Die einde van ʼn onwerklike heilsleer en die begin van ʼn werklike plan

SAvlagDie tekens is onmiskenbaar duidelik dat ons die laaste fase van die era van ophemeling van die grondwet bereik het. “Ophemeling” is toevallig ʼn gepaste term want die boodskap oor die voortreflike grondwet het inderdaad ʼn bykans evangeliese – ʼn verlossende – karakter aangeneem. Dit was ʼn heilsleer. Dit is ingelui met die slotrede tot die tussentydse grondwet wat verklaar het dat die grondwet ʼn brug is van ʼn bose en verwoestende verlede na ʼn stralende nuwe toekoms.

Die grondwet is in hierdie verlossende terme voorgehou in weerwil van die feit dat dit nie ʼn behoorlike ewewig tussen die meerderheid en die minderhede, met inbegrip van die Afrikaners, bewerkstellig het nie en die minderhede sodoende in ʼn treffend kwesbare posisie teenoor die meerderheid geplaas het – ʼn situasie wat kragtens die basiese uitgangspunte van konstitusionalisme onhoudbaar is. Volgens die verlossende grondwetlike boodskap was magte en bevoegdhede vir minderhede egter heeltemal oorbodig, want het die boodskap gelui, die oppermagtige grondwet se verskanste regte waarborg alle denkbare belange. Dit sorg dat niemand, meer bepaald geen regering, sy mag tot die nadeel van enigiemand sal misbruik nie. Dit doen die grondwet deur sy verskanste remme en teenwigte en sy onafhanklike instellings. Bowendien is die grondwet onaantasbaar, stabiel en teen verandering gevrywaar. Dit is oppermagtig. Luister na die geloofsversterkende taal: “verskans, gewaarborg, oppermagtig”. Twyfel in en bevraagtekening van en bowenal teenspraak teen dié blye boodskap was nie moontlik nie en waar dit voorgekom het, is dit met die oplegging van blywende stilswye begroet – ʼn paslike straf vir dié soort parmantige kettery.

In die Afrikaanse wêreld was die hoofverkondigers van die grondwetlike heilsleer ʼn korps oud-politici wat prominent by die onderhandeling van die grondwet betrokke was en wat wyd in die Afrikaanse media ondersteun is. Staatsverval en die regering se onverdraagsame totalitêre politiek teen die minderhede het egter intussen grootskaalse ontnugtering meegebring. Daarmee saam het die eertydse vertroue in die grondwet grootliks verdwyn.

Benewens ander dinge getuig Solidariteit se krisisberaad van 5 Mei – waarskynlik ʼn historiese datum – ook van die verdwyning van die geloof in die grondwet. Ten minste onder Afrikaners. Ja, ons sal oordeelkundig, opbouend en gematig te werk gaan om ook die ruimtes wat die grondwet tog bied te benut en natuurlik sal ons streng binne die reg optree, redeneer Flip Buys kenmerkend besadigd en verstandig. In die proses, beklemtoon Buys, moet Afrikaners self doen, self verantwoordelikheid aanvaar en binne perke selfstandigheid verwerf. Dis hoe die vervallende staat en die regering se versmorende totalitêre ideologie oorkom sal word.

Nadat die grondwet so lank as Plan A voorgehou is, tree selfsorg nou prominent as Plan B op die voorgrond. Dis hier waar ons moet afskeid neem van die grondwetlike evangelie want dit was ten slotte ʼn ongegronde heilsleer. Die grondwet – geen grondwet – was nog ooit werklik hierdie bykans volkome oppermagtige kuur vir ons moeilikheid en waarborg vir ons belange nie.  Die ongegronde heilsleer-boodskap was myns insiens juis besonder skadelik omdat dit ʼn ongegronde gerusheid gewek het. Dit het ʼn realistiesde peiling van die kwesbare situasie waarin minderhede vanuit die staanspoor verkeer het, gekortwiek en het gevolglik selfstandige politieke handeling ontmoedig, verdag gemaak en vertraag. Die grondwet was nooit regtig die volkome Plan A nie. Vir sover daar wel ʼn plan is, ʼn werklike Plan A is, dit geleë in selfdoen en selfstandigheid. Ons eie geskiedenis het dit herhaaldelik bewys. Daarbenewens betaam dit ook elke selfrespekterende gemeenskap om deur selfstandige handeling na sy eie belange om te sien.

Die probleem lê derhalwe nie by die feit dat daar 25 jaar gelede begin is om ʼn nuwe grondwetlike orde te onderhandel nie. Dit moes gebeur. Daar kon wel beter onderhandel word, maar die destydse blanke minderheidsbewind was moreel en polities uitgedien. Die probleem lê elders: by die valse grondwetlike heilsleer wat daarná so meedoënloos met soveel skadelike gerusstellende gevolge verkondig is. Daardeur is die ernstige leemtes in die grondwetlike orde verdoesel, kritiek daarteen onderdruk en selfstandige handeling verdag gemaak. Die grondwetlike orde wat ons gekry het, het inderdaad wesenlike swakhede.

Ek noem drie.

Verskanste remme en teenwigte

Die remme en teenwigte (“checks and balances”) is inherent gebrekkig en ondoeltreffend. Die teenwigte wat die oorheersende ANC moet probeer balanseer is hoofsaaklik die howe, die regtelike dienskommissie en die sogenaamde hoofstuk 9-instellings. Ten slotte het die ANC-leierskap egter seggenskap oor die aanstellings in hierdie liggame, met die gevolg dat hulle noodwendig dikwels neig om gespesialiseerde vertakkings van die ANC self te wees, veral wanneer polities gevoelige kwessies en die ANC en sy leierskap ter sprake kom. Gegewe die grondwet se eie bepalings was dit uit die staanspoor voorsienbaar. Die praktyk het dit intussen bewys. In plaas van teenwigte of remme is die instellings dikwels eerder fasiliteerders en versnellers.

Die parlement as die wetgewende gesag, so is verklaar, was nóg ʼn teenwig. Dit moes kontrole oor die uitvoerende gesag uitoefen. Hier het ʼn sonderlinge stukkie goedgelowigheid homself voorgedoen aangesien daar geglo is dat die ANC se parlementslede, onder die beheer van koukusdissipline en die dissipline van die gesentraliseerde nasionale uitvoerende komitee van die ANC-leierskap die kabinet tot orde sou roep. Die praktyk het die ongegrondheid van hierdie oortuiging intussen beslissend bewys.

Gewaarborgde regte

Die grondwet waarborg al ons regte, het die heilsleer verklaar. Die grondwet bevat inderdaad ʼn omvattende katalogus van regte. Dit beteken egter nie dat die belange wat die regte probeer beskerm, daadwerklik gewaarborg is nie. Die uitoefening van hierdie regte vereis eerstens ʼn funksionerende staat, die instandhouding van infrastruktuur, die voorsiening van elektrisiteit en dies meer. Daarsonder is die regte dooie letters en moet jy elders probeer geholpe raak.

Maar daar is ʼn tweede moeilikheid, een wat die grondwetlike heilsleer nie verreken het nie. Dit is dat grondwetlike regte nie vanself spreek nie. Die regte beteken ten slotte wat die gesaghebbende vertolkers daarvan sê dit beteken, en dié vertolkers bestaan grootliks uit mense uit die ANC denkwêreld, waar hulle ook al mag wees, ook in die staatsdiens, die hoofstuk 9-instellings en die howe. Dis hulle wat oor vertolkingsgesag beskik en dus bepaal wat jou regte eintlik beteken. Vra maar vir Renate Barnard oor gelykheid, waardigheid en regstellende aksie en vra maar vir AgriSA oor mineraalregte. Wat die verkondigers van die heilsleer nooit begryp het nie, is dat die huidige maghebbers juis ook oor vertolkingsgesag beskik. Jyself kan nie beslissend vertolk wat jou regte behels nie.

Oppermagtig en stabiel

Die heilsleer het verkondig dat die grondwet oppermagtig is en daarmee saam dat die bestel wat dit tot stand bring, stabiel en seker is. Dis ook ʼn wanopvatting. Die bewoording van die grondwet bly dalk dieselfde maar die konstitusie – die daadwerklike konstitusionele praktyk, wat selfs drasties van die grondwetlike teks mag verskil – is voortdurend aan die verander. Dit verander in pas met die dominante kragte van die politiek. So het transformasie en representiwiteit deurslaggewende grondwetlike beginsels geword. So het die Suid-Afrikaanse staat ʼn Engelse staat geword. So het kaderontplooiing die beslissende beginsel in die staatsdiens en die “onafhanklike instelling” van die grondwet geword en so kan ons aangaan. Die “oppermagtige” grondwet het geen verweer hierteen nie en van verskanste grondwetlike bepalings is daar nouliks sprake. Natuurlik sê die ietwat steriele grondwetlike teorie dat hierdie goed nie mag gebeur nie, maar die teorie is ʼn normatiewe teorie, wat dikwels wêreldvreemd is en deur die praktyk oorweldig word.

Terug op die brug

Een en twintig jaar ná die grondwetlike oorgang – nadat ons op die brug van die bose verlede na die blink toekoms gestaan het, is ons weer op terug op die brug en moet ons weer ʼn plan maak – redelik dringend om die waarheid te sê. Maar moet tog nie werklik terug op die brug wees en weer op dieselfde misleidende en skadelike heilsleer terugval nie. Wat die afgelope twee dekades ons moes geleer het, is dat die Afrikanergemeenskap soos wat die Solidariteit Beweging reeds geruime tyd gelede begin doen het, homself ook in ʼn gedugte krag moet omskep. Die vermoë wat latent in die gemeenskap opgesluit lê moet gekonsentreer en gekanaliseer word ten einde toenemend in staat te wees tot selfsorg en selfstandigheid. Alleen daarin lê die werklike verskansing van belange en die waarborg teen vergrype.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Koos Malan

Meer oor die skrywer: Koos Malan

Koos Malan is professor in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria. Hy is onder andere die outeur van "Politokrasie – ʼn peiling van die dwanglogika van die territoriale staat en gedagtes vir ʼn antwoord daarop" wat pas by die regsuitgewers van die Universiteit van Pretoria verskyn het.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Herman Toerien ·

My gedagte is dat begin word by politieke sosioloë om die behoeftes van ‘n grondwet in ‘n heterogene staat te formuleer. Uiteindelik skryf die staatsregslui die grondwet met die politieke wetenskaplikes wat soort van wydsbeen oor die proses staan. My ervaring was dat die ganse proses juridies gekaap is (ek is self in staatsreg gekwalifiseer). Trouens, ek is taamlik oortuig, want ek het die kabinet se opdragte aan die NP en regering se onderhandelaars gesien omdat ek self die VS se administrateur se insette vir Kodesa opgestel het. Die opdragte was sterk geskoei op die bevindings van die staatkundige komitee van die presidentsraad se 1990-verslag. Die uitslag was egter iets heel anders.
Voorts meen ek dat die opstellers gans te veel staatsregkonsepte van al die betrokke partye voorsien het, soos konvensie. Waar Switswerland se grondwet baie op konvensie staatmaak (dit is dus nie gekodifiseer nie soos die termyne van staatshoofde) moet hier dan eintlik skriftelik in die grondwet staan die “in ‘n mate” politieke aanstellings gooi nie die deure vir die beleid van kaderontplooiing oop nie.
Die waarskuwing moes al vroeg hard gelui het toe Pansat bevind het die regering is self die grootste oortreders van die grondwet met tale. Maar dan het ‘n mens ‘n sterk media nodig wat die erns besef van die staat wat sy stert aan die grondwet afvee, en alarm maak tot die saak of opgelos word, of soos Nkandla bly dryf word. Nou moet die burgerlike instellings (ook belangrik in ‘n grondwetlike bedeling) baie van die drukwerk doen wat eintlik tipies by die media hoort (insluitend die SAUK wat as openbare uitsaaier nie veronderstel is om His Master’s Voice te wees nie, maar die geskorste / ongeskorste hoof openlik verklaar die SAUK is deel van die regering).
Ons kan nie die horlosie terugdraai nie, maar moet nou werk wat ter hand is. Dit sal net baie help as die mense betrokke by die onderhandelingsbrouwerk erken dat verbrou is, sodat daar nie nog ‘n sleureffek is van naïewe Afrikaners wat meen die grondwet is die beste ter wêreld omdat die SAUK self so sê nie.

Een wereld regering grondwet ·

Die ANC is ‘n front organisasie van die Internasionale senrale bank kartel wat ‘n een wêreld regering voorstaan. Die uitwissing van blankes is ook op die agenda, want hulle soek nie individualisme nie.

chris ·

My opinie.
Die grondwet en meeste wette daarin kan deur ‘n 2/3 meerderheid verander word, dws sou enige wet wat goed “onderhandel” was in die 90’s en nou onder vuur kom,is daar geen waarborg vir die aanhou bestaan van so wet nie.Dink maar net sou die ANC en EFF saamstem oor so wet, is dit wet vandag.Hierdie is ‘n aanname en ek sal bly wees as iemand my kan reghelp indien dit foutief is.(ek weet nie wat die vereistes is om die”sterkste” wet te verander nie)

Die prof skryf van die bose verlede.Dit is dinge soos die wat my so bietjie omkrap want sien nou moet aanvaar word dat die verlede net boos was of tenminste boser as nou.Dit is nie waar nie.Dat baie dinge egter verkeerd was is nie te betwyfel nie.
As bewys sal ek se dat die meeste Afrikaners nou vir ‘n tuisland sal stem waar die ANC regering miljoene rand jaarliks voor betaal om ons op te hef net soos in die ou bedeling gedoen was.Dit sluit nou skole hospitale en Universiteite in waar ons kinders kan leer in hul eie taal van laerskool tot nagraads.
Daar is slegs een manier om vrede te bewaar na my mening en dit is deur ‘n federale of soortgelyke stelsel waar meer homogene mense saamleef en oor hulle eie lot beslis terwyl gesamentlike belange saam bestuur word.Gaan kyk na die konflikte wereldwyd, behalwe vir die VSA se arrogante inmenging waar hulle geld kan maak is bykans al die ander konflikte juis tussen nasies,volkere , ras en taal.Ons hier is glad nie besonders of ‘n uitsondering nie.
Hierdie reenboog slaaibak werk nie en gaan nie werk nie maak nie saak hoe graag baie dit wil sien werk nie.Die bewyse le die hele wereld oor.

Gerhard ·

Dit bly vir my verstommend dat so baie destyds gevál het vir die deursigtige leuen dat ‘n bedingde grondwet hul heil sou bewerkstellig. ‘ n Grondwet is papier. Afrika het ‘n bewese rekord daarvan dat hy hom afvee aan papier. Dit is ook bewese dat die geskiedenis hom herhaal. Op watter grondslag móóntlik kon die kiesers vir FW, Roelf en Leon glo? Dít gaan steeds my beperkte verstandelike vermoëns te bowe.

andrea van vuren ·

Dit steeds my verstand te bowe dat ons handjievol standvastige wit belatingbetalende burgers van die staat onderworpe is aan kommentare soos die van Beeld wat duidelik toon waar sy prioriteite lê. Dink maar terug an die PUK-kwessie waar die koerant stelselmatig gehelp het om die enigste Afrikaanse bastion af te breek. Sê maar net.

res publica ·

Koos, iets wat ek mis in jou uitstekende klaaglied oor ons veronderstelde messiaanse grondwet is die beginsel van republikeinisme. Beide die aanhef en Artikel 1 van die Grondewet dui aan dat Suid-Afrika ‘n republiek is. Wikipedia omskryf ‘n republiek as volg (ek vertaal): “Republiek (Latyn: res publica) is ‘n regeringsvorm waar die gesag berus in verkose individue wat die burgery verteenwoordig en regeringsleiers voer mag uit op grond van die beginsel van oppergesag van die reg. In modern tye word die definisie van ‘n republiek beperk tot ‘n regering wat ‘n monarg uitsluit.”
My vraag is dit: kan ons Suid-Afrika werklik ‘n republiek noem indien, (1) die bestaan en befondsing van koningshuise in die grondwet ingeskryf en toegepas word; (2) die president sy kabinet en die parlement soos ondergeskiktes, a la ‘n monargie, hanteer en die land regeer asof hy aan geen ander gesag, wat nog die grondwet, verantwoording moet doen nie. Dit herinner baie sterk aan die beginsel van die goddelike mag van konings (divine right of kings) wat geheers het in die middeleeue.
Ek sal graag jou publiekregtelike mening hieroor wil hoor.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.