Die ekumeniese verhouding tussen die NGK en die GKSA

kruisDie bydrae is geskryf deur prof. Dries du Plooy, Bestuurder: Internasionale Skakeling van die Fakulteit Teologie by die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus. Dit handel oor die memorandum van die ekumeniese verhouding tussen die GKSA en die NG Kerk.

Die Algemene Sinode van die GKSA van Januarie 2015 het ‘n memorandum goedgekeur wat handel oor die ekumeniese verhouding tussen die NGK en die GKSA. Dit is met groot dankbaarheid en eenstemmigheid deur die Sinode goedgekeur. Sowel prof Nelus Niemand en dr Cobus Gerber wat teenwoordig was namens die NGK, het hulle besondere waardering vir die besluit uitgespreek en dit bestempel as ‘n noodsaaklike en vreugdevolle stap vorentoe, veral omdat die Kerke (besonderlik die Kerke wat op dieselfde reformatoriese grondslag staan) mekaar nodig het en sodoende ook ‘n groter impak mag hê in ons samelewing en in ons gemeenskaplike ekumeniese verantwoordelikhede.

Die kerklike gesprek tussen die NGK en die GKSA (asook die NHK) is iets met ‘n lang geskiedenis waarin verskillende fases onderskei kan word. Die eerste sodanige gesprekke oor die moontlikheid van groter eenheid, oftewel die herstel van die geskeidenheid het reeds in die 19e eeu, na die totstandkoming van die NHK in 1853 en die GKSA in 1859 plaasgevind. Die eerste en tweede Vryheidsoorloë waarby die twee republieke van die Vrystaat en Transvaal teen Groot Brittanje betrokke was, het as gevolg van die sterk nasionale eenheid in die land ook bygedra tot ‘n intensifering van die gesprekke. Tot die helfte van die 20e eeu het die gesprek groter gestruktureerdheid begin toon, en was die komitee wat die gesprek namens die sogenaamde drie Afrikaanse Kerke gevoer het, bekend as die Interkerklike Kommissie.  In die tydperk 1958-1967 het al drie Kerke besluit om met groot erns aandag te gee aan die vraag: wat hou die drie Kerke uitmekaar? Dan moet dit broederlik onder oë gesien word, en die roeping is om ‘n einde te probeer bring aan die sondige geskeidenheid wat tussen die Kerke bestaan, aangesien al drie op dieselfde geloofs- en belydenisgrondslag staan, in een  land saamwoon, en dieselfde taal praat.

Hierdie besluit het aanleiding gegee tot konstruktiewe en indringende gesprekke. Daar is aanvanklik aan twee terreine aandag gegee: eerstens leerstellige sake, dit wil sê sake en standpunte wat direk met die belydenisskrifte (Drie Formuliere van Eenheid)  en/of die gesag en interpretasie daarvan te doen het (sterk gefokus op die gesag van die Woord van God), en tweedens kerkregtelike sake (dit is sake en aspekte wat met die wyse van kerkregering en die praktiese inrgting van die eredienste en bedieningswyse in die kerke te doen het).

In hierdie tydperk was die gesamentlike kommissie bekend as die Tussenkerklike Kommissie van die drie Afrikaanse Kerke. Dit het teen die einde van die 20e eeu ook ‘n sterker en vaster struktuur begin kry waarna die naam weer aangepas is tot die Tussenkerklike Raad. Met die  aanbreek van die nuwe Suid-Afrika en met die wisseling van die eeu was daar ‘n toenemende besef van die dringendheid om behalwe gesprekvoering ook meer aandag te gee aan ‘n meer aktiewe en praktiese wyse van samewerking op terreine wat die Kerke gemeenskaplik het.

Die gebruik was dat die Kerke (en in ‘n stadium was die APK as waarnemers betrek by die gesprek) nie net al drie gesamentlik praat oor die saak van eenheid en verdeeldheid nie, maar is daar dikwels ook bilaterale gesprekke gehou waar twee van die drie Kerke sonder die teenwoordigheid van die derde indringend gesels het oor sake wat veral net van toepassing was op die twee besondere Kerke. Sulke gesprekke is soms ook met die APK gevoer.

In die tydperk tussen 2009 en 2012 het die NGK en die GKSA in die bilaterale verhouding saamgestem dat die vrug van die samesprekings van die verlede,  gevestigde samewerking op baie terreine,  die roeping om een te wees in geloof en dade, om  die eenheid in Christus te laat konkretiseer en meer sigbaar te maak, asook die feit dat ons ‘n gemeenskaplike en gesamentlike verantwoordelikheid het om God se Kerk en Koninkryk in ons samelewing beter te dien en uit te bou, ons voor die geleentheid stel om dit vas te lê in ‘n memorandum waarin die geloofseenheid en die effek en praktyk daarvan verwoord word.

Die NGK het hierdie memorandum so aanvaar, en die GKSA se Algemene Sinode van 2012 het geoordeel dat, aangesien die Sinode te min tyd gehad het om alle noukeurig te bestudeer, dit eers met die volgende Sinode in 2015 finaal behandel en afgehandel sal word.

Die memorandum formuleer baie duidelik wat die geloofseenheid behels en wat dit in die praktyk beteken. Plaaslike kerke (gemeentes) van die NGK en die GKSA is grootliks daarvoor verantwoordelik om binne die raamwerk van hierdie ooreenkoms/memorandum mekaar as medegeloofsgenote te aanvaar, saam te lewe en dinge saam te doen. Die NGK en die GKSA is hiermee nog nie een Kerk nie, maar erken en respekteer mekaar op ‘n besondere wyse, soos blyk uit die memorandum. Omdat hierdie memorandum of ooreenkoms so belangrik is haal ek dit volledig aan:


 

MEMORANDUM VAN

EKUMENIESE VERHOUDING TUSSEN

DIE GEREFORMEERDE KERKE IN SUID-AFRIKA

EN

DIE NEDERDUITSE GEREFORMEERDE KERK

 

Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) en die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) erken mekaar as Gereformeerde Kerke. Ons doen dit op grond van die feit dat die leer in ons kerke volgens die Woord van God soos opgeteken in die Heilige Skrif is en tot uitdrukking kom in ons gemeenskaplike belydenisgrondslag:

1.1 Die drie ekumeniese geloofsbelydenisse, naamlik die Apostolicum, Nicea en Athanasius waarin ons ons verbintenis aan die een, heilige, algemene en apostoliese kerk uitdruk, en

1.2 Die Drie Formuliere van Eenheid, naamlik die Heidelbergse Kategismus, Nederlandse Geloofsbelydenis en Dordtse Leerreëls waarin ons ons verbintenis met die Gereformeerde tradisie uitdruk.

Daar bestaan dus ‘n diep geloofseenheid tussen ons twee kerkverbande.

2. Ons erken ons Reformatoriese herkoms, ons gemeenskaplike geskiedenis tot 1859, die skeiding van ons weë daarna asook die volgehoue soeke en gesprekke oor baie dekades rakende die Bybelse eis aan ons ten opsigte van een wees van ons kerke. Aangesien die kerk van Jesus Christus die liggaam van Christus is, is ons geroep om die eenheid in Christus te laat realiseer en nie by ‘n geskeidenheid te berus nie. Daarom behoort ons, gegewe ons gemeenskaplike belydenis en geskiedenis, steeds te streef om ook sigbaar en konkreet een in Christus te word.

Hoewel hierdie eenheid nog nie volledig, genoegsaam sigbaar en struktureel gerealiseer het nie, is ons geroepe om dit wat reeds bestaan,   verdere gestalte te gee. As kerkverbande groei ons saam met mekaar in die volheid van Christus en is ons net in staat om sáám met mekaar die breedte, lengte, hoogte en diepte van die liefde van Christus te begryp.

In hierdie verband wil ons graag stel:

a. Ons glo dat ons Hemelse Vader, vir Wie ons afgesonder is en deur Wie ons leef, ons op die pad van kerklike eenheid lei en dat sy Naam deur uitdrukking van eenheid verheerlik word;

b. Ons besef dat kerklike eenheid nie iets is wat ons in eie krag kan bewerk nie, maar dat dit as kosbare gawe uit die versoeningswerk van die Seun voortvloei. Alleen in sy krag kan ons ook die opdrag om die eenheid steeds meer te soek en te laat realiseer, gehoorsaam;

c. Ons stel ons gewillig onder leiding van die Heilige Gees. Dit is die Gees alleen wat ons in die volle waarheid van sy Woord lei en daarom ook in die rykdom van eenheid wat die Vader vir ons deur sy Seun ontsluit het;

d. Ons verbind ons tot ‘n groeiende verhouding, asook gesprekke oor en soeke na ‘n verdere vergestalting van eenheid.

e. Ons onderneem om binne die raamwerk van die Gereformeerde belydenis en kerkregering met mekaar en ook onderling binne een kerkverband verskille wat die belydenis in gedrang kan bring, aan te spreek.

f. Die aanvaarding van nuwe belydenisskrifte bring nie die ekumeniese verhouding noodwendig in gedrang nie.

g. Die soeke na eenheid binne die GKSA en die NGK met betrekking tot ons onderskeie families van kerke, word erken en ondersteun. Ons onderneem om mekaar se besluite hieroor te respekteer, mekaar te akkommodeer, en om mekaar te betrek by verdere ontwikkelinge en besluite in hierdie verband.

3. Hoewel ons met verskille tussen ons kerke worstel, werk ons biddend daaraan om tot volle ekumeniese verhoudinge en uiteindelike eenheid te kom. Intussen leef ons daadwerklik saam met mekaar en fokus ons daarop om die bestaande terreine van samewerking te bestendig, te verdiep en te verbreed sodat die eenheid wat reeds bestaan meer sigbaar kan word. Hierdie eenheid word tans en in die toekoms sigbaar deur samewerking op die volgende terreine:

3.1 Wedersydse afvaardiging van twee lede met spreekstem na mekaar se onderskeie algemene sinodale vergaderings;

3.2 Gesamentlike getuienis – waar moontlik – teenoor owerheid en gemeenskap;

3.3 Samewerking in die Kommissie vir Buitelandse Bediening en bediening van mekaar se lidmate sonder om te verwag dat lidmaatskap opgegee word;

3.4 Gesamentlike deelname aan Bybelvertaling by die Bybelgenootskap van Suid-Afrika;

3.5 Gesamentlike deelname aan die hervertaling van die belydenisskrifte;

3.6 Gesamentlike gesprekvoering – waar nodig – oor belydenisvorming;

3.7 Gesamentlike studie oor formuliere in die twee kerkverbande;

3.8 Gesamentlike gesprekvoering oor die liturgie in die twee kerkverbande asook voortgesette samewerking met die hersiening en ontginning van nuwe liedere;

3.9 Gesamentlike studie oor etiese kwessies;

3.10 Gesamentlike betrokkenheid by onderwyskwessies;

3.11 Koördinering van die twee kerkverbande se barmhartigheidswerk wat gesamentlik op gemeenskaplike terreine gedoen word;

3.12 Samewerking by die Parlementêre Lessenaar ten einde sinvol by die wetgewende proses betrokke te wees;

3.13 Gesamentlike betrokkenheid in die werksaamhede van die Tussenkerklike Raad (TKR) en die Conventus van Reformatoriese Kerke;

3.14 Kontinue gesprek oor Gereformeerde teologiese opleiding in die Suider-Afrikaanse konteks asook samewerking en ondersteuning in die verband;

3.15 Gesamentlike soeke na effektiewer wyses om saam by plaaslike en internasionale ekumene betrokke te wees.

Bogenoemde terreine van samewerking kan van tyd tot tyd aangevul en / of gewysig word.

4. Die konkretisering van eenheid word nie beperk tot bogenoemde samewerking nie. Indien plaaslike kerke geleenthede sien om daadwerklik saam met mekaar te leef en daar sodanige herkenning plaasvind, kan – volgens gebruike en besluite van die onderskeie kerkverbande – die volgende gebeur:

4.1 Die aanvaarding van mekaar se lidmate op grond van goeie getuienis van Kerkrade (attestate);

4.2 Belydende lidmate kan hulle kinders onderling ten doop bring volgens die gebruik en onderhewig aan die goedkeuring van beide Kerkrade;

4.3 Volle tafelgemeenskap vir belydende lidmate op grond van goeie getuienis oor leer en lewe;

4.4 Toegang tot mekaar se kansels deur leraars met bedieningsbevoegdheid onder toesig van die Kerkraad;

4.5 Gesamentlike eredienste vind plaas soos en wanneer Kerkrade dit nodig ag.

Met hierdie Memorandum bely ons saam op grond van die Skrif en ons belydenis die eenheid en katolisiteit van die Liggaam van Christus, die kerk van ons Here Jesus Christus. Ons doen dit “… sodat die wêreld kan glo…” (Joh 17:21).


Ek self wat vir baie jare betrokke was by hierdie gesprekke en saamgewerk het aan die memorandum met die oog op Algemene Sinode van 2012, is besonder dankbaar vir hierdie besluit. Mag dit inderdaad tot eer van God , tot seën van sy kerk en koninkryk en tot die welsyn van ons land en ons samelewing wees.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
JB Marais

Boesak se Belhar gaan julle nog byt……eers die Broederbond in beheer en nou die die kommuniste in die VGK en NGKA……….nou dat ek daaraan dink – een en dieselfde ding!!

Andries du Plessis

Miskien word ’n paar NGs nou tot die GK bekeer. Sal nie ’n slegte ding wees nie.

Burger

Om te dink al die ingewikkelde teologiese redenasies en verskille het te doen met n God wat gekenmerk word aan eenvoud “sodat kinders dit kan verstaan”nederigheid , barmhartigheid , liefde , wedergeborenheid , vrymaking. Regtig moeilik om dit by God te bring. Hierdie outoriteit oor mens sal moet stop en begin by heling van die mens . Die instelling gaan nie hemel toe nie , al dink sommige so. Waarmee hulle besig is laat my net dink aan die besigheidswereld . As jou doel is om redding en gevolglike finansiele stabiliteit in jou besigheid te bewerkstelling ten dan kyk jy… Lees meer »