Die bittersoet van 2018 en my reistas vir 2019

In die 1980’s het ek op ʼn dag ʼn siniese sêding by ʼn konserwatiewe politikus gehoor wat soos volg lui: “Daar is goeie en slegte nuus; die slegte nuus is dat vanjaar nie ʼn goeie jaar was nie – die goeie nuus is dat vanjaar ʼn beter jaar was as wat volgende jaar gaan wees.”

2018 was in baie opsigte nie ʼn goeie jaar nie. Die ekonomie was vir die grootste deel van die jaar in resessie ná meer as een opeenvolgende daling in die BBP. Onsekerheid oor grondeienaarskap het nie gehelp om dinge te verbeter nie. Die brute rassisme van Julius Malema en Andile Mngxitama het die toon in die politiek begin aangee met haatvlakke tussen groepe in die land – wat manifesteer in sosialemedia-uitbarstings van haat, rassisme en wrewel na alle kante toe – en dit staan op rekordhoogtes, oftewel -laagtes.

Om ʼn verlepte kersie op ʼn andersins mislukte 2018-menseverhoudingekoek te plaas, het die skaapslag-en-offerseremonie deur 75 raserige betogers op Clifton se strand opnuut die diepe verdeeldheid van die Suid-Afrikaanse samelewing onderstreep en ʼn rare breuk in die andersins solidêre alliansie van linkse humaniste, veganiste, groenes en Afrika-nasionaliste gebring.

Maar 2018 was nie net ʼn slegte jaar nie!

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: ANA

Die brandstofprys daal weer vandeesweek met R1,20 nadat dit vroeër vanjaar gelyk het of die kurwe ten opsigte van die brandstofprys slegs opwaarts kan gaan. Cyril Ramaphosa het stadig maar seker ontslae geraak van die mees korrupte ministers in sy administrasie.

Onbekwames, soos Bathabile Dlamini, is steeds daar weens die belangrikheid van hulle steunbasisse. In laasgenoemde geval, die belangrikheid van die ANC-vroueliga.

Danksy die regsaksie van burgerregtegroepe en opposisiepartye het die hof die onwettige aanstelling van adv. Shaun Abrahams ter syde gestel en het Suid-Afrika vir die eerste keer sedert adv. Vusi Pikoli weer ʼn vervolgingshoof wat vertroue inboesem.

Teen alle verwagtinge in het die konstitusionele hof ook in Augustus vanjaar ten gunste van die Hoërskool Overvaal beslis, nadat die skool aan die begin van die skooljaar sy rug styf gemaak het teen aktivistiese Gauteng-onderwys-LUR Panyaza Lesufi se planne om die enkele Afrikaanse skole in Gauteng met Engelse leerders te oorstroom.

Die howe het ook afgereken met die korrupsie en magsmisbruik van oudpres. Jacob Zuma en beslis dat hy persoonlik moet instaan vir verspilde regskoste in verskeie van sy opportunistiese regsaksies van sy laaste twee jaar van bewind.

Grace Mugabe, oudpresidentsvrou van Zimbabwe. Foto: ANA.

Grace Mugabe het haar rieme styfgeloop in ons howe en die halsoorkop diplomatieke immuniteit wat deur die Zuma-administrasie aan haar verleen is, ná haar aanranding van Gabriela Engels in Sandton verlede jaar, is ter syde gestel. ʼn Lasbrief vir haar inhegtenisneming is uitgereik en hoewel daar onsekerheid is oor haar moontlike uitlewering, weet ons dat uitspattige Sandtonse inkopie-uitstappies op die rekening van Zimbabwe se arm besteelde belastingbetalers haar nie meer beskore is nie. Dis op sigself al ʼn welverdiende straf vir iemand wat vroeër bo die reg verhewe was.

Laastens het die konstitusionele hof ook, in wat as ʼn hupstoot vir die oppergesag van die reg en ʼn reuse- morele oorwinning van kommersiële boere van Zimbabwe beskou kan word, beslis dat oudpres. Jacob Zuma en die Suid-Afrikaanse regering onregmatig opgetree het deur deel te neem aan die ontbinding van die SAOG-tribunaal wat onder meer aan ontneemde boere die geleentheid gebied het om hulle skade van regerings te eis wat die oppergesag van die reg ondermyn.

Gemeenskapsinstellings soos AfriForum, Solidariteit, Akademia, Soltech, Pretoria FM en Maroela Media het ʼn jaar van ongekende sukses gehad.

So, wat hou 2019 in?

Oudpres. Jacob Zuma. Foto: ANA

Wat die politiek betref, het ons reeds oor jare heen in ʼn ritme verval wat die koers aandui vir die jaar wat voorlê.

Die politieke jaar skop gewoonlik af met die ANC-president se 8 Januarie-verklaring waarin die party sy planne vir die nuwe jaar uitspel. Vanjaar vind die verklaring op 12 Januarie in KwaZulu-Natal plaas. KZN is waarskynlik gekies aangesien dit een van die sleutelprovinsies is waaroor Ramaphosa beheer sal moet verkry indien hy sy greep op die ANC en die land wil versterk. KZN is steeds Jacob Zuma se bakermat.

Ons kan verwag dat Ramaphosa op 12 Januarie meer lig sal werp oor die ANC se planne met betrekking tot ʼn grondwetwysiging oor onteiening sonder vergoeding in die lig van die konsepwet wat pas gepubliseer is en wat beslis ʼn meer genuanseerde benadering tot onteiening sonder vergoeding bevat as wat tot dusver gevrees is.

In dié opsig (en indien dinge reg verloop) was die veldtog van AfriForum, die SA Instituut vir Rasseverhoudinge en die georganiseerde landbou dalk een van die suksesvolste veldtogte om beleid te beïnvloed.

Die verwagting is dat die ANC ʼn baie geringe wysiging aan die Grondwet gaan voorstel wat nie noodwendig vir die EFF aanvaarbaar gaan wees en dus nie die vereiste tweederde-meerderheid gaan verkry nie, maar dat die nuwe Onteieningswet, wat in elk geval vir onteiening sonder vergoeding in sekere omstandighede voorsiening maak, by die agterdeur ingebring en deurgevoer gaan word, met of sonder ʼn grondwetwysiging.

Die tweede belangrike politieke datum is 7 Februarie 2019 wanneer die parlement open vir ʼn kort sitting voor die verkiesing en die president sy staatsrede gaan lewer. Die kans bestaan wel dat die 2019-verkiesingsdatum in dié tyd bekend gemaak gaan word indien dit nie reeds tydens die 12 Januarie-verrigtinge gebeur het nie.

Tito Mboweni, minister van finansies, lewer die 2018 mediumtermynbegrotingsraamwerk in die parlement (24 Oktober 2018). Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Die derde belangrike datum is 20 Februarie 2019 wanneer die nuwe minister van finansies, Tito Mboweni, sy eerste begrotingsrede gaan lewer.

In die maande daarna tot middel Mei gaan Suid-Afrika die verkiesingseisoen binne en gaan ons waarskynlik een van die hewigste verkiesingsveldtogte beleef wat die land nog gesien het. Die ANC het gaandeweg sy posisie verstewig in tussenverkiesings oor die hele land met uitsondering van Gauteng waar die DA én die EFF steeds groei ten koste van die ANC.

Dis tans ʼn ope vraag of die DA sy sigbare agteruitgang in die Wes-Kaapse platteland ten koste van die ANC kan beperk om die bewind te behou. Daar moet egter in gedagte gehou word dat die DA tans meer as 60% van die setels in die Wes-Kaap hou en dat 70% van die kiesers in die Kaapse metropool woon (waar die DA se agteruitgang nie so groot is soos in die platteland nie). Die DA behoort dus waarskynlik die bewind te behou as sy tradisionele kiesers wel gaan stem.

In Gauteng lyk dit of die ANC se steun in tussenverkiesings steeds agteruitgaan in vergelyking met 2016 se algemene munisipale verkiesing waar die party reeds minder as 50% van die steun gekry het. Van al die provinsies in die land is die moontlikheid van ʼn koalisieregering ná die verkiesing in Gauteng dus die grootste. Die groot vraag is of daar ʼn ANC-EFF-koalisie gaan wees of dalk ʼn koalisie soortgelyk aan die opposisiekoalisies wat ná die 2016-verkiesing in veral Gautengse munisipaliteite gevorm is.

Pretoria FM en Maroela Media se parlementêre korrespondent, Jan-Jan Joubert, het reeds vroeër vanjaar in sy boek, Wie gaan 2019 regeer?, onthul dat pres. Cyril Ramaphosa weer ʼn regering van nasionale eenheid (RNE), soortgelyk aan die RNE van oudpres. Nelson Mandela wat ná 1994 vir twee jaar gegeld het, in die vooruitsig stel. Dit sou beteken dat ongeag of die ANC minder of meer as 50% van die stemme kry, opposisiepartye verteenwoordiging kry in die kabinet, uitvoerende rade van provinsies en selfs as komiteevoorsitters in die parlement.

Die ideaal van ʼn informele RNE (met ander woorde een wat nie grondwetlik voorgeskryf is nie, maar vrywillig tussen partye tot stand kom) is nie heeltemal nuut nie. Tien jaar gelede het oudpres. Jacob Zuma soortgelyke ideale gehad, maar sy uitnodiging slegs tot die VF Plus se dr. Pieter Mulder en die IVP se dr. Mangosuthu Buthelezi gerig. Uiteindelik is een adjunkministerspos vir Mulder aangebied en twee vir die IVP. Mulder het dit aanvaar, maar die IVP was nie tevrede om slegs adjunkministersposte te aanvaar nie en het nooit die poste beklee nie. DA-leiers soos Tony Leon, Douglas Gibson en Sandra Botha is wel in ambassadeursposte aangestel, maar dit was nadat hulle uit hulle verkose posisies bedank het.

Dit is onduidelik hoe politieke partye dié slag sal reageer op ʼn soortgelyke uitnodiging deur Ramaphosa, maar dalk het Suid-Afrika vandag – te midde van toenemende polarisasie – ʼn groter behoefte aan magsdeling op uitvoerende vlak as tien jaar gelede. Uiteraard sal grondwetlik verskanste deling van mag meer waarde hê as ʼn “RNE” wat van die welwillendheid van die bestaande president afhang.

Ons kan natuurlik verwag dat die laaste kwartaal van 2019 oorheers gaan word deur die rugbywêreldbekertoernooi wat vanaf 20 September tot 2 November in Japan plaasvind. Terwyl lande soos Ierland en Wallis vir die eerste keer die hand opsteek om die kampioenskap te wen, is die Bokke se hoop nie dood nie, veral ná die Bokke se verrassende oorwinning teen die All Blacks in Nieu-Seeland vroeër vanjaar.

My reistas vir 2019

liefde hart

Argieffoto (Foto: Maroela Media)

Die vraag bly, hoe berei ʼn mens jou voor op die reis deur 2019 wat voorlê?

Ek sou in my reistas vir 2019 oorgenoeg liefde pak. Liefde vir my vrou, my kinders, my familie, vriende, land- en volks- en geloofsgenote. Liefde vir ons taal, ons kultuurryke verskeidenheid van mense, idees en dinge. Liefde vir ons instellings en sommer vir al die mense in ons land met hulle grille, giere en angste, maar veral liefde vir ons Skepper deur wie alles tot stand gekom het.

Dan sal ek vreugde pak, nie aangeplakte vreugde of vreugde wat kunsmatig geskep is deur drank of dwelms nie, maar vreugde wat spruit uit die klein mooi dinge wat ons elke dag sien. ʼn Son wat opkom. ʼn Kind wat gebore word. ʼn Lewe wat gered of verleng word. ʼn Plantjie wat opkom. Die waaiende stert van ʼn getroue troeteldier. Die lag van kinders. Die geur van ʼn varsgemaakte koppie koffie. Die reuk van die veld of ʼn varsgeplukte roos.

En mag ons vrede ook saamneem. Vrede tussen die mense in ons land, maar veral vrede in ons harte. Om tevrede te wees met wat ons het, maar eerlik, geduldig en hard te werk vir wat ons graag sal wil kry.

Geduld, om die stommiteite wat ons almal soms aanvang te verduur en te weet dat elke lawwe gier ook maar mettertyd sal oorwaai.

Vriendelikheid, teenoor almal rondom ons. Dié van wie ons hou en dié wat ons soms kwaad maak.

Goedhartigheid, sodat ons vriende kan meer word en ons vyande stil.

Getrouheid, sodat ons mekaar se laste kan dra en aanhou dra, selfs wanneer dit moeilik gaan.

Nederigheid, sodat ons kan weet dat die goeie wat ons regkry nie danksy onsself is nie, maar danksy die goeie mense rondom ons wat stil-stil en getrou elkeen sy deel doen, maar bowenal danksy ons Vader se krag en gawes.

Laastens selfbeheersing, om op ons tande te byt eerder as om kwaad te raak. Om sterk te bly staan eerder as om weg te hardloop. Om lief te hê eerder as om te haat. Om te bou as ander breek. Om op te ruim as ander mors.

“… teen sulke dinge het die wet niks nie”, aldus Paulus in sy brief 2000 jaar gelede aan die Christene van Galasië, en wie weet, dalk verander ons 2019 in die proses na die beste jaar in die geskiedenis. En as die jaar nie beter is nie – het ons in elke geval onsself ten goede verander.

Dis ʼn dubbele oorwinning.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Willie Spies

Willie Spies is direkteur van Hurter Spies Ingelyf en uitvoerende voorsitter van Pretoria FM.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.