Die DA-jeug se rassepolitiek

Die legendariese swart Amerikaanse ekonoom, Thomas Sowell, het eenkeer in ʼn debat ten velde getrek teen die persepsie dat swart mense gelykheid van uitkomste en dergelike beleide soos regstellende aksie en swart bemagtiging steun. Hy het veral die sogenaamde meningspeilings oor sulke kwessies gekap en gesê as ʼn swart persoon het hy nog nooit eers ʼn meningspeiler gesien nie. Sy skerpste kritiek was gerig op die sogenaamde liberale en linkses (ja, daar is ʼn verskil!) in die media, politiek en akademiese wêreld wat vir swart mense besluit wat die beste vir hulle is. Volgens hom steun swart mense nie gelyke uitkomste nie, die wit liberale skryf dit voor aan almal.

Die DA se studentevleuel se nuutste bemarkingsplakkaat het weereens beelde van die briljante Sowell se sieninge by heelwat mense, my inkluis, opgeroep. Die plakkaat wys ʼn kaal, jong, blanke man in ʼn erotiese posisie saam met ʼn kaal, jong, swart vrou. Die trefreël lees as volg: “In our future, you wouldn’t look twice”. Hoewel gemengde huwelike lank nie meer iets ongewoon is nie, lê daar positiewe en negatiewe punte in hierdie boodskap en plakkaat opgesluit en smeek om ontleding. Dit is boonop ʼn politieke plakkaat en moet binne die konteks van die Suid-Afrikaanse politieke landskap asook die demografie van die teikengroep ontleed word.

Eerstens moet die party 10 uit 10 kry vir waagmoed want dit verskuif werklikwaar nuwe grense. Ons is al lankal gewoond aan gemengde paartjies wat mekaar soen in advertensies en op mekaar verlief raak in sepies soos Generations en 7de Laan. Maar hierdie plakkaat, hoewel gemik op die betreklik liberale jeugsegment wat (nog) nie so sosiaal konserwatief soos hul ouers is nie, het in onverkende gebiedswaters begin vaar. Ek vermoed dit het nog steeds sommige 20-jariges geskok en sommiges gevlei maar in die algemeen het meeste studente, swart én wit, slegs daarvoor gelag. In ʼn pas uitgereikte boek deur die twee Stellenbosch-akademici, proff. Hennie Kotzé en Pierre du Toit, word daarop gewys dat sosiale konserwatisme een van die min waardes is wat alle Suid-Afrikaners deel. Gedagtig hieraan moet ek die DA geluk wens om nuwe kiesers met so ʼn wulpse plakkaat te probeer werf. Slegs die tyd sal leer of studente en ander Suid-Afrikaners vatbaar was vir so ʼn boodskap.

Tweedens verdien dit ook punte omdat dit strook met die party se beeld waarvolgens integrasie, nie-rassigheid, ʼn oop geleentheid-samelewing en sosiale liberalisme die septer swaai. Die aanstelling van die jong me. Lindiwe Mazibuko as die party se leier in die parlement is tekenend van die vernuwing, verjonging en daarmee saam die diversifisering van die DA. Die party het klaarblyklik sy demografiese somme gedoen en besef die middeljarige bleek man, Athol Trollip, moet vervang word vir dit om polities opgang te maak in verkiesings. Mazibuko het volgens betroubare bronne haar posisie grotendeels te danke aan ingryping en dwang deur me. Helen Zille. Dus het Trollip ʼn soort regstellende aksie beleef terwyl hy hom baie bekwaam van sy taak gekwyt het.

Derdens het hulle die Grondwet in die letter en gees gestand gedoen. Hoofstuk 1 van die opperste wet van die land lui as volg:

“Die Republiek van Suid-Afrika is een, soewereine, demokratiese staat gegrond op die volgende waardes:
a)      Menswaardigheid, die bereiking van gelykheid en die uitbou van menseregte en vryhede.
b)      Nie-rassigheid en nie-seksisme.”

Die Handves van Regte waarborg daarbenewens onder meer die vryheid van uitdrukking, mening, en gelykheid. Die party het hiermee die Grondwet volkome gestand gedoen en in die lig van Julius Malema se hatige retoriek en openlike rassisme – wat subtiel deur die ANC goedgekeur word – moet dit verwelkom word. Die party systap ook netjies die strik van dwang en voer aan dat integrasie dermate sal geskied onder die DA se bewind, dat veelrassige paartjies algemeen sal raak en dit nie in mense se kele afgedwing sal word nie. Die plakkaat het boonop die DA weer in die media-kollig geplaas en dit het altyd waarde, of dit goeie óf slegte publisiteit kry. Almal praat daaroor en dit is die hoofdoelwit.

Maar terwyl die plakkaat dalk ʼn indruk op sekere mense gemaak het, ly dit twyfel of dit die regte boodskappe uitstuur. Met hierdie advertensie reduseer die DA, nes die ANC, ons politiek tot die element van ras. Dus vertel dit vir jongmense dat integrasie – en in hierdie geval erotiese integrasie – belangriker as beleid is. Volgens hierdie logika is veelrassige kopulasie mos belangriker as om te wys hoe werk geskep word vir die duisende jong mense wat elke jaar nie werk ná skool of afstudering kry nie. Seks is eweneens belangriker as om jou studies klaar te maak en nie vir ses jaar op universiteit te sit vir een graad nie. En in ʼn land met ʼn MIV/Vigs-koers wat van die hoogste ter wêreld is en waar duisende jongmense met hierdie virus besmet word en uiteindelik doodgaan daarvan, het die DA dit goed gedink om seks en ras bo goeie beleid te verhef.

Die party het derhalwe Sowell se kritiek laat lewe kry deur iets te skep wat hulle dink deur die land se mense aanvaar behoort te word. Hulle skep dus die “regte” werklikheid, bepaal wat “moreel” reg is en dwing dit op Suid-Afrika af, want dit is mos “hulle” toekoms. Nes die ANC skep hulle dus ʼn “meesternarratief” van wat die beste is en word die res van Suid-Afrika dus as’t ware na die volgende fase van ontwikkeling gelei. Ons is dus nog nie volmaak nie, maar moet eers na hierdie utopie of finale stadium gelei word, aldus die party. Hoewel die boodskap grondwetlik onberispelik is, is dit polities onvernuftig. Die klassieke fout wat die liberale nog altyd gemaak het is om te aanvaar almal is dieselfde en dink eenders. Dit is wel so dat as jy elke persoon oopsny kom daar rooi bloed uit, ongeag die persoon se velkleur. Maar in die praktiese politiek word voorkeure bo grondwetlike ideale verhef. Sommige mense sien die plakkaat as sagte pornografie en dink dis nog ʼn kreeftegang in die morele karakter van die land. Ander mense van verskillende ouderdomme en rasse is bloot gekant teen veelrassige verhoudings. Swart mans en wit vroue voel uitgesluit deur die plakkaat omdat hulle nie daarin verteenwoordig word nie. Swart vroue voel hulle word as objekte eerder as mense gesien. Uiteindelik is almal ontnugter en skepties. Presies dit wat die DA wou vermy.

Dit is bloot dwaas-idealisties om te dink almal dink dieselfde in ʼn uiters diverse land soos Suid-Afrika. Die DA kan gerus gaan kyk wat het van die “nasiebou”-projekte van menigte Afrikaleiers ná onafhanklikheidswording geword: Hulle is almal in die asblik. Die ANC probeer enersyds sy meesternarratief van nasiebou in die vorm van swart vergelding, regstellende aksie en gelykheid van uitkomste afdwing. “Ons sal versoen wees sodra die swartes die blankes se peil bereik,” lui hul mantra. Dus, regstelling voor versoening. Ongelukkig kan jy nie een groep benadeel en aftrek ten gunste van ʼn ander groep om versoening te bereik nie, want dit gaan net nuwe ongelykhede en griewe skep. So daar het die ANC se plan reeds misluk met sy foutiewe platform. Andersyds wil die DA bloot ʼn “sagter” weergawe hiervan gebruik om sy doelwitte te bereik. Effens minder regstellende aksie, minder swart vergelding en regstellende aksie lite terwyl wit mans met swart vroue trou. Dus, versoening (met die klem op soen in plakkate) voor regstelling. Werklikhede in ons land soos groepsgriewe, ongelykhede en kultuurverskille maak volgens die DA nie saak nie, want ons is almal mos net indiwidue sonder ons eie identiteite en net dele van ʼn nihilistiese geheel.

Met beide groot partye in Suid-Afrika wat nie die realiteite en nuanses van die bevolking verstaan nie en weier om te besef verandering kom van die mense af en nie deur ʼn meesterplan nie, het ons geen ander lewensvatbare politieke opsies nie? Ek wag nog vir ʼn plakkaat van mense van verskillende rasse wat mekaar help oor statusgrense heen en waar ras nie die enigste faktor is nie.

Lees nou Herman Toerien se nuuskommentaar oor dié plakkaat.
Talle plakkate wat die spot dryf met dié omstrede plakkaat het intussen ook op sosiale netwerke die lig gesien. Klik hier om daarna te kyk.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Eugene Brink

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Paul ·

Ek is die meeste verbaas oor die vlak van politieke naïwiteit wat hierdie plakkaat oënskynlik openbaar. Selfs al verteenwoordig dit wel liberale waardes van die DA, moet hulle tog darem besef dat die potensiaal om nuwe kiesers daarmee te werf, veel kleiner is as die potensiaal om talle van hul huidige kiesers af te skrik.

Mense wat op sosiale gebied liberaal is, ondersteun almal waarskynlik reeds die DA en sal die plakkaat goedkeur, maar aangesien hulle reeds DA stem, wen die DA niks daardeur nie. Diegene wat sosiaal konserwatief is (die meerderheid van Suid-Afrika, aan alle kante van die politieke spektrum) sal egter verder van die DA wegkeer a.g.v. die plakkaat, of dit nou oor die rasse-element daarvan of die geïmpliseerde seksuele element daarvan is. Sodoende kan sosiaal-konserwatiewe kiesers wat tot dusver wel vir die DA stem, hul steun verskuif na van die kleiner opposisiepartye.

Dis egter ook vir my tog ietwat grappig as mense nou skielik sê “Ek stem nooit weer DA nie!!!” Was hulle dan al die tyd onbewus van hoe liberaal die DA op sosiale vlak is?

Paul ·

Dit is tog so dat geen politieke party ooit alles presies sal doen soos elke kieser dit wil hê nie, behalwe as jy dalk jou eie party stig. Die mense kon tot dusver saamleef met dinge van die DA waarmee hulle nie noodwendig saamstem nie, maar nou skielik nie meer nie, net omdat daar ‘n prentjie is? Komaan…

Louis du Plessis ·

PROBLEEMSTELLING: HOEKOM KOOP EK ‘N COROLLA?

1 Veronderstel ek is nie ‘n afgeleefde en opgerookte, geplooide en bewerige fossiel wat met als wat die jeug doen fout soek nie. Veronderstel verder ek is ‘n sagtebaardlid van ‘n jeugbeweging van ‘n politieke party wat in die landwye plaaslike verkiesing in Mei 2011 meer as 24% van die totale stemme gekry het. Dié party het die afgelope jare skouspelagtig gegroei en het reeds in een provinsie, naamlik die Wes-Kaap, aan die bewind gekom, en bestuur meeste stadsrade en dorpsrade in dié provinsie. Water word voorsien. Die strate is skoon. Die verkeersligte werk. Anders as in die res van die land waar, onder dwang van die rasgedrewe ANC, talle strate en hele dorpe van die toneel verdwyn het, is die Paarl, Stellenbosch en Vredenburg veilig en word name van Afrikaners soos Chris Barnard aan hoofweë in Kaapstad toegeken.

2 Veronderstel verder ek wil hê my party moet nog vinniger uitbrei, veral in die noorde, omdat ek sien hoe die steun vir my jeugbeweging Daso (die Demokratiese Alliansie-studenteorganisasie) soos ‘n veldbrand versprei en hoe hy kampusse oorneem, soos aan die Universiteit van Kaapstad.

3 As ‘n Afrikaanse student van onder dertig beleef ek egter ‘n dilemma: diegene wat soos ek praat – wit en bruin – asook ‘n toenemende aantal Indiërstudente, sluit met gemak by my jeugbeweging aan. Om meer steun te werf móét ek dus noodwendig deurbreek na die groot massa studente toe wat na hulleself verwys as “swart Afrikane”. Verskeie van hulle is reeds lede van Daso. Maar talle is nie. Vir ons is dit geensins genoeg nie. Inteendeel! Ons smag daarna om die korrupte ANC te vervang.

4 Intussen beywer Daso hom vir die behoeftes van studente: soos aan groter geldelike steun vir studie en aan die skrap van BTW op handboeke. Neem verder aan Daso dra kennis van wêreldbekende oorredingskundiges oor talle dekades, soos Jacques Ellul, Karlins en Abelson, Freedman en Freedman, Max Atkinson, Nirenberg en Jarol Manheim. ‘n Kernvraag flits: Nadat Daso die bogenoemde en ander studentebehoeftes op ‘n kampusvlugskrif laat druk het: Hoe gaan ons die boodskap verpak? Wat gaan ons op die vóórkant van die vlugskrif druk?

5 Skielike besef my komitee: verpak jou boodskap, net soos jy ‘n nuwe Corolla sal bemark, agter ‘n lokfoto wat op jou teikenmark gerig is, sodat ‘n onbelangstellende student die vlugskrif glad nie sal weggooi nie, maar sal bekyk, daaroor sal praat, en in sy tas sal druk om vanaand weer te lees en te oordink. Kies ‘n lokfoto en munt ‘n spreuk wat diegene wat in koalisies dien met die bevolkingsvyandige en selfverrykende ANC-regering, soos die SA Kommunistiese Party, die Vryheidsfront en Cosatu, tot irrasionele reaksies sal uitlok.

6 Voorts: Kies ‘n lokfoto en munt ‘n spreuk wat debat sal stimuleer by die groot meerderheid denkende studente, wat dwarsdeur die skyndiens van die ANC sien, en wat hulle sal vereenselwig met die doelwitte wat gedruk is agterop die vlugskrif.

7 Slotsom. Binnekort is dit weer kampusverkiesings en daarna ‘n landwye algemene verkiesing. Dink wat sal gebeur as elke vryheidsliewende student sy kruisie sal trek agter die enigste party wat die studentebehoeftes agterop die vlugskrif kan verwesenlik.

Abel Esterhuyse ·

Die DA jeug het minstens twee dinge reggekry. Eerstens het hulle die volk gekonfronteer met iets wat nog ongemaklik aan die meeste van ons Suid-Afrikaners se lywe sit. Soos altyd is ‘n mens maar ietwat geskok as jy so na jouself in die spieel kyk! Tweedens het dit die volk aan die praat. Hierdie is nie advertensie nie, dit is publisiteit. En alle politieke bewegings het publisiteit nodig! Moet erken dat ek voor die bekendmaking van die plakaat nie eens geweet het dat die DA ook ‘n “youth league” het nie!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.