Die beste uitvoerende hoof ter wêreld kan Eskom nie red nie

Deur David Ansara

Sim Tshabalala, uitvoerende hoof van Standard Bank, het onlangs voorgestel dat Eskom dit moet oorweeg om ʼn internasionale kandidaat aan te stel om sy uittredende uitvoerende hoof, André de Ruyter, op te volg.

Alhoewel mnr. Tshabalala probeer om die probleem te help oplos, mis sy voorstel die kruks van die saak. ʼn Buitelandse aanstelling – hoe bekwaam of gekwalifiseerd ook al – sal nie die gemors by Eskom kan regmaak nie. Nog ʼn Suid-Afrikaanse aanstelling in die pos sal ook nie slaag nie.

Selfs as hulle dit regkry om iemand te oortuig om die werk te aanvaar, sal daardie persoon behoorlik bekwaam moet wees om hul werk uit te voer. Tydens ʼn podsending-onderhoud in Julie verlede jaar het ek vir mnr. De Ruyter gevra waarom hy die pos as hoof uitvoerende beampte aanvaar het.

“Ek was waarskynlik gemotiveer deur ʼn gevaarlike skemerkelkie van patriotisme en naïewe optimisme dat ek ʼn bydrae kon lewer,” het hy geskerts.

Miskien was dit daardie selfde gevoel van patriotisme (en baie minder naïwiteit) wat mnr. De Ruyter gemotiveer het om die tuig neer te lê. Die vereistes wat die pos daargestel het, was om mee te begin onmoontlik en sy gesag is voortdurend ondermyn deur die einste kabinet wat hom aangestel het.

Anders as mnr. Tshabalala wat aanspreeklik is teenoor sy klante, aandeelhouers en raadslede, is mnr. De Ruyter verantwoordbaar teenoor slegs een aandeelhouer: die regering.

Ongelukkig het die regering wat hy dien ʼn rigiede siening dat ondernemings in staatsbesit altyd ʼn sentrale rol in die ekonomie en samelewing moet speel. Gevolglik was mnr. De Ruyter magteloos om te doen wat nodig was om Eskom te red. As jy slegs een ‘aandeelhouer’ het, wie is regtig in beheer?

Die probleme by Eskom is nie tegnies nie, maar polities. Chroniese beurtkrag is ʼn simptoom van die beleid wat die regering op Eskom afgedwing het – en die perverse aansporings wat hierdie beleid geskep het.

Soos gedokumenteer deur die Zondo-kommissie is die nutsdiens drooggesuig deur ontplooide ANC-kaders wat voorkeurverkrygingsbeleid gebruik het om hulpbronne uit Eskom te onttrek. Dit alles gebeur onder die dekmantel van ‘transformasie’ terwyl miljoene eerlike, belastingbetalende Suid-Afrikaanse burgers (swart en wit) in duisternis gedompel word.

Toe ek mnr. De Ruyter tydens die podsending vra wat hy dink oor rasgebaseerde verkrygingsbeleide, was hy baie beleefd, maar ook eerlik in sy beoordeling:

“Om nie-waardetoevoegende tussengangers in die proses van verkryging te plaas, verhoog koste, dit stel bykomende risiko in terme van potensiële korrupte praktyke in, en vertraag ook ons voorsieningskettings.”

Wyle Michael Spicer, ʼn sakeleier en lobbyist, het vroeër die oorvloed van ‘magiese denke’ in Suid-Afrikaanse politiek betreur. Selfs mnr. Spicer sou verras wees deur die vlakke van magiese denke wat verlede week deur die minister van minerale bronne en energie, Gwede Mantashe, gedemonstreer is. Mnr. Mantashe, wat ministeriële beheer oor Eskom wil hê, het optimisties gesê dat beurtkrag binne 6 tot 12 maande beëindig kan word.

Mnr. Mantashe se kabinetskollega, minister van finansies, Enoch Godongwana, was effens versigtiger – maar nie minder magies nie – in sy denke. Mnr. Godongwana het dit toegespreek voor wat ʼn moeilike skare moes wees by die jaarlikse byeenkoms van die Wêreld Ekonomiese Forum in Davos. Daar het hy gesê hy verwag dat die elektrisiteitskrisis binne 12 tot 18 maande opgelos sal word.

Politieke probleme vereis politieke oplossings. Ongelukkig is dieselfde politici wat ons in hierdie ramp gedompel het nie diegene wat ons daaruit sal kry nie. Die oplossing is om hierdie politici so ver as moontlik van die energiesektor weg te kry.

Die Demokratiese Alliansie (DA) het op 25 Januarie na Luthuli-huis gemarsjeer. Sommige kommentators het dit fluks as politieke teater afgemaak. Dit is inderdaad ʼn politieke toertjie – maar dis hoe politiek werk.

Die DA het die bron van die krisis korrek geïdentifiseer. Aangesien hy en ander opposisiepartye die vooruitsig in die gesig staar om in 2024 ʼn veelparty-koalisieregering te vorm, moet hy ook meer doen om ʼn samehangende beleidsalternatief tot die staatsentriese model voor te stel. As ʼn koalisie wel aan bewind kom, sal energie-onsekerheid nie hul skuld wees nie, maar dit sal beslis hul probleem wees.

Een strategie sal wees om Eskom se opwekkings-, transmissie- en verspreidingsfunksies te ontbondel en die privaatsektor se betrokkenheid in elke domein aansienlik te verhoog. Dit sal moeilik en ingewikkeld wees, maar ver van onmoontlik. Suid-Afrika wek immers sedert die laat negentiende eeu elektrisiteit op. Dit is nie so moeilik soos om ʼn man op Mars te laat land, soos Elon Musk hoop om te doen nie.

Mnr. Musk sal waarskynlik daarin slaag om die mensdom eendag na die Rooi Planeet te stuur. Hy sal egter byna verseker nie daarin slaag om Eskom om te draai onder die huidige ideologiese en beleidsopset nie – ten spyte van sy ingenieurs- en sakevernuf.

Eskom kan die beste uitvoerende hoof ter wêreld aanstel, maar sonder ʼn fundamentele hersiening van energiebeleid in Suid-Afrika sal dit nie veel van ʼn verskil maak nie. Wie ook al volgende aangestel word, sal dieselfde ongelukkige lot as hul voorganger tegemoet gaan.

  • David Ansara is uitvoerende hoof van die Vrymarkstigting. Hy is ʼn stoere kampvegter vir individuele vryheid en ʼn markgebaseerde aanslag tot openbare beleidsvorming.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Truman Burbank ·

As iemand “sianied vergiftiging” kan oorleef, is hulle seker sterk genoeg om eskom te red. As hulle wil.

Republikein in die Wes Kaap ·

Eskom kan nie meer gered word nie. Privatiseer wat geprivatseer kan word.

Pinoccio ·

Eskom kan nie gered word met die useless anc se betrokkenheid daar nie. Huidiglik word dit as plunder-huis bedryf en nie as ‘n besigheid nie…

domheks ·

Ek daag vir CR uit om vir Andre de Ruyter as Elektrisiteits minister aan te stel!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.