasie is sekerlik waar indien jy almal tevrede wil stel en nie wil uitstaan nie, met ander woorde jou in veilige vaarwater wil bevind, 40 jaar werk en op pensioen gaan. Ervare seevaarders word egter nie in die hawe gemaak nie, maar in storms. Diegene wat werklik n verskil gemaak het, is na my beskeie mening diegene wat juis nie balans gehandhaaf het nie. Yeshua het aan die Frariseërs gesê, slange, addergeslag, Jul gaan oor die see om een bekeerling te maak, en daarna maak jul hom tweemaal so ryp vir die hel as julself. Nou nie juis n geballanseerde uitspraak nie, maar die reine waarheid.
Edison het na 10 000 probeerslae die gloeilamp vervolmaak. So kan ons aangaan.
Ek dink die geheim is om die regte keuse te maak en voluit te gaan daarvoor, gefokus gedetermineerd. Balans klink vir my na n hengse middelmatigheid.
Dis nou soos om te sterf met n volle funksionele liggaam, waar letterlik alles geskenk kan word vir orgaanskenking, perfek gepreserveer. Of, jy kan sydelings die houtpak ingly, totaal verweer, met n laaste uitroep, ” Maggies, wat n rit!”
Maar dis net ek…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.