Die einde van die ‘ewige koalisie’ in Oostenryk

wene-oostenryk-belvedere-kasteel

Die Belvedere-kasteel in Wene, Oostenryk. Foto: Pixabay.com

In Oostenryk het die “ewige koalisie” tussen die sentrum-linkse Sosiaal-demokrate (SPÖ) en die konserwatiewe Volksparty (ÖVP) uitmekaargeval en is ʼn nuwe verkiesing vir 15 Oktober vanjaar uitgeroep. Die rede vir die opbreek van die koalisieregering is wedersydse wantroue, botsings en geïrriteerdheid tussen die leierskorps van die twee partye. Die laaste strooi was die bedanking van die ÖVP-leier en visekanselier, Reinhold Mitterlehner, uit hul poste. Die huidige bondskanselier, Christian Kern van die SPÖ, sal nou tot Oktober met wisselende steun moet regeer.

Dit lyk op die oog af vreemd dat die twee partye, wat Oostenryk vir die langste tyd sedert die Tweede Wêreldoorlog regeer het en eintlik al ineen gegroei het, nou niks meer met mekaar te doen wil hê nie. Die koalisie het aan die een kant vir stabiliteit en voorspelbaarheid gesorg, maar ook vir traagheid, verveligheid en ʼn mate van korrupsie. Al twee partye se steun het geleidelik agteruitgegaan en met die laaste verkiesing in 2013 kon hulle saam skaars 50% van die stemme kry.

ʼn Besonder bitter pil was die presidentsverkiesing in 2016, waar nóg die ÖVP nóg die SPÖ kon deurdring na die uitklopronde toe. Die burgers moes kies tussen die kandidaat van die linkse Groenes (Alexander van der Bellen) en dié van die regse FPÖ (Norbert Hofer). In die koalisieregering het elke party probeer om ten koste van die ander een sy profiel en mediablootstelling te verhoog, wat tot irritasie en uiteindelik die verbreking van die koalisie gelei het.

Wat ook ʼn rol speel, is die ambisie van die ÖVP se minister van buitelandse sake, die jong en charismatiese Sebastian Kurz (30), wat graag bondskanselier wil word. Hy is ná die breuk van die koalisie tot partyleier en kanselierskandidaat gekies en het meer magte gekry as enige leier voor hom. Trouens, hy is eintlik deur die partyleierskap gesmeek om hom beskikbaar te stel en het verreikende magte vir die aanstelling van kandidate as voorwaarde gestel, iets wat teenstrydig met Oostenryk se sterk federale partystrukture is. Selfs die party se naam vir die verkiesing is verander na “Lys Sebastian Kurz – die nuwe Volksparty”.

Kurz kom nie net dinamies en “onverbruik” oor nie, hy neem ook sterk standpunt in met die vlugtelingvraagstuk. Hy was een van die dryfkragte om die Balkanroete te sluit en om vlugtelingstrome soos in 2015 te keer. Hy en die ÖVP se minister van binnelandse sake, Wolfgang Sobotka, staan ook sterk vir die beheer van Oostenryk se grense. Kurz is ook dikwels in konfrontasie met die Turkse leier, Recep Erdogan.

Onlangs het die koalisie, veral onder druk van die ÖVP, streng wetgewing oor die integrasie van vlugtelinge deur die parlement afgekondig. Die wet bevat ʼn hele reeks maatreëls wat integrasie van vreemdelinge wil afdwing. Een daarvan is dat dit onwettig is om die burka, die Islamitiese heelliggaamkostuum, te dra. Ook die gesigsluier word verbied. Verder word ook die uitdeel van die heilige boek van die Moslems, die Koran, verbied. Die strawwe is hewig en nie net simboliese gebare nie. Dit kan tot 150 euro (R2 000) beloop.

Immigrante word ook verplig om ʼn jaar lank integrasiekursusse waar hulle Duits en die waardes van die Weste en van Oostenryk leer, by te woon. Die verpligtinge geld vir goedgekeurde vlugtelinge en immigrante. Mense wie se asielaansoeke goedgekeur is, moet ook gemeenskapsdiens doen om hulle voor te berei vir werk. Oostenryk het ook ʼn beperking geplaas op die aantal vlugtelinge wat die land per jaar kan binnekom om aansoek te doen vir asiel. Die streng wetgewing het hewige debat ontketen. Die Groenparty was teen die wet gekant, omdat hulle voorstanders van die multi-kulturele samelewing is en die maatreëls volgens hulle neerkom op diskriminasie teen Moslems. Die regsgesinde FPӦ het ook teen die wet gestem omdat dit vir hulle nie ver genoeg gaan nie.

Die komende verkiesing word nou ʼn drieperderesies tussen die ÖVP, SPÖ en FPÖ. Kurz hoop om aan die regterkant steun van die FPÖ af te rokkel deur homself as die bewaker van Oostenryk se grense en identiteit daar te stel. Die FPÖ met sy eweneens dinamiese en charismatiese leier Heinz-Christian Strache vaar egter goed in die peilings en sien die ÖVP as ʼn “one man show” wat ten spyte van Kurz se harde retoriek verantwoordelik is vir die land se misplaaste politiek van die afgelope dekades. Die twee partye kan egter ná die verkiesing op mekaar aangewese wees.

Die FPÖ is lank, soos regse partye oral in Europa, soos ʼn muishond behandel, maar aangesien die ewige koalisie nou iets van die verlede is, is dit eintlik onvermydelik dat die FPÖ deel van ʼn koalisieregering word. Die FPÖ is polities nader aan die ÖVP, maar kan in die omstandighede ook saam met die SPÖ regeer. Daar was al ʼn ÖVP-FPÖ-koalisie van 1999 tot 2002, maar dit het die FPÖ baie steun gekos en hulle vaar tot dusver die beste as opposisieparty.

Dit is ook onwaarskynlik dat Kurz of Strache, al twee alfa-mannetjies met groot ambisie, vir die ander een plek sal maak as kanselier. Al wat nou gesê kan word, is dat die verkiesing in Oktober interessant en moontlik rigtinggewend sal wees.

Oostenryk is wel ʼn klein en internasionaal eerder onbelangrike land, maar sy politieke stelsel en partye toon heelwat ooreenstemming met sy groot buurland Duitsland. SPÖ, ÖVP en Groenes het susterpartye in die Duitse SPD, CDU en Groenes. Net die FPÖ as nasionalistiese party wat reeds goed gevestig is en wye en stabiele steun geniet, is iets wat Duitsland, weens sy oorlogskuld-sindroom, nie of nog nie het nie. Die Alternative für Deutschland (AFD) het nog ʼn lang pad om te gaan as hulle soos die FPÖ wil word wat steun en aanvaarding betref. Ook in Duitsland regeer nou al ʼn geruime tyd ʼn groot koalisie tussen CDU en SPD – en ook dit kan ná die volgende verkiesing in September iets van die verlede wees.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Nico K ·

Ek stem saam dat hulle die reg het om hul immigrante te keur en beheer. Maar om anti-Moslem wetgewing te aanvaar plaas hul nou weer terug na die godsdienstige vervolgings waarvoor Europa se geskiedenis bekend is. En dit is nie asof Europa die Christendom probeer beskerm nie. Daar is min Christene in Europa oor. Europa het verander van geloofsvryheid na anti-geloof. In Frankryk word kinders by skole ook verbied om die Rooms Katolieke kruis om hul nekke te dra. Ek sien Oostenryk verbied nou ook die Moslems vrouens om met hul heelligaam swempakke te swem. Maar dit is heeltemal toelaatbaar in Europa om kaal te swem. Nou moet julle dit vir my probeer regverdig!

jaco ·

onder die foto word verwys na die Belvedere-Kasteel in Vienna. Vienna is die Engelse naam. Op Afrikaans is dit Wene en op Duits is die Wien. Kan daar meer trots vir Afrikaans wees asb? Ek gee toe nie alle name kan na Afrikaans vertaal word nie. Wat maak mens bv. met New York of Birmingham, maar as daar ‘n mooi Afrikaanse vertaling is, kan dit mos maar gebruik word.

jaco ·

waarom wil die moslems so graag in ander lande gaan bly? Veral lande waar dit wat hulle geloof “sonde” noem en selfs met die dood straf, heeltemal aanvaarbaar is?
In Oosternryk is die eet van varkvleis, homoseksualiteit, gay huwelike, seks buite die huwelik en ‘n hele rits goed wat in Islam taboe is, heeltemal wettig en aanvaarbaar. As ek n moslem was sou ek NOOIT in so ‘n “sondige” land gaan bly het. Na Al Kaida die World Trade Centre in New York aangeval het, het hulle ook as rede daarvoor gesê dis omdat daar so baie sonde daar gedoen word deur Christene en Jode.
Los dan die lande met die baie sogenaamde “sondes” uit. Immigrasie gaan ‘n eeu of meer neem om moslem-meerderhede in westerse lande te kry. sendingwerk om die boodskap van islam te versprei, gaan ook nie werk nie. ek dink nie vrydenkende westerlinge sal val vir n godsdiens met so baie reels nie. die christelike geloof met baie minder reels is nie eens meer aktief in Europa nie. En bomaanvalle om die westerse “sondaars” te straf, gaan hulle ook nie oortuig om moslems te word nie.
Dis vreemd dat westerse regerings weier om die bedekte agenda van islam raak te sien. eks n leek en ek bly nie eens in Europa nie en ek sien dit raak.

John ·

Daar is ‘vreemdsame’ maniere om ‘n oorlog te wen. SA is ‘n goeie voorbeeld. Die Moslems gaan gouer as gou beheer oor Europa he. En die ideologie vereis die vernietiging van Jood en Christen en wit velle word daarmee vereenselwig. Om jouself as ‘n ongelowige of ateis voor te doen gaan nie help nie. Ons verstaan dikwels nie eers hoe ons naaste-naaste se koppe werk nie en hierdie mense se hele lewe draai om ‘n geloofsoortuiging waarvan ons niks begryp nie. En daarmee saam hulle pas nooit in of aan nie. Die EU se dreigende splitsing gaan oor hierdie dilemma wat antie Angela nou eers besef en daarom wil sy die probleempie iemand anders s’n maak.

Pietsepan ·

Die lesers van hierdie meningsvormer se berig moet die boek van Brigitte Gabriel lees met die titel “They must be stopped” lees om te sien watter euwel Islam vir die wêreld inhou. Dan sal u besef hoeveel gevaar dit inhou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.