Die Demokratiese Alliansie se ‘Spur-moment’

helen-zille-mmusi-maimane

Zille en Maimane tydens Maandag se mediakonferensie. Foto: @Mabine_Seabe/Twitter

Daar kan min twyfel wees dat die DA party-polities gesproke as die suksesverhaal van die afgelope dekade beskryf kan word. Van ʼn klein, selfs minderwaardige politieke party (die Demokratiese Party van 1994) het dit gegroei tot ʼn toonaangewende opposisieparty waarvan die momentum met elke verkiesing sedertdien toegeneem het. Van “fight back” tot amptelike opposisie, tot beheer van die Wes-Kaap-provinsie, asook koalisie-beheer van verskeie munisipaliteite in Suid Afrika, verteenwoordig hulle die bakens van ʼn suksesverhaal. Die party is ook nie skaam om te sê hulle mik daarna om die ANC teen 2019 saam met ander opposisiepartye uit die kussings te lig nie. Enkele woorde in die sosiale media, “For those claiming the legacy of colonialism was only negative, think of our independent judiciary, transport, infrastructure, piped water etc.”, het bogenoemde scenario egter drasties verander. Wat Helen Zille as ’n “simple statement of fact” beskou het, is besig om te eskaleer in een van die grootste krisisse tot nog toe binne die Demokratiese Alliansie in die algemeen en ook die Wes-Kaap-regering in die besonder. Dit kan ook verreikende implikasies hê vir die rekonfigurasie van opposisiepolitiek in die opbou na die 2019-verkiesing.

Akademies gesproke is bogenoemde stelling ten minste ʼn saak wat akademies kan en waarskynlik bespreek moet word. Dit raak in wese die interpretasie van ʼn baie komplekse en selfs konflikterende geskiedenis met verreikende implikasies vir hoe die toekoms bekyk en vorentoe bestuur moet word. [Die akademiese meriete van die stelling al dan nie, word nie in dié ontleding bespreek nie.] Dit is belangrik dat Suid- Afrikaners mekaar vind oor sake soos grondbesit en hervorming, eiendomsbesit, ens. – sake wat tot die wese van kolonialisme en die interpretasie hiervan spreek. Maar in ʼn totaal oorverhitte omgewing is niks soos dit moet of kan wees nie en is beide die toekoms van Helen Zille én die DA as opposisieparty tans in gevaar as gevolg van hierdie uitlating. Dit kan in eie reg as die DA se “Spur-moment” beskryf word.

Die DA se eie meningspeilings bevestig die nuwe uitdaging waarvoor die party te staan gekom het. In kort beteken dit toenemende weerstand vanuit die swart “constituency”, maar ook sterk reaksie vanuit die tradisionele steunbasis en veral van wit ondersteuners. Hierdie spreekwoordelike “catch 22” hou tans groot risiko’s in vir die party se strewe om die 2019-verkiesing te probeer wen én vir die loopbaan van Helen Zille – waarskynlik een van die mees suksesvolle huidige premiers in Suid-Afrika. Hoe moet bogenoemde verstaan en beoordeel word? Enkele aspekte van hierdie komplekse saak word vervolgens verder toegelig:

  1. Tye van verandering bring onsekerheid en soms groot sensitiwiteit, maar dikwels ook groot geleenthede. Waar mense se belange in gevaar gestel word en/of waar nuwe geleenthede ontwikkel, kan bestaande spelreëls soms vinnig verander. Soos een ervare politikus eendag teenoor my opgemerk het: “In die parlement sit jou opponente oorkant jou en jou vyande (lees: lede van jou eie party) agter jou!” Twee politici wat op hierdie oomblik van dié waarheid kan getuig, is Jacob Zuma en Helen Zille. Anders gestel, dit is die makste honde wat die seerste byt, soos die gesegde lui. Ek is seker dat Helen Zille by meer as een geleentheid met hierdie perspektief geworstel het. Was sy nie die een wat Mmusi Maimane se weg as partyleier voorberei het nie? Maar ons weet mos dat die politiek ’n “dog eats dog”-wêreld is, en soos die Engelse ook sê: “No good deed goes unpunished…”
  2. Die DA as party kan met reg aanspraak maak dat hulle die mees veelrassige party in Suid-Afrika is. Die skuif vanaf ʼn liberaal-demokratiese party (Tony Leon) na ʼn sosiaal-demokratiese Party (Helen Zille) na dit waarna sommige verwys as “ANC-light” (Mmusi Maimane) was egter nie sonder implikasies vir die party en sy ondersteunerskorps nie. In ’n land waar verkiesingsuitslae telkens bewys lewer dat die rasfaktor steeds die belangrikste faktor is waarvolgens mense stem en waar dekolonisasie die woord van die dag is, kan die DA nie verwag om in hierdie opsig ongeskonde gelaat te word nie. Lank voor die omstrede twiet van Helen Zille klink die gerugte al op van ʼn “black caucus” binne die party wat sy stem wil verhef, maar ook die krete van wit kiesers dat hulle polities gemarginaliseer word. Reg of verkeerd, hierdie persepsies bestaan, en dit is my oordeel dat die Helen Zille–insident meer ʼn simptoom eerder as ʼn oorsaak van die huidige krisis is. Met of sonder Helen Zille sou hierdie kruitvat van raspolarisasie buitendien iewers ontplof het. Dit was in elk geval net ʼn kwessie van tyd.
  3. Om ʼn steunbasis van 35% in die komende nasionale verkiesing (2019) te behaal is die behoud van die tradisionele steunbasis noodsaaklik en moet nuwe swart steunbasisse verder onsluit word. Ironies genoeg hou Helen Zille in hierdie opsig ʼn belangrike sleutel. Wat Helen Zille kan verloor, is baie klein teenoor dit wat die DA as party kan verloor. Vandaar die behoefte om tot ʼn soort ooreenkoms met Helen Zille te kom. As ervare politikus verstaan Helen Zille die situasie en speel sy haar kaarte daarvolgens. “Not going down without a fight” is immers haar leuse. Hierdie geval gaan nie ʼn uitsondering wees nie.
  4. Die “Spur-moment”, wat geen bekendstelling nodig het nie (en wat nie hier volledig herhaal gaan word nie) verwys na ʼn onvoorsiene insident of sameloop van omstandighede (wat netsowel nie hoef te gebeur het nie), maar wat die toekoms van die Spur-groep in gevaar gestel het en waar die reaksie van Pierre van Tonder (die hoof uitvoerende beampte) net verdere olie op die spreekwoordelike vuur gegooi het. Die parallel met die Helen Zille-insident is duidelik en so ook die uiters swak bestuursmatige hantering van die situasie na afloop van die omstrede twiet. Die gebrek aan duidelike struktuur en proses, tesame met swak kommunikasie om die aangeleentheid doelmatig te bestuur, het die party tans in een van die grootste uitdagings (sommige beskryf dit as ʼn krisis) van sy bestaan geplaas. Die grootste fout was egter om die geveg in die openbare media te probeer voer, asook die noodlottige uitspraak van Mmusi Maimane wat net wat persepsie betref Helen Zille se lot verseël het nog voordat sy haar kant van die saak kon stel. Die “Adium Alteram Partem”-reël (om na die ander kant ook te luister) was dus nie suksesvol nie, al het die hekwagters probeer om die besluit te verdedig en te regverdig. Die skade was reeds gedoen, al was dit net ten opsigte van die persepsies van beide swart én wit kiesers. Soos Dirk Herman ten opsigte van die Spur-aangeleentheid gesê het: “Ek het my aptyt om by die Spur te eet verloor…” Ek hoor ook toenemend van mense wat besig is om hul politieke aptyt vir die DA te verloor. Dit gaan lankal nie meer oor die insident nie, maar oor baie meer – selfs die voortbestaan van die DA as die toonaangewende opposisie party in Suid-Afrika. Dit gaan enersyds oor wit belange wat gemarginaliseer voel in ʼn wêreld waar diskriminasie teen wit mense selfs wetlik bestaan, en andersyds oor swart verwagtinge waaraan voldoen moet word ten einde die groep suksesvol polities te mobiliseer. Hier lê die uitdaging vir die leierskap van die DA – die eerste groot toets vir Mmusi Maimane wat hy myns insiens sover met onderskeiding gefaal het.

Dit gaan ʼn moeilike pad van herstel vir die DA wees. Groot werk lê voor vir die party om die vertroue van sy kieserskorps te behou en nuwe steunbasisse te ontsluit. Met ʼn politieke kultuur van “dog eats dog” kan die DA ook nie veel genade van beide die regering en ander opposisiepartye verwag nie. In tye van verandering en onsekerheid (soos dié waarin ons nou staan) is dit belangrik om jou gevegte reg te kies, onkreukbare prosesse te volg en nie jou kieserskorps te vervreem nie. Die leierskap van die DA het nodig om hand diep in eie boesem te steek en in eie geledere te rekonsilieer. Dit is die uitdaging, menere Maimane en Selfe! Die uitkoms van hierdie suksesverhaal is in julle hande, maar ʼn baie belangrike troefkaart lê by Helen Zille. As die kieserskorps egter hul smaak verloor, is dit ongelukkig die begin van die einde.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: André Duvenhage

André Duvenhage is politieke ontleder en professor in Politieke Wetenskap aan die Noordwes-Universiteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

Kobus Hattingh ·

Tog jammer dat sy steeds die Premier sal bly want kan nie wag om haar rug vir altyd te sien nie.

Kobie Hill ·

Ek wonder maar net dat die taal wat in die parlement en oral gebruik word nie afkomstig was juis van kolonialste nie? Zille se alles was nie net sleg nie maar hoekom gaffel hulle haar as hulle tog sekere goed bly gebruik. Laat my dink as jy hand om die blaas met hulle is, dan gaan dit jou een of andertyd byt, Piet Retief het ook hulle geglo en toe byt dit hom, Zille het in hulle geglo en toe byt dit haar!

Hendrik ·

Sal die vorige kolianistiese bevoordeelde kiesers dapper genoeg wees, om met die reuse media veltog in 2019 om kiesers te lok, die DA te spur in 2019 ?

Gert Meyer ·

Met ‘n verstokte Selfe en ‘n ANC georienteerde Maimane as leier loop ek nie saam nie. Nooit!!

Hannes ·

Ek hoop regtig so Hendrik. Stem vir beginsels en nie net omdat n party dalkies, miskien eendag die ANC kan wen nie. Hoop almal kan begin dink en nie net die massas navolg nie.

Werner ·

OPPAS vir die DA, is al wat ek se!
Zillie en Mainame het hierdie hele ding beplan- om die swart stem te wen. Gee nie n duit vir blanke stem om nie- ons is te min- hulle soek mag en dit le by die massas.

Abigail ·

Snaaks genoeg se my pa ook so, maar mens moet politiek met politiek veg. Dit is bie noodwendig sleg nie.

Trots Afrikaans ·

Ek sal maar rustig wag vir die man in die bruin pak…..

Skerp Spioen ·

Die DA se beleid was nog altyd bloot net ANC lite en hulle begin nou hulle ware kleure wys. Ek hoop van harte die Afrikaners wat so agter hulle aangehardloop het begin nou besin. Een bokkie en 2 leeus wat moet stem oor aandete is nooit ‘n goeie plan nie.

Bosbok ·

Die DA het eenvoudig net polities korrek op getree…. en nie volgens die waarheid nie. Ek stem, hulle het n SPUR oor hulleself getrek. Is vir my verstommend hoe vlak van verstand politiese korrekte besluite is.

jan van riebeeck ·

so niks wat witmense ooit gedoen het is goed nie ? dit is eintlik wat die DA nou beaam en die ANC nog altyd sê

John ·

Wel, as dit die tipe ding is wat die DA wil gebruik om steun te werf, is hempies en toebroodjies uitdeel dalk meer eerbaar. Zille kan skynbaar gekoop word, wat impliseer dat die twee hoofpartye maar uit dieselfde fontein drink en dieselfde soustrein deel. Die DA sal nie in 2019 wen nie al glo Mmusi al sy ster skitter reeds aan die hemeltrans soos die Cowboy-siener in die Vrystaatse dwarrel glo volgens oorlewering sou gesien het… ‘Sad so sad…’

scientia minute ·

Daar is geen twyfel dat die DA die Wit steun gaan opgeoffer nie. Die DA het Afrikaners misbruik en spoeg ons nou uit. Vir die wat na dese voortgaan om die DA te ondersteun onthou die Engelse gesegde : ‘fooled me once shame on you, fooled me twice shame on me’. Groete

Chris ·

Ek is verbaas dat die blankes/wittes in die land nog aan die belaglike speletjie van demokrasie in die land deel neem. Geen blanke stem sal hond haaraf maak in die politieke bestel van die land nie. Die ergste is die wit politici. Van wanneer luister ‘n Afrika regering na die minderheid se gekerm oor minderheidsregte en ander regte. Word wakker. Dit is tydmors. Raak eerder onder jou eie gemeenskap betrokke en bevorder eerder jou eie as volksvreemde idees. Gebruik egter die burokrasie tot jou eie voordeel, moet egter nie betrokke raak nie.

humor ·

Chris stem saam. Om in die huidige Afrika – politiekearena betrokke te raak, is vergeefs en n verkwisting van kosbare energie sowel as moontlikhede. KOM ONS BOU EERDER SAAM.

Kabous ·

Hoor-hoor! Ek het sedert 1994 nog nie een keer in enige verkiesing gestem nie, want politici se leë beloftes, huigelary en skaamtelose eie-gewin staan my nie aan nie. Maar belangriker: ek glo nie in Afrika-demokrasie nie waar sogenaamde demokrasie slegs gebruik word om minderheidregte te vertrap. Nou wag ek nog net vir ‘n oproep om ‘n belastingboikot deur die einste minderhede wie se regte so deur die regerende party vertrap word. My geld is klaarblyklik goed genoeg, maar my taalregte, reg tot vrye (dis)assosiasie en reg tot billike indiensneming (om maar net enkeles te noem) word deur die ANC misken.

giepster ·

neewat , die DA is nou ANC-light.

Ons droom is nou n nagmerrie.

Al hoop…is om die pen te bere …….

Arend ·

Giepster, na aanleiding van jou droom wat nou ‘n nagmerrie is: wys jou net, moet nie droom voor jy stem nie, DINK!

Koos ·

Ek het vir die DA gestem want om eerlik te wees het ek nie baie verstaan van koalisie regering nie, maar na die laaste verkiesing het ek gesien dat die EFF en UDM (in PE) die kitaaar slaan met hulle minderheid stem… so wat ek voorstel is ons almal stem vir die VF+ sodat hulle ons belange kan verteenwoordig as deel van n koalisie regering… net my mening en daardeur word ons belange ook verteenwoordig…. hoop julle stem saam

Ben Raubenheimer ·

Mag die DA spoedig inplof en verdwyn, en mag die Afrikaners wat so getrou hulself en mede-Afrikaners se belange benadeel deur die Dowwe Aliansie te steun en nog erger vir hulle te stem, se oë oopgaan.

Leendert ·

Maar kyk net waar het die DA begin, en hoe klein hulle in 1994 was. Dus, die wat die VF+ afskiet omdat hulle kwansuis nie die getalle het nie, en gedurig negatiewe kommentaar daaromtrent uiter, neem kennis.

Hendrik ·

My pot se deksel is dat die kits demokrate (dit is nou die ouens wat net deelneem aan die land se sake deur elke vyf jaar te stem en geen ander deelname het soos burgerregtegroepe te ondersteun), elke keer in dieselde strik trap en weer vir dieselfde party stem. Dit is amper soos die ANC kiesers wat niks leer nie!

Dirk Breytenbach ·

En kyk wat kry die EFF reg ook met klein getalle.

Leendert ·

Dirk, hoe wonderlik sou dit nie wees as daar oor ‘n miljoen, wat van sommer heelwat meer, Afrikaans sprekendes vir die VF+ kan stem nie, dan kan die party mos nou EERS vir ons belange veg.

Loeis ·

Die hele debat lig een ding uit naamlik dat hier mense in een land saamgeflans is wat glad nie by mekaar hoort nie, waar enigiets wat nie afrosentries is nie, nie verdra word nie, en waar aktiewe diskriminasie teen veral blankes en kleurlinge deur wetgewing afgedwing word.

In terme van die grondwet is minderhede op selfbeskikking geregtig. Iets soos ‘n provinsie waar regstellende aksie nie sal geld nie, en waar mens nie op tone trap wanneer jy bloot die waarheid praat nie. Myns insiens sal dit ideaal wees as hierdie provinsie nie oor een gebied strek nie, maar bestaan waar okal mense woon en wie deel van die provinsie wil wees.

Partye soos die DA staan in die pad van ons baisiese regte, maar dit kos insidente soos Zille s’n voor mense dit insien. Laat ons in 2019 vir partye stem wat vir selfbeskikking staan.

arno ·

Werlike tragedie is dat vrye spraak en oop debatvoering by die DA van nou af gekanselleer is. Zille was in die reg, beide met haar twiets en met haar prokureurs wat die DA FedEx sou verpletter. Maimane behoort van nou af te weet van n phyrric victory is, sonder die hoeksteen van Zille is die fondament vrot

Werner ·

Die wat in die wes kaap bly… Staan saam stem eerder vir iemand wat ‘n GROOT verskil in julle lewens kan maak en breek weg van Junk Zim-Africa…www.capeparty.com

Boshond ·

Dis tog eronies dat ‘n populistiese , halfgeskoolde landsleier vry is om te sê wat hy wil soos byv. dat die land se probleme begin het toe Jan van Riebeeck aan wal gestap het, teenoor Zille se onweerlegbare bewys dat kolonialisme wel goed was, en is, vir ‘n land.
Is Zuma se uitlating myns insiens dan nie ‘n duidelike bewys van die tirannie van die gepeupel nie.?
SA se grootste probleem is onkunde en nogmaals onkunde. Dit word uitgebuit en aangestook deur ‘n magsbehepte, hebsugtige, Mafia-agtige leiers kliek wat nie ‘n flenter omgee vir hul brandarm, werklose kieserskorps nie.
Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.