Die einde van ʼn era is ook die geboorte van ʼn nuwe tydperk

Die Suid-Afrikaanse vlag hang halfmas voor die Uniegeboue (Foto: Phill Magakoe / AFP)

Lank gelede is daar met ʼn koning se dood uitgeroep: “Die Koning is dood, lank leef die nuwe Koning!”. Die bedoeling daarmee was om aan te dui dat die koningshuis standhoudend was, al wissel die konings.

Tog het die dood van ʼn koning gereeld tot die einde van ʼn bepaalde era en die opkoms van ʼn nuwe era gelei. So was die onlangse dood van die Britse koningin sprekend van die Verenigde Koninkryk se oorgang vanaf ʼn wêreldmoondheid, toe sy die troon bestyg het, na ʼn gewone middelslagland met haar afsterwe.

In die moderne tyd dui die verandering van staatshoofde nie op gelyklopende veranderings in ʼn land se politieke stelsel nie, omdat die demokratiese bedeling juis bevestig word met die verkiesing van ʼn nuwe premier. Hier is die soomlose wisselings in premiers wat Brittanje die afgelope tyd gehad het, ook ʼn goeie voorbeeld van ʼn bedeling wat voortgaan al verander die regeerder.

Suid-Afrika is egter nie ʼn normale demokrasie, met ʼn seepgladde bedeling, wat gladweg kan voortgaan al wissel die leierskap nie. Mnr. Mbeki se vervanging deur mnr. Jacob Zuma in 2007 het byvoorbeeld ʼn era van ongekende agteruitgang, grootskaalse korrupsie en wydverspreide staatsverval ingelui.

Hoewel die aanwysing van mnr. Ramaphosa as sy opvolger in sekere kringe met groot verwagting gepaard gegaan het, wys die rekord dat hy nie die leierskap gehad het om die toestand te verbeter nie.

Sy powere rekord is nie net daaraan te wyte dat hy ʼn swak leier was nie. Dit is eerder ʼn bevestiging dat die land se probleme veel dieper as sy leier lê. Hoewel die ANC hulself onomwonde as ʼn onbevoegde en korrupte regering bewys het, het Suid-Afrika nie net ʼn regeringsprobleem nie, maar ʼn bedelingsprobleem.

Die land is geografies en demografies heeltemal te uiteenlopend om as ʼn eenheidstaat regeer te word. Die ANC se strategie voor 1994 was om die land onregeerbaar te maak. Die afgelope dertig jaar het gewys dat die land as eenheidstaat inderdaad onregeerbaar is. Dit is nie verbasend as in ag geneem word dat Suid-Afrika groter as agt Europese lande is nie, en bevolkingsgewys selfs nog meer uiteenlopend as hulle is.

Daarom dui die magdom data oor die verdiepende krisisse in die land nie net op die komende einde van die regering nie, maar ook op die naderende einde van die post-1994-bedeling wat as die nuwe Suid-Afrika bekend gestaan het.

Afrikaners kan nie op die kantlyn staan en die ondergaan van die huidige bedeling en die ontstaan van ʼn nuwe een aan bewese onbevoegde politici van die ANC en EFF oorlaat nie. Ons sal met skeppende energie, vindingryke planne en sterk gemeenskapsorganisasies daadwerklik ʼn toekoms moet bou waar Afrikaners blywend vry, veilig en voorspoedig kan voortbestaan.

Die ou Suid-Afrika gaan nie terugkom nie, die nuwe Suid-Afrika kan nie werk nie, en ons sal aan ʼn ander Suid-Afrika moet bou. Ons kinders verdien beter as wat nou in die land aangaan.

  • Hierdie nuuskommentaar is deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks net na 20:00 Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Harley Davidson ·

Ek het begin glo ek is verkeerd om so te dink nou skryf ‘n baie prominente leier in die gemeenskap presies dit maar praat dink en skryf is goed maar nou moet daar gedoen word.

Republikein in die Wes Kaap ·

Suid Afrika is ‘n mensgemaakte mengelmoes wat reeds in 1910 gedoem was tot mislukking. Snaaks genoeg, die Engelse in Natal het dit toe al besef en was teen die Unie. Vir dekades veg ons teen swaartekrag om alles bymekaar te hou. In 1994 het alles finaal uitmekaar gespat. Daar bestaan nie ‘n “een land” nie. Dis net ‘n konsep wat magsbehepte politici al vir dekades versprei, want hulle word daardeur bevoordeel. Dis inderdaad bykans onmoontlik om die land te bestuur. Dis geografies net te groot en die mense net te divers. Vergeet van federalisme. Laat streke wat wil wegbreek en onafhanklik word toe om dit te doen. Begin by die Wes Kaap, al is net sekere distrikte. Ons het reeds strukture in plek op grondvlak. Kaapstad kan selfs ‘n stad-staat word. Wie weet, dalk is selfs die ANC oop vir nuwe idees.

Manie ·

Indien die Wes-Kaap wil wegbreek, moet dit volgens my in geheel gedoen word, die totale provinsie. As ons nou die bus mis, is daar nie weer opklim geleentheid nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Dit sal eerste prys wees. Maar die geplakkery op die Kaapse vlaktes kan sake beduiwel. Theewaterskloof word ‘n nagmerrie en die Tuinroete begin plek-plek knak.

annie ·

Skies, ek was veronderstel om saam te stem soos Afrikaners moet en saam terugtrek om nou soos soet dom kinders uiteindelik te luister vir Brittanje en onder ons egte base te dien. Ons Afrikaanses wat die lieflike taal te danke het aan Kaapse intellek moet nou gedienstige onderdane wees om ‘n plekkie te verdien op die Kaapse. ‘n Klein stukkie van die Vlakte is reg. Ons het reeds ‘n lyer, skies ‘n leier. Pak op mense en trek!

Republikein in die Wes Kaap ·

Goeiste nee, annie! Jy en jou ondersteuners bly net waar julle is! Daar is geen rede vir julle om af te trek nie. Ontspan. Wees rustig. Die osse in jou agterplaas kan rustig aftree. Jou toekoms buite die Kaap is veilig. Terloops, die leierskap moet nog verkies word. En ek is nie beskikbaar nie.

annie ·

Van wanneer af skryf Trekkers aan ander voor. Destyds was daar baie trekgroep noord wat nie een die ander kon verduur nie. Lyk my die suurbloed loop steeds dik. Dié som gaan ons nou anders doen as ons voorsate en dink voor ons doen, maar ek beloof ons en ons kinders wil die trek oorleef en sal nie smeek en duur betaal vir staanplek nie. Dingaan en Herrie se spoke loop. Hugenoot-nasate kom nie van nêrens nie en beoog ook nie om sommer êrens te gaan plak nie. Ons Vader is goed met planne. Ons steun op Hom.

capie ·

Onafhanklikheid moet so gou as moontlik in die Weskaap gebeur, voor SA verkiesings in die Zimbabwe styl kry. Zim verkiesings in SA is baie naby.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die ANC sal nie mag maklik afstaan nie. Kaapse onafhanklikheid sal waarskynlik ‘n inkrementele proses wees met deurbrake en terugslae. Maar dit kan uiteindlik voordelig wees vir die ANC in die binneland.

Antie Sarie ·

Suid Afrika sal nooit weer n goue era he nie. Nie terwyl enige van die huidige moontlikhede regeer nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Al neem wie ook al oor, Suid Afrika se goue era is permanent verby.

annie ·

Hoekom? Terug in die Kaapse gaan ons al die agtergelatenes ondersteun om tot grootse hoogtes te klouer tot op ons se skouers. Ons bou weer ‘n Babel, bo-op Tafelberg om stene te spaar vir huise op die Vlakte vir al die verontregtiges. Ons ou Babeltjie sal die Vader sekerlik oorsien. Sjoe, Hy weet seker darem van al die Kaapse sufferings.

Republikein in die Wes Kaap ·

Annie, jy praat nou in vreemde tale wat ek nie verstaan nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Te oordeel aan die gebrekkige kommentaar en geen gesonde debat nie wil dit voorkom asof die lesers nie juis omgee wat gebeur nie. Dalk is ons reeds op die planke.

annie ·

Nee, ons beplan net nie ons Trek holderstebolder nie. Destyds het bloed rooi teen die wawiele droog gewaai. Taktiese optrede ná goeie beplanning en baie Bid sonder wilde woeste gehaas, is ons motto. Dom was nog nooit slim nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Annie, skryf tog in Afrikaans dat ek kan verstaan. Selfs Google kan nie help nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.