Die boodskap wat nie gekeer kan word

pieter mulder

Dr. Pieter Mulder

Hoekom is Kersfees ʼn openbare vakansiedag? Kersfees behoort afgeskaf te word.

’n SAKP-parlementslid, wat ’n uitgesproke ateïs en Kommunis is, het my in 1999 hieroor aangevat. In Kuba is Kersfees in 1969 afgeskaf as deel van die Kommunistiese standpunt teen godsdiens.

Baie ANC leiers het ’n groot bewondering vir Kuba. Meer as 450 Kubaanse dokters is deur die ANC na Suid-Afrika gebring. Ace Magashule het in 2015 die hoogste gebou in Bloemfontein, die CR Swart-gebou, na Fidel Castro vernoem. Twee jaar later het hy ’n R2,9 miljoen standbeeld van Fidel Castro by die gebou opgerig. Magashule het ook 37 Kubaanse ingenieurs na Suid-Afrika gebring om die Vrystaatse diensleweringsprobleme op te los. Dit terwyl talle Suid-Afrikaanse ingenieurs beskikbaar is. Dit het die Vrystaat R85 miljoen gekos. Ná vier jaar was slegs drie van die ingenieurs nog oor met geen voorbeelde van waar hierdie ingenieurs dienslewering verbeter het nie.

Die SAKP parlementslid se vraag aan my was waarom Kersfees gevier word vir ’n persoon wat eeue gelede gelewe het terwyl daar baie groter onlangse helde is?

Sy held was Che Guevara. Guevara was ’n mediese dokter, ’n skrywer van verskeie boeke, ’n minister, ’n diplomaat, hy het die wêreld deurreis, hy het die VN oor sosialisme toegespreek, hy was ’n militêre teoretikus en ʼn vername figuur in die Kubaanse rewolusie.

Argieffoto

“Guevara oefen vandag steeds groot invloed in die wêreld uit,” het die SAKP-lid gespog.

Met die hulp van Paul Johnson, Britse historikus se boeke, het ek probeer om in dieselfde trant vir hom van ’n ander “held” te vertel sonder om Christus se naam te noem. ’n Held wat presies die teenoorgestelde van Guevara was.

Hierdie held is 2 000 jaar gelede in ’n klein onbekende dorpie in ’n agterlike deel van die magtige Romeinse Ryk gebore. Hy het ’n prediker en ’n godsdienstige hervormer geword. Hy het net vir drie jaar kon preek voordat die Romeinse owerheid hom tereggestel het omdat hy lastig geword het. Anders as Guevara het hy nooit self ’n boek geskryf nie; hy het nie universiteit toe gegaan nie en het in sy hele lewe nie verder as 200 km van sy geboortedorp gereis nie. Deur ’n menslike bril bekyk is dit die storie van ’n menslike lewe wat klaaglik misluk het.

Natuurlik vra die SAKP-lid: “Teenoor Guevara, watter invloed het hierdie persoon in die wêreld uitgeoefen?”

’n Baie groot invloed. Sy naam is Jesus Christus wie se geboortedag ons met Kersfees gedenk al is hy nie in Desember gebore nie. Vandag gebruik die wêreld se ses duisend miljoen mense sy geboortejaar om elke dag se datum asook die kalender te bepaal. In meeste lande is daar jaarliks herdenkingsdae wat hierdie gekruisigde se “mislukte” lewe herdenk – van Paasfees tot Kersfees. Die Christelike kerke, wat na hom vernoem is, het gesamentlik ’n paar duisend miljoen lede reg oor die wêreld. Dit is vandag onmoontlik om enige plek in die wêreld te reis sonder dat jy ’n standbeeld of ’n kunswerk, ’n kerk of ’n kapel, ’n katedraal of ’n tempel sal kry wat nie hierdie Jesus se lewe in herinnering roep of gedenk nie. Toe speel ek my troefkaart: Selfs die kommunistiese Kubaanse regering moes onder druk van hul mense swig om na 30 jaar op 2 Desember 1998 Kersfees weer te erken en as Kubaanse openbare vakansiedag in te stel.

Dit is duidelik dat die Bybel-boodskap wat saam met Kersfees gaan, nie sommer deur gewone mense gekeer kan word nie. Geseënde Kersfees. Soli Deo Gloria.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr Pieter Mulder is ’n voormalige VF Plus-leier, voormalige parlementslid en professor.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.