Belhar-belydenis deur tweespalt, verwarring en dubbelslagtigheid omhul

ng-kerk-waterbergHierdie artikel deur genl. Johan van der Merwe is deel van Maroela Media se reeks uiteenlopende artikels oor die Belhar-debat. Volg gerus die Belhar-debat op Maroela Media se debatsplatform, Die Groot Debat. -Red

Sedert sy ontstaan was die belydenis van Belhar in tweespalt, verwarring en dubbelslagtigheid gehul. Daar is reeds talle artikels oor hierdie stelling geskryf en gaan nie daaroor uitwei nie, behalwe om te beklemtoon dat dié belydenis voortgespruit het uit ‘n voorstel wat dr. Allen Boesak gedurende 1982 by die sinodesitting van die sendingkerk ingedien het. Dr. Boesak het voorgestel dat apartheid as ‘n sonde veroordeel moet word.

Indien die agtergrond van dr. Boesak in ag geneem word, is daar weinig twyfel dat die grondslag van die voorstel polities was. Die sinode het besluit dat apartheid kettery en ʼn sonde is en die voorstel goedgekeur. Die besluit is ook as ‘n status confessionis verklaar. Dr. Gustav Bam het daarna die vergadering se aandag daarop gevestig dat in die lig van hierdie besluite hulle kerkregtelik verplig is om ‘n belydenisskrif op gelyke grondslag met die ander drie belydenisskrifte op te stel. ‘n Duidelike bewys dat daar geen behoefte aan so ‘n belydenis bestaan het nie en dat die belydenis bloot as ‘n pligspleging ontstaan het. Die belydenis moes noodwendig so geformuleer word dat dit apartheid veroordeel het, wat dit in ‘n politieke kleed gehul het en ondanks naarstiglike pogings om die kleed af te skud nog steeds daaraan kleef.

Tans word daar landwyd oor die voorgestelde wysiging van Artikel 1 van die Kerkorde gestem. Ek het van heinde en ver oproepe van lidmate gekry wat vas onder die indruk was dat dit oor Belhar as volwaardige belydenis gaan. Die voorgestelde wysiging van Artikel 1 lui onder meer soos volg:

“3.3 in verbondenheid met die kerk in die Suider-Afrikaanse konteks die Belydenis van Belhar.
4. Die Kerk aanvaar dat die onderskrywing van bykomende belydenisse naas die ekumeniese belydenisskrifte en die drie Formuliere van Eenheid sonder belydenisdwang geskied”

Die voorgestelde wysiging van Artikel 2.2 van die Kerkorde lui soos volg:

“2.2 Die Belydenis van Belhar is deel van die belydenisgrondslag van die Kerk, op so ʼn wyse dat daar ruimte is vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit as in ooreenstemming met die Woord van God bely, sowel as vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit nie as ʼn belydenisskrif onderskryf nie”.

Indien hierdie wysigings goedgekeur word, is die belydenis van Belhar opsioneel. Die woord “dwang” het ‘n omvattende betekenis en sluit ook in dat niks aan enige persoon opgedring mag word nie. Dit beteken dat daar geen druk op ‘n predikant uitgeoefen mag word om die belydenis van Belhar te aanvaar nie en dat geen predikant die belydenis tydens ‘n erediens mag gebruik tensy daar eers bepaal is dat alle lidmate in die erediens die belydenis aanvaar nie.

Alle redelike lidmate sal saamstem dat die voorgestelde wysigings die enigste wyse is waarop ‘n kompromie tussen lidmate wat Belhar onderskryf en dié wat dit verwerp, bereik kan word, mits dit in die praktyk werkbaar is. Die enigste alternatief is ‘n skeuring in die NG Kerk wat reeds gebuk gaan onder ʼn kwynende lidmate tal en talle ander probleme. Dit sal beslis die saak van die Here ernstig benadeel.

Die optrede van die moderatuur en die moderamen laat egter ernstige twyfel ontstaan of dit enige sin maak om die wysiging te aanvaar.

Op 6 November 2014 verskyn ‘n berig in die Beeld deur professor Nelus Niemandt met die opskrif “Lede soek Belhar in die kerkorde”.

Die berig is misleidend en skep ‘n skewe beeld van die werklike toedrag van sake. Professor Niemandt is die moderator van die NG Kerk en moet as sodanig die belange van alle lidmate op ʼn ewewigte, billike en objektiewe wyse beskerm. Daar is geen statistiek beskikbaar oor die getal lidmate wat Belhar in die Kerkorde wil hê en die getal wat Belhar verwerp nie. Die aanspraak dat lidmate Belhar in die Kerkorde wil hê is ‘n halwe waarheid.

Ek het verlede jaar samesprekings onder leiding van dr. Gustav Claasssen bygewoon waar lidmate van die Transvaalse Sinodes, wat onderskeidelik Belhar aanvaar en verwerp, gedagtes oor hoe die Belhar-aangeleentheid gehanteer behoort te word, gewissel het. Almal het oor een aspek saamgestem. Die integriteit van die proses laat veel te wense oor. Hierdie berig is ʼn sprekende voorbeeld daarvan.

Die volgende aanhalings kom uit die Moderatuur: Kommunikasie Wes- en Suid-Kaap, November 2014:

‘Julle dwing iets op ons af’
Die presiese teendeel is waar. As die sinode dit wou doen, is daar nie soveel moeite met die kerkordelike proses en die formulering van die voorstel gemaak nie. Die formulering was juis ‘n eerlike en ernstige poging van die sinode om vir ons lidmate te sê dat ons nie sonder meer mense wil uitsluit of vervreem nie. Enigeen wat by die sinode van 2013 was, sal dit kan beaam. Die teendeel het baie jare gelede by Dordt gebeur toe meer as 200 predikante die kerk moes verlaat omdat hulle nie Dordt dadelik wou aanvaar nie. In ons gereformeerde tradisie glo ons in elk geval dat jy nie onder dwang iets kan of moet bely nie.

‘Julle maak Belhar minderwaardig’
Dit is baie belangrik om te verstaan dat die voorstel die Belydenis van Belhar deel van die belydenisgrondslag van die kerk maak. Wanneer ‘n dominee dus oor die waarhede wat deur die Belydenis aan die orde kom, wil preek of kinders die inhoud daarvan wil leer, word dit gedoen in ooreenstemming met die belydenis van die kerk. Ons beskou nie hierdie belydenis as minderwaardig nie. Wat wel waar is, is dat ons vanweë die unieke omstandighede waarin ons met Belhar verkeer (onthou: ons het eeue laas ʼn nuwe belydenisskrif goedgekeur) met ‘n versigtige en verantwoordelike proses besig is.

‘Die VGK sal nooit julle besluit aanvaar nie’
Ons het van die begin af gesê dat ons nie met die Belydenis van Belhar kan besig wees ter wille van die VGK nie. Daar is en was leidende stemme in die VGK, soos prof Russel Botman (net voor sy afsterwe) wat met groot begrip gepraat het oor die NG Kerk se besluit oor Artikel 1. Verder moet ons dit goed verstaan dat ʼn mens nie ʼn belydenis aanvaar of afwys ter wille van ander nie. Dit is ʼn innerlike oortuiging of nie. Ons sê dit in die mooiste gesindheid. Wat ons nou doen, doen ons omdat ons glo dat dit die regte ding is wat ons nou kan en moet doen. Ons doen dit nie ter wille van die VGK nie. Ironies genoeg word daar tans in die kommentaar glad nie verwys na die NG Kerk in Afrika (NGKA) en Reformed Church in Africa (RCA) nie. Ons is oortuig daarvan dat Artikel 1 ook vir hulle ruimte laat om tuis te kom in ʼn groter NGK-familie”

‘Hoe kan ons stem oor iets wat in elk geval opsioneel is?’
Dit is nie opsioneel nie. Dit word deel van die belydenisgrondslag van die kerk. Ons stem nie oor niks nie, maar oor ‘n baie spesifieke hantering van die Belydenis wat ons meen die eenheid in die kerk ten beste kan bewaar. Ons sê nie die formulering van Artikel 1 is perfek nie. Tydens die Algemene Sinode was daar ook heelwat stemme uit die Wes- en Suid-Kaap wat ongelukkig was oor die formulering van die voorstel. Tog het ons berus, omdat ons glo dat dit nou die beste manier is om die saak op ‘n verantwoordelike manier te hanteer.

Ek het lanklaas ‘n skrywe teëgekom met soveel dubbelslagtigheid en teenstrydighede. Die moderatuur weet duidelik nie wat die volledige betekenis van dwang en opsioneel is nie. Wat van die lidmate wat gekant is daarteen dat dié belydenis aan hulle kinders opgedring word?

Die stelling “Ons het van die begin af gesê dat ons nie met die Belydenis van Belhar kan besig wees ter wille van die VGK nie” word geloënstraf deur een harde feit wat al telkens geopper is: Indien daar behoefte aan ‘n verdere belydenis is, waarom kan al die kerke, wat die Gereformeerde kerk, die Hervormende kerk en die Afrikaanse Protestantse kerk insluit, nie saam so ‘n belydenis formuleer nie? Die moderatuur maak self die stelling: “Onthou: ons het eeue laas ‘n nuwe belydenisskrif goedgekeur.”

Belhar_VoorbladBestel nou jou kopie van Belhar geweeg

In Kraal Uitgewers se boek Belhar geweeg ondersoek 18 skrywers en bekendes die waardigheid van Belhar as belydenisskrif. Belhar geweeg skets nie net die agtergrond waarteen Belhar saamgestel is nie, maar vra ook brandende vrae oor die moontlike invloed van die aanvaarding van Belhar. Die boek bestaan uit ses hoofstukke met artikels wat fokus op onder meer die ontstaan van die Belydenis van Belhar en die agtergrond waarteen dit saamgestel is, die kerkordelike pad wat gestap is en die reaksie van ander kerke en jonger kerkleiers in die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Belhar geweeg sluit ook die volledige teks van Belhar in sowel as die begeleidende brief wat daarmee saamgelees moet word.

Skrywers sluit in prominente kerklui soos die voormalige moderator van die NG kerk, prof. Piet Strauss, en bekendes soos die voormalige polisiehoof, genl. Johan van der Merwe.

Belhar geweeg is beskikbaar by Kraal Uitgewers. Maroela Media-lesers kan die boek nou bestel teen die spesiale afslagprys van R70 (R20 posgeld en verpakking uitgesluit). Besoek www.kraaluitgewers.co.za om dit te bestel.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Meer oor die skrywer: Johan van der Merwe

Genl. van der Merwe is 'n NGK-lidmaat en afgetrede SA Polisiekommissaris.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

JC Klok ·

Ek kry die NG Kerk jammer, maar hulle het vir hulle self ‘n lat gepluk deurdat hulle willens en wetens baie noue skakeling met die regering onder die vorige bestel gehad het, hulleself daarna op sleeptou laat neem het deur die politieke aktivis wat die kerk se strewe na eenheid uitgebuit het, en onlangs deur ‘n paaibeleid voor die VGK se afpersing geswig het.

Die feit dat die ander twee Afrikaanse Kerke, die NHK en die GKSA, wat histories and tradisioneel saamgewerk op gebiede soos bybelvertaling, psalmberymings, en belydenisskrifte nie in opstel en verfyning van die Belhar dokument geken is nie, asook die totstandkoming van die APK, moes lankal vir die NGK se leiers wakker geskud het dat Belhar nie eg en suiwer is nie, en die pad waarop hulle hulle begeef het sal lei tot die wegkwyning en verdwyning van die NGK soos ons hom geken het.

Die historiese goedgunstige beskouing van die NGK deur die owerheid is iets wat hom nie maklik sal herhaal nie en ‘n paai beleid ten opsigte van Belhar sal dit nie in die hand werk nie. Die NGK se lidmate gaan met hulle voete stem in die rigting van die APK, NHK en GKSA. Hartseer maar waar.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.