Die EFF: Om saam te werk of nie

Julius Malema, die leier van die EFF. Foto: ANA.

Jan-Jan Joubert, ʼn gesoute politieke joernalis en skrywer van die boek Wie gaan in 2019 regeer? het in die vorige twee aflewerings oor die stand van ons land se grootste politieke partye na die ANC en die DA gekyk. Joubert neem in hierdie artikel die interne politieke situasie van die EFF onder die loep:

Die party in rooi sit met ‘n paar omvattende probleme in die aanloop tot 2019, en dit gaan maar neuk om dit reggestel te kry.

Eerstens is daar in die EFF ontsettende en lotsbepalende verdeeldheid oor waar die party hom in die toekoms moet posisioneer. Hierdie probleem kom voor by alle derde grootste partye ter wêreld wat moontlik die magsbalans kan hou. Die EFF het drie opsies: Die party kan nader aan die ANC beweeg (soms maak die EFF-leier, Julius Malema, sulke uitsprake, ander kere ontken hy dit). Anders kan die party nader aan opposisiepartye beweeg. Die party se nasionale woordvoerder, dr. Mbuyiseni Ndlozi, en die nasionale voorsitter, adv. Dali Mpofu, is soms uitgesproke voorstaanders daarvan. Of die party kan met niemand saamwerk nie, wat soms die uitgesproke voorkeur van die EFF-onderleier, Floyd Shivambu, is.

Die aanhalings hieroor is nogal kleurvol. Malema het al by geleentheid gesê: “Om met die DA saam te werk, is soos om ‘n romantiese afspraak met iemand na te kom, voordat jy teruggaan na jou ware geliefde.” Dus – hy neig na die ANC. Maar Ndlozi het al by geleentheid gesê: “Om met die ANC saam te werk, sou vir my wees soos om valse gode te dien.” As mens in ag neem hoe Christelik Ndlozi is, is dit nogal ‘n groot uitspraak.

Tweedens is dit duidelik dat die EFF meer behoudend sal moet wees om groot aansprake te maak oor hul beweerde en verwagte suksesse, want as dit dan ‘n vergissing blyk te wees, ondermyn dit die party se geloofwaardigheid en slaan hulle trouens hul naam met ‘n plank. Voorbeelde hiervan is hul aanspraak dat Athol Trollip beslis as burgemeester van Nelson Mandelabaai ontsetel sou word in Maart (Oeps, toe nou nie), en hul voortydige aanspraak op oorwinning in die debat oor onteiening sonder vergoeding. Die EFF het regtig gedink die ANC hel oor in hul rigting oor hierdie kwessie, maar nou rem die ANC algaande terug na ‘n meer grondwetlike posisie.

As die EFF dit nog nie weet nie, gaan hulle gou leer: Die ANC is uitgeslape en hul oggend- en aandpraatjies verskil dikwels. Die EFF is groot aanhangers van die Kaap Verdiese vryheidsvegter Amilcar Cabral. Hy het gewaarsku: Vertel geen leuens nie en maak nie voortydig aanspraak op oorwinnings nie.” Dalk moet die EFF dit begin uitleef.

EFF-LP’s tydens hul inhuldiging Foto: GCIS

Derdens sit die EFF met baie beleidspunte wat wêreldwyd tot ekonomiese rampspoed gelei het. Mense weet dit, en dit kos die EFF stemme. Namate hulle al meer desperaat raak om te groei, maak van hul leiers, spesifiek Malema en Shivambu, al meer afwysende rasgedrewe uitsprake. Die meeste Suid-Afrikaners wil eintlik net hê die land moet op ‘n vreedsame manier werk sodat hulle vooruit kan gaan. Die polarisering wat rasgedrewe uitsprake veroorsaak, werk dit nie in die hand nie. Dit sit kiesers af, buite ‘n klein en raserige kerngroepie.

Vierdens, en hieruit voortspruitend, lyk die EFF se uitslae in tussenverkiesings op die oomblik swak. Geringe stygings sedert 2016 in Gauteng en Noordwes en stewiger stygings in die Vrystaat en Limpopo word uitgekanselleer deur werklik armsalige uitslae in al vier die kusprovinsies. Die EFF moet dink oor die redes hiervoor, en besluit hoe om hul strategie aan te pas. Dalk sal ‘n minder baldadige aanslag meer stemme lok.

En vyfdens moet die EFF een of ander tyd besluit wat hul mening oor die nakoming van die Grondwet is. Soms is hulle die Grondwet se grootste verdedigers en beweer hulle dat hulle selfs die dele van die Grondwet waarmee hulle verskil, sal eerbiedig tot hulle dit verander kry. Maar ander dae ondermyn hulle die Grondwet openlik, byvoorbeeld in hul aanhitsing tot onwettige grondbesetting. Sulke teenstrydigheid oor so ‘n belangrike kwessie maak nie ‘n baie intelligente indruk nie.

In die EFF se guns is dat hulle die enigste groot party met ‘n duidelike beleid is, dat hul ondersteuners vuriglik lojaal is, dat hulle baie meer geld en partywerkers in die veld baie meer gaan wees as in 2014 of 2016, dat hulle by verre die mees charismatiese en akademies bes gekwalifiseerde leierskorps het en dat hul interne samewerking en partydissipline by verre die beste van enige groot Suid-Afrikaanse party is.

Op die keper beskou het die EFF, soos al drie groot Suid-Afrikaanse politieke partye, heelwat kwale en kwellings om te bowe te kom in die aanloop tot 2019.

Daar is baie ruimtes om dop te hou!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Afrikaanse Knaap ·

Ek dink SA moet in 2 skeur. Kommunistiese noord en kapitalistiese suid. Soos Korea.

Willem ·

Ek sien een bemark Sjinese vervaardigde sandale, wat jy, vir tyd al, hier te koop kry.

pieter ·

Jy se die EFF se dan links dan regs uitsprake aangaande die grondwet maak nie n intelegente indruk nie. Die deursnee EFF ondersteuner is nie juis intelegent nie, en dit is waar hulle probeer steun werf. Enige persoon wat hulle ondersteun kan sekerlik as of opputunisties (hulle leierskap – net daar om salaris te verdien) of idioties (net daar omdat daar soveel onhaalbare beloftes gemaak word) afgemaak word.

Duncan ·

Met “bes gekwalifiseerde leierskorps” bedoel jy waarskynlik die beste onder die groot drie partye. Sover ek weet (korrigeer my indien ek verkeerd is) is die VF+ se leierskorps beter gekwalifiseer.

Gert ·

Jip, twee parlementslede met doktorsgrade, een met ‘n meesters in internasionale reg. VF+ se leierskorps is dus loshande in die eerste plek met kwalifikasies.

Jerry ·

Strategies maak dit sin vir die EFF om saam met die opposisie teen die ANC te werk. Die EFF sal die opposisie gebruik om hulself in n sterker posisie te plaas om die ANC te ondermyn sodat die ANC nie hulle verkiesings beloftes kan nakom nie. Sodoende sal die EFF op die gebiede waar die ANC veld verloor, veld wen. Dit blyk die strategie te wees aangesien die opposisie asook sekere burgerregte organisasies willens en wetens daarop ingestel is om die regerende party net uit beginsel uit, te ondermyn. Min besef hulle dat daar waar die ANC misluk is dit die EFF wat meeste munt daaruit sal slaan en speel hulle in die hande van die EFF. Op hulle eie is die EFF eintlik maar redelik irrelevant. Ignoreer die EFF en hulle toneelspelery en hulle sal nog meer irrelevant raak. Steur jou aan hulle en reageer op hulle idees en dan maak jy hulle relevant en kan jy net jouself vorentoe blameer wanneer die EFF eers die grootste opposisie party raak, voordat hulle dan die regerende party word. Wat dan voorle vir SA is n bose ideologie wat sal kom om te bly en nie sal wyk alvorens alles, selfs die land vernietig sal wees! Een positiewe punt vir die EFF is dat hulle lesse leer en alhoewel dit tyd vat, pas hulle aan by veranderende situasies

Lerato ·

As Zuma n party stig gaan dit die ANC skeur. Dan sal gematigde partye soos DA en ander moet saamstaan teenEFF.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.