Die Demokrate val agter Joe Biden in…

Joe Biden. Foto: (AP Photo/Marcio Jose Sanchez)

Die Demokratiese Party in die VSA het ná die pas afgelope Dinsdag in groot hoeveelhede agter die stamelende Joe Biden ingeval in hul stryd om van Donald Trump as president ontslae te raak.

Biden, wat maar sleg in debatte en die eerste rondes van die Demokrate se voorverkiesings gevaar het, het skielik weer ontpop as die Demokrate se kandidaat. Dit nadat senator Bernie Sanders vroeër gelyk het of hy op pad is om Trump in November die stryd aan te sê.

Dis Biden teen Sanders

Biden het op “Super Tuesday” 10 van die 14 state waarin Demokrate hul kandidaat kon verkies, die botoon gevoer. Sanders het ’n minder goeie tweede plek behaal (met vier state) en ander kandidate wat tot onlangs nog in die wedloop was (soos Pete Buttigieg, Amy Klobuchar en Mike Bloomberg), het hulself vinnig van die wedloop onttrek en soos een man agter Biden ingeval. Elizabeth Warren het ook onttrek en moet besluit of sy Sanders of Biden gaan ondersteun. Die enigste ander oorblywende kandidaat is Tulsi Gabbard, wat tot dusver geringe steun gekry het.

Joe Biden, wat die visepresident was tydens die bewind van Barack Obama, het nie juis vanweë sy gewildheid en nugtere argumente die voorloper geword nie. Die Demokrate het eerder al hul eiers in die Biden-mandjie gesit om te keer dat die ultralinkse sosialis, Sanders, die Demokrate se kandidaat word. Sanders, wat jare terug in die Sowjetunie sy wittebrood gehou het en die kommunisme in Kuba en Venezuela se lof deurentyd besing, het groot planne om Amerika in een of ander tipe sosialistiese werkersparadys te omskep waar amper alles gratis deur die staat verskaf gaan word. Soos sy kamerade in Suid-Afrika reeds aangetoon het, sal dit die VSA wat met kapitalisme gedy het tot seker die suksesvolste samelewing in die geskiedenis  van die mensdom, ’n ernstige knou toedien.

Die Demokrate vrees Sanders selfs meer as vir Trump. Nie net sal Sanders se sosialistiese uitsprake baie kiesers vervreem om nie teen Trump te stem nie, maar ’n president Sanders sal veroorsaak dat baie Demokrate se burokratiese houvas oor bedrywe en ook hul tipe staatskaping in Washington in gevaar gestel word. Die ander hoop van die Demokrate, Mike Bloomberg, het skouspelagtig misluk in sy poging om die Withuis te beset. Na wat berig word het Bloomberg, een van die rykste mense in die wêreld, tot soveel as ’n halfmiljard dollar (R750 miljoen) spandeer op advertensies, maar só sleg in die Demokrate se debat vertoon, dat hy maar ook agter Biden ingeval het.

Onstabiel

Biden, op die rype ouderdom van 77, is dalk die Demokrate se grootste hoop, maar is geen wesentlike teenstander teen Donald Trump nie. Hy is vergeetagtig en maak eenvoudige blapse in toesprake (kan nie frases onthou nie, verwar dae van die week, kan nie onthou in watter staat hy is tydens toesprake nie, ensovoorts) en dit kom voor asof sy geestesgesondheid agteruitgaan en of hy selfs tekens van dimensie toon. Daarnaas het hy ook ’n paar vreemde gewoontes, soos om aan vrouens/kinders se hare te ruik en op ’n amper onwelvoeglike wyse aan hulle te vat, terwyl hy ook vinnig sy humeur verloor en aggressief en beledigend raak, selfs teenoor sy eie ondersteuners tydens byeenkomste.

Sanders het uiteraard nog ’n kans om te wen aangesien daar nog heelwat voorverkiesings is wat die Demokrate moet hou, maar dit is duidelik dat die Demokrate eerder Biden verkies. Biden sal heel moontlik ’n vrou soos Warren of Kamala Harris (’n swart vrou) as visepresidentskandidaat aanwys as hy die Demokrate se kandidaat word in Julie. Daar is selfs sprake dat hy Trump se aartsvyand, Hillary Clinton, kan kies as sy verkiesingsmaat.

Trump het al verskeie kere in sy twiets daarop gewys dat die Demokrate daarop uit is om Bernie Sanders weer te pypkan om die Demokrate se kandidaat te word. Dit het ook gebeur in 2016 nadat die Demokrate Clinton aangewys het deur ’n proses waar Sanders nie al die stemme gekry het tydens die Demokrate se finale benoemingskongres waarop hy geregtig was ná die voorverkiesings nie. Trump voel duidelik dat Sanders se radikalisme baie Demokrate sal verhoed om te gaan stem, wat natuurlik in Trump se guns sal tel. Trump sal sekerlik teen Biden minder Demokrate hê wat sal wegbly van die stembus, maar nietemin blyk dit dat Biden nie teen Trump opgewasse is in die debatte of toesprake nie. Biden se enigste hoop is basies dat mense eerder teen Trump sal stem as vir Biden.

Trump hou die troewe

Pres. Donald Trump. Foto: (AP Photo/Evan Vucci)

Trump is natuurlik ’n meester om lokvalle te stel vir politieke opponente en Biden behoort byvoorbeeld vinnig sy humeur te verloor as Trump hom uitlok. Daar is natuurlik ook die amper openlike misbruik van staatsmag deur Biden, deur sy seun se aanstelling in maatskappye in die Oekraïne en China, wat drup van korrupsie. Ironies is dit juis omdat Trump gevra het dat die Oekraïense president hierdie bewerings van korrupsie ondersoek, wat gemaak het dat die Demokrate toe netjies omgeswaai het om Trump in ’n staat van beskuldiging (impeachment) te plaas. Die staat van beskuldiging het egter misluk nadat die senaat Trump vrygespreek het.

Die komende verkiesingstryd kan dus, soos in 2016, fel wees en Trump se suksesse op die ekonomiese gebied ten spyt, is hy nie gewaarborg van ’n oorwinning in die verkiesing nie. Biden het egter nie die nodige skietgoed om Trump werklik aan te vat nie en hy sal ’n sterk vroulike verkiesingsmaat moet kry om homself ’n kans te gee. Trump behoort makliker teen Sanders te wen, as dié wel tog die paal haal as presidentskandidaat vir die Demokrate.

Nuwe koronavirus kan ’n rol speel

Trump het wel nog iets om oor bekommerd te wees: die nuwe koronavirus, Covid-19. Behalwe dat lande soos China, Suid-Korea, Iran en Italië reeds sukkel om die virus in toom te hou, begin die virus nou reeds slagoffers in die VSA eis. Sou fabrieke, werkplekke en skole ook begin toemaak soos dit reeds nou al vir ’n maand of wat in China gebeur, gaan dit ook die VSA se ekonomie knou. Dit kan Trump se positiewe ekonomiese syfers binne weke uitwis. Die sentrale bank in die VSA, die Fed, het reeds begin ingryp na erge dalings van aandelepryse as gevolg van vrese oor die virus.

Trump sal uiteraard deur die massamedia in die VSA as die sondebok in enige uitbreek van Covid-19 gebrandmerk word of as dit tot ekonomiese skade lei. Nie dat hy juis iets kan doen om dit te voorkom nie. Die koronavirus kan dus vir Biden ’n kans gun om verkies te word.

Nietemin lê ’n interessante verkiesingsjaar voor. Dit wil voorkom asof die Demokrate agter Biden staan en dat hy, ten spyte van sy swak beeld, geoormerk is om Trump aan te vat in die verkiesing.

Een ding is seker, Trump en Biden gaan vir groot pret sorg vir ons wat hier van ver af die petalje dophou. Verwag dalk ook ’n nuwe laagtepunt in verkiesingspolitiek.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 30 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Marthinus W ·

Barack Obama is die onsigbare hand agter Biden. Dit is waarom soveel swart Amerikaners vir Biden gestem het. Daar is selfs kommentators wat glo dat Michelle Obama op die nippertjie gaan instap as kandidaat.

pestilensie ·

Interessante leesstof Nico , vir eens nie net n antie Trump gebabbel . Biden sal meer tuis wees hier in afrika met sy nepotisme en tannie Hillary was nie baie populer by die yanks nie . Trump sin om te verloor

Michael ·

President Trump het sy mandaat nagekom tydens sy eerste termyn maar moes al obama se foute regmaak kan julle dink wat hy in sy volgende termyn kan vermag.

Johan Venter ·

As Joe Biden dan nou so vergeetagtig is, is dit nie onmoontlik dat hy tydens ‘n debat met Trump vergeet dat hy ‘n Demokraat is nie, en vir Trump onderseun.

Johan Venter ·

Ek wil graag die demokrate se gesigte sien as hy met als wat Trump daar sê saamstem.

Pieter J ·

Dit maak nie saak waar in die wêreld dit is nie, die linkses maak altyd snaakse en dom keuses soos in ons land ook maar gebeur. Ongelukkig is ń groot klomp mense nog altyd bereid om hulle agter die klomp te skaar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.