Die einde van die gedeelde visie oor die 1994-skikking

flip-buys-2017-11

Flip Buys, die voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: René Roux.

Dit blyk uit verskeie gebeure in 2017 dat die gedeelde visie oor die betekenis en vertolking van die historiese 1994-skikking soos genotuleer in die Grondwet, nou vinnig tot ʼn einde kom. Die onderliggende rede is die botsende sienings oor wat die grondwetlike bewoording werklik beteken.

Die eertydse NP-regering het die kern van die skikking as die verruiling van meerderheidsregering vir minderheidsbeskerming gesien. Vir hulle was die Grondwet ʼn onderhandelde ooreenkoms om die konflik in die land op te los, en die eindpunt van ʼn proses wat ʼn nuwe demokrasie gevestig het waarin almal se regte gewaarborg is. Die pilare hiervan was die regstaat en onafhanklike regbank, die verskansing van die markekonomie en eiendomsreg, ruimte vir Afrikaans en kulturele vryheid, en die Handves van Menseregte wat almal sou beskerm. Afrikaners wat bekommerd was dat hulle grondliggende belange nie doeltreffend beskerm was nie, is gerusgestel dat dit in die omstandighede ʼn wonderwerkskikking is, met die beste Grondwet in die wêreld as uitkoms. As redes hiervoor is aangevoer dat Afrikaans een van die amptelike tale is, dat moedertaalonderrig beskerm is en dat daar selfs vir enkelmedium opvoedkundige instellings voorsiening is, dat grondwetlike instellings geskep is om taal- en kultuurgemeenskappe te beskerm, dat gelykheid in die werksplek gewaarborg is, en dat daar selfs vir selfbeskikking ruimte geskep is.

Onderhandelde rewolusie

Daarteenoor het die ANC die grondwetlike skikking eerder as ʼn onderhandelde rewolusie gesien – ʼn belangrike beginpunt eerder as die eindpunt van die omwenteling. President [Nelson] Mandela het betekenisvol gesê dat daar nog nie vryheid is nie, maar dat die vryheid verkry is om vry te word. Waar die NP die skikking as die einde van die politieke omwenteling gesien het, het die ANC dit as die begin van die omwenteling gesien. Vir die ANC was die kern van die ooreenkoms dat hulle die politieke mag bekom het, en dit nou gebruik moet word om die ongelykhede in die samelewing gelyk te maak. Hulle moes weens die betreklike magsewewig tydens die Kodesa-onderhandelinge toegewings maak om die mag te kry, en wou nou daardie mag gebruik om hulle doelwit van gelykmaking te bewerkstellig.

Radikale transformasie

Namate die ANC sy mag landswyd gevestig het, het hulle hierdie mag gebruik om hul eie vertolking van die Grondwet in werking te stel. Die kern van hierdie grondwetlike beskouing is reeds in 2009 deur die voormalige adjunkhoofregter [Dikgang] Moseneke verwoord, en in 2017 opnuut deur hoofregter [Mogoeng] Mogoeng beklemtoon. Dit is dat die Grondwet vereis dat die ongelykhede daadkragtig aangespreek word deur die radikale transformering van die totale samelewing. Hierdie siening van omvattende radikale transformasie as kern van die grondwetlike opdrag, is die basis van die wye ideologiese ooreenstemming van die land se wetgewende, uitvoerende én regterlike gesag. Apartheid word as die oorsaak van alle ongelykhede gesien, en die verdoemende verlede is volgens die grondwetlike hof selfs genoegsame regverdiging om Afrikaners se grondwetlike regte aan te tas.

Hierdie gedeelde siening van omvattende radikale transformasie vind uitdrukking in regeringsbeleid, hofuitsprake en die omskepping van die hele samelewing. Dit kan gesien word in beleidsrigtings soos onteiening sonder vergoeding, radikale ekonomiese transformasie, hofuitsprake wat Afrikaans by openbare universiteite afskaf en ouerbeheerliggame se magte oor skole afvat, die instelling van ʼn radikale sosialistiese welsynstelsel, radikale rassewetgewing in die werksplek en sakesektor, en die uitbreiding van staatsmag oor die hele samelewing. In kort, radikale transformasie kom neer op die vestiging van die ANC se oorspronklike rewolusie, net met wette in plaas van wapens.

Die politieke burgeroorlog in die ANC gaan nie oor verskille oor radikale transformasie nie. Dis ‘n stryd tussen korruptes wat hulself in die proses wil verryk, en diegene wat glo dat die korrupte staatskapers radikale transformasie ondergeskik aan hulle eie belange stel.

Selfbestuur

Ons land staan weer by ʼn kloof en ʼn kruispad. Hierdie keer word grondwetlike ruimtes deur die regerende ideologie van radikale transformasie verstop. Vir Afrikaners is dit ʼn verbreking van die 1994-ooreenkoms, vir die regerende magselite is dit die inwerkingstelling van daardie ooreenkoms. Waar die veranderinge vir ons die Grondwet verbreek en gevoel word dat die ANC en die howe die 1994-ooreenkoms moet respekteer, voel hulle dat ons aan apartheid en bevoorregting wil vasklou. Hierdie botsende sienings word bemoeilik deurdat die omstandighede nie nou bestaan vir ʼn nuwe gesprek en die bereiking van nuwe verstandhoudings oor die toekoms van die grondwetlike bepalings nie. Afrikaners sal gevolglik nuut en skeppend oor oplossings moet dink. Vir ons is die enigste uitweg uit hierdie doodloopstraat van radikale transformasie, om uitgebreide kulturele selfbestuur met sterk gemeenskapsinstellings te vestig.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

59 Kommentare

Loeis ·

Puik assessering van omstandighede, Flip. Maar jou laaste sin moet lees: “Vir ons is die enigste uitweg uit hierdie doodloopstraat van radikale transformasie, om selfbeskikking, in terme van grondwet, te bekom, en daardie selfbeskikking verder uit te brei”. Dit moet gebeur voordat die grondwet in daardie verband gewysig word. Ek hoop niemand is (weer) so naief om te dink dat die ANC dit nie sal wil doen nie.

JoeV ·

Korrek reg gestel Loeis! Dit het taamlik lank geneem vir baie mense om die motief van die ANC agter te kom.
Die ding is net waar sou ons gaan selfbeskik? Die infrastruktuur sal werk skep vir slegs ‘n wyle en dan nie meer nie.. dan moet ons al uitvoer dat dit bars!

Hendrik ·

Ek stem volkome saam met jou laaste sin. Stadig maar seker word die selfbeskikking al hoe meer aanvaarbaar. Gigaba het ons as belastingbetalers alreeds gewaarsku dat die 2018 begroting regtig styf gaan wees. As ons ekonomies faal gaan ons ook op alle terreine faal om ons kultuur en taal te behou. Dit is belangrik dat ons ekonomies oorleef en terwyl ons nog geld het ander planne soos die Solidariteits beweging Plan B implementeer. Dit is egter baie belangrik dat elke persoon realisties moet dink oor die huidige bedeling en eerder die geld wat gewoonlik na organisasies wat ons nie goedgesind is nie (soos DSTV), gebruik om meer toepaslik te gebruik om organisasies soos Afriforum, Akademia, Soltech, Bou Akademie (Orania) en Kleinfontein Besigheidspark te ondersteun .

Eish ·

Die einde van die gedeelde visie impliseer uiteraard
ook n pad van konfrontasie, synde dat die gemeenskaplikheid van die visie verwyder word uit die situasie. Die pad van kulturele selfbestuur gaan daarom besaai wees, myns insiens, met dorings, insoverre die uitlewing daarvan gaan bots met die verskraling van Afrikaanse Kaukasiese invloed op alle sfere van die samelewing deur die staatsmasjienerie en politieke beleid.
Verder gaan die konsentrasie van mense probleme oplewer insoverre boere, besighede en professionele beroepslui nie sal kan bydra tot kritieke massavorming nie.
Dit, egter, is n saak wat die moeite werd is om voor te stry. Ons sien dus met reikhalsende verlange daarna uit om spoedig hierdie nuwe tuiste n werklikheid te maak.

Rupert Ashford ·

Stem saam met Loeis. Maar dit gaan nogsteeds nie swaar genoeg nie. Te veel ouens sal nogsteeds hulle kanse vat en hoop wanneer die oomblik van waarheid aanbreek die doodsengel hulle sal los vir laaste. Besighede moet hulle hoofkantoor na plekke soos Orania en Kleinfontein skuif en nywerhede moet daar gevestig word in voorbereiding. Maar dit gaan nog te lekker…

Stella ·

Ek het Kleinfontein gekontak, geen antwoord terug nie. Is dit Afrikanersnobisme? “Net ons…”?

Frikkie Geld en huis ·

Ek is ‘n kontrakteur in die konstruksiebedryf en het navraag gedoen om my hele besigheid Orania toe te skuif. Eerste dag, baie beloftes, mooipraatjies ens. ens. Die volgende dag kom ek agter dat ek eintlik net ‘n salaris sal kry, en die besigheid (tans my eie) sal bestuur, namens die Oranie Raad of so iets. Hulle wil die geld maak en ek sal maar moet inval by die ander armlastiges wat daar bly.
Daar’s hopeloos te veel skelm wittes in SA om selfs een te vertrou. Beste opsie bly steeds om te emigreer.

Eish ·

Dankie vir die inligting Frikkie. Hul sal my ook nie sien nie. Die patriargale Broederbondstelsel het ons waar ons vandag is. Die groot O van dit n stap verder na Kommunisme.
Ek beskik maar waar ek is oor my deel en lot dankie.

CG ·

Flip. Jy gee die feite korrek weer. Jou gevolgtrekking – die laaste paragraaf, veral die laaste sin, is egter uiters teleurstellend. Al die feite deur jou veskaf dui op hoe die regering hom daarop toespits en binne die grondwet dit regkry, om ons kulturele selfbestuur en gemeenskapsintelling aan te val en te vernietig. Solidariteit kry dit eenvoudigvnie reg om te doen wat jy vra nie- om nuut en skeppend oor oplossings te dink nie: dit bly maar die selfde ou storie van “bou” op plekke en maniere waar ons op ons kwesbaarste is. Julle strategie is gebasseer op ons swakhede! Dit is soos om ‘n huis met groot geesdrif op ‘n rommelhoop te bou. Die enigste langtermyn oorlewingskans is politieke selfbeskikking in ons eie geografiese gebied. Lees asseblief weer jou eie stuk (sonder die laaste paragraaf). Kan jy tot enige ander gevolgtrekking as ek kom?

Jan ·

CG, ek kan dit nie beter as jy bewoord nie. Asseblief Flip, jy sien tog self dat die skrif aan die muur is. Die tyd vir drastiese optrede om uit hierdie bestel te kom, het lank gelede reeds aangebreek. Ons kan doodeenvoudig nie meer aarsel nie.

Flip Buys ·

Beste CG, as die uitvoering van Selfbeskikking maar so maklik as die teorie was. As daar ‘n Afrikaner ‘Skotland’ was wat deur ons bewoon en bewerk was, kon ons net gestem, beding, litigeer of selfs geveg het vir volle eksterne Selfbeskkking. Maar nou bly ons yl verspreid oor die land, en is daar rondom stede soos Pretoria met baie Afrikaners miljoene nie-Afrikaners, wat dit onhaalbaar maak. Selfbeskikking kan dus nie van ‘bo’ af gegee word nie, maar sal van ‘onder’ af opgebou moet word met sterk organisasies. Hoe groter dit word, hoe hoër die vlak van Selfbestuur, en hoe makliker kry dit volle erkenning- de facto óf de Jure. Dit sal nie help om vooraf vir selfbeskikking te vra, maar eerder na die tyd om erkenning. Selfbeskikking kan nie soos ‘n politieke hoofpynpil gebruik word sonder ‘n praktiese plan. Google me artikel oor ‘Vrystede’ as model vir groeiende selfstandigheid vir ‘n ‘padkaart’.

Basson ·

Baie goed!

Kan in een sin opgesom word – onderwerp en vernietig die wit (veral Afr) inwoner.

Jerry ·

Die slotsom van Flip is dat daar nuut en skeppend oor oplossings gedink moet word. Wel gedaan, want dit kom daarop neer dat julle n absolute totale verkeerde strategie gevolg het. Hoofrede daarvoor was menigmale geopper deur mense wat kommentaar lewer en meer prominente Afrikaners dat veral Afri-Forum geen tot min insig toon mbt die realiteite van n multi rasse demokrasie. Die skade wat dit aan die Afrikaner berokken het tov reputasie sal vir n paar jare nog lank gevoel word. Gedurende apartheid was ons gebrandmerk as die muishond van die wereld. Nou, na die manier waarop Afri-Forum te werk gegaan het word ons gebrandmerk as hardvogtige (gewetenlose) mense wat min omgee vir andere en met ons inisiatiewe probeer om apartheid terug te bring. Ons almal besef dat die Afrikaner word geteiken en daarom moet ons versigtig omgaan met inisiatiewe wat daardie risiko verhoog en versnel. Werklike nuut en skeppende oplossings moet n totale teenoorgestelde benadering teweeg bring as wat tans gevolg word om Afrikaner belange te beskerm. Indien nie, kan ek u waarborg sal dit nooit werk nie. Julle het ore maar julle wou nie hoor wat Afrikaners wat van julle verskil se nie. Begin om na ander se opinies te luister en ook te respekteer soos hulle nog die hele tyd julle inisiatiewe wat nie van die Afrikaner n teiken maak, respekteer en ondersteun. Julle kan sommer onmiddellik begin met inisiatiewe wat uitreik na ander rasse groepe ten einde die wanpersepsie wat AfriForum veroorsaak het reg te stel.

DewaldS ·

As jy dink om die ander rasse te probeer paai gaan ons help, maak jy ‘n baie groot fout. Jy glo seker nog steeds dat ‘n Ja-stem vrede, voorspoed en veiligheid sou bring? So- wat het verkeerd gegaan?

En hahaha – wie is die ‘prominente’ Afrikaners – Max du Preez? Bwahahahaha!

Therese van Schalkwyk ·

Jerry

Dit het dalk tyd geword dat jy AfriForum en Solidariteit onder jou regte naam kontak en gesels.
Maroelalesers oor die algemeen sal dit waardeer as hulle weet wié dieselfde onwaarhede tot vervelens toe hier kwytraak, want die “uitreik na ander rassegroepe” deur die Afrikaner na 1994 is tot so ‘n mate oordoen dat Afrikaans bv. nou terug in die kombuis is.
Wat presies sal dit verg om die teem-brigade tevrede te stel?

Eish ·

Née Jerry, nou het jy my heeltemal verloor.
Die is meerderheidsbeleid om Afrikaansprekende Kaukasiërs te reduseer tot invloedlose suurstofdiewe. Geen, hoegenaamd geen heuningkwas gaan die beleid verander nie. Bittermin van ons belasting word op ons spandeer tans. Enige Lehani styl uitreikaksies het hoegenaamd n invloed op die beleidsrigting van die meerderheid nie. Dié Burgerregte organisasies het menigmaal al oor kleur en taalgrense heen hulp verleen. Daardie argument van jou hou geen water nie. Nog nooit in die geskiedenis van die mensdom, kon enige land daarin slaag om integrasie suksesvol te bestuur nie. Dit gaan ook nie hier gebeur nie.
Birds of a feather, flock together.

Jan ·

Jerry, jy maak vae stellings. Verstrek asseblief praktiese voorbeelde van wat jy predik en hoe jy wil he die Afrikaner dit moet aanspreek.

Flip Buys ·

Jerry, ons volg Robert Putnum van Princeton se strategie van binding en brugbou, oftewel ‘bonding and bridging’. Ons bind Afrikaners saam deur hul regmatige belange te beskerm, en bou dan bruê na die breë gemeenskap deur samewerking op talle gebiede, bv dorpe se dienste verbeter, veiligheid, diskriminasie teen bruin werknemers van die staat, ens. So help ons Afrikaners, Afrikaanssprekendes en almal in Suid-Afrika. Wedersydse erkenning en respek. Ons beveg alle rassisme, en verdedig nie die onverdedigbare. Maar die feit is dat die Afrikaner die teiken is van onbillike regeringbeleid, en ons veg vir regverdigheid. Die ‘kommentators’ wat jy van praat beveg ons as die verdedigers van wetlike regte, ipv die aanvallers op daardie regte. Ons strategie is op die 90% hoofstroom Afrikaners baseer, en kan ons nie laat voorskryf deur die 2 uiterste randeiers van links of regs. Die ANC steur hul net aan jou as jy ‘n faktor is, nie as jy net paai en verraai nie.

[email protected] ·

Die les wat ons moet leer: MOET NOOIT WEER OP ENIGE GRONDWET STAAT MAAK NIE. Kom ons hoop en vertrou die Suid-Afrikaanse Nasional Democratic Society Animal Farm gaan spoedig verkrummel en dat nuwe geleenthede vir ons na vore tree. Maar wat ons ookal doen moet ter bevordering van reg en geregtigheid en naasteliefde wees: ons moet ons souttalente laat werk en ons ligte laat skyn in ‘n sondige wêreld. “Intussen moet ons kulturele selfbestuur met sterk gemeenskapinstellings vestig (dankie mnr Buys)” Kreatiewe denke, agiele strategië en werkdissipline lei tot selfaktualisering en lewensvreugde.

V ·

“… Sterk gemeenskapsinstellings te vestig…” My vraag is… Wanneer hierdie instellings na harde werk gemaak staan is, sal dit nie weer onder die dekmantel van transformasie geanekseer word nie? Heel moontlik, teen daardie tyd, sal dit die enigste organisasies wees, wat in wese nog staande sal wees. Sal die vingernael uittrekkende moeilike opsie: om selfbeskikking na te jaag, nie op die lang termyn meer vrugte afwerp nie?

Hendrik ·

Ek stem volkome saam met jou laaste sin. Stadig maar seker word die selfbeskikking al hoe meer aanvaarbaar. Gigaba het ons as belastingbetalers alreeds gewaarsku dat die 2018 begroting regtig styf gaan wees. As ons ekonomies faal gaan ons ook op alle terreine faal om ons kultuur en taal te behou. Dit is belangrik dat ons ekonomies oorleef en terwyl ons nog geld het ander planne soos die Solidariteits beweging Plan B implementeer. Dit is egter baie belangrik dat elke persoon realisties moet dink oor die huidige bedeling en eerder die geld wat gewoonlik na organisasies wat ons nie goedgesind is nie (soos DSTV), gebruik om meer toepaslik te gebruik om organisasies soos Afriforum, Akademia, Soltech, Bou Akademie (Orania) en Kleinfontein Besigheidspark te ondersteun .

Loeis ·

Sonder weklike politieke mag kan enige eie instellings eenvoudig net (weer) van ons weg geneem word, soos wat “V” hierbo uitwys. Daarom is selfbeskikking die enigste werkbare langtermyn oplossing. Bou sal ons moet bou, maar volgens ons eie reels.

Basson ·

Loeis – jy is reg ons is effe in ‘n hoek toegeverf want die uiters uitgeslape en geslepe ANC onderhandelaars het vir die naiewe kanarie en kie ore aangesit, en AL die vierkantjies is sorgvuldig afgemerk. (Ons situasie laat my baie dink aan die mense wie in Berlyn vasgekeer en omsingel was voor die lugbrug tot stand gekom het.)

Dinge begin nou vinnig sneeubal.

Bert ·

Vir my is hierdie die beste bestekopname nog.

Om vanuit ‘n regsoogpunt na die situasie te kyk: die ANC is in kontrakbreuk en ons as party daartoe kan of die skikking [kontrak / grondwet] probeer kanselleer of spesifieke nakoming daarvan eis, soos wat Afriforum tans probeer met vele hofsake. Kansellasie is sekerlik buite die kwessie want restitusie of herstel van die status quo sal nie kan plaasvind nie, tensy oorlog uitbreek. ‘n Nuwe ooreenkoms is sekerlik die beste antwoord en dit behoort grond vir ons as teiken te stel. Sonder dat ons geheel en al onttrek uit die ekonomie [wat ons nie kan doen nie], behoort ons die omstandighede te skep vir ‘n nuwe akkoord met ons regeerders vir ‘n vorm van selfregering wat die voorvereiste is vir ons langtermyn oorlewing.
Die ANC se doel is egter om ons te vertrap en om van hulle bona fides te verwag is naief. So wat nou? Dit gaan of ‘n katastrofale insident of totaal en al nuwe denke of ‘n inkeer van die ANCverg om ons enigsins tot ‘n nuwe skikking te bring. Intussen kan ons probeer om groter eenheid onder mekaar te vestig want saamstaan teen boelies werk nog altyd, toets die grondwet in die howe sodat gesag opgebou word waarmee mens ons saak oorsee kan neem vir addisionele druk op die ANC, intern moet ons veral alternatiewe media bronne opbou ten einde die hoofstroom elite propaganda teen te staan, veral teen die Afrikaanse linkse lamsakke wat so omrol oor veral Afrikaans.

Einherjaer ·

Met die spoed wat die druk op Afrikaans en spesifiek Afrikaners, trouens meeste wit mense, tans fel toeneem gaan ons in alle waarskynlikheid die punt bereik waar ons geen ander keuse het as om ons rug te draai op die ooreenkomste wat bereik is om die huidige politieke bestel daar te stel. Trouens daar kan geargumenteer word dat die gedrag van die ander partye tot die sogenaamde “onderhandelde rewolusie” neerkom op ‘n repudiasie van die substantiewe inhoud daarvan.

Hierdie stand van sake moet egter nie vrees inboesem in eie geledere nie, ons was per slot van sake as volk voorheen in soortgelyke posisies gewees. Die huidige stand van sake herinner mens sterk aan die situasie op die Oos Grens voor die aanvang van die Groot Trek, met ‘n vyandige regering wat nie die vermoë beskik of onwillig is om aanvalle op plase die hoof te bied, met ‘n volskaalse kulturele stryd wat ons mense se taal uit alledaagse gebruik, die skool, die hof en die kerk wil forseer.

Net soos toe gaan niemand ons bystaan nie, ons is op ons eie en moet ons eie uitkoms hieruit kry. Dit is ook goed so aangesien indien jy op jou eie staan is dit makliker om ander in die oë te staar, met die wete dat jou eie arbeid en vermoë jou rugsteun.

Einherjaer ·

Europa het hul vuiste gebal vir my voorvaders en verjaag weens hul geloof. Ons het ‘n hele kontinent skreeuend in die moderne era gedwing, asook ons grond met ons eie bloed of geld gekoop. Sedertdien het my mense hul ingegrawe hier – ek gaan nêrens heen nie, dit is tyd om ophou te hardloop.

Ons is bevoorreg om die gekose generasie te wees om ons mense weer uit die warboel te lei tot veiligheid en sekerheid. Mag ons die wysheid, ruggraat en insig hê om so te doen. Gerugsteun deur ons geloof, eiesoortige hardkoppigheid en vermoë om te innoveer sal ons die krisis waarin ons, ons self tans bevind tot die einde toe deursien.

Stella ·

Ek het Kleinfontein gekontak, geen antwoord terug nie. Is dit Afrikanersnobisme? “Net ons…”?

Barend ·

Ja en intussen finansier die Afrikaner se belasting bydrae die ANC se meesterplan – een van die hoofredes hoekom ons gesin onsself in Australië gevestig het so 2 jaar gelede

Hendrik ·

Barend kan jy vir ons asb ‘n steunbasis opbou in Australie. Daarmee kan ons fondse genereer en vir gekose Afrikaner groeipunte soos Kleinfontein , Orania en nuwe punte waar Besigheidsparke ontwikkel word. Stel jy belang?

Tom ·

Audtralië het zero belangstelling in SA, behalwe om die bokke en proteas te klop. Australie self is besig om in ‘n welsynstaat te ontaard waar alle eendjies netjies in die politiek korrekte ry moet stap of….

Theresa Papenfus ·

Verontrustend, maar eerlik.
Wat sou Frans Cronje-hulle en/of die FW de Klerk Stigting se kommentaar wees?

leon ·

Flip jou skrywe is tydig en presies. Komplimente aan die ingeligte en weldeurdagte kommentaar hierbo.

Die tyd is ryp!

My voorstel is die opstel en aanvaarding van ‘n Vryheidsmanifes of dergelike, wat as grondslag vir ons toekomsplanne kan dien.

As Afriforum/Afrisake lid het ek die grootste waardering vir die uitstekende werk van die leierskap van ons organisasie maar ons sal na ‘n meer demokratiese model met groter verantwoordbaarheid moet beweeg.

Tom ·

Grootste fokus van “nuwe denke” moet wees om Afrikaner geld uit die ANC beheerde samelewing te onttrek – op groot skaal, en dit aan te wend om Afrikaner instansies te bevorder. Mens kan nie jou vyand (kan ons dit uiteindelik erken?) subsidieer en dink hy gaan skielik liefde vir jou ontwikkel nie; tog is dit presies die onnoselheid wat ons mense toepas.

Barend ·

En wat keer die eenpartystaat om net weer hierdie Afrikaner instansies oor te neem en te vernietig? Word wakker en ruik die koffie, amper alles is in 20 jaar afgebreek, jy Afrikaner broer en suster, jy is nie welkom aan die Suidpunt van Afrika nie. Hou op om jou eie ondergang te finansier. Kry jou geld landuit en bou ‘n toekoms elders vir jou kinders en kleinkinders in ‘n land wat jou waardes deel.

Louis ·

Maar die laaste paragraaf, as opsie: probleem is dat die Afrikaanse kultuur as oorblyfsel van Apartheid gesien is… so as gemeenskapinstellins vanuit Afrikaners as die Afrikaansekultuur op die been gebring word (AfriForum word gesien as Apartheid neo-racist) dan gaan daardie gemeenskapinstellings noodwendig as rassisties afgemaak word. En as dit as sulks afgemaak word, waarom wil ons steeds vasklou aan die term kultuurgemeekspappe, kultuurinstellings? Die wette van die land maak voorsiening vir die terme swart, gekleurd, wit, terwyl die Grondwet na kultuur en taal as gemeenskappe verwys, maar die politici praat nooit van kultuurgemeenskappe nie, hul gebruik die terme wit en Afrikaan. Moontlik moet die Afrikaanse gemeenskap ophou om Grondwetlik polities korrek te wees om na Afrikaanse kultuurinstellings te verwys en eerder wetlik polities korrek raak en dieselfde terme gebruik as die wette en politici: dan is daar geen onsekerheid waaroor gepraat word nie.

Jan ·

Jerry, moenie vae stellings maak nie, verstrek asseblief voorbeelde van jou jy dit wat jy predik, prakties wil uitvoer.

John ·

Daar was nooit ‘n gedeelte visie nie. Net een groep wat soos skape alles geglo het wat die ander party beloof en alles wat kosbaar is vir hul volksgenote pasella op ‘n skinkbord oorhandig … Alles… en nou bak hulle mooi broodjies met hul eie mense. Daar is niks soos dom nie. Dit is onomkeerbaar en die eienaars daarvan moet uitbly uit landsake… Koebaai! Nie alle Afrikaners het na 1994 op hul koppe loop val nie. Van die ou ooms hoop op ‘n 2e jeug… Koebaai!

AJ ·

As ek hierdie kommentaar lees, wil dit meer lyk of julle elkeen wil spog met groter eg afrikaanse woorde en wil meer geletter klink as die volgende een, eerder as om net jul opinies te lig. Ek is n Afrikaner, maar n jong Afrikaner met my eie sterk besigheid, en ek praat beslis trots afrikaans, maar met die nuwe aanvaarde ‘slang’ tussen in. Ek sien ook nie fout daarmee nie want ‘slang’ en mengtaal is tog hoe Afrikaans oorspronklik ontstaan het.

Ek wil graag saam wees met die nuwe Afrikaner staat of selfbeskikking of selfbestuur, maar julle laat my vrees dat dit moontlik net weer n plek gaan wees waar sekeres wat langer gestudeer het of n groter Afrikaanse woprdeskat het en dan ook glo net hulle is in beheer en die leiers en besluitnemers van die instansie of staat, en so sluit die die plek vir besigheidsmanne wat nie gestudeer het nie uit en hulle word weer net werkers om in daardie staat te kan behoort.

As julle meer steen van jonger, en om eerlik te wees, die meerderheid van vandag se Afrikaners wil kry, gaan julle moet ophou om so polities en taals korrek te probeer wees, en glo jy is net ‘high and mighty’ as jy so veel grade agter jou naam het.

Verder, glo ek ook dat ons eie Afrikaner staat en area is ook die enigste langtermyn oplossing wat plek het vir Afrikaners in die toekoms internasionale spasie.

Pro-Afrikaans ·

Ek was oor die Kersseisoen in die Kaap, en dit was opmerklik dat jy by geen inkopiesentrum, wynplaas, aftree-ontwikkeling, leefstylontwikkeling, winkel, apteek, hospitaal ens enige Afrikaans meer sien nie. Alles is Engels. Absoluut oral! Dit is nie die ANC wat hieroor besluit het nie, maar die Afrikaners! Selfs die party wat hulself vir n onafhanklike Wes-Kaap beywer, doen dit in Engels! En nou dat Universiteit Stellenbosch ook volledig Engels is, lyk omtrent alles verlore. Ons eie privaatinstellings is nou van die allergrootste belang, maar onderhandel ook vir n geografiese gebied of streek waar ten minste ons taal veilig sal wees. Dit sal n opvolgskikking moet wees. En beskou dit as dringend asb.

Sam ·

Daar sal ‘n klippie losraak wat die magtige beeld van Satansoorheersing op die swak voete van ons tyd -vermenging van yster en klei – gaan tref en ons sal weer regeer … maar die klippie gaan ‘n klein en nederige een wees wat werklik sien en verstaan, wie se harte van voorgee en bedrog gesuiwer is en as instrument deur ‘n Hoër Hand aangewend sal word.

Doen so voort, AJ … moenie ophou bou en gli nie.

phillip ·

Daar staan n dooie perd teen die muur. Ramaposa het so pas opgeklim.2019 sal baie verstom staan oor wat God vir SA en all sy christene gedoen het. Ons is n sheep nation net soos Zimbabwe en ander aan die suide van afrika vir die laaste trek wat voorle voor onse koning Sal kom voor wie elke knie Sal buig. Mat.25. 31. 32 ens. Die biddag in Bloemfontein 22april 2017 het die deurbraak gekom. Ja daar sal eers n kort tydjie van Groot gevaar were….but GOD!

Nico ·

My stiefoupa is tydens die ABO deur mede Afrikaners (hanskakies)in die Vryheid Distrik aan die Engelse verraai en dit het amper sy lewe gekos. Hy het daarna ‘n Afrikaner met ‘n passie gehaat en nooit weer Afrikaans gepraat nie. Hy het altyd gesê “A bloody Dutchman will sell you down the river for a sixpence”. Hy was altyd reg, en dit geld tot vandag nog !! Ons is ons eie vyand, nie van vandag nie.

Mike ·

Absoluut een honderd en tagtig persent reg Nico die afrikaner is sy eie vyand nog al die jare.

Fanie ·

En jou punt oor die toekomsoplossings is…. dis tragies wat met jou Oupa gebeur het, maar dit gebeur in alle volke- ‘n mensding, nie ‘n ‘Afrikanerding’. Die ander bittereinders het nie ook oorgegee en Engels geword soos jou Oupa, hulle het ‘nuutbeginners’ geword en die land weer opgebou.

Jerry ·

Die realiteite in die Suid Afrika waarin ons leef op hierdie huidige tyd en stadium verg van die Afrikaner om na meer opsies te kyk as net selfbeskikking vir die jeug en hulle toekoms. Diegene wat die Afrikaner wil vernietig sit net en wag vir geleenthede wat dit sal regverdig en daarom gooi hulle so nou en dan n sensitiewe klip in die bos en wag vir Afriforum om te reageer soos met “Afrikaans must Fall”. Dit is soms beter om nie te reageer nie, veral wanneer dit n onverdedigbare kwessie is. Kry dit eers verdedigbaar en reageer dan. Selfbeskikking kan eers verwesenlik word nadat die Afrikaner die volgende formule toegepas het: bewerkstellig vrede + harmonie met alle Suid-Afrikaners=voorspoed. Indien ons dit nie eers in plek kry nie sal Afri-Forum se formule as volg lyk: Bewerkstellig selfbeskikking + uitsluiting van andere = teespoed. Die probleem is die manier waarop ons tot tans gereageer het, so asof as die skoen jou pas trek hom aan. Om Afrikaner belange te beskerm, moet hierdie belange verskans word binne n minderheidsgroepeforum. Afri-Forum is te prominent, aggresief en uitdagend tov die beskerming van Afrikaner belange en dit maak die belange n maklike teiken, veral die wat nie verdedigbaar is nie. Afrikaner belange is agv apartheid vir die mede Suid-Afrikaners n taboe en daarom is ons opreg bekommerd dat ons belange met meer omsigtigheid en insig hanteer moet word. Afri-Forum is tereg die waghond, so wie hou wag oor Afri-Forum, mense soos myself, die Afrikaner!

Oom Kosie ·

Dankie Flip. Afrikaners se nuwe wapens is geleerdheid en ondervinding. Ons gevegsterrein is nie meer eng beperk tot RSA nie. Ons is besig om dmv die mynbedryf die wêreld, Afrika en internasionaal te kolonialiseer. Ons is die regte elektrisiëns , passer en draaiers, diesel mekkies, ketelmakers ens. Akademia en Sol-Tech is
hoë gehalte na- skoolse opleidings fasiliteite.
Ek was 34 jaar in mynbedryf( finansiël) by die grootste mangaan chroom myne in die wêreld. Ons ouens werk 2 maande in Afrika ens en is dan 1 maand tuis. Verdien groot geld.

Jerry ·

My visie vir die Afrikaner is dat n forum soos Afri-Forum die Afrikaner verenig deur Afrikaner belange te dien in die selfbeskikkingsgemeenskap, die groter Suid-Afrikaanse gemeenskap en die buitelandse gemeenskap. Dit sal Afrikaners verenig en die lede getal n aansienlike hupstoot gee. Ons moet net ons denkwyse n bietjie vrye teuls gee dan raak enige iets haalbaar en moontlik. Die situasie waarin ons onsself bevind kan ons in ons guns swaai.

Gerad ·

Ek was ’n kind toe ek grootmense sien huil het oor die dood van die latere sondebok van apartheid – Verwoerd. Buiten ’n volksleier was hy ook mens, eggenoot en ouer. Dit was altyd vir my afgryslik dat hy so minagtend vermoor is.

My beste vriend en skoolmaat is direk na matriek oorlog toe. Vir hulle was dit onhanteerbaar toe hulle uiteindelik oorwinning smaak, met Luanda op die horison, die einde van die oorlog in sig – toe word hulle ontbied om terug te draai.

Na my studies het ek twee jaar diensplig gedoen. In my tweede jaar is ek na die HK in Pretoria. Onder ’n Kommandoor Gerhard gewerk, wat in beheer van al die geheime weermag projekte was. Enkele jare later sou dit aan die lig kom dat hy gedurende daardie tyd reeds ’n kommunistiese spioen was.

Toe daag die boek Volksverraad (deur hof verbied) anderdag  via WhatsApp by my op. Geskryf deur ’n voormalige lid van Nasionale Intelligensie en ’n regsgeleerde (soos John Vorster). En daar blaker hy in die boek uit wie die meesterbrein agter Verwoerd se dood was. ’n Afrikaanse regsgeleerde en  lid van Verwoerd se kabinet!

Die laaste dag wat ek in die kerk was, was toe die dominee per ongeluk na die konsistorie verwys het as die losie. Ek kon sweer ek het hom sien bloos! Hulle verteenwoordig die kultuur wat ons land en toekoms vernietig het.

Kom ons werk dringend saam aan uitgebreide sterk gemeenskap instelling terwyl ons gemeenskap kohesie bou.

Sam ·

Nou wonder ek hoeveel ja-stemmers weer dieselfde sal stem?

Nou wonder ek of hul dink ‘n grondwet hulle belange sal beskerm?

Nou wonder ek wat van volksgenote in ons land sal word wat nie immigreer, nie vermoor word of nie van honger op ‘n ashoop beland nie?

Nou wonder ek waarom hierdie volk se liefde geen grense ken nie?

Maar meer nog wonder ek waarom ons verkies om blindes te bly wat nie sien nie, dowes wat nie hoor nie …

Frans C ·

Solank ‘n mens in die geografiese gebied bly wat Suid Afrika genoom word, bly jy ‘n onderdaan
van die staat en onderworpe aan die wette wat ingestel word deur die regering van die dag.

Die oomblik toe die NP ingestem het tot ‘n eenheidstaat het die einde van selfbeskikking vir alle volke van Suid Afrika aangebreek.Dit is mi die tragedie van die Kodesaonderhandelinge, want die skikking was tussen politieke partye en nie tussen die verskillende bevolkingsgroepe nie.

Dit was duidelik die doelwit van die ANC om alle volkere en hul kultuur uit te wis om ‘n sg nuwe nasie te stig, ongeag van wat in die slag bly.Omdat die NP regering,Apartheid en Afrikaner gelyk gestel is en die grootste struikelblok in die pad van die doelwit was, het dit die grootste teiken geword.

Ag hoe dom was die onderhandellaars nie en hoe word die Christelike lewenswyse nie vermoor nie, want hoe kan jy God se seen vra oor verrigtinge (ANC-kongres) en terselfdertyd die ondergang van ‘n volk beplan?

Solank die Afrikaner nie ‘n eie soewereine grondgebied besit nie,sal alles mi pypdrome bly,onderdane van en in ‘n staat met muishond status.

Stephan de S ·

Jerry jy het n plig om vir ons te verduidelik hoe Afrikaners …of enige ander kultuurgroep…vrede en harmonie kan bereik met alle Suid Afrikaners. As jy so n resep het vir so n diverse samelewing het ons ook die oplossing vir die wêreld. Praat asb oor jou praktiese insigte……..ek bedoel dit opreg.

Flippie ·

Hiermee kan my vereenselwig. Waneer kom ons bymekaar om ‘n oplossing, nie vir die land nie, maar vir die Afrikaner wat Afrikaner wil bly.

Petrus ·

Goeie uiteensetting van die dilemma waarin Afrikaners hulself bevind. Die artikel ontvou aanvanklik logies, maar die laaste sin pas eenvoudig nie in nie.

Dit is inderdaad so dat Afrikaners nuut en skeppende oplossings moet vind, maar dan is die voorstel wat in daardie laaste sin gemaak word, ironies genoeg, dat ons maar net moet aanhou met wat duidelik nie ‘n volhoubare oplossing is nie.

Deur oë toe te knyp en te bou sonder om eers te verseker daar daar ‘n beskermde omgewing is waarin gebou kan word is dalk edel, maar sonder twyfel nie meer realisties in die Suid-Afrika van vandag nie. Ons bou net sodat dit wat gebou word gevat of vernietig kan word.

Alhoewel ingewikkeld en moeilik, moet ons nuut en skeppend begin dink oor territoriale selfbeskikking vir Afrikaners waar ‘n eie grondwet, regstelsel, polisie en verdedigingsmag tot stand gebring kan word. Solank as wat ons balasting moet betaal aan diegene wat ons wil vernietig sal ons jongmense aanhou om in hul tienduisende na die buiteland te stroom – en dit is wat ons ondergang sal wees.

Ons kan nie meer bekostig om te byt aan hulle aas dat ons met so iets probeer teruggryp na apartheid nie. Apartheid is, in terme van wereldgebeure, “ancient history”. Kom oor dit!

Afrikaners kan baat by ‘n Trump-mentaliteit in die sin van om vir eens te kies wat die beste is vir Afrikaners, maak nie saak wat die ander dink of se nie!

Fanie ·

Petrus, en jou praktiese plan om dit te bewerkstellig is? My punt is, die Selfbeskikking-praters kan nou al vir 30 jaar nie met ‘n uitvoerende plan vorendag kom, maar hou aan praat oor die beginsel asof dit vanself werklikheid gaan word, en skiet alle ander praktiese planne af. Orania staan, niks keer julle om Orania te help groei nie, maar praat is skynbaar makliker.

Anton ·

Die Afrikaanssprekende mense in hierdie land kan die uitdagings van hierdie tyd alleen oorkom deur ontwrikbare geloof en lewe in ons Here Jesus Christus. Lees die geskiedenis en jy sal vind dat die geloof in die Here deurgans die sterkste kenmerk was van ons voorvaders. Eerlike nugtere ontleding van die toestand van die Afrikaanse oftewel Afrikaners van vandag skilder n lelike prentjie. Waar en hoe lewe ons gelowiges? Gaàn kyk maar hoe lewe die meerderheid Afrikaner kinders. Waar kom ons saam as Afrikaners? Ek praat nie van “kunstefeeste” nie. Sekerlik nie by die kerk nie! En indien wel is ons so hoogmoedig ons kan nie eers ons eie skoene sien nie! Die Duitsers, Grieke, Portugese, Italianers het klubs in die land waaraan hulle behoort en na mekaar omsien solank jy die taal praat ongeag jou kleur. Waar is die Afrikaanse klubs? Waar is ons jongmense betrokke? Die Voortrekkers was n grap en nie n klub nie. Dit gaan nie van enigeen anders as die Afrikaner afhang of die taal en die lewenswyse oorleef nie. Die Afrikaner moet weer leer om God die Vader eerste te stel dan sal Hy ons gebede aanhoor. Doen eers die Here se Wil en als sal daarna volg.

Anton ·

Pres. Paul Kruger sit op die stoep van sy huis in Pretoria toe n geoloog aan hom kom rapporteer oor die ontdekking van die goud by Witwatersrand. Die geoloog begin verduidelik hoe die goudrif gevorm het met die aarde se bestaan toe oom Paul hom onderbreek en vir mev. Kruger in die huis roep “Mammie kom ontmoet die man wat hier was toe die Here die aarde geskape het”! – van “With Both Armies in South Africa” deur Richard Harding Davis – Amerikaanse oorlog korrespondent van daardie tyd.

Jerry ·

Ek ondersteun jou kommentaar 100% Anton. As die Afrikaner God regtig eerste stel sal hy vrede en harmonie met mede Afrikaners en andere eerste stel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.