Die Belhar-debat: Kul bietjie hier, kul bietjie daar en siedaar!

kerkHierdie artikel deur Jean Oosthuizen is deel van Maroela Media se reeks uiteenlopende artikels oor die Belhar-debat. Volg gerus die Belhar-debat op Maroela Media se debatsplatform, Die Groot Debat. -Red

Ek bevind my saam met talle ander lidmate van die NG Kerk in ʼn vreemde kamp ten opsigte van die Belhar-debat. Ons is nie teen Belhar as ʼn belydenisskrif van die kerk nie, maar wel teen die voorgestelde wysiging van Artikel 1 van die Kerkorde.

ʼn Al groter wordende getal van die kerk se lidmate bevind hulle tussen die duiwel en die diepblousee omdat hulle nie bereid is om ja of nee te stem vir ʼn halfgebakte voorstel nie.

Anders as die skrywers van die boek Belhar geweeg, het baie ander lidmate nie Belhar geweeg en te lig bevind nie. Trouens, hulle is gekant teen die voorgestelde wysiging van Artikel 1 omdat die NG Kerk met dié voorstel self Belhar geweeg en te lig bevind het.

Ek is saam met baie ander gekant teen die voorgestelde wysiging van Artikel 1 omdat dit nie ʼn prinsipiële besluit was nie. Dit is ʼn kerkpolitieke strategie om lidmate te paai. Ons is daarteen gekant omdat dit, ongeag die kerkleiers se talle verduidelikings dié kant toe en daardie kant toe, van Belhar ʼn ondergeskikte belydenis maak vergeleke met die ander drie belydenisskrifte.

In ʼn poging om almal tevrede te stel en kerkskeuring te voorkom, het die NG Kerk met dié voorstel nog groter verwarring oor die kerk se belydenisskrifte gesaai. Die kompromisbesluit wat in die middernagtelike ure van die vorige algemene sinode in Port Elizabeth se Veremarksaal bedink is, begin al hoe meer by die kerk te spook.

In plaas daarvan om die twee Belhar-kampe in die kerk saam te snoer, lei dit tot groter verwarring, verdeeldheid en dubbelpratery. Mens hoef maar net jou oor op die grond te hou om te weet dit is ʼn yslike fiasko. Vanuit die grootste stede tot in die verre platteland en van die suide tot in die noorde weergalm lidmate se ongelukkigheid en verwarring oor dit waaroor daar nou eintlik gestem moet word.

Lidmate word selfs deur die kerk se leiers wysgemaak die huidige stemmery is nie ʼn stem vir of teen Belhar nie maar slegs ʼn stem om Artikel 1 van die Kerkorde te wysig. Op sommige plekke werk dié toesmeertaktiek en goedgelowige lidmate glo dit.

Oor die dubbelpratery merk ʼn skrander jong NG dominee tereg op: “Om oor Artikel 1 te stem is mos om te stem of Belhar deel gaan word van die belydenisgrondslag en dan stem ons mos oor Belhar, nie waar nie? Om te sê almal hoef dit nie te aanvaar nie verander nie aan die feit dat dit deel word van die kerk se amptelike belydenisskrifte nie.”

Maar hóé word dit deel daarvan? Dit is hier waar die kerk se onderrok uithang. Baie mense het geen probleem met Belhar nie, maar voel dit is oneerlik om vir iemand wat teen Belhar gekant is sê: “Toemaar, ons stem nie oor Belhar nie.”

In 1857 het die NG Kerk besluit gelowiges moet op rassegrondslag van mekaar geskei word “ter wille van die swakkes”. Dié besluit, net soos die NG Kerk se destydse aandrang op die Wet teen gemengde huwelike, het die kerk dekades lank tot skande gestrek. Die kerkgeskiedenis mag dalk ewe hard oordeel oor die voorgestelde wysiging van Artikel 1 om “die swakkes” te probeer akkommodeer.

Mens het verwag meer kerkleiers sou al teen die tyd opstaan en sê: “Stop die bus! Ons het ʼn fout gemaak en wil afklim.” Maar kerkleiers, net soos politici, is altyd traag om hulle foute te erken.

Die onderskeid wat die voorgestelde wysiging van Artikel 1 tussen Belhar en die res van die kerk se belydenisse tref, skep enorme probleme vir ʼn kerk wat daarop roem dat dit ʼn belydende kerk is. Daar word nog altyd van ampsdraers soos ouderlinge, diakens en predikante vereis om die kerk se belydenisse skriftelik te onderteken.

Hoe gaan die voorgestelde wysiging van Artikel 1 byvoorbeeld die kerk se legitimasie-eed van proponente raak? Gaan die legitimasie-eed van proponente nou dienooreenkomstig gewysig word sodat ‘n proponent die keuse het om Belhar by sy eed in te sluit of nie? En hoe kan daar van proponente, ouderlinge en diakens verwag word om byvoorbeeld die Dordtse Leerreëls te onderteken (waarin daar baie goed staan waarmee hulle nie saamstem nie) maar ten opsigte van Belhar het hulle wel ʼn keuse? Dit is ʼn resep vir ʼn Babelse verwarring wat vir ʼn belydende kerk die dood in die pot is ten opsigte van sy belydenisgrondslag. Hoe kan ʼn belydende kerk ʼn belydenis aanvaar omdat dit in ooreenstemming is met die Skrif en dit dan opsioneel maak terwyl dit nie vir die res van die belydenisse geld nie?

Mens sou selfs verder kon gaan en vra: Gaan dieselfde ruimte wat die kerk nou vir Belhar skep ook geskep word vir diegene wat ʼn verbintenis tussen mense van dieselfde geslag aanvaar as vir diegene wat dit nie aanvaar nie? Sal mense soos Piet Strauss en Constant Viljoen wat die voorgestelde wysiging van Artikel 1 steun ook laasgenoemde aanvaar? En gaan diegene soos Piet Strauss en ander wat gekant is teen die besluit dat daar ruimte is vir mense wat nie die duiwel as persoonlike wese aanvaar nie, nou darem ook vir dáárdie mense ruimte gun om nié aan die duiwel te glo nie?

Hoekom hierdie opsionaliteit net ten opsigte van Belhar en nie ook die ander belydenisskrifte nie? As die kerk konsekwent wil wees moet daar mos ook ruimte wees vir lidmate en predikante wat nie met die ander belydenisskrifte saamstem nie.

Oor die vraag hoe die huidige voorstel gaan uitspeel wanneer die NG Kerk en die VGK hopelik eendag uiteindelik herenig, word daar ontwykend geantwoord. Gaan Belhar dan steeds “opsioneel” wees? Mense soos die huidige aktuarius van die NG Kerk, dr Johann Ernst, gee te kenne dit kan wel die geval wees. Dit is niks anders nie as misleiding en ʼn geringskatting van lidmate se intelligensie. Almal weet die voorgestelde Artikel 1 sal nie net so in ʼn herenigde kerk van toepassing wees nie.

Die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGKSA) het reeds by herhaling gesê Belhar kan nie opsioneel wees nie. Die standpunt van die VGKSA is dat die onderskrywing van belydenisse sonder dwang geskied. Dit geld dan inderdaad ook van die Belhar Belydenis, maar dit geld ook van al die ander belydenisskrifte. Wat die VGKSA betref het dié kerk nog altyd konsekwent gesê die Belhar Belydenis moet presies net soos al die ander behandel word, en dit beteken inderdaad sonder belydenisdwang. Dit is ʼn suiwer prinsipiële standpunt. Dieselfde kan nie meer van die NG Kerk gesê word as die voorgestelde Artikel 1 goedgekeur word nie.

Ernst beweer verder die besluit is nie ʼn kompromis nie, maar konsensus. Konsensus tussen wie nogal en wat is die verskil? Dis ‘n kompromis. Dit word duidelik so gesê. Wie bluf nou vir wie? Wat het geword van die kerk se profetiese stem? Vooraan. Voorloop. Publiek getuig? Wat het van al daardie goed geword waaroor die kerk so hoog opgee?

Lidmate is lankal nie meer so dom om alles wat die leiers opdis vir soetkoek op te eet nie. Selfs die kerk se eie predikante glo hulle nie meer nie. Die politiek het geleer die “ja” stem van die tagtigerjare se blanke referendums en die resultaat wat die leiers op grond van daardie mandaat onderhandel het was nie waarvoor hulle gestem het nie. Dieselfde geld vir die kerk se “referendum”. Dit is so helder soos modderwater. En hoe meer die kerk verklaring na verklaring hieroor uitreik hoe meer troebel raak die water.

Tydens die vorige algemene sinode het een van die afgevaardigdes by die sinode gepleit om in hemelsnaam tog net ʼn dapper besluit te neem. Die kerk wou nie ʼn dapper besluit neem en Belhar op die stembriefies sit nie. Almal is te bang die kerk gaan skeur. Die kerk is so bekommerd oor die eenheid van ʼn kerk wat lankal nie meer een is nie (net soos die ou Nasionale Party) dat hy elke toertjie in die boek gebruik om sy lidmate te probeer bymekaar hou.

Dit lyk in elk geval nie of die nuwe formulering van Artikel 1 die paal gaan haal nie. Dit sal nie noodwendig ʼn stem teen Belhar beteken nie. Maar dit sal NG-lidmate ook nie juis help om te weet wat die kerk nou eintlik bely nie. Dan was al die energie wat hieraan spandeer is ʼn mors van geld en tyd.

Belhar_VoorbladBestel nou jou kopie van Belhar geweeg

In Kraal Uitgewers se boek Belhar geweeg ondersoek 18 skrywers en bekendes die waardigheid van Belhar as belydenisskrif. Belhar geweeg skets nie net die agtergrond waarteen Belhar saamgestel is nie, maar vra ook brandende vrae oor die moontlike invloed van die aanvaarding van Belhar. Die boek bestaan uit ses hoofstukke met artikels wat fokus op onder meer die ontstaan van die Belydenis van Belhar en die agtergrond waarteen dit saamgestel is, die kerkordelike pad wat gestap is en die reaksie van ander kerke en jonger kerkleiers in die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Belhar geweeg sluit ook die volledige teks van Belhar in sowel as die begeleidende brief wat daarmee saamgelees moet word.

Skrywers sluit in prominente kerklui soos die voormalige moderator van die NG kerk, prof. Piet Strauss, en bekendes soos die voormalige polisiehoof, genl. Johan van der Merwe.

Belhar geweeg is beskikbaar by Kraal Uitgewers. Maroela Media-lesers kan die boek nou bestel teen die spesiale afslagprys van R70 (R20 posgeld en verpakking uitgesluit). Besoek www.kraaluitgewers.co.za om dit te bestel.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Tobie Muller ·

Goed om te sien dat daar darem nog mense is wat nie ter wille van hul eie voorkeure gediend sal wees met oëverblindery nie.

Tobie Muller ·

Goed om te sien dat daar darem nog mense is wat nie ter wille van hul eie voorkeure gediend sal wees met oëverblindery nie.

Charles ·

Dit wys net vir my een ding: Hierdie kan nie die ware godsdiens wees nie. 1 Kor 14:33: “God is tog nie ‘n God van wanorde nie, maar van orde en vrede.” Duidelik het hulle nie God se gees nie.

rudie ·

stem saam met skrywer , maar is ook oortuig dat die gewone lidmate van die kerke n poging moet maak om meer saam te aanbid , en eers konsentreer op dit wat hulle in gemeen het en slegs dan sal hulle besef dat die verskille nie onomkombaar is nie , om nou ter wille van n paar mense wat sterk vir en teen dit dit is n kompromie te maak wat , oneerlik , onregverdig en onwaar is kan eenheid net verder knou en uitstel, afstel ,

Daniel Nel ·

Dit was goed om te stem vir iets waarin ek reeds lank glo. Amper soos ek gevoel het toe ek in 94 gestem het.

Daniel Nel ·

Dit was goed om te stem vir iets waarin ek reeds lank glo. Amper soos ek gevoel het toe ek in 94 gestem het.

Henkst ·

Mens het verwag meer kerkleiers sou al teen die tyd opstaan en sê: “Stop die bus! Ons het ʼn fout gemaak en wil afklim.” ???
Die kerkleiers weet dat die basiese konsep waarop die Christelike godsdiens werk, van die ou kerkvader Augustinus afkom. Dit kom neer op 3 pilare naamlik: Die sondeval, verlossing en die eindoordeel. Hy en die teoloë van sy tyd het ʼn verhaal ontwerp waarmee die kerk ontsaglike mag oor mense se lewens en denke gekry het.
ʼn Verhaal wat sê dat alle mense in sonde ontvang en gebore is. ʼn Verhaal wat sê dat alle mense onder God se oordeel en toorn leef. Dat daar ʼn breuk tussen God en mens bestaan en dat die breuk eintlik ʼn groot kloof is. Dat dit alles veroorsaak is deur Adam en Eva se ongehoorsaamheid. En dat hulle alle mense nà hulle in hierdie geestelike dilemma laat beland het.
Nou dat hulle weet dat die eerste sonde ‘n mitologiese storie is, is daar niks meer wat die leer van verlossing te ondersteun nie, maar hulle sal nimmer opstaan en sê: “Stop die bus! Ons het ʼn fout gemaak en wil afklim.”

Bertus ·

Voor 1994 vertel die herders ons dat Apartheid ‘reg’ is. Na 1994 moet ons nou ‘herenig’. Politieke speletjies nog steeds?

Bertus ·

Voor 1994 vertel die herders ons dat Apartheid ‘reg’ is. Na 1994 moet ons nou ‘herenig’. Politieke speletjies nog steeds?

Ivan Kortje ·

Ek kan nie vind waar die Bybel wat ons Goddiens op gebaseer is verwys na die Belhar Belydenisskrif as n vereiste is vir Kerk bou. Help as?. Dr.Allan Boesak sal egter na al die jare lig kan werp op hierdie dokument en of dit nog relevant is in die tyd wat ons leef. Dit behoort baie interesant te wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.