Die dieper reg van eiendomsreg

piet le roux 1

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga. Foto: Solidariteit Beweging

Wanneer ons oor eiendomsreg praat, is dit aan die een kant eenvoudig. Dit is ’n bewese resep vir voorspoed en dit spreek tot ons sin vir geregtigheid. Dikwels sal mense ook na dokumente soos die Grondwet van Suid-Afrika verwys en sê die Grondwet verskans eiendomsreg, en om onteiening sonder vergoeding toe te pas, sou ongrondwetlik wees.

Alhoewel bostaande alles waar is, is dit nie genoeg om onteiening sonder vergoeding teen te staan nie. Dit is nie genoeg nie, want dit hou die debat op die vlak van gevolgtrekkings. Om werklik ’n alternatiewe denkwyse op die tafel te sit, om ’n vernietigende ideologie van staatsinmenging die hoof te bied, moet ’n mens jou eie vertrekpunte hersien en die debat terug na eerste beginsels neem. Jy kort, as’t ware, ’n intellektuele raamwerk vir jou praktiese strategie.

Een van die beste verwoordings tot dusver van die dieper reg van eiendomsreg, is Koos Malan, professor in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria. Tydens sy aanbieding as deel van Sakeliga se voorlegging in die parlement verlede jaar, het Malan aangevoer dat ’n grondwet nie arbitrêr kan wees nie. ’n Grondwet is slegs ’n legitieme konstitusie vir ’n samelewing indien dit voldoen aan die dieper vereistes van konstitusionaliteit self. En hierdie vereistes sluit eiendomsreg in, want sonder eiendomsreg kan ’n samelewing nie die mag van ’n staat beperk nie. Sonder eiendomsreg kan burgers nie hul rol as rentmeesters, welvaartskeppers en as individue wat moet floreer, in ’n samelewing vervul nie.

Malan is in die kol wanneer hy die verband tussen eiendom en samelewing identifiseer as die sleutel tot ’n dieper reg oor eiendom.

Nou mag dit dalk klink asof hierdie net ’n filosofiese gesprek is, maar daar is min dinge so prakties soos ’n deeglike filosofie. Daarom is dit iets om dop te hou, of selfs by te woon, wanneer Sakeliga volgende week drie topdenkers byeenbring vir ’n besinning oor die verband tussen eiendom en samelewing. Benewens professor Malan, wat ’n regsperspektief lewer, is daar twee ander. Prof. Danie Goosen, die rektor van Akademia en gerekende filosoof (miskien vandag selfs die voorste Afrikaanse filosoof) sal ’n perspektief uit die filosofie lewer. Russell Lamberti, ekonoom, markstrateeg en medestigter van die Ludwig von Mises Instituut van Suider-Afrika sal vanuit die ekonomie praat.

In ieder geval, om in die komende jare effektief vir eiendomsreg in die bresse te tree, gaan ons as gemeenskap grondliggend uitdaag. En deur oor ons vertrekpunte te gaan besin, en ons argumente opnuut uit te werk in die gesprek van skool tot kerk tot markplein, staan ons ’n beter kans en op ’n morele hoë grond.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Piet le Roux

Piet le Roux is die uitvoerende hoof en direkteur van die sakeregte-organisasie Sakeliga.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Steven ·

Piet, julle het reeds die oorlog om eiendomsregs verloor in 1992 toe FW en Roelfie dit verkwansel het. Nou probeer Sakeliga, Solidariteit, Angloforum, AgriSA en wragtag nog SAAI ook skielik om nog te probeer paai, nog bietjie te redeneer. Julle kan in die treffendste trap filosofeer. Die uieinde is dat die ANC nie julle standpunt huldig nie. Boere en sake ondernemings en individue en spesifiek die Afrikaner gaan dit eersdaags beleef. Wanneer die oorheerser ongeduldig raak en die massas honger na oplossings op die grond is ons verby filosofeer, verby onderhandelings, en nog verslae en nog vergaderings in lugversorgde raadsale. Dan gebeur wat in Brazil, Argentinia, Venezuela en Egipte gebeur het… julle het hierdie roete gekies, en nou porobeer julle sowaar daaruit munt slaan, dis selfde truuks soos in 1992 deur dieselfde Forum.
Terloops julle boere wat bekommerd is oor julle plase wat geteiken is, en eintlik elke eiendom is RSA, worry eerder oor Eskom se katastrofe en die komende tariefverhoging vir 2019/20 en hul bankrotskap, infrastruktuur ineenstorting gaan boerdery in elk geval tot halt roep. Geen of peper duur krag, geen produksie, bankrotskap, geen plaas besit meer en siedaar ANC is alleen grondbesetter.
Maak maar julle sitplekgordels vas die tyd van ” dine en wine ” in raadsale en die aankoop van nog n trekker of n duur motor of oorsese reis is verby… vir lank. Maak maar gereed vir die 2de fase van die revolusie soos Joe Slovo dit beplan het…

Hendrik ·

Ek dink wat in die raadsale bespreek is regtig nie relevant oor wat in die werklikheid aangaan nie. Hoe oorleef ons as Afrikaner die huidige ekonomiese krisis. Groot boere is bekommerd oor hul besigheid maar eintlik gaan dit oor die ekonomiese behoud van die Afrikaner. Waar gaan ons groepeer, werk, ondersteunende strukture, skole, ens. Sonder Eskomkrag of onafhanklike krag is enige ekonomie niks, beteken eiendom niks. Wat moet ons bespreek in die raadsale? Groeipunte, Kraglewering aan groeipunt, werkskepping, ondersteunende infrastuktuur, opleiding, veiligheid, waterverskaffing, selfstandige bestuur van hierdie gebiede, behuising, gesondheidstrukture. Wat ons eintlik moet bespreek is waarna almal vra om ‘n selfbestuur gebiede te vestig waar ons onafhanklik gaan groei want in die huidige bedeling gaan ons verdwyn in die menigde.

Dirk Breytenbach ·

Ek wil Steven nie beledig nie maar ek dink hy leef in ‘n droomwereld van samesweringsteoriee. Om kwaliteit debatte en byeenkomste te hou in plaas van om die land af te brand as ons ongelukkig is darem nie “wine en dine” nie. Ons kan slegs verandering teweeg bring deur beskaafde interaksie. Ek vind jou opmerkings vreemd.

Gert ·

Ek hoop die aanbieders kan goed verduidelik, dit gaan nie maklik wees om hierdie konsepte aan hierdie gehoor oor te dra nie.

Jerry ·

Wat Piet en so baie soos hy nie besef nie is dat hy sy kennis in konsepte oordra aan mense wat daardie konsepte met ope arms gaan ontvang. Dan gaan hulle daardie konsepte omskep in presies die teenoorgestelde en dan is dit hulle revolusionere plan! Moet nie julle konsepte uitblaker aan al wat lewe en bewe nie, hou dit geheim totdat jy in die howe gaan baklei! As julle nou nog nie die revolusionere denkwyse verstaan nie, sal julle dit nooit verstaan nie. Hulle kan niks self uitdink nie, hulle wag vir jou planne en maak dan die teenoorgestelde, hulle planne. Jy moet hulle denkwyse teen hulle gebruik, se vir hulle, hulle moet suid gaan as jy wil he hulle moet noord gaan!

John ·

Die manifesto van die ANC is hul wysgerige handleiding waarin hul gemeenskaplike siel se dieper reg opgeteken staan. Die ANC se wese en is. Dis nie ‘n kwessie van om hulle net te oortuig van die waarheid nie, eerder te besef wat die is, is. Luister: Ryk Nigerièrs bestel pizza’s vanaf die buiteland wat dan spesiaal ingevlieg word… om dan aan hulle bedien te word ~ die dieper reg en siel van Afrika se is, mooi verbeeld… pizza and all.

Carel Breytenbach ·

Die jare 1950’s en 60’s, Kongo, Kenia, e.a., onlangs Rhodesia wat Zimbabwe geword het, noem hulle maar op, HIER KOM ONS!!!!!. Die tydjie is inderdaad kort, en moenie genade verwag nie. Die ossewa kan nie meer Noord nie!, die see is ons voorland.

Hendrik ·

Ek dink wat in die raadsale bespreek is regtig nie relevant oor wat in die werklikheid aangaan nie. Hoe oorleef ons as Afrikaner die huidige ekonomiese krisis. Groot boere is bekommerd oor hul besigheid maar eintlik gaan dit oor die ekonomiese behoud van die Afrikaner. Waar gaan ons groepeer, werk, ondersteunende strukture, skole, ens. Sonder Eskomkrag of onafhanklike krag is enige ekonomie niks, beteken eiendom niks. Wat moet ons bespreek in die raadsale? Groeipunte, Kraglewering aan groeipunt, werkskepping, ondersteunende infrastuktuur, opleiding, veiligheid, waterverskaffing, selfstandige bestuur van hierdie gebiede, behuising, gesondheidstrukture. Wat ons eintlik moet bespreek is waarna almal vra om ‘n selfbestuur gebiede te vestig waar ons onafhanklik gaan groei want in die huidige bedeling gaan ons verdwyn in die menigde.

Wicus ·

Ek het sinies geword oor die lewe, oor wat eintlik agter elke mens se doen en late sit, lyk my ons praat en doen verskil.

Ek is bevrees, die Afrikaner het homself in hierdie gemors gedompel. Ons wou alles behou toe verloor ons alles.

Die voorlaaiers was nog nie koud na Bloedrivier toe kom werk die vyand op die plase, nou is hulle die heersers.

Wil ons dan nie leer nie, goedkoop arbeid raak later lewensbedreigend, en die Afrika-mens het ‘n totale ander denkwyse as die Europeer!

Terloops, luister ek na ene Dr Nak van der Merwe, 1982, hy verkoop die 3-kamer parlement, kry hy staande toejuiging, en ek sit, al een in ‘n vol saal!

Piet, prof Koos, doen die beraad, filosofeer, dink, maak planne, dis reg en moet gebeur, maar asb, kry ‘n strategie en raak prakties, verstaan die ander mense en gebruik hulle wyse van handeling teen hulle.

Disselboom ·

Stem saam met die kommentare dat hierdie gefilosofeerdery nie juis verskil gaan maak nie: dit kan net help as die ander kant ‘n vergelykbare uitgangspunt het en belangstel (en in staat is tot) ‘n dieper gesprek, wat nie die geval is nie. Daar moet gewerk word aan die opbou van die moed, durf en vermoë om in die Afrika-magspolitiek (en wat toenemend ‘n fisieke bedreiging word) te kan staande bly.

Johan Neuteman ·

Dit is nogal ‘n vraag wie Piet le Roux nou eintlik is en hoe hy in hierdie posisie kom? Was hy nie die eerste hoof van Akademia nie?

DeonC ·

Die realiteit is die massas is verbind om later witmense se lewens te neem vir eiendom. Daar is nie n uitkoms mits Afrikaners prakties daaroor standpunt in neem nie. Doen jy dit wel, word kommentaar nie geplaas nie of word jy op allerlei wyses geboelie. Ek het baie respek v Piet en prof Malan. Die tyd vir filosofie en teoretiese argumente het uitgeloop. Die massas stel nie daarin belang nie. Maak daarom n praktiese plan dat hulle luister of voel. Wanneer dit oor oorlewing gaan, raak die opsies min.

Hans Richardt ·

%raskwotas in eiendomsbesit is nou probleem, soos met regstel aksie en BBBEE.
My opinie is dat %raskwotas in eiendomsbesit ‘n manier is van diskriminasie, want diè % swart vs wit raskwotas sal altyd uit verhouding bly.
Hierdie politieke korrekte beleid dwing wittes tot etniese amalgamasie beleid van Politieke partye en is teenpool van geforseerde etniese apartheid, wat Misdaad teen mensdom verklaar is.
Theresa May se goedkeuring aan hierdie % raskwotas eienaarskap, is net so gemorsspul soos haar Brexit onderhandelinge.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.