Die einde van die ramptoestand? Moenie glo nie!

Deur Reiner Duvenage

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake. (Foto: Siya Duda/ GCIS)

Ná die dreigement van regsoptrede deur AfriForum en ander organisasies, het die regering ʼn ommeswaai gemaak met sy voorneme om die ramptoestand verder te verleng.

Dit het gekom ná minister Nkosazana Dlamini-Zuma se aankondiging dat die regering die ramptoestand teen 5 April 2022 gaan ophef. Dit word egter al hoe duideliker dat dit ʼn poging is om die agterbakse taktiek van die regering, om vas te klou aan die ongebreidelde mag wat tydens die Covid-19-pandemie kragtens die Wet op Rampbestuur (57 van 2002) aan hom verleen is, te versluier.

Twyfel oor die regering se ware bedoeling het onmiddellik kommer laat ontstaan toe ʼn aantal voorgestelde wysigings aan regulasies ingevolge die Wet op Nasionale Gesondheid (61 van 2003) en die Wet op die Internasionale Gesondheidsregulasies (28 van 1974) tussen 15 en 23 Maart 2022 gepubliseer is.

Die nuwe gesondheidsregulasies beteken in werklikheid dat die meeste van die Covid-19-beperkings tydelik in plek sal bly, selfs ná die beëindiging van die ramptoestand op 5 April. Hierdie regulasies sal dan permanent in werking tree sodra die wysigings aan die regulasies ingevolge die Wet op Nasionale Gesondheid van krag word. Die publikasie van die aangepaste vlak 1-regulasies op 22 Maart 2022 en die beëindiging van die ramptoestand, wat oënskynlik ʼn geleidelike verslapping van Covid-19-beperkings en ʼn beweging na lewe ná die pandemie sou aandui, is dus ʼn blote rookskerm om Covid-19-maatreëls in permanente wetgewing om te skakel.

Die voorgestelde regulasies behels dat die bestuur van die Covid-19-pandemie onder die minister van gesondheid sal val en nie onder die minister van samewerkende regering en tradisionele sake soos in die Wet op Rampbestuur bepaal word nie. Ingevolge die voorgestelde regulasie (15A) van die regulasies wat op 15 Maart gepubliseer is, mag iemand ten opsigte van wie daar bevestig is of wat vermoedelik ʼn “aanmeldbare mediese toestand” opgedoen het of mense wat in aanraking was met ʼn draer van ʼn aanmeldbare mediese toestand, nie weier om die volgende te doen nie (eie vertaling):

(i)        ʼn mediese ondersoek te ondergaan, insluitende, maar nie beperk nie tot, die neem van enige liggaamsmonster wat by wet gemagtig is;

(ii)       in ʼn gesondheidsinrigting, kwarantyn- of afsonderingsperseel opgeneem te word; of

(iii)      onderwerp te word aan verpligte profilakse, behandeling, afsondering of kwarantyn ten einde oordrag te voorkom.”

Dit is kommerwekkend dat die voorgestelde regulasies voorts onder meer voorsiening maak vir verpligte gesigsmaskers vir binnenshuise byeenkomste en toegang tot openbare persele en openbare vervoer; steeds hoogstens 100 mense by begrafnisse; ʼn beperking op binnenshuise en buitenshuise byeenkomste tot onderskeidelik 1 000 en 2 000 mense, asook ʼn beperking op groter byeenkomste tot 50% van die kapasiteit, met inentingsertifikate verpligtend vir toegang.

Dit is egter duidelik dat dié gesondheidsregulasies geen regsgronde het om op te staan nie. Die regulasies skend klaarblyklik die grondwetlike reg op beskerming van liggaamlike en fisiese integriteit, aangesien dit vir gedwonge kwarantyn en behandeling voorsiening maak. Die feit dat daar nie duidelikheid oor die omskrywing van “aanmeldbare mediese toestand” is nie, en dat die regering hierdie toestande arbitrêr kan verander, skep ook regsonsekerheid. Benewens hierdie argumente is die regulasies “ultra vires”, met ander woorde buite die bestek en doel van die wetgewing, want dit was nooit die bedoeling van die wetgewer, toe die Wet op Nasionale Gesondheid en die Wet op die Internasionale Gesondheidsregulasies verorden is, dat hierdie wette gebruik kon word om sulke verreikende regulasies uit te vaardig nie.

Verskeie van die voorgestelde regulasies is trouens ʼn herhaling van vorige regulasies wat tydens die ramptoestand toegepas is en sedertdien deur die howe verwyder of ter syde gestel is. Dit is dus duidelik dat die regulasies nie net vaag en onseker is nie, maar ook irrasioneel en onwettig.

Teen hierdie agtergrond toon die voorgestelde gesondheidsregulasies, sonder die minste twyfel, dat die regering onwillig is om afstand te doen van die magte wat kragtens die Wet op Rampbestuur aan hom verleen is. Op ʼn positiewe noot het die regering se agterbakse taktiek om hierdie wetgewing te verorden egter geboemerang, want dit het die publiek en die burgerlike samelewing laat saamstaan om standpunt daarteen in te neem.

  • Reiner Duvenage is ’n veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

MT ·

Die werklike ramp wat Suid-Afrika getref het, het reeds in 1994 plaasgevind, en die omvang daarvan, sal nooit kan bepaal word nie.

Jacob ·

Agterbaksheid van regeringsamptenare van ‘n spesifieke departement het ontsaglike skade aan die bedryf waarin ek al vir meer as 30 jaar werk, gedoen. Internasionale beleggers het onttrek en alhoewel ek dit nie met sekerheid kan bevestig nie, is daar ‘n geskatte verlies van R 3.8 miljard per jaar aan buitelandse valuta wat Suid Afrika in 2017 – 2021 die proses verloor het. Dit het gelei tot hofsake teen die departement en sy werknemers en wat duidelik geraak het is dat werknemers van die staat hulleself afvee aan die reg, die regsproses uitrek en vertraag en kostes die hoogte in jaag. Hulle gee nie om of hulle die sake verloor nie, want die belastingbetaler betaal.

Ek dink dat dit tyd geraak het dat die burgers van die land aandring daarop dat indivdue in die staatsdiens die regskostes van sake wat ontstaan uit hulle belaglikheid en nalatigheid, dra. Dit hoort ‘n mate van verantwoordelikheid te bring.

Dries ·

So beweeg hulle al hoe nader aan volkome kommunistiese staat. Die eind doel

miche ·

Die nuwe regulasies bepaal dat as jy self Covid het of in aanraking was met ‘n draer daarvan( of enige ander aansteeklike siekte), jy nie mag weier om onderwerp te word aan verpligte profilakse, behandeling, afsondering of kwarantyn. So die “profilakse” verwys seker na verpligte Covid-inenting?
(Paragraaf iii het betrekking).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.