Die boere en klimaatsverandering

Dis skaars drie maande na die COP 17-Klimaatsveranderingberaad in Durban, en min mense onthou nog wat daar bespreek en bereik was. Die voor-die-hand-liggende rede is omdat daar nie veel gebeur het wat die moeite werd was om onthou te word nie. Ten spyte van die Suid-Afrikaanse regering se aansprake dat daar onder hul voorsitterskap oor die voordeellyn gekom is, en dat Durban trots sy plek kan inneem in die anale van die geskiedenis van die mensdom se stryd teen die grootste natuurramp sedert skrif ontwikkel is, was die oefening nie regtig die koste, tyd en energie werd nie.

Dit was egter verseker ook nie die Suid-Afrikaanse regering se skuld nie. Daar is weinig wat hulle kon doen om van COP 17 ‘n sukses te maak nadat die vliegtuie eers op King Shaka-lughawe begin land het. Vir sover dit die boere se saak betref, het min staatshoofde en ander politici so sterk en reguit vir die insluiting van landbou in enige moontlike ooreenkoms uitgekom as wat President Zuma en Minister Tina Joemat-Petersen dit gedoen het. Wat hulle dalk beter kon doen, moes in die wêreld se wandelgange en raadsale in die maande vooraf gedoen gewees het.

Ek was daar, en het die rare geleentheid gehad om in die afwesigheid van die Pan African Farmers Forum – PAFFO (wat versuim het om te registreer), en die World Farmers Organisation -WFO (wat te laat gestig is, en nie kon registreer nie) ‘n paar idees vanuit ‘n landbouhoek van agter die VN-kateder te verwoord. Ons boere het twee doelstellings gehad; om seker te maak dat landbou, soos bosbou, spesiaal vermeld word by enige nuwe ooreenkoms tussen wêreldleiers oor hoe klimaatsverandering bestuur moet word, en dat die wêreld se boere tot op grondvlak by projekte betrek word en voordeel geniet.

Ek het die verrigtinge onder die vaandel van die Suider-Afrikaanse Konfederasie van Landbou-unies (SACAU) bygewoon, en is vroeg reeds opgesoek deur die verteenwoordigers van die Europese Unie, die Vereniging van Eilandbewoners, die Vereniging van Inheemse Mense, en ‘n swetterjoel organisasies wat hulle vir organiese verbouing van vesel en voedsel beywer, waaronder godsdienstige, akademiese en gesondheidsgroepe.

Gegewe dat landbou, vanweë verbouingspraktyke, kunsmisverbruik, chemikalieë verbruik en vele ander redes, van die meeste kweekhuisgasse vrylaat, is klimaatsvriendelike boerdery prominent op die radar. Op verskeie voorafgaande simposia en konferensies het die wêreld se boere en landbouwetenskaplikes eintlik al vir mekaar gesê dat geen ander sektor so vinnig en so doeltreffend, so koste-effektief aanpassings kan maak om enersyds die vrystelling van kweekhuisgasse te verminder, en andersyds om hernubare alternatiewe vir antieke energiebronne soos olie en steenkool te produseer nie. Geen ander sektor is ook so kwesbaar vir klimaatsverandering as juis landbou nie.

Wat enigeen sou laat wonder waarom landbou tot dusver nie spesiale vermelding in internasionale ooreenkomste oor die bestuur van klimaatsverandering geniet nie!

In SACAU het ons tussen die landbou-organisasies van die 17 lidlande eenstemmigheid daaroor gekry, en toe behoorlik huiswerk gedoen en “gelobbie” met ons regerings en hul verteenwoordigers by COP 17. Dit was dus geen verrassing toe President Zuma, Min. Joemat-Petersen en Adj-min. Pieter Mulder almal en by verskeie geleenthede in Durban die landbou-agenda sterk gedryf het nie. Dit maak vir almal sin, ook vir die Chinese en Kanadese (wat maklik die COP 17-trein kon laat ontspoor), asook vir die Amerikaners, die eilandbewoners en inheemse mense, en vir die Europese Unie, wat op ‘n daaglike basis met ons geskakel en ons oor vordering ingelig het. Ek het gewens dat ons dieselfde toegang, interaksie en vertrouensverhouding met die Suid-Afrikaanse afvaardiging kon gehad het, as wat ons met die Europeërs geniet het.

Een van ons grooste opponente was die pro-Kyoto Protokol- groepering van lande en nie-regeringsorganisasies. Omdat die Kyoto Protokol verstryk, en daar geen alternatief op die horison is nie, was daar ‘n sterk T-hemp-, plakker en pamflet-beweging wat hulle vir die hernuwing of verlenging van die Kyoto Protokol beywer het. Dit maak egter nie vir die insluiting van ‘n landboubelang voorsiening nie, en ons steun aan die beweging was gekoppel aan ‘n voorwaarde dat ‘n landbouklousule by die protokol gevoeg word.

Ons het goeie hoop gehad dat die insluiting van landbou een van die groot COP 17-suksesse kon word, veral gegewe die sterk steun wat ons van die SA-regering en ander swaargewigte gekry het. Die inisiatief het egter skipbreuk gelei omdat die Afrika-kontingent van die Bond van Armste Lande, en by name Gambië en Egipte, dit geveto het. Hulle is bereid om inisiatiewe te steun wat aanpassing by ‘n veranderende klimaat bevorder en befonds, maar om die dood nie wat klimaatsverandering teëwerk nie.

Hulle argument is dat die wêreld se ryk lande so ryk geword het omdat hulle vry was om goedkoop energie uit olie en steenkool vir die ontwikkeling van hulle ekonomieë te gebruik, en dat hulle as arm lande dieselfde voordeel wil geniet. As hulle nie daartoe toegelaat word nie, moet die ryk lande opdok en betaal om hulle op dieselfde ontwikkelingspeil te kry. Voordat hulle nie hul sin kry nie, steun hulle ook geen ander inisiatief nie. Ons het ure lank met hul onderhandelaars gespook, maar sonder sukses.

Ek het die gevoel gekry dat daar ook iets anders agter hulle hardnekkigheid sit; magsoorwegings. ‘n Land soos Gambië en die meeste ander armste Afrika-lande het landbougedrewe ekonomieë, en kleinboere vorm die grootste deel van hulle bevolkings. As politici sit hierdie afgevaardigdes en onderhandelaars op elkeen van die jaarlikse COP-vergaderings namens hierdie kleinboere (hulle kieserskorps), en kan nie bekostig dat daardie boere in eie reg, onder die vaandel van georganiseerde landbou met ‘n eie, onafhanklike stem ook daar sit nie.

Daar is egter waarskynlik nog ‘n rede vir die stramheid in Afrika om landbou by ‘n ooreenkoms in te sluit: geld! Vroeg in die debatte het ons al betoog dat die befondsing van aanpassings- en bekampingsprojekte nie deur staatstrukture of regerings gekanaliseer moet word nie, want dan sal daar baie min aan die onderkant van die tregter na die boere in die platteland uitdrup. Ons wil inklusiewe strukture hê, waar boereverteenwoordigers ook sitting en inspraak het, en waar almal kan sien waar en hoe die geld heen vloei. Die ontwikkelende lande, waar die geld vandaan moet kom, steun dit. Die armste Afrika-lande steun dit nie.

En dit is baie geld wat so moet vloei! Daar is bereken dat Afrika tans sowat $30 miljard per jaar aan klimaatsgebaseerde ontwikkelingshulp ontvang, en dat ‘n verdere $120 miljard/ jaar uit koolstofkrediete verdien moet word. Daardie krediete moet hoofsaaklik in die platteland, uit die oerwoude, grasvlaktes en aangeplante boorde en plantasies verdien word, en boere staan sentraal daarin. Vir veels te veel Afrika-politici is die uitdaging nou om die kontinent se boere te kry om saam te werk sonder dat die fondse wat hulle daardeur genereer, noodwendig tot by die boere vloei.

Dit is waar die debat in Durban vasgehaak het, en as daar iemand is wat dit kan los haak, is dit die Suid-Afrikaanse regering. Hulle het by COP 17 al die regte geluide gemaak – nou moet hulle die leierskap aan die dag lê.

Dit is darem nie heeltemal waar dat die wêreld niks uit Durban saamgeneem het nie.

Soos die Fifa-wêreldbeker in Suid-Afrika van die vuvuzela ‘n internasionale simbool gemaak het, het die wêreld in Durban pap en wors ontdek. Dit het maar ‘n skamele $3 gekos vir ‘n bord met ‘n homp pap en sous (en die anties wat dit gemaak het ken hulle resep!) en ‘n 20 cm-lange stuk boerewors. Ek het Japanese, Nepalese, Eskimo’s, Rooi Indiane, Amerikaners en Laplanders elkeen in ‘n eie unieke aksent hoor vra na pap en wors, sonder dat die “en” ooit ‘n “and” geword het! Geen ander gereg was eers kompetisie daarvoor nie!

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Theo de Jager

Meer oor die skrywer: Theo de Jager

Theo de Jager is Adjunkpresident van Agri-SA.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae