Die EFF sal SA nog ten gronde laat gaan

EFF-leier Julius Malema en EFF-LP Marshall Dlamini. (Foto: ANA)

Julius Malema, krygsheer, oftewel Commander in Chief, herhaal onlangs op sy emosionele raserige self weer dat, indien die EFF oor minder as twee weke die verkiesing wen, alle grond in Suid-Afrika sonder vergoeding genasionaliseer sal word en “aan die swart bevolking teruggegee sal word”. Nou ja, dis maklik vir hom om so te sê, want die EFF sal nie wen nie en hy hoef nie sy dreigemente uit te voer nie.

Maar dis ’n dreigement wat die EFF by elke geleentheid opper, elke keer op dieselfde opruiende manier en elke keer daarop gemik om emosie op te wek en aan te wakker. Dis dieselfde tegniek wat Hitler voor en tydens die Tweede Wêreldoorlog gebruik het om Nazisme te verkoop. Al daarop gelet dat EFF- en BLF-lede se stemtoon elke keer ʼn paar oktawe styg wanneer hulle oor grond praat?

Net so was ’n paar politici onlangs tydens die Woordfees op Stellenbosch in ’n politieke debat oor grond betrokke. Die EFF het weer uitgevaar en vertel hoe blankes grond gesteel het. Die EFF sal die grond vat en aan die plaaslike bevolking teruggee, op dieselfde manier waarop China dit gedoen het “en kyk hoe voorspoedig is die land deesdae”.

Dr. Pieter Groenewald van die VF Plus het die EFF egter vasgevat en gesê die EFF gaan nie kaart en transport gee nie, en wil bloot die grond beheer. Hulle is oneerlik, het hy gesê.

En ja, dis presies wat die Chinese kommunisteleier Mao Zedong gedoen het toe hy in 1949 die burgeroorlog in sy land gewen het. Maar hoe dan het China nou die tweede grootste ekonomie in die wêreld geword en is hy vinnig besig om Amerika in te haal en verby te steek?

Die nasionalisering van grond in China het aanvanklik tot groot tragiek gelei. Heel eerste het Mao opdrag gegee dat alle kleinboere graangewasse moet plant, of dit nou aard of nie. Nat of droog, koud of warm, boere is nie toegelaat om vir hulself te dink nie. Dit was net deels suksesvol, en plaaslike kaders het die boeke gekook om hul streke se opbrengste baie beter vir die regering te laat lyk as was dit was. Dit was baie kleiner as die kwotas wat van hulle verwag is.

Toe kom die spreeus, wat minder kos as gewoonlik gehad het en op die koringlande toegesak het. Mao het nog ’n dekreet uitgevaardig: dat al die boere dag en nag hul oeste moes beskerm en soms in die middel van die nag panne en ketels opmekaar moes hamer in ’n poging om die voëls weg te hou. Dit het nie gewerk nie.

Toe gaan Mao op besoek na Rusland waar die Russe midde-in ’n industriële rewolusie was. Terug in China het hy opdrag gegee dat dieselfde potte en panne, ploeë en alle metaalvoorwerpe in smeltoonde in agterplase gesmelt en aan die staat oorhandig moes word om wapens en ander staalprodukte mee te vervaardig. Dit het in baie gevalle letterlik beteken lepels moes gesmelt word om lepels mee te maak. Onthou, dit was alles moontlik deurdat alle grond aan die staat behoort het wat dekrete na willekeur kon uitvaardig. Kleinboere het nie meer aandag aan gesaaides gegee nie, want hulle moes bome afkap om die oonde aan die gang te hou.

Wat gevolg het, was een van die grootste hongersnode wat die wêreld nog beleef het. Letterlik miljoene Chinese het van gebrek aan kos gesterf.

Die protes en opstand onder die boere het egter later al hoe groter geword. Om dit onder bedwang te hou, het die kommunisteregering ’n wet gepromulgeer in gevolge waarvan betogers sonder verhoor na sogenaamde heropvoedingskampe gestuur kon word. Die polisie moes net besluit iemand versteur die openbare orde om hom dan jare lank uit die samelewing te verban. Ek het dit selfs gevind toe ek China in 2000 besoek het en gehoor het hoe grond sonder vergoeding gevat is om vir die Olimpiese Spele van 2008 voor te berei.

ʼn Ander fenomeen het egter ook kop uitgesteek: eiendomsontwikkelaars het staatsamptenare omgekoop om grond goedkoop te kry om dan woonstelblokke op te rig en ten duurste aan die publiek te verkoop.

Skielik het die koms van die internet en China se miljoene der miljoene “netizens” (daar is deesdae na beraming meer as 700 miljoen van hulle) het hul regering se doen en late begin kritiseer. Die protes teen die opsluit van mense wat “die openbare orde” versteur, het momentum gekry nadat ’n vrou wat betoog het omdat die polisie nie al die verkragters van haar dogter aangekla het nie, terstond na so ’n kamp gestuur is. Miljoene Chinese het gedreig met ’n burgerlike opstand, iets wat die Chinese regering laat gatomswaai het. Deesdae word staatsamptenare en politici wat hulle aan korrupsie skuldig maak, sommer tereggestel. Lede van die party word reeds geskors voordat hulle in die hof verskyn het, newwermaaind of hulle skuldig bevind is al dan nie. (Dis iets wat die ANC gerus kan oorweeg.)

En ja, nou groei China teen rasse skrede. Die grond behoort steeds aan die staat, maar alle verbeterings daarop is aan ’n huurpag van 99 jaar onderworpe. Van sy grootste maatskappye soos Tencent en Ali Baba is in private besit of het ’n groot private aandeelhouding. China noem dit “sosialisme met Chinese karaktertrekke”. En dit werk.

Wat kan die EFF, die ANC en Suid-Afrika hieruit leer? Indien almal wat die sosiale orde versteur, in tronke “heropgevoed” sou word, was die hele EFF lankal weggesluit. Korruptes soos Jacob Zuma en Ace Mageshule sou al tereggestel gewees het, en baie ANC-lede sou nie op die verkiesingslys gewees het nie.

Vir Suid-Afrika: nasionaliseer alle grond en maak gereed vir die moeder van alle korrupsies. Vergeet van Transnet, SAA of Eskom of Sanral – omkopery en afpersing sal groteske afmetings aanneem net soos in China voor dié land tot sy sinne gekom het.

En vergeet dan maar van enige beleggings uit die buiteland. Dit sal katastrofies wees.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Tienie Fourie

Tienie Fourie is ʼn oud-joernalis wat Suid-Afrika ook as diplomaat in Londen, New York en Wene verteenwoordig het. Hy het ook in Zimbabwe en China gewerk.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

marco polo ·

Dankie Tienie, insiggewende artikel. Deesdae het die gemiddelde Chinees in ‘n zombie verander wat heeltyd na sy (5G) foon staar. Niemand bevraagteken enige gek besluit of reel nie, solank hulle kan geld maak en aangaan met hul lewens. Die woonstelblokke word steeds teen fenomenale spoed gebou, maar die staat bepaal die prys, wat elke jaar hoer en hoer word om ‘n valse opgeblase syfer vir die BBP te gee. Ek reis gereeld rond in China en is elke keer verstom oor die duisende woonstelle wat leeg staan, eenvoudig omdat dit te duur is vir die gemiddelde persoon om een te koop. Dan word mense gebreinspoel met die idee dat jy nie kan trou as jy nie ‘n woonstel het nie. met die gevolg dat ouers hulle swaarverdiende spaargeld alles in ‘n woonstel stort sodat hulle seun ‘n vrou kan kry. Dan moet hulle maar saam met die paartjie intrek en drie geslagte in ‘n woonstel is eerder die reel as die uitsondering. Wat die ANC regering wel van China kan leer is dat jy nerens gaan kom sonder behoorlike opvoeding waarvoor jy hard moet werk en die kompetisie straf is, en harde werk daarna nie. En geen vakbonde nie, as jy nie tevrede is met jou werk nie, kry ‘n ander.

Wildeboer ·

So ‘n paar jaar gelede was daar ‘n Vice program op HBO waar hulle verskeie nuwe stede besoek het wat heeltemal leeg staan, want die Chinese het nie daarheen gestroom soos verwag nie. Leë woonstelle, skole, hospitale, en winkels. Nogal spookagtig, maar dit is seker die gevolg van burokrate in kantore.

Stephan de S ·

Dankie vir die sinvolle inligtende artikel. n Mens sou nog kon bysê dat die chinese se groeiende welvaart veel te danke het aan die gratis nabootsing van duur tegnologie wat deur ander lande teen groot koste ontwikkel is en die hongerlone en swak werksomstandighede wat hul produksiekoste verlaag. Dink bv aan die geweldige streng EU-vereistes waaraan ons boere moet voldoen om hul produkte in Europa te bemark.

marco polo ·

Stephan, dit is waar dat salarisse in China laag is, maar lewenskoste is ook baie laag en met selfs ‘n klein salaris kan ‘n arm persoon met gemak oorleef. Rys kos R4 per kg en as jy siek is, gaan jy na die verbasend goed toegeruste hospitaal en betaal R25 om die dokter te sien. Produksiekoste is ook nie meer so goedkoop nie en baie fabrieke word nou geskuif na Bangladesh en Kambodja. Meeste groot handelsmerke het fabrieke in China en jou Nikon kamera, Bosch parte in jou voertuig en vele meer word in China gemaak, om nie eens te praat van huishoudelike produkte nie. Die mense WIL werk, want hulle weet dit hang van jouself af, nie die staat nie. Dis die verskil.

Stephan de S ·

Marco Polo baie dankie vir jou uitvoerige response. Dit is sulke gesprekke wat hd medium so sinvol maak. Ek het altyd respek vir jou (MP) se bydraes….dis altyd vol deernis……jy leer ons om met respek te reageer.

Kerrie Vlamskiet Briekstreep ·

.
.
As ek President word dan kry elke persoon in die land n Biljoen Rand…dan kan ons almal politikusse word…dan is niemand meer arm nie….en niemand hoef te werk nie….dan kan elkeen met solar hul eie krag verskaf…en hul eie kos groei…en eie water uit n put pomp…en elkeen hul eie riool verwerk…n lekker rëenboog nasie…
.
.

In die land van die blindes ·

Goeie artikel. Soveel keer word kommunistiese lande soos China as die nuwe Eutopias voorgehou en gerieflikheidshalwe word vergeet van die onmenslikheid en skending van regte wat daar plaasgevind het. In SA word die reg om geweldadig te geprotesteer toegelaat, (deels vanweë swak ingryping van SAP en vrees vir straf by die stembus) met miljoene se skade as nagevolge. In kommunistiese lande word so iets nie geduld nie. Die indoktrinasie van die staat en die ystergreep waarmee hulle opstand platvee hou miljoene afhanklik en onderdruk.
Helaas, beskik die gemiddelde EFF ondersteuner nie oor hierdie kennis van Kommunisme en sy geskiedenis nie, en sluk die opdrifsels uit die monde van gewetenlose politici wat die duiwel self sal besing as dit sou help om hulle magsbeheptheid te bevredig.
Onkunde en oningeligte stemvee is SA se ondergang.

Jerry ·

Die EFF gaan nie kans kry om SA ten gronde te bestuur nie. Die ANC het dit reeds met staatskaping vermag, want staatskaping gaan voort, dit kan nie gestop word nie. Kaders word bloot met kaders vervang wie n minder radikale mombakkies ophet, ten einde investering aan te moedig en beleggers en kiesers te mislei. Om SA sover te kry om van Zupta se staatskaping te herstel gaan meer as dubbeld soveel kos en dan staan die nuwe kaders reeds reg om dit ook op te slurp! Die EFF sal vir sy straf nie eers aan bewind kom wanneer daar nie meer witmense in SA bly nie en ook nie deur n burgeroorlog nie. Die ANC sal bloot weier om politieke mag af te staan. Die ANC kan ter enige tyd weer sy gematigde mombakkies met n meer radikale mombakkies vervang, self meer radikaal as wat die EFF van kan droom om te wees! Die EFF sal dus geduldig moet wag totdat die ANC onder Nomvula Mokonyane, SA op n skinkbord sal weggee omrede SA teen daardie tyd een groot lee mynhoop sal wees met die riviere en ondergrondse waterbronne wat so besoedel sal wees dat geen mens of dier dit sal kan drink nie en selfs plante, nie sal groei nie! Enige Suid Afrikaner wat homself n ander SA kan voorstel na alles wat gebeur het vanaf 1994 en van wat tans gebeur en na die verkiesing gaan gebeur, is n optimistiese onrealistiese wensdenker van formaat!

Dries du Toit ·

Jis ou Jerrie ek sou graag met jou verskil maar alles dui daarop dat jy moontlik reg kan wees. Ek bif maar net dat God sal ingryp voordat dit gebeur

Wally ·

In Prof. Frank Dikötter se boek “Mao’s Great Famine” word die tragiese gebeure waarna Tienie Fourie verwys, in besonder uitgestip. Na raming het 45 miljoen mense gesterf; daar word ook bespiegel dat dit soveel as 55 miljoen kan wees. Daar is selfs gevalle van kannibalisme opgeteken. Maar sulke lesse uit die (onlangse) geskiedenis sal nooit inslag vind by die jillende voorstanders van nasionalisering en staatsbesit nie.

Therese van Schalkwyk ·

Wat ‘n interessante artikel oor hoe dinge gebeur het in China!
Singapore is nog ‘n bewys dat sommige nasies floreer met ‘n ‘wyse’ diktator eerder as ‘n demokrasie.

Die feit dat China nou die tweede grootste ekonomie in die wêreld is en besig is om die VSA verby te steek, is, afhangend van uit watter hoek ‘n mens daarna kyk, te danke of te wyte aan die swak handelsverdrae wat Donald Trump se voorgangers gesluit het.
China het nou al vir dekades so te sê carte blanche op handelsgebied, en die “Made in China”-handelsmerk is so bekend dat president Trump nou as die aggressor in die “handelsoorlog” uitgemaak word. Wil jy nou meer …

Frans C ·

Die EFF is ‘n spruit van die ANC omdat die na hul mening nie vinnig genoeg op die pad van grondonteiening sonder vergoeding,vorder nie.Dit is egter ook ‘n realiteit dat die EFF al hoe gewilder selfs onder studente raak agv van bv ‘fees must fall’ ens.

Dit is onrusbarend dat volgens jongste opnames die party se steun mag styg tot 12%
wat die parliament in nog ‘n groter sirkus kan verander.

IK ·

Insiggewende artikel Tienie asook opbouende kommentaar gelewer deur lesers. My bewoording in my kommentaar sal ek versigtig moet kies; Ons het in SA merendeels te doene met ‘n ‘oningeligte’ (lees tussen die lyne) bevolking. Hierdie kieserskorps is reeds so beïnvloed deur onrealistiese toekomsverwagtinge dat daar nie meer onderskeid bestaan tussen drome en werklikhede.
Die vermoë om te besef bestaan net nie en word by die stembus misbruik deur ‘n handjievol deur toekomsverwagtinge te skep van ontvang sonder enige produksie (werk) wat ongelukkig eie is aan Afrika.
Daar is by die oes van lemoene by ‘n bekende sitrusplaas aan die in bevel gevra wanneer gaan hulle die lemoene pluk wat reeds gereed was vir die mark . . . Die antwoord . . . ? “Ja, ons weet dit moet gepluk word MAAR wie gaan ons betaal om dit te doen . . . ?” Tragies maar waar!!

Jandre ·

Ten gronde gaan is bykans die enigste oplossing. Ons is te ver nou om nog enigiets te red of reg te maak. Die land moet heeltemal val, burgeroorlog uitbreek en die idiologie van kommunisme moet tot a volledige val kom. Jammer genoeg, is geweld nou eenmaal die enigste oplossing en middel wat gerespekteer word deur hierdie booswigte en hull idiologiee. Ons sal bou op die stof, puin en beendere van die voormalige .

Boerboel ·

Hi Frans C, stem saam , die EFF groei baie vinning, as daar Koalisie gevorm moet word met die ANC sien ek rooi ligte flikker. Kom ons hoop dit gebeur nie. Ek glo nie die EFF sal die verkiesing op sy eie kan wen nie, maar kan baie sterk wees in sekere streke soos Limpopo en Noordwes waar daar baie stemme getrek kan word.

Stephan de S ·

Marco Polo dankie vir jou inligting. Ek ontvang dit.
Sou daar meer ongereguleerde arbeid wees as bv in SA?

marco polo ·

Stephan, hier is geen gereguleerde arbeid nie, wel regulering van beweging. Dis maklik om werk te vind, maar jy word geregistreer in die stad waar jy gebore is of waar jou ouers eiendom besit. Dit gee jou die reg om daar skool toe te gaan of mediese versorging te kry. Maar al die werk is in die stede en baie plattelanders migreer na die stede en verloor dan hierdie reg. Die gevolg is dat in die armer gebiede, kinders by oupa en ouma agterbly sodat hulle kan skoolgaan, terwyl ma en pa werk. Hier is wel ook stakings, maar dit word nie verkondig nie en die rede is gewoonlik as mense vir twee of drie maande nie n salaris ontvang het nie. Elkeen is op homself en sy verhoudings met ander aangewese om geld te verdien, hetsy deur n klein besigheidjie of om vir iemand anders te werk. Staatsamptenare is uitverkorenes wat streng eksamens moet slaag en aan die Kommunistiesw Party moet behoort, wat eintlik n baie klein ledetal het en waarvan lidmaatskap beperk word. Jy kan nie net besluit jy wil by die party aansluit nie, hulle kies vir jou. Ek het nog n jaar oor in China, ek dink daarna moet ek iewers gaan sit en n paar artikels skryf oor my wedervaringe. Dis n interessante land en baie veilig om hier te woon, maar daar is geweldige kultuuruitdagings wat mens elke dag moet navigeer.

Chrisi ·

Gaan na die wereld forum webblad en soek vir Sjina. Julle sal agterkom, hoe ver hulle al is om hulle Imperialisme te beoefen. Hulle burgers skop lekker nes in Afrika. Enige projekte deur hulle baat net die moederland. Die sg. infrastruktuur wat gebou word met lenings aan lande is tot grootste voordeel van die moederland om vervoer vir uitvoere te vergemaklik. Kyk na die rekening op Twitter van die betrokke Sjina bankwat lenings an Eskom toegestaan het. Eskom moet hulle eerste paaiment in Junie 2019 doen… anders neem die bank dit ten volle oor . Op die Twitter rekening kan die modus operandi van die Sjinese ook gesien word. Gaan soek vir videos wat gaan oor die voetspoor van Sjina in Afrika. Sjina stel belang in Sjina. Ek wonder of die terugneem van grond nie daaroor gaan om ons skuld te gelg met hulle nie. SA kan hulle nie betaal nie. Die stamhoofde is in die proses om meer regte te kry en mag meer outoriteit kry om mineraal konsessies toe te staan sonder die toestemming van die bevolking betrokke. Sit een en een bymekaar.

Anoniem ·

Die Chinese besef ook dat as hy nie vandag werk nie, eet hy nie vannaand nie en daar staan etlike ander tou om sy werk oor te neem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.