Die einde van eiendomsreg in Suid-Afrika?

AfriSake_Infographic (Small)Deur Stefan Pieterse

Een swaeltjie maak nie ʼn somer nie, maar waar ʼn rokie trek, is daar gewoonlik ʼn vuurtjie. Hierdie gesegde is wel beide kante toe waar, maar het die nagenoeg 8,6 miljoen swart en 1,1 miljoen wit huiseienaars werklik rede om te vrees hul eiendom kan onteien word, of is hul vrese ongegrond? Meer spesifiek: Staan die wetsontwerp op onteiening in isolasie, of is daar ander wette en hofuitsprake wat reeds privaat eiendomsreg in Suid-Afrika aftakel? Indien wel, hoe word dit gedoen?

AfriSake het vyf onlangse wette/ontwikkelings in die reg oor die laaste drie jaar bestudeer om die algemene tendens van eiendomsreg in Suid-Afrika te bepaal. (Lesers moet asseblief kennis neem daar is tans meer as ʼn dosyn verwikkelinge, wat ongelukkig weens lengtebeperking nie almal bespreek kan word nie.)

  1. Wetsontwerp op Onteiening (B4B-2015)

Huidige status: Is in Maart 2016 aan die Nasionale Raad van Provinsies vir goedkeuring voorgelê.

Gevare: ʼn Wye verskeidenheid staatsorgane kan enige eiendom onteien solank dit in openbare belang iis of ʼn openbare doel het. Die breë definisie van eiendom word aanvaar en eienaars sal hul bates op eie koste moet beskerm. Onteiening kan voor betaling plaasvind. Markwaarde van eiendom is slegs een van vyf faktore wat gebruik word om eiendom se waarde te bepaal.

  1. Uitspraak van die Konstitusionele Hof in Agri South Africa v Minister of Minerals and Energy, 2013 (CCT 51/12)

Huidige status: Uitspraak is op 18 April 2013 deur die hoogste hof in Suid-Afrika (Konstitusionele Hof) gelewer. Hierdie uitspraak is bindend op elke ander hof in die land.

Gevare: Die hof het bevind dat ontneming deur die staat, anders as onteiening, nie vergoeding deur die staat vereis nie, omdat die staat bloot as sogenaamde “bewaarder” optree en nie as nuwe eienaar nie. Die staat kan hierdie kaart dus meer gereeld in die toekoms speel.

  1. Wet op die Beskerming van Beleggings, 2015 (Wet 22 van 2015)

Huidige status: Bekragtig op 15 Desember 2015.

Gevare: Staatsregulering word vergroot. Die wet is nie onderworpe aan die algemeen internasionale praktyk van billike en regverdige vergoeding nie. Die effek hiervan is dat buitelandse beleggers eerder (en met goeie rede) veiliger beleggingsgeleenthede buite Suid-Afrika soek.

  1. Wet op Eiendomswaardasies, 2014 (Wet 17 van 2014)

Huidige status: Bekragtig op 1 Julie 2014.

Gevare: Die doel van die wet is om ʼn waardeerder-generaal in die lewe te roep om waardasiedienste aan die staat te lewer om die tempo van grondhervorming te versnel. Die onafhanklikheid van die persoon kan betwis word omdat hy/sy deur die staat aangestel en betaal word.

  1. Wysigingswet op die Herstel van Grondregte, 2014 (Wet 15 van 2014)

Huidige status: Bekragtig op 1 Julie 2014.

Gevare: Die sperdatum waarbinne eise ingestel moet word, word herhaaldelik uitgestel, wat toenemende onsekerheid oor eiendomsreg uitbrei. Die huidige afsnydatum is 30 Junie 2019.

Hierdie wette sluit mekaar nie uit nie, maar ondersteun mekaar en moet saam met die regerende party se Nasionale Ontwikkelingsplan en verskeie ander wette/wetsontwerpe gelees word. Dan is dit eers duidelik die nuwe onteieningswetsontwerp is nie ʼn verlore swaeltjie nie, maar deel vorm van ʼn groot swerm.

Dalk somer vir die staat, maar winter vir die res van Suid-Afrika.

  • Stefan Pieterse is die nasionale woordvoerder van AfriSake.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Theresa ·

Ek snak na my asem. Hard en lank gewerk vir die klein, maar gerieflike plekkie wat ek besit. Kan al die eiendomsbesitters dit net laat verbygaan, of hoe moet ons maak?????

stefan pieterse ·

Hi Theresa ons is nie sonder oplossings nie. In stede sal jy nie ook sommer van jou Eiendom onteieningswet word. Kontak my gerus dan vertel ek jou meer van ons aksieplan

danie ·

Ek dink die artikel is bietjie gevaarlik, sekerlik goed bedoel maar gevaarlik. Veral buite konteks gelees.

Filipe ·

Danie, hoekom sê jy so? Dis bekend dat in Afrika word eiendomsreg anders gesien as in die Weste. Die besit van grond deur individue word nie ondersteun nie. Die ANC het dieselfde siening. Hierdie opsommings, en opinies van baie van ons politisi, weerspieël dit. Dit is so dat jy dit wetiglik kan beveg en miskien “ok” sal wees; maar hoekom die kans vat? Behalwe vir jou primêre woning, dink mooi om ander eiendom te besit as beleggings vir die toekoms, die risiko is eenvoudig te hoog. Daar is ander net so goed maar veilige bates daarvoor, inkluis buitelandse bates.

Koos Visagie ·

Ag almal weet teen hierdie tyd al, die 8.6miljoen se eiendom is baie veilig. Hulle het niks om te vrees nie. Die ons, die ander 1.1miljoen, wat gaan probleme hê binnekort.

Johannes ·

Wat bedoel jy “nader aan ‘n tweede Zim”?

Ons IS lankal ‘n tweede Zim!

Johan ·

Johannes. Ek verstaan jou frustrasie. Maar jou opmerking bly voortydig. Ons is nog nie by Zimbabwe nie. Jy maak soos die ou wat aangeval word en deur negatiwiteit jou aanvaller vooruit gaan en jouself in sy swaard laat val…
Ek sal maar veg tot hy met moeite sy swaard in my insit… Net dalk verhoor my Here Jesus my gebede voor dit gebeur…

Henry ·

Johannes jy is in die kol, ons is laaankal ‘n 2de Zim. Daarom het die groot korporasies reeds jarrrre gelede ge-disinvesteer, hul geld gevat en landuit getrek.
Verstommend hoe mense steeds in ‘n staat van ontkenning leef en wil glo dat alles eintlik hunky dory is. Dat alles sal regkom wanneer Zupta eendag van die toneel af verdwyn…

Lynni ·

Henry, ek wens ek kon jou kommentaar copy en hou vir latere datum. As Zupta, soos jy hul noem, verdwyn gaan die man wat met die naam Zupta begin het oorneem. En dan gaan ons onteiening sien. (Ons speel so reg in sy hande).

Nico Janse van Rensburg ·

Wat het geword van mense se regte? Kan ons nie die U.N. betrek nie?

“Article 17 – Universal Declaration of Human Rights
1.) Everyone has the right to own property alone as well as in association with others.
2.) No one shall be arbitrarily deprived of his property.”

Frans C ·

Aldie wetgewing het uiteindelik net een doel en dit is om die ideale vervat in die Vryheidsmanifes te verwesentlik.

Estelle ·

Ek verstaan nie n woord..help. Beteken dit dat hulle oms huise kan vat soos met wit boere in Zim…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.