Die Brexit-drama het geen einde nie

Boris Johnson. (Foto: Niall Carson/PA via AP)

Dit is steeds hoog drama soos min in die Britse politiek en spesifiek in die parlement.

Die nuwe leier van die Konserwatiewe Party en eerste minister, Boris Johnson, wil die knoop deurhak om die Brexit, wat al jare sloer, af te handel. Sy voorganger, Theresa May, het daarin misluk en het haar deur die Europese Unie (EU) se leiers laat uitoorlê.

Johnson is met ’n oorweldigende meerderheid deur sy party se parlementslede en die lede van die Konserwatiewe Party tot leier verkies omdat hy die mees uitgesproke is oor Brexit en geen verdere toegewings en vertragings wil sien nie. Hy wil ’n Brexit-ooreenkoms met die EU bereik wat vir Brittanje sy volle soewereiniteit terug gee en veral die omstrede “backstop” (wat bepaal dat daar geen grens tussen die Republiek van Ierland en die Britse Noord-Ierland is nie, wat beteken dat Brittanje deur die agterdeur deel van die EU bly) verwyder.

Die vorige ooreenkoms wat May onderhandel het, is herhaaldelik deur die parlementslede verwerp omdat dit eintlik net in naam ’n Brexit sou lewer.

Die kruks vir Johnson is daarby dat hy as drukmiddel vir ’n beter ooreenkoms ’n ongereelde Brexit het, wat outomaties op 31 Oktober sal inskop. Dit sal Brittanje benadeel, maar ook die res van die EU. May het juis dit uitgesluit en daarom kon die EU-leiers haar versoeke tot verdere onderhandelinge afwys. Dit is soos om na ’n pistoolduel toe te gaan en van die begin af te sê dat jou pistool nie gelaai is nie.

Daar is egter wydverspreide vrees onder die Britse publiek en ook die meeste parlementslede, selfs in die Konserwatiewe Party, dat ’n Brexit sonder ’n ooreenkoms tot chaos en tekorte sal lei. Dit is waarskynlik ’n oordrewe vrees, want Brittanje is nog steeds deel van die Wêreldhandelsorganisasie en die VSA en ander staan gereed om die land ekonomies by te staan met ’n vryhandelsooreenkoms. Die vrees vir die onbekende maak mense egter altyd benoud.

Die meeste lede van die parlement wil die opsie van die ongereelde Brexit uitsluit en is eerder bereid om nog verdere uitstel te vra. Johnson se argument daarteenoor is dat die Brexit nou al hoeveel kere uitgestel is en die EU geen toegewings sal maak sonder dat Brittanje ’n hefboom het nie.

Blykbaar het hy alreeds aanduidings van ’n beter ooreenkoms gekry en sal dit met die volgende EU-spitsberaad op 17 Oktober kan deurdruk.

Die eerste minister het hom egter misreken. Teen sy sin het die parlementsspreker, John Bercow, bepaal dat daar ’n debat oor die voorkoming van ’n “No deal Brexit” mag wees. Erger nog, lede uit Johnson se eie party het hom in die rug gesteek en saam met die opposisie gestem dat daar geen Brexit sonder ’n ooreenkoms mag wees nie, en dat die eerste minister weer vir uitstel moet vra, iets wat hy volstrek weier om te doen en as vernederend vir Brittanje en as doelloos beskryf.

Tydens dié debat het die regering sy reeds papierdun meerderheid van een setel verloor toe ’n lid na die opposisie oorgeloop het. Die opstandige lede, waaronder selfs veteraanpolitici, is summier uit die koukus en uit die party geskop.

Johnson is egter vasbeslote om nie te gaan lê nie. Trouens, hy geniet gevegte en die hewige debat en het nog ’n troefkaart, naamlik ’n vervroegde verkiesing, waarmee hy, as alles volgens plan verloop, sy party se meerderheid kan herstel en met ’n nuwe en meer lojale span die Brexit kan afhandel. Die parlement het egter teen vervroegde verkiesings gestem. Die opposisie Arbeidersparty wil eers ’n versekering hê dat daar geen Brexit sonder ooreenkoms sal wees nie. Dít wys die eerste minister in geen onduidelike woorde van die hand. In volgende week sal daar weer gestem word oor ’n nuwe verkiesing.

Oor wat vorentoe sal gebeur, kan daar net gegis word. Daar is net te veel veranderlikes en die situasie, met ’n regering sonder ’n meerderheid en ’n opposisie wat nie nuwe verkiesings wil hê nie, is net te deurmekaar. Almal skarrel nou rond. Die tyd is weens die verpligte parlementêre reses wat volgende week begin en tot middel Oktober duur, uiters kort om nog ’n beslissing na enige kant toe te bereik voor die Brexit sonder ooreenkoms onvermydelik op 31 Oktober sal kom.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

humor ·

Lyk my hier in die Britse regering gaan dit nou erger as in die destydse Transvaalse regering gedurende die 1860 tiger jare toe broeder teenoor broeder die wapen opgeneem het.

John ·

Miskien moet gekyk word na wie vir en wie teen Brexit is en die ware redes. Die EU se plan is om vrees te skep en op te bou om Brittanje te behou wat grootliks bygedra het tot die geldkas. Die EU met Duitsland as die bestuurder, ook van alle migrante wat hulle nie self wil hè nie, wil Brittanje ook aanwend vir uitplasing. Die backstop-storie gaan bloot oor oop grense om via die Ierse-konneksie Brittanje steeds te beheer. Miskien moes die Britte besef het dat die EU se woede juis gaan oor die verlies aan mag. En onthou word dat die EU ook verleè is oor ‘n afsetgebied vir produkte. Brittanje is dalk reeds oorvol van liberale migrante wat nie ‘n duit omgee vir die queen of haar groen weivelde nie en sodra verantwoordelikhede roep, die pad wil vat na ander drome… en grense is struikelblokke.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.