Die betekenisvolle reaksie van die ANC oor die onderhoud van André de Ruyter

Theuns Eloff (Foto: Verskaf)

Toe ek visekanselier by die NWU was, moes ek een dag in 2008 (of daar rond) oproerige studente op die Mafikengkampus toespreek – en by verre die meerderheid was ANC Jeugliga-lede. Hulle het die gewone griewe gehad: klas- en registrasiegeldgeld was te hoog, die kafeteriakos te duur, en hulle het te min dinge verniet gekry. Maar een ding wat hulle gesê het, het ek glad nie verstaan nie: “Die visekanselier kan nie alleen eet nie, ons wil ook eet”.

Op my vraag wat hulle bedoel, is daar gesê dat hulle oortuig was dat as ʼn mens die hoof van ʼn openbare instelling is, jy moet deel wees van korrupsie. Hulle was dus oortuig dat ek alleen “eet”. Hulle het geëis dat ek my “deel” van inkomste uit korrupsie met hulle moes deel. Dit was dus al daardie tyd (voor Zuma) gebruik dat “eet” die ANC-kodewoord vir korrupsie was. En vyftien jaar later word dit steeds deur ʼn ANC-minister gebruik. Oor André de Ruyter se bekommernis dat die COP26-toekenning van miljarde rande aan Suid-Afrika vir die sogenaamde “regverdige oorgang” na groen energie, verwater sal word, is gesê:

“Wees pragmaties, André. Om die groter doel te bereik, moet jy bereid wees om ʼn paar mense te laat ‘eet’”.

Die De Ruyter-onderhoud met Annika Larsen van e.tv is nie maklike kykstof nie. Dit het my persoonlik meer ontstel as selfs die grusaamste Zondogetuienis. Dit het in 52 minute die storie van die ANC se verval tot ʼn bankrotparty en kwalik bedekte misdaadsindikaat vertel. Dit het twee ministers as leiers van twee misdaakartels, wat deur grootskaalse bedrog by en deur Eskom “eet”, geïmpliseer. Trouens, De Ruyter het in die onderhoud gesê dat die minister aan wie hy die inligting oor een hooggeplaaste politikus oorgedra het (waarskynlik die minister aan wie hy rapporteer, Pravin Gordhan), na sy adviseur gekyk het en gesê het:

“Ons moes seker geweet het dat dit onafwendbaar was dat dit moes uitkom”. Dit het die gevolge van staatskaping, rassetransformasie en kaderontplooiing by Eskom en in die veiligheidsdienste (die SAPD en die SSA) skreiend duidelik na vore gebring. Dit is daar vir enigiemand om te sien en te hoor.

Die meeste daarvan het ons al voor die Zondokommissie gehoor en in die Zondoverslag gelees. Hierdie onderhoud was net baie kragtiger, want dit was die kalm en beredeneerde getuienis van iemand  wat dit vir drie jaar aan sy lyf en die lyf van die organisasie waarvoor hy baie opgeoffer het, gevoel het. Dit was duidelik dat De Ruyter vooraf besluit het om, indien hy daaroor gevra word, nie doekies om te draai nie.

Die Eskomdireksie het binne 24 uur De Ruyter se kennisgewingstydperk ná sy bedanking beëindig.

Vandag se artikel se fokus is egter nie op die onderhoud nie, maar op die ANC en van sy lede se reaksie op die onderhoud.

Die ANC het onmiddellik ʼn koor van protes laat opgaan, meerendeels oor die beweerde betrokkenheid van die twee ministers. Oor die nie-politici wat korrup is en “eet”, was daar nie reaksie nie. “Bring die bewyse.” “Dit kan nie wees nie”. “Lê binne sewe dae ʼn klagte by die polisie, ander kla ons jou aan in terme van artikel 34 van die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Aktiwiteite.” Hierdie artikel bepaal dat alle persone in gesagsposisies in die openbare en privaat sektore korrupsie by die polisie moet aanmeld as dit meer as R100 000 beloop. Ek hoop hulle het die dapperheid om dit te doen, want dan kan De Ruyter se aantygings in ʼn hof gehoor word. Maar ek gaan nie my asem ophou nie.

Minister Pravin Gordhan het aanvanklik net gesê hy is “teleurgesteld” in De Ruyter wat nie die regte prosedure gevolg het nie. Later het hy erken De Ruyter het dit aan hom gerapporteer. Hy kan kwansuis nie onthou dat hy nie oor die identiteit van die een politikus verbaas was nie. Hy sing ook nou in die artikel 34-koor – al het hy self ʼn verpligting gehad om die saak by die SAPD aan te meld. Terloops, in De Ruyter se onderhoud toon hy talle kere aan dat hy die korrupsie by die SAPD aangemeld het – sonder enige optrede of gevolge. Trouens, toe Eskom se private sekuriteit korrupte aankopers aangekeer en aan die SAPD oorhandig het, is hulle die volgende dag op bevel van senior polisie-offisiere vrygelaat!

President Cyril Rampahosa was self lank stil. Eers ʼn dag of wat gelede, tydens die besoek van ʼn ander Afrika-staatshoof, het hy gesê dat De Ruyter die saak moes aangemeld het – dit was ʼn “verlore geleentheid” om korrupsie te laat ondersoek. Ek wil amper sê wat die ma vir haar dogter gesê wat op YouTube met ʼn fiets in die boom vasgery het: My f** Cyril! De Ruyter het herhaaldelik vir hulp met korrupsie gevra, hy het herhaaldelik vasgetrapte misdadigers aan die polisie oorhandig. En wat het daarvan gekom? Dadels… verlore geleentheid my dinges!

Ek voorspel dat in minder as ʼn week die name van die twee politici wat aan die hoof van die misdaadkartelle staan, deur die media uitgesnuffel en bekendgemaak sal word. Die een is reeds deur Daily Maverick in hulle “Eskom Intelligence Files” geïmpliseer en die ander een se naam is op pad. Wat sal die ANC-segspersoon en hoë koppe dan sê? Ons is geskok? Oor korrupsie is die ANC-leierskap eintlik maar lamsakkig.

Daar is vier soort reaksies en groepe in die ANC oor De Ruyter se reguit aantygings:

  1. Sommige klink of hulle regtig nie geweet het dat die korrupsie en kartelle na senior ANC-leiers se deure lei nie. Ná Zondo moes hulle geweet het. Vir mense wat al die korrupsie van bruin koeverte by ANC-verkiesingskonferensies moes beleef het, en die luukse sien waarin sommige partylede leef, is dit geen verskoning om te sê “ons het nie geweet nie”.
  2. Daar is ander wat dit vermoed of van die korrupsie weet, maar wat dit ontken, amper soos die sielkundige reaksie op traumatiese gebeure. Maar mense wat ná Zondo en nou ná De Ruyter dit nog ontken, is medepligtig daaraan dat ANC-leiers “eet”. Gordhan klink of hy in hierdie groep val, veral noudat hy erken dat De Ruyter hom ingelig het, maar ontken dat hy iets daaraan kan doen. Marelize!
  3. Daar is nog ʼn groep wat dit lankal vermoed en waarskynlik weet, maar dit willens en wetens ontken, ter wille van die party se eenheid en die gevaar dat dit die ANC by die stembus kan skade aandoen. Onder hierdie groep tel Cyril Ramaphosa waarskynlik self, ten spyte van die maatreëls wat hy al teen korrupsie ingestel het. As president van die land moes sy intelligensiedienste hom reeds lankal ingelig het oor wat vir De Ruyter duidelik was, maar daar was nie ʼn woord nie.
  4. En dan is daar die siniese groep wat dit reeds lankal weet, maar die bestaan daarvan in die openbaar ontken – omdat hulle self “eet”. Dit mag dalk nie wees op die skaal van Eskom of op die skaal wat die leiers dit doen nie, maar hulle is darem tevrede met die krummels van die biljoene rande wat van die tafel af val.

Ons weet nou verseker: die meeste ANC-leiers en -lede “eet” rustig saam en dié wat (nog) nie “eet” nie, is kwaad daaroor. As daar nog ANC-lede is wat geskok, verbaas of verdwaas is oor hulle party en hulle senior leiers se skandalige en kriminele gedrag, is dit tyd dat hulle na ʼn ander party soek. Soos wat ʼn bekende kommentator al opgemerk het: die ANC is ʼn misdaadsindikaat, vermom as ʼn politieke party. En hulle reaksie op die De Ruyter-onderhoud bewys dit weereens.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Theuns Eloff

Theuns Eloff is ʼn onafhanklike kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

37 Kommentare

Kokerboom ·

Theuns, ‘n uitstekende artikel. Jy slaan die spyker op die kop! ‘n SA sonder ANC( seker wensdenkery) sal wees soos eerste reens vir ‘n boer! ‘n Nuwe begin !!

Republikein in die Wes Kaap ·

Die ANC gaan nog baie jare met ons wees.

James ·

So, die ANC is ‘n misdaadsindikaat? Jy nie geweet nie Theuns? Jy dit nie agterkom destyds toe jy in Dakar vir hulle gaan kuier het nie?

Republikein in die Wes Kaap ·

Mbeki en Ramaphosa se sjarme het hom destyds betower. Te laat om nou te kla.

Johann ·

Jammer James, jou kommentaar help nie vir ‘n oplossing nie.

James ·

Dit bly egter waar, nie waar nie? Die smalendes van destyds wonder nou wat gebeur het – en ek sal dit AANHOU uitwys.

Werner ·

Johann, jy is reg. Maar dit moet eenvoudig aan die groot klok gehang word dat mense destyds lekker geheul het saam met die ANC en ons klomp “verkramptes” vanuit hul wyse hoogtes gemaan het om stil te bly. Terugkykend was hul naief en het het hulle bewys dat hulle oordeelvermoë tekort skiet. Nou moet hulle stilbly sodat ons “agterlike dommes” hulle gemors kan skoonmaak. Oplossings is belangrik, maar dit begin by die uitsluiting van mense wat reeds drooggemaak het.

CA ·

Dit het destyds gegaan oor die beeindiging van apartheid. Dit moes gebeur. ANC of te not.

Republikein in die Wes Kaap ·

Apartheid sou wel tot ‘n einde kom. NP of te not. Die gebeure by Kodesa was ‘n groot amateuragtige gemors wat uit die staanspoor die land in verkeerde rigting gestuur het. Te min opsies is aan Afrikaners en ander wittes gebied om te oorweeg. Dit was gek om te dink dat ‘n grondwet en nuwe bedeling tjoef-tjaf afgehandel kon word. Nou pluk ons die vrot vrugte.

James ·

Reeds in 1984 was daar gesprekke aan die gang met Inkatha. OM APARTHEID TE BEEINDIG. Die ANC het nie daarvan gehou nie – derhalwe die bloedige aanvalle op Inkatha in die 80’s en vroeg 90’s. Die ANC wou in die eerste instansie MAG bekom, nie Apartheid eindig nie. Gaan lees meer geskiedenis, dan kom probeer jy weer, CA.

Suzette ·

Baie goed verwoord. Die ANC is ‘n misdaadsindikaat.
Ek is bekommerd oor wat nog gedoen kan word om te probeer om iets te red. Van die mense in die howe en prokureurs is dan self deel van hierdie sindikate.

James ·

Selfbeskikking. Te midde van die chaos wat gaan oopbars. Bloedig soos dit gaan wees – maar dit is waar ons is. Te danke aan wyshere soos Theuns, en Kie.

Johann ·

Uitstekend, en daar word verwag dat hy by die “mede-eeters” verslag doen!

James ·

Hoe anders? Hulle is maatjies sedert Dakar se dae. Hulle het sekerlik ‘n legitieme verwagting?

Sobymykoolkop ·

Dis ń liberale siekte, die ogies gaan later oop maar dan is dit hoeka te laat. Jy het die pad mos in dakar gaan oopmaak vir hulle oorname van ń eens vooruitstrewende land.

James ·

En dan – dekades later, wil hulle kom wyshede kwytraak. Vergeet gerieflikshalwe van hul eie naiwiteit. BAIE van hulle…

Treurwilger ·

Verder …
As die De Ruyter-onderhoud nié die korrup-tot-op-die-been -ANC-regering tot in die buiteland bevlek en tot ‘n val bring nie, sal níks dit regkry nie, en gaan hulle inderdaad tot in ewigheid regeer.
Dié is dus ‘n oomblik, ‘n ‘laaste kans’ wat benut moet word.

kragaap ·

Snaaks hoe jy nou skielik agterkom hoe korrup die ANC is en geen van die beloofde “wigte en teenwigte” kan die rowerbende aan bande lê nie. Hulle sal eet tot als opgevreet is. Mense soos PW, HF en John V het dit vir julle gesê. Eers die “verligtes” nou duisternis.

Wicus ·

Dis presies hoekom dit die eerste paar jaar na ’94 so ‘goed’ gegaan het, nie oor die ‘wonderlike’ reënboog nie, maar bloot omdat daar stelsels was wat gewerk het en genoeg kapitaal was wat oor jare opgebou is, en nou is alles verteer.

James ·

Om nie te praat van Dr AP Treurnicht en Jaap Marais nie! Hulle was uitgelag. Ek dink hulle lag nou, vir Theuns en Kie.

Francois ·

Die land se groot probleme en finale ondergang gaan begin wanneer die ANC die EFF na volgende jaar se verkiesing gaan benodig om steeds die (verlore) beheer oor ons land te behou – soos ook reeds in ander berigte elders gewaarsku word. Alhoewel die magsbehepte ANC dit nie self wil hoor of erken nie, skraap hulle vinnig die EFF nader vir hulp as hulle sien hulle gaan mag verloor – verwys na Tswane- en ander plaaslike owerhede se burgemeestersverkiesings. As ons weer oë uitvee, bly Malema in Pretoria in Mahlamba Ndlopfu, Stanza Bopapestreet, Tswane… (voorheen was die naam van die presidentswoning in Kerkstraat, Libertas – ek het nie eers geweet dit staan sedert 1995 bekend as Mahlamba Ndlopfu nie!!! )

En soos ons ook in hierdie kommentaar kan sien, is dit onwaarskynlik dat blank, swart, bruin wat nie deel is van daardie twee partye, almal saam een groot saamstaan-poging kan aanwend om daardie magskoalisie te oorwin en daarna die land weer op te bou nie.

James ·

Die venster van geleentheid om die land – Suid Afrika – as ‘n geografiese eenheid op te bou, is verby. Balkanisering, is ons voorland. Besef dit vroegtydig, en beplan dienooreenkomstig.

Republikein in die Wes Kaap ·

Sake in die land gaan nog erger word. Ontbondeling van die hool is die enigste oplossing. Laat ons daarmee begin.

swartetjie ·

Die sg ‘onafhanklike kommentator’ se Damaskuservaring laat my sidder. Hy is deel van die oorgawe aan diegene oor wie hy nou ‘n besonder ‘ontnugterde’ mening opper. Begin by hoe ander gewerk het om selfbeslikking te verseler. Die kommentator was ver daarvandaan

Groen Ghoen ·

Ja, so stil-stil word die “verligtes” se liggies donker. Veral noudat die realiteit van S.A. se ware situasie nie meer verdoesel kan word nie.

Kokkie ·

Het Theuns dan nie hoeka sy vise kanselierskap op ‘n silwerbord aan die “eters” aangebied nie.

Wicus ·

Theuns was onderoorsitter in my eerste jaar aan die PUK, toe voorsitter, ‘n baie skerp brein en sterk leier. Het sy oom geken en hy is in die lyn van Afrikaner leiers van vervloë.

Die probleem met sulke mense is hulle het ‘n antwoord vir als en na die gebeurtenis kan hulle goed verduidelik waarom dinge skeefgeloop het. Voor die tyd kan hulle nie die probleem soos ons gewone sterflinge insien nie.

Devon ·

Dit was rêrig ‘n goeie artikel. Maar Theuns ek dink die regte Afrikaanse woord in die geval is nie eet nie maar vreet.

houopkruip ·

En weereens plaas Maroela nie kommentaar waarvan hulle nie hou nie, seker omdat Theunsie seker nou genoeg kritiek gekry het.
Hy moet op ‘n ander platform gaan “back track”.

James ·

Theuns moet stilbly. Genoeg gehad van die destydse wyshere, wat nou WEER hul superieure wyshede wil kom deel. Ons is waar ons is – oor mense soos Theuns. As hul enige skaamte het – sal hul ophou om hul opinies te lug: Hy, Max du Preez, Tim du Plessis, Piet Croucamp – om ‘n paar te noem. Die geskiedenis het hulle geweeg. Hulle moet die tikmasjiene los – en gaan tuinmaak.

domheks ·

Ou cyril is maar altyd geskok/verbaas/teleurgesteld! Niemand glo die GROEN PADDA wat in die pot kook vir een oomblik nie!

skurweberg ·

Ek hoop die boodskap van baie van die kommentare, dring deur. As ‘n mens te min of te veel besit om van te leef, verloor jy tred (realiteit) met die werklikheid. “Juge for yourself”

Fran ·

O daars nog ‘n maatjie waarvan ons nie moet vergeet wat mos ook ‘n persoonlike vriend van CR is nie….Roelfie Meyer! skatryk en rits die wêreld vol om aan ander lande te gaan vertel hoe ‘n demokrasie nou eintlik werk! Siek spul!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.