Die definisie van ʼn heldedaad

Eckhard Binding. (Foto: Facebook)

Deur Paul Maritz

Op Maandag 4 Maart 2019 het ʼn video op sosialemediaplatforms begin versprei wat die Suid-Afrikaanse publiek behoorlik aan die klets gehad het. Dié video, wat oorspronklik geplaas is deur Arno Roodt, hoof van die Universiteit van die Vrystaat Afrikaanse Debats-Aksie (Uvada), wys hoe twee betogers op die Bloemfontein-kampus van die Universiteit van die Vrystaat, rommel uit die asblik haal en dit dan op die grond neergooi.  ʼn Kovsie-student, wat later as Eckhard Binding geïdentifiseer is, tel dan verskeie kere die rommel op en sit dit terug in die asblik – en keer op keer word die rommel weer deur die betogers uit die asblik gehaal en gestrooi.

Deelnemers aan die sosialemediadebat het hoofsaaklik gereageer met lof en prys vir Eckhard, met baie mense wat sy korrekte optrede, ondanks moeilike omstandighede en uitdagings, gehuldig het.  Verskeie persone het ook onderneem om geld aan Eckhard beskikbaar te stel sodat hy sy studies kan betaal – wat sin maak, as sy waagmoed in die letterlike gesig van wanorde in ag geneem word.

Ongelukkig was daar, soos dit maar dikwels in politiek gaan, verskeie partye wat Eckhard se optrede verag het, en as onvanpas wou afmaak.

Charles Cilliers, digitale redakteur van die koerant The Citizen, voer in ʼn meningstuk aan dat Eckhard die betogers se uitdrukking van ontevredenheid voor hul oë verwyder het. Selfs meer radikaal was die uitlatings deur Siphokazi Tyida, EFF studentebevelvoorsitter aan die Universiteit van die Vrystaat, wat in ʼn mediaverklaring aanvoer dat die rede vir Eckhard se optrede sy behoefte was om die stemme van arm swart ouers stil te maak.  Diegene wat Eckhard se optrede aankla, hou vas aan die idee dat wanorde, in hierdie geval in die vorm van rommelstrooiing, ʼn geldige en legitieme en, bowenal, aanvaarbare manier is om jou misnoeë met ʼn situasie uit te druk.

Laat ons hierdie aanklaers van Eckhard Binding se optrede vir ʼn oomblik ondersoek: Oor die afgelope vyf jaar is miljarde rand se skade aan universiteitskampusse aangebring, in die naam van protes. Geboue aan die NWU se Mafikeng-kampus en die Universiteit van Johannesburg, sowel as die ingangshekke van verskeie universiteite, is aan die brand gesteek. Al die geld wat spandeer moes word om hierdie geboue te herstel, kon nie in die verbetering van ons universiteite, of die verhoging van die gehalte onderrig ingestoot word nie.

Behoort ons werklik simpatie vir hierdie tipe vernietiging te toon, dit te aanvaar omdat dit ʼn uitdrukking van protes is? Om ʼn asblik om te gooi is dikwels die eerste stap in die stelselmatige skepping van wanorde wat dikwels as protes voorgehou word. Sou hierdie omgegooide asblikke nie die gewenste resultaat hê nie, neem die wanorde stelselmatig toe, vensters word gebreek, bande word gebrand, en voor jy jou kom kry is daar chaos, en miljoene rand se skade.

Hoe behoort ons te dink oor Eckhard Binding se optrede?  Dit is eintlik heel eenvoudig. In ʼn situasie van wanorde het hy, ten koste van homself, opgestaan en gedoen wat reg is. Woordeliks is dit ʼn definisie van ʼn heldedaad – laat geen opportunis ons anders oortuig nie!

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Gertryda ·

Daar sal altyd diegene wees wat galbraak. Ek het absoluut geen simpatie met betogers of wie hul ookal is nie.
Die wêreld draai nie om hul nie.
God beskerm ons land is al wat ek vra

Andreas ·

Ek haal my hoed vir die jong van af dat hy die durf gehad het om in daardie omstandighede waar van die EFF betogers hul ding gedoen het, die vullis wat hulle uit die houer gegooi het op te tel, maar NEE dit was verseker nie ‘n heldedaad nie, ook nie een wat mense met ‘n standbeeld sal vereer nie.

John ·

Die daaglikse kamma geskreeu oor swak dienslewering is in ‘n oogwenk ontbloot as bloot onbeheerste wangedrag. Dis duidelik dat Afrika in wanorde gedy.

Schalla ·

Die Engelse het ‘n sê-ding: “Polish a turd it’s still a turd”. Die protesteerders probeer altyd hulle lede se onbeskaaflike gedrag regverdig oor hulle griewe. Ek is jammer maar as jy soos ‘n belhamel optree maak nie saak watse (miskien selfs geldige) griewe jy het nie dan is jy ‘n belhamel.

Eckhard het standpunt ingeneem – mooi so jong man!

Ek het so diep binne myself lekker gekry… Toe die hele video uitkom die dag was daar op Twitter iemand wat opgemerk het die optrede is nie reg nie en “dehumanizing” teenoor Eckhard. Die ironie is egter, dit was eintlik “dehumanizing” teenoor hulleself! En wat dit vir my perfek geillustreer het was toe my 4-jarige, onskuldige dogtertjie die video sien terwyl ek daarna kyk en my vra hoekom hulle dit doen? Wat sê jy vir so ‘n onskuldige kind? Nou neem kennis ek het haar al geleer mens gooi nie papiere rond nie jy gooi dit in die asblik want ons is nie varke nie, net varke mors waar hulle eet. Sy het toe na my gekyk en haar oë gerek en gesê: “Sies Pappa – hulle is varke!”

Uit die mond van die suigeling… Hulle wou sy naam gat maak maar in die proses het hulle hulle eie werklike kleure gewys wat nie verlore gaan vir die oë van regdenkende,ordentlike en onskuldige mense nie.

Brand af ·

O OKAY! Nou verstaan ek beter…. Daarom as daar busse en geboue afgebrand word is dit ook net n teken van misnoeë, en doen hulle niks verkeerd nie. Sou iemand intree en dit keer, is dit disrespekvol.
Interessant, so leer mens elke dag nuwe dinge.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.