‘Die Bybel is uit die skool geneem’

bybel-01

Foto: Aaron Burden/Unsplash.com

Deur Morné Diedericks

President Paul Kruger sê die volgende in sy Gelofterede van 16 Desember 1881:

“U weet dit ook hoe ons verlede jaar op hierdie selfde plek in vrees en benoudheid byeen vergader was, nie wetende wat die toekoms sou inhou nie. Hoe is ons in so ʼn druk gebring? Dit was as gevolg van ons sonde en ek wil dit sê, al is ook geheel die beskaafde wêreld teen my, dit is omdat die Bybel uit die skool geneem is. Die Here het aan sy dienaar gesê: ‘Wei my lammers’, maar hier is gesê dat die staat dit moet doen.”

Tweehonderd Afrikaanse eerstejaarstudente is onlangs die volgende gevra:

  1. Is julle Rooms-Katoliek of Protestant?
  2. Hoeveel boeke is daar in die Bybel?
  3. Watter Bybelboeke vorm deel van die vier Evangelies in die Bybel?

Hulle het soos volg geantwoord:

  • 65% het gesê hulle is Rooms-Katoliek, hoewel 90% van hulle grootgeword het in die NG, Hervormde, Gereformeerde en APK-gemeentes.
  • 7% het geweet dat daar 66 boeke in die Bybel is.
  • 3% het geweet dat die Evangelies bestaan uit: Matteus, Markus, Lukas en Johannes.

Hierdie is nie ’n vreemde groep studente nie. Dit is ’n alledaagse groep Afrikaanse studente, dit is soos ons sal sê jou van der Merwe ’s, Fourie ’s, Venter ’s, ens. Hierop kan ons natuurlik vra of Bybelkennis werklik so belangrik is.

Vir die Afrikaner was Bybelkennis uit die verlede gewoonlik van groot belang. Die Afrikaner se wortels as Protestante het juis uit die begrip Sola Scriptura (Die Skrif/Bybel alleen) ontwikkel. Die Reformasie (Hervorming) van die 16de eeu in Europa is gekenmerk deur die terugkeer na die Woord van God. Toe dit blyk dat die Rooms-Katolieke Kerk die gesag van God se Woord verwerp het, het hervormers soos Luther en Calvyn weer die gesag van God se Woord oor alles, ook in die kerk, begin verkondig. Die terugkeer na die gesag van die Woord het die menslike gesag van die pous met al sy hiërargiese strukture in die Rooms-Katolieke Kerk verwerp. Hierdie reformasie is deur die hervormers direk na die gelowiges geneem. Toe Luther sy 95 stellings op 31 Oktober 1517 teen die kerkdeur van Wittenberg vasgespyker het, het die beginsels van die Reformasie vinnig deur die hele Europa versprei.

Die rede hoekom die woord so vinnig begin versprei het, was, onder meer, omdat die Woord vir die eerste keer deur die mense in hul eie taal gelees kon word, dus moedertaalonderrig. In die sestiende eeu het die kerk enige leke (onkundiges) verbied om die Bybel te lees. Die Bybel was net in Latyn beskikbaar en vertalings van die Bybel was verbied. Veral Luther en Calvyn se uitroep dat mense die Bybel in hul eie taal ontvang, het daartoe gelei dat leer lees ’n noodsaaklikheid geword het. Luther se ywer en dryf om die Woord van God in die hande van die Duitse volk te kry, was so groot dat hy die Bybel in rekordtyd in Duits vertaal het. Dit was ’n besondere gebeurtenis in die geskiedenis. Omdat die Woord van God nou by die mense was, kon mense self die Woord lees. Martin Luther se ywer dat elke Christen die Bybel moet kan lees, het groot entoesiasme by die hervormers ontlok. Skole het ontstaan, hervormingsouers het hul kinders skool toe gestuur, en so het die hervormingsgesinde op die voorgrond van onderrig gestaan.

Die hervormingsonderwysbeginsel is die beginsel dat alle aspekte van die lewe, ook opvoeding, in ooreenstemming met die Woord van God gedoen moet word.  Die hervormingsbeginsel (reformatoriese) het die grondslag gevorm vir alle onderwyspogings gedurende die eerste 150 jaar in Kaapland. Jan van Riebeeck en sy metgeselle het in 1652 in die Kaap gekom met as agtergrond die Nasionale Sinode van die Gereformeerde Kerke van Nederland wat in 1618-1619 Dordrecht gehou is. By die sinode is die belang van die skool as instrument vir die bevordering van die Hervorming raakgesien. By hierdie sinode is die hervormingsbeginsel vasgestel in drie belydenisskrifte, naamlik: Die Nederlandse Geloofsbelydenis, Die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls.

Die bekende vers in Hosea 4:6 “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis”, ken die meeste mense baie goed. Hierdie kennis, is kennis van God, dus Bybelkennis. As ons kyk na die resultate van die studente en hul basiese kennis van die Bybel, kan ons ook soos Paul Kruger, vra: “Hoe is ons in so ’n druk gebring? Dit was as gevolg van ons sonde… dit is omdat die Bybel uit die skool geneem is.”

Die ligpunte van Bybel-gefundeerde instellings moet natuurlik ook nie misgekyk word nie. Hierdie instellings sluit byvoorbeeld in die Instituut vir Christelike Onderwys (ICO), Die Beweging vir Christelik Volkseie Onderwys (BVCO), gemeentes wat erns maak met Bybelonderrig en ’n handjievol ander inisiatiewe, onder meer publieke skole wat moeite doen met Bybelonderrig. Die Afrikaner behoort weer vanuit sy historiese wortels skole te bedink waar die Woord aan ons kinders onderrig word. Tot tyd en wyl moet ouers besef dat talle kinders vandag op geen ander plek blootgestel gaan word aan kennis van God se Woord nie.

Daarom is hierdie taak van Bybelonderrig nou ’n buitemuurse aktiwiteit, wat die ouers se verantwoordelikheid geword het.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Die waarheid ·

Puik artikel dankie. Ouers hou op die mammon god najaag lees vir julle kinders die bybel elke dag. Dan sal hulle God ken en n verhouding met Hom wat die belangrikste ding in hulle lewens gaan wees.

Johan Grobler ·

Wel, vandag word die Bybel ook uit ons Kerke gehaal! Geen beter voorbeeld nodig nie as die NG Kerk se onlangse aanstelling van ‘n homoseksueel as predikant, lynreg in teen dit wat die Bybel leer.

jaco ·

ek onthou hoe het godsdiensonderrig in die ou SA se wit afrikaanse skole gelyk: dis gedomineer deur die teologie van die 3 Afrikaanse susterkerke. In die godsdiensklas moes ons hoor dat NET die doop van babas reg is. grootdoop/onderdompelingsdoop is afgemaak as ‘n dwaalleer.
Ons kon net die NG Kerk se Psalms en Gesange sing.
Die arme Doppers was moes maar saamsing aan die NG Kerk se gesange.
Die AGS-kinders moes sing van “loof die Heer met hart en mond en hande” op sulke trekkerige 16de eeuse wysies.
En die enkele Rooms-Katolieke het seker bitter min verstaan van wat aangebied word.
Die enkele Jehova-Getuies is openlik sleggemaak oor hulle geweier het om aan die godsdiensklasse deel te neem.
En asof al hierdie nonsens nie genoeg was nie, het ek ook in die godsdiensklas in die skool geleer dat apartheid die wil van God was…

Buite Stander ·

Jaco, in my skool was daar ook Grieke en Jode. Maar ons godsdiensperiode het bestaan uit bossies uittrek sodat die veld mooi moes lyk vir die volgende wedstryd. Persoonlik glo ek godsdiensonderig hoort by die huis waar die ouers en hul kerke onderig moet gee. Een van my skoolpelle het later onderwyser geword. Hy was agnosties maar is aangesê om godsdiensonderig aan te bied want senior onderwysers wou nie meer nie. Hy is ekstra betaling aangebied en toe kon hy ‘n kar bekostig.

OWO ·

Goeie skrywe.So paar jaar gelede vra een van ons Gemeente predikante vir die finale jaar belydenis klas, ‘n eenvoudige bybelvraag nl,op watter dag is die Heilige Gees uitgestort?Van die antwoorde was bv,maandag,saterdag,sondag, wat net weer ‘n bewys is,dat ons kinders nie meer die Bybel ken nie.Dit gebeur as jy werkende strukture afskaf en nie erns met dit maak nie.

karen ·

kyk op ‘n Sondagoggend – die malls loop oor en die kerke is byna leeg. Ouers vat nie meer hul kinders Sondagskool / Kinderbediening toe nie. Vat jou kind en woon ‘n Sondag oggend erediens by. Meeste dorpe het verskeidenheid gemeentes met verskillende gebruike. Bly ‘n besoeker as jy wil. My ma het in ons klein tyd gesê 1 uur per week….. dit is ‘n goeie begin

Aster ·

Karen ek stem 100% saam met jou. Ek noem dit die Christen “Lite” te wees. Mense bid, ja, lees miskien Bybel so nou en dag, maar mense dis lekker om ‘n Saterdag aand uit te gaan of te braai en tot laat te kuier, maar Sondag oggende is mense of te babbelas, of plainweg net te lui of sal eerder opstaan en mall toe gaan as om ‘n uur op te offer vir God en Gebod. Die Here doen so baie vir ons. My ouma hulle (die boere) het baie baie jare terug, km’s en km’s van hulle plase af ver gery om kerkdienste by te woon, klokslag elke Sondag, klein kindertjies was opgewonde om die kerkklok te hoor lui. My kinders is elke Sondag by die Kleuterbediening en OMW ek kan net sien hoe groei en werk die Heilige Gees in my kinders, dis ongelooflik mooi.

Jerry ·

Dit is doodeenvoudig skokkend en impliseer die doodskoot van die Afrikanerjeug se toekoms as n volk in SA! Aan die een kant maak Afrikanerorganisasies daarop aanspraak dat daar n toekoms in SA is vir die Afrikanerjeug as n volk, maar dan aan die anderkant is daar die feite wat daardie aanspraak weerspreek. Die Afrikaner het agv sy kennis van die Skrif en sy onwrikbare geloof tot n formidabele volk ontwikkel. Morne se skrywe bevestig iets wat ek vir baie lank al vermoed en dit is dat daardie eienskappe doodeenvoudig nie meer by vandag se jeug aanwesig is nie. Tereg, soos die skrywer dit uitlig, is die bybel uit die skool geneem en het ouers en Afrikanerorganisasies nou die taak vir daardie onderrig op hande. Sonder daardie eienskappe sal die Afrikanerjeug tot niks instaat wees in volksverband en sal hulle deur die see van verskillende ideologiee verswelg word! Die jeug is die toekoms van n volk en eweskielik lyk daardie toekoms erg bleek en die ouers en organisasies sal moet red wat nog te redde is!

Dries du Toit ·

Baie waar Jerrie. Red ons volk en los vir Trump uit

Gert ·

Hierdie is die direkte gevolg van ons sg. progressiewe grondwet wat glo almal hierdie wonderlike regte gee, maar soos ons sien met die DA se dilemma, perk dit eintlik etniese of godsdiensgroepe se regte in, byvoorbeeld waar christenskap in skole nou ongrondwetlik is. Ons sal nog almal die gevolge van hierdie besluite dra.

Regerig vs Ouers ·

Maar onsnis so gretig om die regering die skuld te gee…..
Wel OUERS, SKRIK WAKKER! Dis JOU kind JOU verantwoordelikheid. Die regering, die skool, die tv gaan nie jou kind enigiets leer van goedsdiens nie.

Vadertaal_Moederland ·

Stem! Ek glo godsdiensonderrig is baie belangrik vir kinders, en dat alle mense Christus nodig het. Maar dis nie realisties of wenslik dat godsdiensonderrig in staatskole moet gebeur nie. Veral die moderne staat wat mense van alle godsdienste moet bedien, sal mos nie suiwer Christelike beginsels of kennis oordra nie.

Christus en die kerkvaders het hulle nie beroep op die mag van die staat om die evangelie te versprei nie. Die kerk van die Nuwe Testament het self die harde werk gedoen, self gedebatteer, self die moeilike vrae beantwoord. Party gelowiges het met hul lewens betaal. En natuurlik het hulle hul kinders self, tuis onderrig in die evangelie. Hulle was vreedsaam gesind teenoor die (uiters vyandige) staat, maar het die staat nie vertrou met iets so belangrik soos die morele en godsdienstige onderwys van hulle kinders nie.

Ouer ·

Leer jou kind van God en laat hom vergeet van Kersvader, Spiderman, Batman, Harry Potter ens. Jou kind se ewige siel is op die spel. Dis egter duidelik dat die ouers hulle self eers moet bekeer en dat die Pa’s moet ophou om agter Buchan-rallies aan te ry en moet begin om Godsdiens in die aand by die huis te hou. Dis egter moeilik om met Phillips-eenoog te kompeteer vir tyd en aandag, so smyt die televisie uit.

Johan Neuteman ·

Stem saam dat daardie eenoog-masjien uit ons huise verwyder moet word. Dit sal behalwe die voordeel van meer stigtelike atmosfeer in die huis en meer aandag aan Bybel en tyd vir mekaar in gesprekke en saamwees, sommer ook die intelligensiepeil van die samelewing verbeter om weer self te leer dink en plek te maak in die kop en hart vir minder oppervlakkigheid.

Agie ·

Ek stem !!!!!
Jare reeds die antenna weg gevat.
Volgende die TV in die stoorkamer gedruk
Heerlik!!!!!!
Daardie monster het geen plek in ons kosbare tyd nie en huis nie
Beplan om hierdie gogga wat ek nou gebruik ook te vernietig. Selfoon het afgod geword?

Annamarie Olivier ·

Waarom nie die vraag: Ken julle vir Jesus?
Wat maak dit saak hoeveel boeke in die Bybel is en dat die evangelies Mattheus, Markus en Lukas is?
Dit maak saak of jy ‘n verhouding het met die Lewende God.

Leonard van der Dussen ·

Ons ken God deur Sy Woord, die Bybel. As ons God liefhet, sal ons Sy openbaring aan ons hoog ag sodat ons Hom volgens Sy geopenbaarde wil kan dien. Dit veroordeel nie diegene wat Sy Naam bely maar nie van beter weet nie, maar die hervorming het juis die Bybel self weer onder elkeen se aandag gebring. Wie Christus bely en God liefhet, sal nie net emosioneel aanbid nie, maar ook moeite doen met die bron van wysheid en openbaring. Dis ‘n onverskillige en vlak geloof om te maak of intieme kennis van die Bybel nie saakmaak nie.

Jaco ·

Dankie Leonard. Eks nou wel ‘n Dopper, maar AMEN op jou kommentaar.

Johan Neuteman ·

Stem saam Bybel behoort in die skool te wees – en met eerbied geleer word. Maar eintlik moet die klem val op “ook”: die Bybel moet ook in die skool wees, net soos dit ten eerste ook in die huis moet wees, in elke gelowige dit self ywerig moet lees en bestudeer, en God aanbid. Om nie eers nodig te hê om te moet sê dat daar minder oor moralistiese en oordenkingsvoorlesings moet wees, en meer Bybel en Bybeluitleg – by skoolopeninge en ander openbare byeenkomste, maar ook tot binne in die kerk is daar ruimte vir terugkeer na die Bybel self, en wegvlug van die moralisme en metodisme wat die Bybel tot ‘n soort jammerhartige handboek vir menseverhoudinge en verlossing van aardse teëspoed verlaag.

ZAR ·

Dis ‘n diep gesprek, maar ek kan ook sê dat ons bitter min tot geen sê het van wat in die skool gedoen word nie.
Was ek my hande in onskuld? Moontlik, dis makliker om ander te blameer as om self ondersoek te doen.
Wat sou ek verander as ek terug kon gaan in tyd?
Moontlik ‘n groter kabaal opgeskop het met die besluite, maar niemand kan die Woord uit my huis uitvat nie.

Jeremia ·

Niemand kan eintlik kla of beswaar maak oor die verval van ‘n volk indien nagelaat word om God en die Bybelse riglyne te volg nie.
En ja, opregte en konsekwente Christelike onderwys is noodsaaklik.

Disselboom ·

Praat ons nou hier van christelike onderwys soos in openbare skole onderhewig aan die grondwet en menseregte wat nie ‘n godsdiens uitsluitend mag verkondig nie, of van privaatskole waar daar konsekwent christelikheid tot uitsluiting van ander gelowe gehandhaaf kan word? Die term “Christelik-Afrikaanse” skole word nogal dikwels gesien, maar dit verwys blykbaar na openbare skole soos Waterkloof, Affies, DF Malan en so aan, wat onder die grondwet as hoogste wet staan.

Jeremia ·

Openbare skole en staatskole is nie ter sprake nie.
En daar is ook verskeie tipes privaatskole.
En die keuse is amper so wyd soos die hoeveelheid kerke in die land.
Indien ‘n Protestants-Afrikaanse skool bemark word dan moet daar uiteraard steeds nader ondersoek ingestel word na bepaalde aspekte.

Frans C ·

Laat my toe om ‘n knuppel in die hoenderhok te gooi.Ek sou in my jongman dae dit nie gewaag het om met my Pa ,laat staan die dominee ingesprek te tree oor die skepping.
Van jongsaf is dit in my ingehamer dat God die aarde en alles wat daarin is,in ses dae
geskep het,
Die aarde was 6000 jaar oud en Adam en Eva die eerste mense.Einde van storie.

Dit kon egter nie my tevrede stel nie,want deur die wetenskap het ‘n ander verhaal na vore gekom.Later sou ek leer dat hoewel die Skeppingsverhale in Genesis verskyn en dus aan Moses toegeskryf word dit egter die Joodse bannelinge was ,wat die eerste
Skeppingsverhaal tussen 586-539vC geskryf het as teenvoeter vir die Babiloniese
skeppingsverhale met baie skeppers wat soms in stryd met mekaar was.

Hulle het korrek gepostuleer dat daar net een Oorsaak was met Een gevolg.EEN Skepper, Een heelal.Hulle het dus klem gelê op die WIE en nie die hoe nie,Dit was van sekondêre belang.Die 2de skeppingsverhaal kom uit die tyd van die Konings,uit ‘n
landbougemeenskap.

As jy dus wil weet deur WIE die heelal totstand gekom het,lees jou Bybel en leer dat
alles deur Jesus Christus tot stand gekom het.As jy nuuskierig is en wil weet,hoe
bestudeer die wetenskap,want die Bybel is ‘n openbaring en geloofsboek en nie ‘n wetenskaplike handboek nie.Deur die Bybel te verband neem jy die WIE van die skepping weg en verban Christus uit die skool.

Dries du Toit ·

Jaaa toe die bybel uit die parlement geneem is en God drie enig plek maak vir net n god, het ons probleme begin. Nou word ons skole geteiken. Ons is in n oorlog met Satan gewikkel

John ·

Die opperste twak word nou aan skoolkinders opgedis as die waarheid wat hulle moet leer om in toetse weer te gee in geskiedenis of ander kamma-feite. Die leerders word dus gebreinspoel en gedwing om te lieg vir ‘n regmerk. En binnekort volg nog in die nuwe-nuwe geskiedenishandleidings. Die uitfasseer van die Bybel is juis om die leuen in sy Sy plek te stel. 2+2=22 want die een 2 se hele familie moet bykom en die ander 2 mag eintlik nie daar wees nie, so: 2+2=22-2

Johan ·

?
Ek dink daar is waarheid daar in, maar ek blameer die ouers meer. Dit is nie die skool en kerk se werk om ons kids te lei na n verhouding met God nie. Dit alleenlik is ons as ouers se werk, kinders is nie stupid nie, hulle kyk hoe passievol PA oor dalk rugby of girls met min klere is. Maar Bybel is dalk n Boek wat nie eers op bedkassie le nie, wat nog te se om gelees te word. Dit help nie eers men’s lees hom as jy nie doen wat dit se nie.
Ons moet ons kinders lei in verhouding met Jesus, veral as hulle in tiener jare in beweeg. Ja meer as ooit ooit ooit het hulle Jesus nodig.

Afrikaner ·

Kies vir jou kind op skool die ANC se ideologie of Die Bybel. Veronderstel jy MOET ‘n keuse maak, mag nie buite stemming bly nie en daar is net die twee om van te kies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.