Die dag toe AfriForum met die BMF vergader het

Ernst van Zyl.

Daar is veels te min eerlike en openhartige gesprekke tussen mense met teenstellende menings in hierdie land. Pleks van op ’n gerieflike afstand vir mekaar te blaf, moet gemeenskappe gereeld byeenkom om oor die beste pad vorentoe te gesels, want geen gemeenskap is ’n eiland nie. Ek en my AfriForum-kollegas was dus dankbaar vir die uitnodiging na die Black Management Forum (BMF) se paneelbespreking op 5 Mei 2021.

Die onderwerp van die bespreking was “Die Swart Ekonomiese Bemagtigingsbeleid slaag nie daarin om swart besigheid te bemagtig en Suid-Afrika te transformeer nie. Wat moet die volgende stap vorentoe wees?”

Kort ná die begin van die verrigtinge het dit vir my duidelik geword dat ek omring is deur ‘n gehoor wat oorweldigend daarvan oortuig is – ondanks die skouspelagtige mislukking van SEB om die gestelde doelwitte te bereik – dat die enigste oplossing vir die pad vorentoe is dat die regering rassekwotas nóg aggressiewer en baie strenger moet toepas. Die oorheersende gevoel was duidelik: “Jy sien, ware SEB is nog nooit ’n kans gegee nie.”

Die kwessie van werkloosheid in Suid-Afrika kan gesien word as ’n boom wat nie soveel vrugte dra as wat verwag is nie. Daar kan baie oorsake wees: swak grondgehalte, te min water of sonskyn, siekte, beperkte wortelruimte, ensovoorts. Om te probeer om swart werkloosheid en maatskaplike opheffing deur SEB-beleide reg te kry, is soos om hierdie boom vol vrugte te hang wat op die mark gekoop is en dan triomfantelik te verklaar dat jy die probleem opgelos het. Ek vermoed ’n gebrek aan water of sonlig lê aan die wortel van die metaforiese boom se probleem, maar op die BMF-paneelbespreking was ek omring deur mense wat debatteer oor die aantal en verskeidenheid van die vrugte wat gekoop of geskenk moet word om aan die boom te hang.

Die kern van die saak is dat SEB die agtergrond en regverdiging geword het vir ’n winsgewende politieke teater, waar die elite met ANC-bande die hoofrolle vertolk. Afgesien van my kollega Ernst Roets se inset, het feitlik al die “oplossings” wat bespreek is, gehandel oor die bevordering van verdere staatsingryping, wat net tot nóg meer bitter vrugte van staatsafhanklikheid sal lei.

Groter afhanklikheid van die staat om met SEB in te gryp sodat dit kan lyk of iemand suksesvol is, is ‘n resep vir ‘n minderwaardigheidskompleks. Dit skep ’n bose kringloop – hoe groter jou minderwaardigheidskompleks word, hoe meer sal jou afguns jou laat fokus op dwarsboming van diegene wat suksesvol is, pleks van jou eie vaardighede te verbeter of beter geleenthede vir opwaartse mobiliteit vir die armes te bied. ’n Kind wat vir altyd afhanklik bly van die trustfonds van sy ouers, sal heel waarskynlik voel hy is nie goed genoeg nie en sal nooit voel dat hy self iets bereik het of dat hy onafhanklik op sy eie twee voete kan staan nie. Dieselfde logika geld vir ’n oorbeskermende, paternalistiese staat en diegene wat vir ewig van die staat afhanklik bly.

Dwarsdeur die aand het die idee na vore gekom dat swart mense afgerem word deur selfvertwyfeling en die vraag of hulle suksesvol kan wees. Dit is inderdaad belangrik om daarteen weerstand te bied as jy deur selfvertwyfeling teruggehou word, en die bewese manier om van selfvertwyfeling ontslae te raak, was nog altyd selfdoen. My oupa het altyd gesê “Niks is so suksesvol soos sukses nie.”

Met elke steen wat jy lê om jou eie instellings, veiligheidsinfrastruktuur, dienste en gemeenskappe te bou, bou jy ook jou selfvertroue en dus ook jou selfrespek. Dit bied ontsaglike trots om onvermoeid te swoeg en te sweet om jou gemeenskap te verbeter en dan terug te staan en die soete vrugte van jou eie besielende prestasie te bewonder, wat niemand jou kan ontsê, ontneem of beroof nie. Die feit dat die Solidariteit Beweging Sol-Tech gebou het deur gemeenskapsfinansiering en sonder enige staatsfondse of staatsbystand, is ’n trotse monument vir hierdie positiewe ingesteldheid om dinge self te doen.

Toe Ernst Roets minder staatsregulering, en beslis nie méér nie, bepleit het, is daar vanuit die gehoor beweer dat AfriForum nie deur die staat gereguleer wil word nie bloot “om die status quo van selfverryking te handhaaf”.

Dit is so dat AfriForum en sy lede nie oorregulering deur die staat wil hê nie, maar kan jy enigiemand blameer wat sê ons moet nie nog meer mag, beheer en geld gee vir ’n regering wat eiehandig bykans alle staatsbeheerde ondernemings geruïneer het en wat skaamteloos fondse geplunder het wat vir die siektes en kwesbares bestem was tydens ’n pandemie?

Daar was ’n magiese oomblik tydens die vraag-en-antwoord-sessie toe Ernst Roets noem dat wit Suid-Afrikaners sedert 1994 oor die algemeen ryker geword het. Hierdie opmerking is met luide applous en toejuiging deur die gehoor begroet. Toe hy sy gedagterigting uitspel deur te sê dat dit gebeur het omdat wit mense deur SEB uit beskermde staatsposte gedwing is en hulle tot die mededingende, maar lonende privaat sektor moes wend, het die applous vinnig vervaag tot ’n geskokte stilte.

Daar is al baie geskryf oor die verwoestende ekonomiese gevolge van die SEB-beleid. Die immorele aard van hierdie handboekvoorbeeld van sistemiese rassisme kry egter baie minder aandag. Die SEB-beleid berus inherent op die gebrekkige aanname dat verarming ’n stryd is wat net tot swart Suid-Afrikaners beperk is en dat elke wit Suid-Afrikaner sonder uitsondering groot rykdom en bevoorregting geniet. Enige voorbeeld wat toon dat hierdie idees aaklige veralgemenings is, sal die SEB-beleid onthul as ’n rassistiese, immorele klug. Die regverdigings wat vir SEB gebruik word, impliseer dat al die rykdom van wit mense net deur onderdrukking of diefstal verkry is, en dat al die armoede van swart mense die produk van genoemde onderdrukking, diefstal en diskriminasie is.

Hierdie denke kan verklaar waarom verskeie lede van die gehoor in hul opmerkings geïmpliseer of openlik aangevoer het dat die enigste oplossing om die ongeregtighede van apartheidsbeleide reg te stel, is dat die ANC-regering soortgelyke diskriminerende, onderdrukkende beleide moet toepas – so asof onderdrukking en diskriminasie die enigste roetes na rykdom is.

Hierdie opmerkings neig na satire as ons daaraan dink dat die meeste mense wat apartheidagtige rasgebaseerde SEB-beleide wil voorskryf, heel waarskynlik met groot woede en verontwaardiging gereageer het toe die etikettering van apartheid as ‘n misdaad teen die mensdom ‘n tyd gelede die onderwerp van ‘n vurige nasionale debat was. Verontwaardiging oor diskriminerende apartheidsbeleide neem blykbaar een van twee hoofvorms aan: jy verwerp dit op grond van morele beginsels, of jy verwerp dit bloot omdat jy nie een van die toepassers daarvan is nie.

Deur sy rasgebaseerde beleide en kaderontplooiing het die ANC ná 27 jaar ’n samelewing geskep waar daar, wat rykdomskepping en geleenthede betref, nie ’n groter bevoorregting is as om in ’n ANC-kader se huishouding gebore te word nie.

Mens moet beklemtoon dat huidige verkeerde dinge, soos die immorele SEB-beleid, nooit die verkeerde dinge van die verlede kan regstel nie, om die eenvoudige rede dat die huidige die ongemaklike en konsekwente manier het om die verlede te word. Dit was vir my nogal ironies, terwyl ’n swart sakemagnaat op die verhoog gepraat het oor hoe alle wit Suid-Afrikaners in rassebevoorregting gebore word, dat ek vir ’n oomblik gewonder het watter een van die drie silwer lepels voor my ek eerste moet gebruik.

Gelukkig het die meeste wolke ’n silwer randjie, en in hierdie geval was dit Nano Mothibi, ’n sakevrou en skrywer, en Kabelo Kgobane, ’n lid van die BMF se Young Professionals, wat na vore gekom en erken het dat swart Suid-Afrikaners baie by die Afrikaners kan leer oor hoe om jouself van staatsafhanklikheid te speen deur jou eie gemeenskap te dien en op te hef. Hulle het gevolglik ’n afspraak met AfriForum gemaak om nouer samewerking te bespreek, waardeur kennis en ervaring oor hoe om gemeenskappe te bemagtig en te ontwikkel, gedeel kan word.

Ek het nogmaals onder die besef gekom van die waarde van openhartige gesprekvoering, want ek het daar uitgestap met nuwe insigte om oor na te dink. Baie van die wanopvattings en leuens van die moderne era het nie net my eie gemeenskap binnegedring nie, maar ander s’n ook.

Ons moet daarteen waak om sukses blindweg daaraan gelyk te stel om Bill Gates, ANC-kaders of Elon Musk te ewenaar betreffende die persoonlike rykdom wat hulle byeengebring het. Soos ons voorouers gemaak het, moet sukses gemeet word aan hoeveel jy gedoen het om jou gemeenskap te versterk en daartoe by te dra.

AfriForum beskou wedersydse respek, samewerking en goeie verhoudinge tussen selfversorgende, verantwoordelike gemeenskappe as die pad vorentoe na ’n volhoubare toekoms, wat ware potensiaal en vryheid van gemeenskappe en individue sal ontsluit, sonder dat enigiemand onbillik gekniehalter, bevoorreg of beheer word deur verdorwe regeringsbeleide.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst van Zyl

Ernst van Zyl is AfriForum se hoof van openbare betrekkinge en die regisseur van die dokumentêre film Selfbestuur. Hy het ʼn meestersgraad (cum laude) in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch behaal, is medeaanbieder van die Podlitiek-podsending, bied die Afrikaanse podsending In alle Ernst aan en het ʼn kanaal vir politieke kommentaar en onderhoude op YouTube. Ernst publiseer gewoonlik bydraes op X (voorheen bekend as Twitter) en YouTube onder sy skuilnaam Conscious Caracal.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Francois Le Cochon ·

Ja, die enigste mense wat werklik werk skep in enige land, is die rykes (nie rykes agv korrupsie en misdaad). Die regering moet sorg dat rykes in die land bly, deur weg te doen met diskriminerende en beswarende wetgewing.

Drikus ·

Dankie Afroforum se manne, julle is ysters. Ek hoop en bid dat ons met die ander volke in ons land in harmonie en vrede kan saam leef. Op die ou end het God nie witmense, of swartmense, of pienkes of pers mense gemaak nie, maar net mense.

Heinrich ·

WOW ouens, baie dankie vir dié. Ek weet nie waar julle die geduld kry om teen onnoselheid te probeer redeneer nie, veral teen die blindes wat weier om te sien. Ek kan nie anders as om te twyfel dat die SEB voorstaanders enigsins oop was vir kritiek nie maar slegs daar was om hulle punt verder te bevorder. Maar kudos vir ‘n waardige poging.

Chris ·

Ek stem saam die “gepratery” die afgelope 27 het nie juis iets bereik nie. Die grootste en gevaarlikste oorsaak van die situasie waarin ons onself bevind is, onkunde. Die massas is deur politici mislei en glo die witte is die gevaar in die land. Ek het nie simpatie met onkundige rasbehepte persone wat aan die Dunning-Kruger effek lei nie.

Chris ·

Dit is moeilk om ‘n argument met ‘n slim ou te wen. Dit is baie moeiliker om ‘n argument met ‘n dom persoon te wen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.