Die einde van die Tweede Wêreldoorlog 75 jaar gelede

Foto: (AP Photo/Markus Schreiber)

Op 8 Mei 1945 het die Tweede Wêreldoorlog finaal en amptelik tot ’n einde gekom. Die opperbevelvoerder van die Duitse weermag, generaal Wilhelm Keitel, het die dokument vir onvoorwaardelike oorgawe in die Sowjetse militêre hoofkantoor in Berlyn-Karlshorst in die teenwoordigheid van die opperbevelvoerders van die Geallieerde magte van VSA, Sowjetunie, Brittanje en Frankryk onderteken.

In praktyk was die oorlog in groot dele van Duitsland, veral in die Weste, reeds aan die begin van 1945 verby. Ná die selfmoord van Adolf Hitler in die Führerbunker (bomskuiling) van die Neue Reichskanzlei in Berlyn op 30 April 1945 was die einde van die Duitse Ryk in elk geval ʼn uitgemaakte saak. Dit was soos ʼn mens wat deur die kop geskiet is en wie se liggaam net nog stuiptrekkings uitvoer.

Foto: (AP Photo/Markus Schreiber)

Hitler se opvolger, admiraal Karl Dönitz en die vlootstaf het reeds op 5 en 6 Mei met die drie Westerse Geallieerdes in hul hoofkantoor in Reims, Frankryk, onderhandel en die gedeeltelike kapitulasie aangebied, met die hoop dat hulle die Duitsers sou gebruik om die Sowjetse opmars te stuit.

Die Geallieerdes wou hulle egter nie laat verdeel nie en het aangedring op ʼn algehele kapitulasie wat ’n dag later onderteken is deur die operasionele hoof van die weermag, generaal Alfred Jodl. Omdat die Sowjetse opperbevelvoerder, generaal Georgy Zhukov, egter nie teenwoordig was nie en in Berlyn by die Sowjetse militêre hoofkantoor was, is die kapitulasie op 8 Mei nog ʼn keer daar onderteken.

Foto: (AP Photo/Markus Schreiber)

Voor die kapitulasie was groot dele van Duitsland reeds beset. Om Berlyn is egter verwoed geveg. Teen daardie tyd is nie meer vir ʼn gewaande Endsieg (finale oorwinning) geveg nie, maar om die Sowjetse opmars te vertraag sodat so veel as moontlik mense na die Weste kon vlug en hulle aan die Westerse Geallieerdes kon oorgee, wat hulle, anders as die Sowjetse soldate, meer menslik behandel het. Op die Seelow Hoogtes by die Oderrivier is die laaste groot veldslag van 16 tot 19 April 1945 gevoer om die toegang na Berlyn te keer. Nagenoeg een miljoen soldate van die Rooileër het sowat 180 000 Duitse soldate wat probeer keer het, aangeval en ná drie dae verbrysel. Aangevul deur nog Sowjetse troepe (uiteindelik 2,5 miljoen), is die verowering van Berlyn net daarna begin. Die geveg om die hoofstad het twee weke geduur en is uiters verwoed, letterlik straatblok vir straatblok en met ontsettende verliese aan beide kante, gevoer. Op 2 Mei, twee dae ná Hitler se dood en met sy aangewese opvolger Dönitz in die laaste onbesette gebiede in Noord-Duitsland en ver van Berlyn, het die stadskommandant Helmuth Weidling die oorgawe van Berlyn onderhandel.

Foto: (AP Photo/Markus Schreiber)

Die Dag van Bevryding op 8 Mei was vanjaar vir die eerste keer ʼn openbare vakansiedag in Berlyn. In veral Berlyn en die Ooste van Duitsland (wat destyds ook die dele oos van die Oderrivier, wat vandag deel van Pole en van Rusland is, ingesluit het) was die kapitulasie egter geen bevryding nie. Dit was wel die einde van die verskriklike nasionaal-sosialistiese bewind en van ’n bloedige oorlog, maar dit was ook die begin van die kommunistiese onderdrukking van die oostelike helfte van Duitsland en van Europa. Die Sowjetse soldate het op massiewe skaal vroue (selfs meisies) verkrag, ten spyte van die streng verbod deur die Sowjetse militêre leierskap. Uit die oostelike dele is mense wreed verdryf en derduisende het so omgekom; baie ander het in Sowjetse gevangenskap weens mishandeling en ondervoeding gesterf. Daar was ook grootskaalse plunderings en feitlik alles wat nog bruikbaar was, is verwyder en as kompensasie na die Sowjetunie verskeep.

Foto: (AP Photo/Markus Schreiber)

Die nasionale psige van Duitsland het die Tweede Wêreldoorlog en alles wat daarmee gepaardgaan nog lank nie verwerk nie. Ná 75 jaar is die meeste wat dit nog bewustelik beleef het, egter dood en die “onlangse verlede” is nou geskiedenis.

Dit sal en moet altyd onthou word, maar behoort nie soos wat dit in die huidige Duitsland die geval is, die gruwels wat ná die oorlog gevolg het, asook misdade van die Geallieerdes, te ontken en ignoreer nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

minnie muis ·

en meeste van ons wit afikaane het ook deel geneem en gesterf, en tog se president dat daar nie plek is vir ons nie…. maxisme op sy ergste vorm ….. wonder maar net

koos10 ·

Het Hitler werklik selfmoord geplaag? Was hy werklik dood?

Frans ·

As jy ooit die geleentheid het om dit te kyk-kyk die program Hunting Hitler.Die netwerk wat die Nazis daar gestel het om talle hoogeplaaste offisiere uit Europa te smokkel en elders,veral Suid Amerika te hervestig is verstommend.

Jack ·

Geskiedenis word geskryf deur die oorwinnaars. Die oorwinnaars stel hulle altyd voor as die “goeie” en “regverdiges” voor terwyl die vyand die “wreedaardige boosaards” voorgestel word. In der waarheid is daar gewoonlik min verskil as dit by wreedheid en boosaardigheid kom.

Afrikaners is grotendeels deel van die anglofiliese wereld en is gebreinspoel deur die betrokke wereldbeskouing. Ons is ook die slagoffers van daardieselfde wereld beskouing. Vra jouself af indien ‘n engelssprekende regering na 1948 ‘n beleid van separate development sou ingestel het of die aanslag teen die blankes dan net so fel sou gewees het. Die skynheiligheid van ander statebondslanede ten opsigte van diskriminasie op grond van ras gepleeg het was skreiend.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.