Die beste bedoelings in die wêreld versus verterende pyn

Oud pres. FW de Klerk

Bruin rubriekskrywers se FW-reaksie

Hulle is kwaad vir FW de Klerk, dis baie duidelik. Sommer baie kwaad.

Die een na die ander is hul rubrieke in Die Burger geplaas – Johann Maarman, Jonathan Jansen en toe Henry Jeffreys.

Dis met groot aarseling dat ek hulle as bruin rubriekskrywers beskryf. Vir my is ‘n rubriekskrywer ‘n rubriekskrywer, en is al wat saak maak is of dit ‘n goeie, slegte, werklik onafhanklike, ‘n linkse of regse is. Speel ras of geslag byvoorbeeld (veel) van ‘n rol by Rhoda Kadlie? Boonop dink ek nie enige van die drie rubriekskrywers wat nou so onder FW ingeklim het sal graag hulle in hul rubriekskryfstatus as bruin wil klassifiseer nie. Minstens een het al na homself as swart verwys.

Prof. Jansen het al op Facebook “sy kinders” – gewoonlik ‘n verwysing na sy studente – aangeraai om nie op vorms die vraag oor ras in te vul nie. Daarmee het hy groot respek by my afgedwing. Dit is dus nie net met huiwering dat ek die “bruin” in hierdie verband gebruik nie, maar teensinnig. Maar dit kan dié keer ook nie anders nie.

Net soos dit ook nie anders kon nie toe ‘n mens bruin rubriekskrywers se skrywes gelees het na Jimmy Manyi sy uitlatings gemaak het wat gewoon nie anders as anti-bruin beskou kan word nie. Met ander woorde, wanneer rubriekskrywers min of meer eenstemmig op ‘n gedeelde verlede reageer, en die eenvoudigste uitkennorm is die velkleur.
Dit sou stellig minstens nie heeltemal verkeerd wees nie, om te sê bruin rubriekskrywers (bedoelende in die algemeen, nie noodwendig die hierbo genoem nie) het ‘n belangrike begeleidingsrol gespeel in die bruin uittog uit die ANC na die Manyi- en soortgelyke insidente. Toegegee, van die bruin rubriekskrywers (weer eens in die algemeen) het eerder gevolg as begelei, en nog minder gelei.

Op ‘n vreemde manier is daar ‘n band tussen FW, of dan sy Stigting, en die bruin gemeenskap, en dit dra dalk juis by tot die ontsteltenis. Tot veral Solidariteit op die toneel gekom het met sy voorgenome hofsaak teen Korrektiewe Dienste se toepassing van nasionale kwotas in die Wes-Kaap, tot nadeel van bruin aanstellings en bevorderings, was die FW de Klerkstigting waarskynlik die mees sigbare stem van protes daarteen.

‘n Tweede “diskrepansie” in die verwikkelinge is die feit dat, by behalwe enkele wit individue, die tuislandbeleid nooit ‘n bruin tuisland in die oog gehad het nie. En dis oor die tuislandbeleid-stellings wat FW nou by die bruin rubriekskrywers in die sop is.

‘n Klein historiese teruggreep. In die laat sestigerjare het die destydse premier, John Vorster, ‘n gradeplegtigheid van die US toegespreek. Hy het by dié geleentheid die tuislandbeleid uiteengesit, beklemtoon dat dit regverdig moet wees, en ook beklemtoon dis vir die swart volkere bedoel – en toe oor die politieke toekoms van die bruin mense gepraat. “Dit,” het hy gesê en na die studente in die gehoor gewys, “is iets wat julle sal moet aanspreek.” Dit is op talle wyses “aangespreek”. Die woorde “parallelle ontwikkeling” is gebore, en terme soos die Wes-Kaap as kleurlingvoorkeurgebied, met ‘n Kleurlingontwikkelingskorporasie, het dié beleid probeer toepas. Uiteindelik het die driekamerparlement ingevolge die 1983-grondwet gekom.

Die naaste aan tuislande is stellig die bruin landelike gebiede, wat saam honderde duisende hektaar beslaan, maar oppervlaktegewys grotendeels in dorre gebiede soos Mier en die Richtersveld voorkom. Suksesvolle grondeise het nie noodwendig grond bygevoeg nie omdat eerder kontantvergoeding verkies is, terwyl ‘n taamlike komplekse skikking oor diamantgronde bereik is. Soms haper dit, soos die Korannas wat wil wêreldhof toe oor hul aanspraak op Wurrasoord / Bethanië waar ander die voordeel gekry het. Die Korannas se aanspraak is onder meer op ‘n inskrywing in die Sandrivierkonvensie bevestig, maar probeer nou ‘n kopie daarvan bekom.

Maar of die tuislandbeleid op bruin betrekking gehad het of nie, dit is met dieselfde felheid as die kritiek uit swart geledere aangespreek. In die emosionele konteks is dit bloot van akademiese belang of die reaksies op FW se onderhoud dit is wat FW in die onderhoud gesê het, en of dit eerder ‘n klassieke geval is waar die kollektiewe pyn ‘n strooipop geskets het, en dat die kritiek eintlik teen die strooipop gemik is.

Dit is ook belangrik om daarop te let dat die kritiek op FW nié net uit bruin en swart geledere nie, maar ook uit wit geledere kom. Swart kritiek, soos in die Sowetan se hoofartikel, het trouens basies dieselfde aanslag as die kritiek van die drie bruin rubriekskrywers, maar omdat dit in die Engelse pers verskyn, sal minder blankes, veral Afrikaners, hiervan kennis neem. Maar die drie rubriekskrywers se kritiek verskil in ‘n paar belangrike opsigte van die kritiek uit veral liberale wit geledere. Hierdie wit kritiek handel nie so seer oor wat FW gesê het nie, maar dat hy dit gesê het terwyl die rou emosies nog te diep daaroor loop.

Daar is by sommige blanke kommentators ‘n bewustheid dat daar by baie van die voorstanders van die tuislandbeleid nie die geringste kwaadwilligheid teenwoordig was nie, in elk geval nie destyds nie. Hulle toon ook begrip daarvoor dat dit destyds in die konteks gestaan het van redelik wydverspreide internasionale praktyke, soos die formele “segregation”-beleid in die VSA en slegs blanke immigrasie na Australië.

Maar die beste bedoelings ter wêreld teenoor die diepliggende pyn handel hier eintlik oor die verskille met die breër stroom wit denke. In ‘n paar rubrieke, verwysend na die US, het Tim du Plessis gewys op “gister se denke” oor iets wat prof. Anton van Niekerk sou gesê het, maar nie gesê het nie. Maar, het hy vroeër geskryf, dis nou “in” om vir ‘n mens se regte op te staan. Om regte wat die grondwet bied weens skuldgevoelens oor die verlede nie op te eis nie, is so “uit” soos gister se oorskietkos.

Dis tekenend van iemand wat besig is om skuldgevoelens af te skud, en wil aanbeweeg. Dit handel nie oor regte opeis ten koste van ‘n ander se regte nie, dit handel oor regte wat die grondwet en die internasionale reg bied. Dit manifesteer in die teenspoed wat “linkses” op die lyf loop wat skynbaar oor Afrikaans in die algemeen en Maties in besonder ‘n “ekskuus dat ek leef”-houding inneem. In Afrikaanse geledere is daar ‘n rugstyfmakery om nie Afrikaans (die baba) saam met apartheid (die badwater) uit te smyt nie. Onlangse raadsverkiesings bevestig dit.

‘n Bespreking met die uitsluiting van hoe die kwessie in die Hervormde Kerk (NHK) neerslag gevind het, sal onvolledig wees, selfs op die gevaar af om ‘n paar harde skoppe in die tande te kry. Almal in die land is min of meer bewus van die polemiek van die NHK se sogenaamde “apartheidsbesluit.” Daarna is daar groot tweespalt en verdeeldheid in die kerk waar dié wat ongelukkig is oor die besluit, hulle as die steedsHervormers gegroepeer het. En laat daar dadelik haas wees om te sê dis baie komplekser as wat dit nou geskets is, en dat dit nou veel meer oor kwessies rondom gereformeerdheid en fundamentalisme handel. Dit neem ‘n sterk dwarsliggende karakter aan tussen die steedsHervormers en groepe wat meer fundamenteel neig in die ander susterkerke, en apartheid het daarmee niks uit te waaie nie. Maar wat die apartheidskwessie betref, kan dit dalk ten beste opgesom word as dat veral met die aanvanklike formulering gevoel is dat van mense verwag word om iets as sonde te beskou waarmee hulle en hul ouers die beste bedoelings in die wêreld gehad het. Dit is ‘n jaar later meer omsigtig geherformuleer.

En die swaartepunt van hierdie verset is nie so seer landelike gemeentes, of gemeentes in Pretoria se meer konserwatiewe voorstede nie. Nee, dit is hoofsaaklik gesetel in die makro-gemeentes in die Oostelike voorstede van Pretoria, waar verreweg die meeste Afrikaners hul kruisies by die DA trek. Die lang relaas bloot om te toon dat die beoordeling van gesindhede nie ‘n simplistiese ding is om uit te pluis nie.

Benewens die gewone sarsie walglike rassistiese internetkommentaar op die drie bruin rubriekskrywers se artikels, is daar ‘n meerderheid wat hulle min of meer in Tim du Plessis se idiomatiek uitdruk. Heelwat van hulle was waarskynlik nog nie gebore nie toe die laaste apartheidswet amper 21 jaar gelede uit die wetboek verwyder is.

Al wat hulle ken is die ANC se neo-apartheid. Min van hulle is waarskynlik in hul denke deur hul ouers of die samelewing beïnvloed. Baie van die ouer Afrikanergarde is immers gesnoer deur politieke korrektheid of sosio-ekonomiese vergelding, sou hulle op enige manier onkrities oor ‘n aspek van apartheid gestaan het. Die polarisasie tussen jong mense is minstens ten dele ‘n skepping van ‘n denkende jeug wat nie kan verstaan hoekom hulle die kort lootjie moet trek nie. Dis hulle wat graag prof. Jansen se raad wil volg en weier om op aansoekvorms vir beurse en werk hul ras aan te dui.

Volg ‘n mens die mediaverklarings van die FW de Klerkstigting oor wat die Stigting en FW self sê, kristalliseer daar ‘n duidelike frustrasie uit oor hoe die ANC die nasionale akkoord, en dus die grondwetlike beginsels, algaande meer en meer eenkant toe stoot. Op 5 Maart het die ANC, aldus die Stigting, die nasionale akkoord ten dele “formeel” opgesê. Harde woorde val gereeld tussen die Stigting en senior ANC-ampsbekleërs. En hoe meer die ANC vir FW in die tande skop, hoe meer stokke kry sy vyande (ja, ‘n mens kan hulle weens die felheid van bitterheid nie anders noem nie) om dié oud-president mee te looi.

En niemand met ‘n siel word nie minstens effens seergemaak deur sulke kritiek nie.

Die fel kritiek wanneer daar ‘n klein bietjie begrip vir die seer en pyn aan die een kant blyk, en weer omgekeerd, toon hoe diep die vlakke van polarisasie lê. En dis jammer dat dié kwessie nie aangespreek kan word sonder om in die dryfsand van die simptome – selfs na 21 jaar – vas te val nie. Om bloot die sand te laat uitloop gaan niks verander nie … dat die jeug weer weens nuwe kwessies ook erg aan die polariseer is, is maar te duidelik onder die land se aandag gebring. Julius Malema se sangtalent en ander uitsprake het stellig die land gepolariseer, maar nie naastenby soveel as die wye solidariteit wat hy hiermee van die ANC op alle vlakke gekry het nie.

Of FW se volgehoue verduidelikings wat hy eintlik op CNN gesê en bedoel het, hom enigsins van die hoek afhaal, is minder seker. Aan die een kant het hy die “doodsonde” gepleeg deur enigsins onkrities na ‘n aspek van apartheid te verwys ongeag die konteks, aan die ander kant trap hy in sy verduidelikings nou op tone wat waarskynlik sy moontlike toekomstige rol in versoening onmoontlik maak.

Vergewe en vergeet is egter twee dinge. Beide begrippe vereis volwassenheid, harde werk en ‘n voortdurende wag voor die mond. Die aanspreek van versoening is ‘n komplekse, multi-dissiplinêre proses. Te veel skade hieraan is al deur politieke lomperds aangerig, maar waarskynlik net soveel deur mense wat as kundiges van ‘n enkele vakgebied hul eie perspektief as die volle antwoord aangebied het. Hoeveel keer moes ons aanhoor: “Kry net ‘n nuwe grondwet en al die polarisasie is op ‘n end.”

Toe nou nie.

Baie van die medisyne word nog deur minstens sommiges as politiek inkorrek beskou, en so vergroot die gaping op die grafiek van die kumulatiewe spanningshipotese. En ja, so blyk dit uit die reaksies…daar is nie net twee groepe nie, maar ‘n verskeidenheid elk met sy eie diversifikasie en stratifikasie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.