Die Berlynse lugbrug – 70 jaar gelede

berlynse-lugbrug

Foto: Wikipedia.org

Op 26 Junie 1948, 70 jaar gelede, het die Berlynse lugbrug sy aanvang geneem. Dit was ’n sleutelgebeurtenis aan die begintyd van die Koue Oorlog en die eerste ernstige konfrontasie tussen Oos en Wes wat maklik op ’n oorlog kon uitgeloop het.

Ná die neerlaag in die Tweede Wêreldoorlog in 1945 is die Duitse Ryk in vier besettingsones tussen die oorwinnaars verdeel: ’n Sowjetse sone in die Ooste, ’n Amerikaanse een in die Suidooste en die middel, ’n Britse een in die Noorde en Noordweste, en ’n Franse een in die Suid-Weste.

Berlyn, die hoofstad, was in die Russiese sone geleë, maar omdat dit die hoofstad was en vir almal belangrik was, is dit op sy beurt in vier sones verdeel. Die veronderstelling was dat die vier oorwinnaarslande sou saamwerk en die bestuur van die sones sou koördineer.

In praktyk het die Sowjetunie in sy sone egter ’n kommunistiese regering op elke vlak geïnstalleer (met behulp van Duitse kommuniste) en die ander magte en niekommuniste op elke denkbare vlak belemmer. Verder is ook, teenstrydig met die verdrag tussen die oorwinnaars, hele fabrieke uitmekaar gehaal en na die Sowjetunie verskeep. Die Sowjetunie het ook toenemend die verkeersverbindings tussen Wes-Duitsland en Wes-Berlyn deur die drie korridors belemmer.

Dit het die drie Westerse moondhede genoop om toenemend teen die Sowjetunie saam te werk en om hul drie sones soos ’n eenheid te bestuur, insluitende die drie Westelike sones van Berlyn. Wes-Berlyn het in praktyk ’n niekommunistiese eiland – omring deur die Sowjetse sone (insluitende Oos-Berlyn) – geword, met ’n demokraties verkose burgemeester, Ernst Reuter, ʼn sosiaal-demokraat. Die samewerking van die drie Westerse magte het sy hoogtepunt bereik toe hulle met die instelling van die Duitse mark ’n gesamentlike, nuwe geldeenheid vir die Westelike sones geskep het (wat later uitgeloop het op die stigting van die Bondsrepubliek Duitsland en die Duitse Demokratiese Republiek [DDR] in 1949). Dit is deur die Sowjetunie as uitdaging gesien en hulle het begin om Wes-Berlyn in alle opsigte te isoleer deur die verkeersare toe te maak. Dit het 2,2 miljoen Wes-Berlyners geraak, asook die duisende soldate van die Westerse besettingsmagte. Berlyn as stad het glad nie die hulpbronne gehad om homself te versorg nie.

Die Weste kon ingegee het en aan die Sowjetunie – wat reeds teen alle ooreenkomste talle Oos-Europese state in kommunistiese diktatorskappe omskep het – ook nog Wes-Berlyn, en daarmee saam ’n belangrike simboliese oorwinning, gee. Of hulle kon oorlog verklaar, maar niemand wou dit hê nie, en boonop was die Sowjetunie in daardie stadium met sy groot hoeveelhede troepe in Oos-Duitsland en orals in die Oosblok in ’n militêr baie sterker posisie as die Westerse moondhede.

Die derde opsie, waarop toe besluit is, was om nie toe te gee nie en om die beleg die hoof te bied. Dit was net moontlik deur die instelling van die sogenaamde lugbrug, waar Wes-Berlyn met sy meer as 2 miljoen inwoners deur vliegtuie versorg is. Logisties was dit ’n enorme taak. Dit was nie net kos en klere nie, maar ook boumateriaal, brandstof en veral steenkool, aangesien die kragtoevoer ook afgesny was. Berlyn moes alles inspan om sy selfstandigheid te verhoog. Gelyktydig is alles streng gerantsoeneer, want die vliegtuie kon nie die hoeveelhede lewer wat onder normale omstandighede verbruik is nie.

Elke minuut het ’n vliegtuig op die lughawe Tempelhof in Wes-Berlyn geland en in totaal is 2,1 miljoen ton vrag na die stad gebring. Net so belangrik soos die fisieke versorging van die beleërdes, was die gees van saamstaan en saamwerk om die kommunistiese bedreiging die hoof te bied, iets wat deur Reuter in toesprake lewend gehou is. Die Weste het op sy beurt ’n teenblokkade teen die Sowjetse sone ingestel en geen produkte is meer uit Wes-Duitsland daarheen uitgevoer nie. Dit was ’n gevoelige hou, want die Ooste was toe reeds tegnologies agter die Weste en moes talle gevorderde tegnologiese produkte invoer. Ná 18 maande het die Sowjetse owerhede uiteindelik besef dat die beleg sinneloos was en het dit beëindig. Die Weste en die gees van vryheid het teen kommunistiese manipulasie en onderdrukking gewen. Die Duits-Amerikaanse vriendskap, waarvan daar vandag min oor is, is destyds gevestig. Die lugbrug gedenkteken is in 1951 opgerig om die geskiedkundige gebeurtenis te herdenk.

Wes-Berlyn het ’n doring in die vlees van die kommunistiese Ooste gebly: ’n vertoonvenster van hoe veel beter en vryer die lewe in die Weste is, en ’n belangrike skuiwergat vir mense om na die Weste te vlug. Dit is eers in 1961 met die bou van die Berlynse muur beëindig.

Die destydse heldemoed van die Berlynse mense, en die sterk simboliek vir die vrye Weste staan in kontras met die huidige Berlyn, wat wêreldwyd bekend staan as partytjiehoofstad en sentrum van hedonisme. Ernst Reuter sou in sy graf omdraai as hy geweet het dat sy party, die Sosiaal-Demokrate, in Berlyn vandag in ’n koalisie met voormalige kommuniste regeer.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

John ·

Die Weste het na die oorlog met groot te do opgedaag en probeer hiet en gebied. Sou samewerking met die Sowjet-unie beter wees kon dinge baie beter verloop het, maar ‘n groot spioenasie-netwerk is opgebou, die wereld se nuusbronne is vergitig en 007 raak beroemd, Niks het in die Weste verander nie…. Nog ‘n nuwe geval van glo Russiese senugas vergiftig die Sokkerwereldspele in 2018 en…. 007, Waar hou jy vakansie? Praat harder££!€

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.