Die demokrasie van lawaai – ’n persoonlike mening

lawaai-geraas-televisie-skerm

Foto: Tookapic/Pexels.com

Die meeste van ons wat lank terug op die skoolbanke gesit het, het sulke kinders geken. Miskien is daar vandag nog sulke kinders. Ek weet nie, ek was lanklaas in ’n klassituasie.

Dis die kinders wat altyd aandag in die klas gesoek het. Eerste en altyd hand opgesteek het – oor alles iets te sê gehad het. Hulle was ook soggens vroeg daar om juffrou se swaar tas te dra. Eers later het ek ’n goeie beskrywing vir diesulkes gehoor, maar ek sal dit liefs nie hier in goeie geselskap herhaal nie.

Dié kinders het gewoonlik baie aandag getrek – hulle is gesien en gehoor. Van hulle het selfs op die leerlingraad beland. In ’n sin is hulle as die leiers en die meningvormers beskou.

Hulle het ook ’n goeie adviespaneel en rugsteunstelsel gehad. Pa wat maar toevallig op ’n Maandag of Dinsdag vroeg by die werk loop en opdaag by boetie se rugbyoefening. ’n Geselsie (lees: stemmingmakery) so nou en dan met die onderwyserafrigter om te help dat boetie ernstig opgeneem word in die klas en op die rugbyveld.

Baie kinders het hulle soos skape gevolg en selfs van die onderwysers het ook gedink hulle is “leiers”. Hulle het immers ’n opinie gehad. Bygesê die opinie moes destyds binne die raamwerk van ’n streng voorskriftelike samelewing wees. Enige denke daarbuite is nie geduld nie.

Later in my lewe het ek geleer dat die destydse “leerlinge” nog steeds met ons is.

Laat in die 1960’s en vroeg in die 1970’s was daar nie televisie, selfone, die internet en sosiale media in Suid-Afrika nie. Daar is destyds egter op ander wyses lawaai gemaak (lees: aandag getrek) deur byvoorbeeld koerante en in ’n mindere mate die radio. Die radioprogramme was baie konserwatief en dit was in die dae voor inbelprogramme. Maar dié wat die meeste lawaai gemaak het, is wel gehoor.

Tye het verander en vir die lawaaimakers was die nuwe tye nie noodwendig slegte nuus nie. Trouens hulle het nou nog meer “voertuie” en “wapens” in hul arsenaal gekry. Televisie en selfone het algemeen geword. En, moet ek byvoeg, die algemene wêreld-milieu het hul speelveld nog makliker gemaak (lees: algemene etiese standaarde en gedragswaardes het verval).

In die verlede kon iemand wat sy/haar saak hard en oortuigend stel, sommer gou vir hom/haar ’n juigkommando op ’n vergadering mobiliseer. Deesdae kan jy selfs geweld inspan en vernietig. Sorg net dat almal daarvan weet. En raar, maar waar: Jy kan nog (soms) daarmee wegkom ook.

Een van die handigste “wapens” in vandag se wêreld is selfone. Die meeste mense besit selfone en dit stel hulle in staat om “ooggetuie-joernaliste” te wees. Jy kan jou selfoon oral saam met jou dra en volg wat aan die gang is.

Die lawaaimakers van vandag gebruik dié nuwe “voertuie” soos byvoorbeeld sosiale media, baie effektief.  Jy hoef nie eers behoorlik te kan tik nie – jy moet net oor vinnige vingers beskik.

Mini-referendums word ook sommer gou op sosiale media georganiseer oor bykans enigiets. Daar word “gestem” en voor die son sak vanaand, word die uitslag wyd en syd aangekondig en verkondig. Behalwe natuurlik as die uitslag nie die agenda pas nie.

En dikwels word ons hierby ingesleep op platforms soos Facebook om te “stem”. Net ’n vinnige versoek vir ’n like, dis al. Mense word ook genooi kommentaar te lewer.

Alles goed en wel, maar interessant is die onverdraagsaamheid wat hand-aan-hand daarmee saamloop. Durf jy van hulle verskil, is daar ’n spul etikette wat vinnig om jou nek gehang kan word soos, byvoorbeeld, links, regs, liberalis, verkramp, rassis, verloopte, aktivis, uitverkoopte, en so meer. Die boodskap is duidelik: As jy nie vir ons is nie, is jy teen ons. Die vyand.

Daar is ook die probleem van fake news. Dit wat die wêreld ingestuur word, is nie altyd feitelik korrek nie. Soms berus dit op gerugte en hoorsê. Feit is: Dit word gelees en gehoor.

Dít is wat ek noem die demokrasie van lawaai. Dié wat die hardste lawaai, word die meeste gehoor. Dit word die mening en selfs as die waarheid aanvaar.

Moet my nie verkeerd verstaan nie. Natuurlik is dit goed as mense hul menings lug – dit bevorder debat en ’n deursigtige samelewing. Dis selfs opwindend. En, moet ek erken, dis nie ’n eenvoudige aangeleentheid nie. Soms is van die lawaai juis reaksie. Mense redeneer dat hul stilswye vertolk kan word as aanvaarding.

My pleidooi: Tree verantwoordelik op. As ons aanhou lawaai, gaan ons mekaar glad nie meer hoor nie.

 Die skrywer erken dat met dié stuk ook moontlik bietjie lawaai gemaak word – dit lyk vir hom dis hoe mense deesdae luister.

  • Gunning is ’n vryskutjoernalis wat in George in die hartjie van die Tuinroete woon.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

John ·

…. ongelukkig klaar te laat… Ons is nou soos die eksperimentele rotte in ‘n klein hokkie vasgedruk en ons eet mekaar op. Van selfone gepraat… familie- en gesinslede straf mekaar hiermee meer as met ‘n outydse sweep. Drie-dae-wag-op-‘n-antwoord is die nuwe ‘nou’. Wees dankbaar as ek enigsins dit lees… die houding. Wie bel nog iemand op sy/haar verjaarsdag ~ dalk eers as die son sak? Die demokratiese lawaai was nog altyd daar, wat eintlik maar net op massa en mode dui. Kommunisme en Nazi-isme is goeie voorbeelde. Pyn en lyding… die laaaang y… is altyd nog mode en die oogmerk van die juffrou-se-tasdraers want so leer die arme siel hoe om ‘n groot kruiper en sadis te word sodra iemand sou se: Dankie, ek dra my eie tas… doen jy ook so.

Geraasvark @geraasbos.moc ·

Ontspan Eugene, ontspan daar in George. Die multi-media gaan maak dat mense nou beter produkkeuses kan uitoefen. entrepreneuskap en kompetisie toeneem, dat mense makliker by mekaar kan leer en hopelik beter ingeligte politieke besluite neem. Ongelukkig neem alles tyd. Maar ten minste leef ons nou in die eeu van tegnologiese vrylating van die bande van denkslawerny. Laat die mense raas en nogmaals raas: “Weg met die dinkpolisie, geheime polisie, sekerheidspolisie en dink-vir-my-politici!” Elke eerbare ware landsbuger kan nou dag en nag die oog en oor vir die veiligheid van SA wees.

Krag van sosiale media ·

Baie waar oor geraasmaak. Daarom moet ons leer om sosiale media ten volle te gebruik vir die bemarking van ons besighede, ons gemeenskapbouprojekte en globale bewusmaking oor ons lot in die land.

Jerry ·

Lyk my nie eers die kinders of die papegaaie lawaai in George nie, dus vind ek maar aanklank by geraasvark se lawaai.

Bob ·

Mense lawaai nog altyd. Skinderstories en opinies het al klomp mense in die tronk of brandstapel laat beland. Baie oorloë is al begin met “fake news”. Dis niks nuuts.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.