Die Belydenis van Belhar: Vrae en antwoorde

kerkHierdie artikel deur dr. Braam Hanekom is deel van Maroela Media se reeks uiteenlopende artikels oor die Belhar-debat. Volg gerus die Belhar-debat op Maroela Media se debatsplatform, Die Groot Debat. -Red

Die artikel het oorspronklik in Die Burger verskyn. Klik hier om dit op hulle webtuiste te lees.

Die Belydenis van Belhar en die stemproses wat tans hieroor in die NG Kerk aan die gang is, het soos verwag, heelwat reaksie uitgelok. Uit die terugvoering wat ontvang word, blyk dit dat sommige mense steeds met vrae sit en met aannames werk, wat ons insiens nie altyd korrek is nie. Die afgelope tyd het die volgende stemme onder andere opgegaan en ons antwoord graag daarop:

“Julle dwing iets op ons af.”
Die presiese teendeel is waar. As die sinode dit wou doen, is daar nie soveel moeite met die kerkordelike proses en die formulering van die voorstel gemaak nie. Die formulering was juis ’n eerlike en ernstige poging van die sinode om vir ons lidmate te sê dat ons nie sonder meer mense wil uitsluit of vervreem nie. Enigeen wat by die sinode van 2013 was, sal dit kan beaam. Die teendeel het baie jare gelede by Dordt gebeur toe meer as 200 predikante die kerk moes verlaat omdat hulle Dordt nie dadelik wou aanvaar nie. In ons gereformeerde tradisie glo ons in elk geval dat jy nie onder dwang iets kan of moet bely nie.

“Julle maak Belhar minderwaardig.”
Dit is belangrik om te verstaan dat die voorstel die Belydenis van Belhar deel van die belydenisgrondslag van die kerk maak. Die voorstel impliseer dat dominees voortaan, soos met die ander belydenisskrifte die geval, met vrymoedigheid daaroor sou kon preek en kinders in die kategese die inhoud daarvan leer. Omdat dit ’n nuwe belydenisskrif is, dwing ons egter nie die aanvaarding daarvan op mense af nie. ’n Versigtige en verantwoordelike proses word gevolg – wat ook seker maak dat ons die vereistes wat die siviele reg aan ons stel, nakom.

“Die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) sal nooit julle besluit aanvaar nie.”
Ons het van die begin af gesê dat ons nie met die Belydenis van Belhar kan besig wees ter wille van die VGK nie. Daar is en was reeds leidende stemme in die VGK, wat met groot begrip gepraat het oor die NG Kerk se besluit oor artikel 1. Verder moet ons dit goed verstaan dat ’n mens nie ’n belydenis aanvaar of afwys ter wille van ander nie. Dit is ’n innerlike oortuiging of nie. Ons sê dit in die mooiste gesindheid. Wat ons nou doen, doen ons omdat ons glo dat dit die regte ding is. Ons doen dit omdat ons glo dat die Belydenis ons kerk kan help, ook met reuse-uitdagings wat ons land tans in die gesig staar. Ons doen dit nie ter wille van die VGK nie. Ironies genoeg word daar tans in die kritiek op artikel 1 min verwys na die NG Kerk in Afrika (NGKA) en Reformed Church in Africa (RCA). Ons is oortuig daarvan dat artikel 1 ook vir hulle ruimte laat om tuis te kom in ’n groter NGK-familie.

“Die leiers het besluit en is verwyderd van die mense.”
Die vraag is: wie is hierdie mense? Daar is tans baie sterk opponerende stemme in die kerk. Mense het gewaarsku dat die kerk kan skeur as ons Belhar aanvaar. Tans vrees ons dat die kerk kan skeur as die kerk Belhar sou afwys.

Met die huidige proses gaan die kerk uit sy pad om lidmate te betrek. Daar is selfs diegene wat ons daarvoor kritiseer deur te sê dat ons nou van die kerk ’n demokrasie gemaak het en besig is om ’n referendum te hou. Nog nooit in die geskiedenis van die kerk is daar so wyd deur lidmate oor ’n saak gestem nie.

Wat die proses wil doen, is om beide die profetiese taak wat aan die leierskap (insluitende kerkrade) toevertrou is, te balanseer met die inset van lidmate. Dit is ’n komplekse proses en ons kry inderdaad soms mense wat die proses enersyds wil interpreteer asof die lidmate die laaste sê het en andersyds asof die leiers al die sê het. Nie een van die standpunte is binne ’n gereformeerde tradisie korrek nie.

“Julle mislei die mense.”
Die sinode se posisie is duidelik. Ons wil graag hê dat die Belydenis van Belhar aanvaar word, omdat ons oortuig is dat dit Skrifgetrou is en die ander belydenisskrifte uitstekend aanvul rakende die uitdagings wat ons land en wêreld tans in die gesig staar. Ons stel voor dat dit deel van die belydenisgrondslag van die kerk moet wees, maar sal niemand verguis of wegjaag wat dit nie wil aanvaar nie. Ons meen dat daar niks onduidelik of oneerlik aan die standpunt is nie.

“Hoe kan ons stem oor iets wat in elk geval opsioneel is?”
Dit is nie opsioneel nie. Die voorstel is dat Belhar, soos reeds gesê, deel word van die belydenisgrondslag van die kerk, maar op so ’n manier wat die eenheid van die kerk ten beste wil bewaar. Ons sê nie die formulering van artikel 1 is perfek nie. Ons glo egter dat dit nou die beste manier is om die saak op ’n verantwoordelike manier te hanteer.

“Julle gaan binnekort die ander belydenisse ook opsioneel maak.”
In geeneen van die vergaderings waarin ons in soveel jare oor Belhar was, is hierdie moontlikheid al genoem, voorgestel of selfs net gesuggereer nie. Mense wat dit nou beweer, skep vals persepsies. Waaroor ons wel ernstig dink, is oor watter rol belydenisskrifte vandag in ons lewe as ’n belydende kerk behoort te speel. Hieroor behoort ons in hierdie dae ernstig met mekaar te bly praat.

Ten slotte moet ons dalk die vraag vra: Maak die vaskyk in die ontstaangeskiedenis van Belhar nie dalk dat ons blind geword het vir dit wat die Belydenis van Belhar vandag vir ons kan beteken nie?

Luister net na enkele woorde uit die Belydenis en dink na oor Suid-Afrika in 2014: “Ons glo … dat die kerk daarom mense in enige vorm van lyding en nood moet bystaan, wat onder andere ook inhou dat die kerk sal getuig en stry teen enige vorm van ongeregtigheid, sodat die reg aanrol soos watergolwe, en geregtigheid soos ’n standhoudende stroom … Jesus Christus is die Heer”.

Ons vra mooi dat almal die proses biddend, in liefde en met wedersydse respek, sal hanteer.

Belhar_VoorbladBestel nou jou kopie van Belhar geweeg

In Kraal Uitgewers se boek Belhar geweeg ondersoek 18 skrywers en bekendes die waardigheid van Belhar as belydenisskrif. Belhar geweeg skets nie net die agtergrond waarteen Belhar saamgestel is nie, maar vra ook brandende vrae oor die moontlike invloed van die aanvaarding van Belhar. Die boek bestaan uit ses hoofstukke met artikels wat fokus op onder meer die ontstaan van die Belydenis van Belhar en die agtergrond waarteen dit saamgestel is, die kerkordelike pad wat gestap is en die reaksie van ander kerke en jonger kerkleiers in die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Belhar geweeg sluit ook die volledige teks van Belhar in sowel as die begeleidende brief wat daarmee saamgelees moet word.

Skrywers sluit in prominente kerklui soos die voormalige moderator van die NG kerk, prof. Piet Strauss, en bekendes soos die voormalige polisiehoof, genl. Johan van der Merwe.

Belhar geweeg is beskikbaar by Kraal Uitgewers. Maroela Media-lesers kan die boek nou bestel teen die spesiale afslagprys van R70 (R20 posgeld en verpakking uitgesluit). Besoek www.kraaluitgewers.co.za om dit te bestel.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Braam Hanekom

Dr. Braam Hanekom is moderator van die NG-sinode van Wes- en Suid-Kaapland.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

rissiepit ·

So as die Belhar aanvaar word…kan die Kerk skeur…en as dit nie aanvaar word nie…kan die Kerk skeur. My vraag. WIE????? het die Belhar uitgedink en die voorstel gemaak? Duidelik iemand wat die kerk wil laat skeur. En die IEMAND is seker BAIE Christelik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.