Die EFF kom tot ’n Brackenfell

Deur Connie Mulder

Mense raak slaags buite die Hoërskool Brackenfell in Kaapstad. (Foto: ANA)

Vuiste klap in ’n Kaapse straat. Ouers bestorm EFF-betogers buite ’n hoërskool. Ná maande se stook deur die EFF en die ANC, borrel die kookpot van rasseverhoudinge oor.

Wat het hierdie heftige reaksie veroorsaak? ’n Groep matriekleerlinge van die Hoërskool Brackenfell en hul ouers het as afskeid vir die jaar ’n private funksie by ’n private onthaallokaal gehou met private fondse. Slegs 42 matriekleerlinge uit meer as 250 was teenwoordig – hulle groot sonde was om na die funksie te verwys as hul matriekafskeid.

Amptelike kommunikasie deur die departement van onderwys het bevestig dat dit ’n private funksie was en dus niks met die skool óf die EFF te doen het nie. Steeds het die EFF besluit om die skool te gaan ontwrig in die middel van die matriekeindeksamen.

Vrydag 6 November daag die EFF buite die skool se hekke op. Inderhaas moet die skool sekuriteit ontbied wat seker maak die EFF kom nie die skoolterrein binne nie. Ouers kom haal erg ontstelde kinders die middag.

Mense raak slaags buite die Hoërskool Brackenfell in Kaapstad. (Foto: ANA)

Die EFF kondig aan dat hulle Maandag 9 November weer die rassistiese skool moet ontwrig. Grondmagte word opgeroep om apartheid te gaan konfronteer in ’n betoging buite ’n hoërskool se hekke.

Ná die vorige Vrydag se gebeure, besluit ouers om hul kinders veilig te gaan hou. Wanneer mense se kinders betrokke is, duld hulle aansienlik minder. In die middel van ’n matriekeindeksamen wat implikasies op beurse, studies en loopbane het, loop gemoedere besonder hoog. Geen ouer gaan toelaat dat kwaadwillige betogers sy/haar kind se lewe en loopbaan moontlik verwoes nie. Noodwendig styg die kwik ver bo kookpunt met ’n fisieke konfrontasie tussen ouers en EFF wat onder die polisie se wakende oog plaasvind.

Terwyl die polisie toekyk bestorm die twee groepe mekaar en raak handgemeen. Soos by Senekal, is die polisie se onvermoë om wet en orde te handhaaf, die aansporing vir burgers om dit eerder self te doen.

Brackenfell gebeur wel nie in ’n vakuum nie, dit is nodig om die konteks asook die EFF se geskiedenis te skets om te verstaan hoe ons hier gekom het.

Konteks

Julius Malema. Foto: EFF/Twitter

Die EFF is die verpersoonliking van hul leier se politiek. As ANC-jeugleier was Malema al ongelooflik opruiend teenoor minderhede – veral wit mense. Na hy uit die ANC geskors is, vorm hy dadelik ’n party wat wegdoen met al die ander dele van ANC-beleid, soos nierassigheid. Vanuit die politieke wildernis begin Malema ’n swart nasionaal-sosialistiese party.

Alhoewel sy uitsprake teen wit mense prominensie geniet, is die EFF eintlik net anti-minderheid. Tydens die 2015 #FeesMustFall-betogings is Paul Kruger se standbeeld in Pretoria gevandaliseer, maar ook die standbeeld van Gandhi in Durban. In 2017 verklaar Malema trots dat Indiërs meer rassisties as Afrikaners is. In die parlement verhoed die EFF dat Pravin Gordhan sy toespraak kan lewer en verwys na hom met rassistiese skelterme.

Uiteindelik ontdek Malema dat die anti-wit stellings wat hy maak, nie juis veroordeel word nie – minstens nie deur enige iemand met mag nie. Inteendeel, dit word aangemoedig. Soos enige populis wat sy sout werd is, gryp hy die geleentheid aan om homself en sy party in ’n baken van haat te omvorm.

Ná die EFF amper in die niet in verdwyn het met die Covid-19-pandemie, besluit Malema desperaat om oorlog teen ’n rassistiese sjampoe-advertensie te verklaar. In ’n ongelooflike verwikkeling val die derde grootste party in die land dié sjampoe en Clicks-apteke met geweld aan. Ongelooflike skade word aan eiendom aangerig en verskeie winkels word aan die brand gesteek – dit alles terwyl die polisiediens en polisieminister bloot toekyk en eintlik stilletjies die EFF se saak steun.

Kort ná sy oorwinning teen hierdie spesifieke sjampoe, soek Malema ’n nuwe teiken vir sy grondmagte – dit is op daardie oomblik wat Senekal in sy skoot val. In ’n ommekeer van posisie ruk die EFF – wat minder as ’n maand gelede apteke afgebrand het – op na Senekal om eiendom teen brandstigting en beskadiging te beskerm. Die denkgimnastiek van Malema asook die swart kommentariaat om hiérdie sprong te maak, is werklik indrukwekkend.

Binne die hof verskyn ’n verdagte omdat hy ’n boer vermoor het. Buite die hof sing die EFF oor boere vermoor. Malema verseker ons egter dat die twee glad nie verband met mekaar hou nie.

Dit is in hierdie konteks dat Brackenfell gebeur.

Dit is in hierdie omstandighede wat ouers nie vertroue in die regering het om hul kinders veilig te hou nie.

Wat nou?

Wat ons sien uitspeel in die EFF, is eenvoudig fascisme en totalitarisme wat ons samelewing bekruip. Die EFF trek militêre drag aan, verwys na hul leier as bevelvoerder, hou oorlogstribunale en gee aan hul grondmagte bevele om aan te val.

Hierdie is nie tradisioneel die optrede van ’n politieke party nie.

In volle fascisme het die EFF nou ook aan hulself die mag toegeëien om oor die private partytjie van matrieks morele regter te speel.

Julius Malema spreek EFF-ondersteuners buite die hof toe. Foto: EFF/Twitter

Buite die raamwerk van alle grondwetlike strukture het die EFF sélf Hoërskool Brackenfell verkla, vervolg en gevonnis. Soos alle fasciste het die EFF min of geen agting vir wettige prosesse nie.

Hierdie ontwikkeling – van die EFF vanaf politieke party na die EFF as kwasi-regering wat die reg in eie hande neem, is die toonbeeld van hoe fascisme en totalitarisme alle sfere van die samelewing binnedring.

Die EFF mag oral, vir enige gegewe rede, by mense se sake inmeng. Uiteindelik maak die beweegrede vir optrede ook nie saak nie. Tans is dit teen die “matriekafskeid”, tog is die beweegrede reeds besig om te skuif na gebrekkige transformasie by Hoërskool Brackenfell en binnekort gaan dit anonieme bronne wees wat rassisme by Hoërskool Brackenfell aantyg.

Dit is alles oëverblindery, die EFF soek bloot mag.

Dit is hoe mens eindig in ’n situasie waar ’n politieke party homself die reg gee om tieners se opvoeding te ontwrig weens die foto’s op ’n private partytjie.

Noodwendig gaan die EFF die situasie moet eskaleer – hul trots is nou op die spel. Die een ding wat ’n fascis nie kan duld nie, is ’n uitdaging – dus gaan die EFF in groter massas opruk na ’n hoërskool oor ’n private partytjie van ’n paar matriekleerlinge.

Waarheen nou?

Minderhede – julle is op jul eie.

Die Brackenfell-situasie toon dat die regering ten beste bloot hul plig teenoor minderhede gaan versaak. Ten slegste kan hulle die EFF versterk – soos Ramaphosa reeds gedoen het. Ramaphosa en sy ANC het die EFF as nuttige aanvalshond gebruik op sy eie opponente, want uiteindelik baat die ANC steeds by groter rassespanning in die land.

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: GCIS)

Om die EFF so te gebruik, is soos om ’n hondsdol-hond te gebruik om jou erf op te pas – dit werk lekker as hy die skelms byt, maar dit is bloot ’n kwessie van tyd voor hy jou beetkry. Ramaphosa, die ANC en die media voer tans die monster, sonder dat hulle dink aan die gevolge.

As lid van ’n minderheid, is dit dus van kardinale belang dat jy georganiseerd en betrokke raak by strukture en instellings wat die EFF kan teenstaan. Die regering gaan die EFF se ruimte vir optrede nie verklein nie – dit is belangrik dat iemand dit wel doen. En dat jy nie as enkeling alleen teen hierdie golf probeer baklei nie, want jy hoef nie.

Die EFF is ’n boelie en soos alle boelies verkies hulle sagte teikens –in hierdie geval ’n skool.

’n Mens durf nie geweld van enige aard goedkeur of aanmoedig nie. Hou jou kant skoon en moenie eerste geweld pleeg nie. Slegs dán kan jy die geweld wat teen jou gebruik word, werklik veroordeel en daarop ingaan.

Kortom, moenie gaan moeilikheid soek met die EFF nie, maar moet ook nie onredelike moeilikheid duld van die EFF nie. Staan sterk en vas en maak dit duidelik: tot hier toe en nie verder nie.

Daarom is dit belangrik dat die skool en gemeenskap seker maak dat die eksamen vreedsaam voortgaan. Ons durf nie toelaat dat kinders se lewens ontwrig word deur opportunistiese haatstokers nie. Terselfdertyd is dit ook belangrik dat ouers en ander gemeenskapslede nie uitgelok word tot onnodige konfrontasies nie – dit sal die EFF bloot morele gesag gee.

Die beste antwoord op die EFF se boelietaktiek bly bloot om getrou aan jou beginsels te leef en te probeer om die goeie te doen.

Om by Paul Kruger te leen: “Een gemeenskap met beginsels is ’n meerderheid”.

  • Connie Mulder is die hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Fritz ·

Connie, watter instellings staan die EFF suksesvol teen? Dis juis omdat die Brackenfell gemeenskap dinge op hul eie gedoen het dat hul suksesvol was. Instellings wil net heeltyd praat, petisies teken en memorandums opstel.

Senekal 0
EFF 1

Brackenfell 1
EFF 0

Persheks Adri ·

Steeds word daar NIKS omtrent die rooi petters gedoen nie! Brand en breek en rassisme is alles deel van hulle speletjies. Nou wanneer gaan iemand iets doen omtrent hulle, want KILL THE BOER is mos aanvaarbaar vir Cyril, Cele en die hele gespuis? Polisie staan nogals en kyk vir als en doen NIKS aan hulle maters nie!

Raymona ·

Noudat die hof die interdik aansoek teen EFF nie toegestaan het nie is dit duidelik dat die hof nie leerders se regte beskerm nie. Dit is hartseer dat studente nie meer n reg het om hul eindeksamen in vrede en stilte te kan aflê nie. Maar die reg om te raas en protesteer langs n eksamenlokaal word deur die hof goedgekeur. Wat moet n mens nou doen om reg te laat geskied ( en reg en die goeie te doen) en kinders die kans te gee om eksamen te skryf en skool te gaan in vrede en stilte ?

Wakker akker ·

Dankie vir die goeie berig. Niks gebeur sommer nie. Die eff druk nou al n geryme tyd hulle vingers in almal se gesigte. Iewers gaan iemand begin terug druk en dit gaan nie vir hulle so lekker uitwerk nie. Mense is gatvol vir die eff se opsweeping en moeilikheid soek.

domheks ·

Wys ‘n mens maar net dat die NARRE voorkeur kry. Die res van SA moet maar die stout rooi kindertjies verdra. Pasop mal-ema dat jy nie die pakslae van jou lewe kry nie, al is dit 30 jaar te laat!
Hoop alle ouers ruk op na volgende byeenkoms. en mal-ema is ook daar!!!!

JohanR ·

Was Mal-ema daar. Lyk my hy is nooit waar die aksie is nie. Wat ‘n LAFAARD! Moenie eers praat van die 2IC Floyd Shivambu nie. Hy sou met die straat moes afrol om by Brakenfell aan te kom. Met Floyd Shivambu aan die rondte is daar nou ‘n kort van hamburgers, slaptjips en Chivas Regal in Suid Afrika!

Levinson ·

Shame, en al wat die Afrikaner doen is hofsake aanhangig maak. Verder bou ons genoeg op vir die regering om elkgeval oor te vat met nasionaliseringsbeleide….SolTech, Akademia en alle ander gaan ook nog daardie lys haal, merk my woorde. Gee tog die land, stede en als vir die mense. Ek is van mening dat al begin ons oor in ‘n steentydperk is ons binne 2jaar verby Afrika. Maar ons klou tog so vas aan materiële dinge. Mamon staan midde die Afrikaner se vooruitgang wyl dit sy ondergang bewerkstellig. Wat van veg eerder vir klein gebied op Weskus, onttrek alle fondse, ruil in vir buitelandse valuta en begin oor met infrastruktuur? Daar kan deur 4miljoen mense nogal baie vermag word.

Feite ·

Levinson, join CapeXit en kry al jou vriende en familie om te registreer. Dis maklik, elke membership help!

Levinson ·

Wat is die waarborg dat daar vir my sal plek wees as ek in ander provinsie bly? Dit klink vir my na klugspul vir ondersteuning en dan word daar doodeenvoudig grense opgesit en ek het geen reg om daar te bly.

H ·

Ja die mindere is op hul / ons eie . Die mindere sal see vier en rooi sal verslaan word :)
Dis is n feit!

Mad Mike die Rhodesiër ·

Ja bee. Daardie boelie kort ‘n pakslae!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.