Die Belhar-debat: Oor verwarring en misleiding in die NG Kerk

NG Kerk Waterberg (Modimolle, Limpopo) Foto: Willie Solomon, tracks4africa.co.za

NG Kerk Waterberg (Modimolle, Limpopo) Foto: Willie Solomon, tracks4africa.co.za

Hierdie artikel deur Carel Boshoff is deel van Maroela Media se reeks uiteenlopende artikels oor die Belhar-debat. Volg gerus die Belhar-debat op Maroela Media se debatsplatform, Die Groot Debat. -Red

ʼn Berig onder die volgende opskrif het verlede week in Volksblad verskyn: Sinode sê ja vir Belhar. Niemandt “versigtig optimisties”.

Dit verwys na die NG Kerk se Oostelike Sinode wat pas in sitting was, waaroor prof. Nelus Niemandt, moderator van die vorige Algemene Sinode, soos volg aangehaal word: “Altesaam 73% van die Oostelike Sinode het die wysiging van die kerkorde aanvaar. Ek voel op die oomblik versigtig optimisties oor die proses.” Dit nadat hyself ʼn pleidooi ten gunste van die aanvaarding daarvan gelewer het – volgens sommige strydig met die Algemene Sinodale Kommissie se riglyn oor beïnvloeding van die proses.

Prof. Niemandt se “versigtige optimisme” oor Belhar is egter misplaas – nie omdat die ingewikkelde referendum wat tans in die NG Kerk aan die orde is dalk teen sy wens gaan afloop nie, maar omdat hy gaan verloor selfs as hy wen. Die rede daarvoor is dat sy oorwinning op verwarring en misleiding sal berus terwyl die een ding wat in die slag bly, die gereformeerde kerkbeskouing is wat bepaal dat elke gemeente in werklikheid kerk is en dat die Kerk van Christus één is ongeag of dit in een struktuur georganiseer is.

Prof. Niemandt skep verwarring as hy sê “lidmate moet onthou dat die NG Kerk reeds die belydenis van Belhar aanvaar het”. Dit is duidelik daarop gemik om lidmate te laat instem tot die wysiging van Artikel 1, want gedane sake het tog nie keer nie. Maar as dit so eenvoudig was, waarom die ingewikkelde proses? Feit is dat die Algemene Sinode, wat nie eens ʼn sinode van gemeentes (sinodus plena) is nie, maar ʼn sinode van sinodes (sinodus contracta), besluit het om die Belharbelydenis in ons belydenisgrondslag te integreer – juis by wyse van die proses wat tans gevolg word. Elke lidmaat se deelname is dus juis van die grootste belang, dit is nog geen gedane saak nie.

Voorts is dit misleidend om te sê “lidmate is verdwaal tussen kerkeenheid en die kerkorde” en dat dit “nie die geval (is) dat die VGK ons dwing om dit te doen nie”. Wil prof. Niemandt beweer dat die VGK nie die NGK se aanvaarding van Belhar as voorwaarde vir strukturele eenheid gestel het nie? En dat dit die rede is waarom hy nou Artikel 1 gewysig wil sien nie, al het die versoek van NG lidmate self gekom? Om voor te gee dat die Belharbelydenis self, die insluiting daarvan in die kerkorde en die huidige pogings tot kerkeenheid nie ten diepste met mekaar verweef is nie, is eenvoudig nie waar nie.

Maar wat is dit wat prof. Niemandt “versigtig optimisties” stem? Die feit dat ʼn sinode die nuwe belydenisgrondslag met 73% aanvaar het, terwyl net 46% van die sinode se konstituerende gemeentes dit aanvaar het? Of dat dié 37 gemeentes nog altyd deur ander gemeentes in die res van die land tot onder ʼn derde-minderheid gedruk kan word? Praat ons politiek of praat ons oor die kerk van Christus se heilige roeping om sy geloof te bely?

“Dit is interessant dat lidmate nie die teologiese integriteit van die [Belhar-] belydenis bevraagteken nie”, sê prof. Niemandt. Interessanter is egter dat hulle dit, ten spyte van die ywer waarmee teoloë dit aanbied, ook nie ywerig omhels nie. Dit is immers wat uit die Oostelike Sinode en gemeentes se stemmings blyk. Feit is dat daar ʼn gaping tussen lidmate en hulle teologiese leiers ingetree het en dat dit deur uitsprake soos prof. Niemandt s’n net vergroot word. Lidmate hoor ook gedurig dat die Belhar-dokument nie onbybels is nie – maar dit is die meeste van oom Solly Ozrovech se skrywes ook nie en hulle word nie tot belydenisse verhef nie.

Dat lidmate nie oor die woordeskat beskik om op ʼn teologiese vlak oor byvoorbeeld die belydenis se onderliggende gelykheidsleer in verhouding tot die Bybelse hantering van differensiasie te praat nie, sê dalk meer van die teoloë na wie hulle om leiding opsien as van hulle eie diepste oortuiging. Baie lidmate vrees dat hulle kerkleiers maar weer, soos met Apartheid, die ideologie van die dag probeer bevorder. Hulle is lugtig om bloot op sterkte van kerkleiers se teologiese aanbeveling iets te onderskryf waarmee hulle, selfs net intuïtief, nie gemaklik is nie. Hulle is reg.

Tot oormaat van ironie is hierdie kerkleiers nie net besig om hulle eie lidmate te faal nie, maar ook dié van byvoorbeeld die NG Kerk in Afrika en die Reformed Church of Africa wat die Belharbelydenis nie onderskryf nie en wat ook groter strukturele eenheid in die NGK-familie nastreef. Die deur wat na die VGK oopgemaak word, word in hulle gesigte toegemaak.

Belhar_VoorbladBestel nou jou kopie van Belhar geweeg

In Kraal Uitgewers se boek Belhar geweeg ondersoek 18 skrywers en bekendes die waardigheid van Belhar as belydenisskrif. Belhar geweeg skets nie net die agtergrond waarteen Belhar saamgestel is nie, maar vra ook brandende vrae oor die moontlike invloed van die aanvaarding van Belhar. Die boek bestaan uit ses hoofstukke met artikels wat fokus op onder meer die ontstaan van die Belydenis van Belhar en die agtergrond waarteen dit saamgestel is, die kerkordelike pad wat gestap is en die reaksie van ander kerke en jonger kerkleiers in die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Belhar geweeg sluit ook die volledige teks van Belhar in sowel as die begeleidende brief wat daarmee saamgelees moet word.
Skrywers sluit in prominente kerklui soos die voormalige moderator van die NG kerk, prof. Piet Strauss, en bekendes soos die voormalige polisiehoof, genl. Johan van der Merwe.
Belhar geweeg is beskikbaar by Kraal Uitgewers. Maroela Media-lesers kan die boek nou bestel teen die spesiale afslagprys van R70 (R20 posgeld en verpakking uitgesluit). Besoek www.kraaluitgewers.co.za om dit te bestel.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Carel Boshoff

Meer oor die skrywer: Carel Boshoff

Carel Boshoff is die president van die Orania Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Eugene W Steyn ·

Baie dankie Ds. Louw, dit is ‘n ook ‘n uitstekende artikel! Ek stem 100% saam met die 6 punte vir die pad vorentoe.

Die politieke klimaat onder die blanke mense is besig om te draai na die konserwatiewe kant toe, en ‘n toekomstige Engelse United ‘NG Kerk’ of wat ook al hulle die nuwe struktuur gaan noem gaan hulle lidmate faal soos wat Carel hierbo noem.

Ek is nie lidmaat van die NGK nie, maar het heel toevallig een Sondag ‘n diens bygewoon by NG Lynnwoodrif waar die predikant daar ‘n hoogs-gelaaide oorweldigende preek ten gunste van Belhar gelewer net voor die stemming daardie oggend!

Rupert Ashford ·

Hierdie is ‘n klomp gemors. Die NG Kerk lyk of hulle nie wil leer uit die foute van die verlede nie. Die Kerk is daar om God te dien, maw jy beoordeel Belhar (in konteks) aan die Skrif. As dit onskriftuurlik is (selfs in een aspek) wys jy dit uit aan die opstellers of “eienaars” en maak jou aanvaarding daarvan onderhewig aan wysigings. As hulle nie die wysigings wil aanvaar nie, was jy jou hande en stap weg. Die Kerk is ‘n Teokrasie. Ons akkommodeer nie mense om menslike politieke eenheid na te jaag nie, ons streef eenheid met mede Bybelse mede-Christene na, gebasseer op wat die Woord se ons moet glo. Sola scriptura.

Ewald ·

Eie sienings oor die beleydenis van Belhar

Die volgende gedagtes het by my opgekom met die bestudering van dié belydenis.

1. Wat is die dryfveer agter die najaag van eenwording van die NG Kerk en d ie VG Kerk?. Die NG Sending Kerk was die dogter kerk van die NG Kerk en het self die besluit geneem om dogterstatus vaarwel te roep en ’n eie onafhanklike kerk te vorm met die naam Verenigende Gereformeerde Kerk. Dis myns insiens ’n bybelse gedagte dat kinders die ouerhuis verlaat en onafhanklik funksioneer. Hulle bly familie maar is onafhanklik van mekaar, soms wêrelde van mekaar geskei. Waarom sou die twee onafhanklike kerke nou eenwording nastreef. Is dit nie so dat die drie susterskerke na jare nog vêr verwyder is van eenwording terwyl hul tog dieselfde belydenisskrifte deel.
2. Wat sê Belhar wat ons bestaande belydenisskrifte veswyg? Wat ons bestaande belydenisskrifte betref is dit opmerklik dat God sentraal staan. Dis God gerig met die fokus op Sy Liefde en Sy geregtigheid en beheer oor die aardse koninkryk. Belhar daarinteen vertoon sy mensgerigte fokus so subtiel dat die gevaar bestaan dat die gewone Christen lidmaat dit kan miskyk.
3. Waarom gee die Kerkbode so’n eensydige siening oor Belhar en geen opmerkings daarteen. Daarbenewens is daar op Sinodevlak besluit om Belhar te aanvaar en daardeur die kar voor die perde te span.
4. Wat sê die Internet oor dié onderwerp.
5. Daar is groot kanonne in die NG Kerk wat Belhar bevorder, maar daar is ook groot kanonne wat dit verwerp.
6. In geheel gesien gaan Belhar subtiel oor die strewe na absolute ontkenning van die groot kultuur en rasseverskille tussen die lidmate van Gereformeerde kerke in Suid-Afrika en stuur (ewe subtiel na my eie mening) af op die strewe na rasvermenging soos deur die liberalisme verkondig word en in ons land ’n turksvy is waaroor menige eerder swyg as om ’n opinie te lug. My eie siening is dat God verskillende nasies gemaak het met afsonderlike en wonderlike eienskappe en ek kan my nie indink waarom Hy dit nou ongedaan sou wou maak deur rasvermenging nie. Ek beskou die “geskeidenheid” van volkere in die ou Testament nie slegs as voorkoming van verleiding tot afgodsdiens nie maar ook as ’n praktiese reëling teen konflik.

Dis kenmerkend van dwaalleer dat Bybelse waarhede so subtiel verdraai word dat die niksvermoedende leser dit moeilik agterkom, en ekself is geen uitsondering op die reël nie.

Kyk na die volgende inhoud van die belydenis ter stawing van my eie oordeel oor die inhoud:-

Paragraaf 2”
1. “Die eenheid van die kerk van Jesus Christus” –
a. Wat nou van ander denominasies veral die susterskerke? Dis ’n feit dat daar duisende denominasies is, elk met ’n eie vertolking van die Skrif, tog beleef ’n groot aantal ‘n eenheid t.o.v die kernsaak nl. die verlossing in Christus.
2. “dat geskeidenheid, vyandskap en haat tussen mense en mensegroepe “
• Wat van ander denominasies? Die woord geskeidenheid is na my mening ’n eufemisme vir apartheid en mensegroepe is ’n sagter naam gegee vir rasse.
3. “saam opgebou word tot die gestalte van Christus, tot die nuwe mensheid”.
• Wat word bedoel met “’n nuwe mensheid”
4. “Dat hierdie eenheid slegs gestalte kan vind en nie onder dwang nie.” “dat die verskeidenheid van geestelike gawes geleenthede, agtergronde, – verskeidenheid van taal en kultuur geleenthede is tot wedersydse diens en verryking binne die een sigbare volk van God”.
• Daar word na my mening gepoog om uiteindelik alle verskille wat in die onderstreepte woorde hierbo voorkom te laat verdwyn sodat hulle “sonder dwang” geleidelik onsigbaar sal word”.
4. “ware geloof in Jesus Christus die enigste voorwaarde vir lidmaatskap van hierdie kerk is”
• (En ook ander Christusbelydende kerke, nie waar nie..)

Paragraaf 3

1. “Daarom verwerp ons enige leer wat ôf die natuurlike verskeidenheid (RAS?) ôf die sondige geskeidenheid (afsonderlike saamwoon) so verabsoluteer dat——— lei tot ’n aparte kerkvormasie.
a. {duidelik en subtiel gerig teen apartheid, verdoesel met “sigbare en werksame eenheid) —–“wat voorgee dat hierdie geestelike eenheid {geestelike eenheid word hier skielik ingevoeg om dit vroom te laat klink} —van mekaar vervreem word ter wille van die verskeidenheid en vanwee die onderversoendheid. [M.A.W. dat die NG Kerk voorgee dat die praktiese van verskeidenheid en onversoendheid rede is tot die behoud van aparte kerke].

My vrees is dat as daar na die Belhar belydenis oppervlakkig gekyk word dan bestaan die gevaar om net die Geestelike inhoud raak te sien, maar uit die agtergrond van die ontstaan van die belydenis kan ek nie anders as om dieper te kyk nie.

Dis eintlik verbasend dat sommige kerke in die buiteland dit ook nie aanvaar nie want hulle dra nie dieselfde bagasie as ekself wat uit die vorige politieke bedeling kom nie. Meer nog, is die Swart en Indiër Gereformeerde kerke nie in ’n gunstiger posisie om dit te omhels nie, tog het hulle dit verwerp.

Ek dink dit sal logies beredeneer kan word dat sonder die beleid van afsonderlike ontwikkeling daar nooit ’n Belhar sou ontstaan het nie. Die Sendingaksies van die NG Kerk het sovêr ek bewus is reeds bestaan voordat afsonderlike ontwikkeling as regeringsbeleid aanvaar is en ek meen dat daar nie beswaar was toe die sendingkerke onafhanklik onder leiding en finansiering van die NG Kerk bestaan het nie. Kerkplanting se doel was m.i. om sulke kerke selfstandig tot volwassenheid te laat groei, onafhanklik van die kerkplanter.

Die voorwaarde vir eenwording was vir geruime tyd onderhandel met die eis dat die NG Kerk die belydenis aanvaar. Dit het nou verander na “sonder dwang” en die “please all” benadering van vrywillige aanvaarding of verwerping. Dit kan netsowel verwag word om lidmaat van die kerk te bekom en die vrye keuse te maak om Christus te bely of nie.

Ek twyfel of die meerderheid NG en VG Kerk lidmate beswaar sal maak teen lidmaatskap van anderskleurigers van die NG of die VG kerk, en ondersteun die gedagte van eenwording, maar sonder die eis van ’n Belhar. Belhar het instede van ’n verenigende invloed die potensiaal om ’n verdelende uitwerking te hê wat nie een van die kerke tot voordeel sal strek nie en die uitbreiding van God se Koninkryk kan belemmer. Vrywillige lidmaatskap van enige van die twee kerke behoort sonder Belhar min teenstand te ondervind omdat dit ’n natuurlike proses sal volg. Daar kan geen twyfel bestaan dat dit baie jare sal neem om algehele eenwording te verwesenlik nie maar om ’n besondere humanistiese voorwaarde wat wemel van geheime agendas te stel vir eenwording sal m.i. meer verdeling teweeg bring.

Ek volstaan met die vraag soos ook hierbo in punt 2 aangehaal – Watter leemtes is daar in ons bestaande Belydenisskrifte wat deur Belhar gevul word? Al antwoord wat ek kan gee met my beperkte kennis is dat Belhar se oorwegend mensgerigte fokus nie in ons bestaande belydenisskrifte na die beste van my kennis benadruk word nie.

Ewald

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.