Die era van ‘doublespeak’ het aangebreek

Deur Werner Human

(Argieffoto: Rapitse Montsho/Flickr)

In George Orwell se befaamde boek 1984 skets hy ʼn distopiese wêreld waarin die totalitêre staat van Big Brother alle aspekte van die burgers van Oceania se lewens met ʼn ystervuis beheer.

Orwell het meesterlik die ware oogmerke van revolusionêre bewegings ten toon gestel deur die teenstrydighede van die bedoeling van Big Brother – die groot staat wat maar net in die beste belang van burgers regeer – en die eintlike oogmerk, naamlik om mag oor mense te behou deur te bepaal wat hulle dink, wat hulle lees, wat hulle sê, en selfs wat hulle doen.

Daarom is die Ministerie van Waarheid ingestel om toesig oor mense te hou deur geheime agente regoor Oceania te versprei om mense te volg, af te luister en te indoktrineer om alleenlik vir Big Brother – die groot staat – op ʼn religieuse wyse aan te hang.

Maar wat as mense vir hulself wil dink, of nie saamstem met dit wat Big Brother almal voer nie, of Big Brother selfs wil uitdaag? Wel, dan is dit die taak van die Ministerie van Liefde, die bloeddorstige polisiemag van Big Brother, om mense te ontvoer, te martel en selfs te vermoor.

Aan die een kant is daar die beheer oor inligting en kommunikasie wat mense se denke besoedel, en aan die ander kant militêre magte om hulle moordlustig te dwing om te doen soos Big Brother wil hê.

ʼn Mens kan ʼn boek oor die boek 1984 skryf. Orwell bied diep insigte oor die neigings wat totalitêre state, en selfs totalitêr-wordende state, volg.

Daar is een middel wat Big Brother doeltreffend gebruik het, wat die ANC slaafs navolg. Dit is wat Orwell noem doublethink. Dubbelspraak (doublespeak) wat voortvloei uit doublethink is die doelbewuste poging om die betekenis van woorde te verdraai sodat dit pas by die boodskap wat die spreker wil oordra.

Dit kom kortliks neer op ʼn growwe verdraaiing van die werklikheid en die waarheid.

In die boek 1984 is daar talle voorbeelde waar Big Brother dubbelspraak beoefen. Byvoorbeeld, regoor Oceania pronk die slagspreuke: “Oorlog is vrede”, “vryheid is slawerny” en “onkunde is krag”. En die bekende “2+2=5”.

Nog voorbeelde van dubbelspraak is waar die Oceania-bevolking in armoede en hongersnood gedompel is, waar die Ministerie van Waarheid kliphard op die luidsprekers aankondig dat die rantsoene vir kos, klere en drinkgoed aan die toeneem is, en dat Big Brother hierdie mylpale bereik omdat die staat vir sy mense sorg. Dit terwyl daar minder en minder is om te eet.

Daar kan aangevoer word dat die ANC slégs dubbelspraak beoefen. Wanneer laas het hulle ʼn tikkie waarheid geuiter?

Die afgelope week het die ANC se dubbelspraak tot sy uiterste gestrek.

Ons moes uit monde van pres. Ramaphosa hoor, met verwysing na die tragiese brand in ʼn gebou in Johannesburg, dat apartheid blameer moet word vir die tekort aan stadsbeplanners, ingenieurs en finansiële bestuurders. Dit terwyl daar in 1994 werkende dorpe en stede met bekwame en professionele personeel was. Die waarheid is egter dat die ANC vaardighede vernietig het deur bevoegde amptenare op ʼn streep weg te jaag.

Lindiwe Zulu, die minister van maatskaplike ontwikkeling, meen apartheid moet die blaam dra vir die brand in Johannesburg wat tot die dood van 76 mense gelei het. Dit terwyl die ANC vir minstens agt jaar geweet het van die probleme by dié gebou en ander geboue, en niks gedoen het nie.

Dan is daar ander ministers wat ook nie op hulle laat wag om op die blaam-wa te spring nie.

Daar is Sindisiwe Chikunga, die minister van vervoer, wat apartheid vir die verval van spoordienste blameer terwyl daar vanjaar 46 miljoen minder treinritte as tien jaar gelede was. Verder het Transnet in die vorige finansiële jaar ʼn verlies van R5,6 miljard aangeteken.

Dit is alles volkome onder die ANC-regering.

Met verwysing na die swak toestand van munisipaliteite het Thembi Nkadimeng, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, die “bose apartheidstelsel” vir swak dienslewering blameer. Dit terwyl die ouditeur-generaal swak dienslewering toeskryf aan die tekort aan vaardighede, die mislukking van die regering, en die afwesigheid van aanspreeklikheid in plaaslike regering.

Daar is nog talle voorbeelde wat gelys kan word wat die ANC deurlopend aanvoer. Byvoorbeeld, dat dit as ʼn prestasie beskou word dat meer as ʼn derde van die bevolking afhanklik is van staatstoelaes, dat apartheid die blaam moet dra vir die swak gehalte van onderwys in die land, dat die werkloosheidkoers so hoog is, en dat die ekonomie so swak vaar. Tog meen Ramaphosa oor die naweek dat die glas “meer as halfvol” is.

Dubbelspraak in sy uiterste vorm.

Waarom sal die ANC so blatant die waarheid wil verdraai? ʼn Ooglopende rede is natuurlik die nasionale verkiesing in 2024. Maar Orwell bied nog ʼn verdere insig op die vraag.

In ʼn aangrypende gedeelte van die boek waar die protagonis, Winston Smith, reguit met ʼn Big Brother-amptenaar praat nadat hy deur die Ministerie van Liefde gearresteer is, vra Smith: “Ek verstaan hoe julle mag behou, maar ek weet nie hoekom nie.” Die Big Brother-amptenaar antwoord kort en kragtig, en sonder die aanvoer van dubbelspraak: “Dit is eenvoudig. Mag is nie die middel nie, maar die doel. Die oogmerk van mag is mag.”

En dit is uiteindelik die kernbestaansrede van die ANC – om mag te bekom, te behou en uit te brei, en om in die proses hulself te verryk op die rug van die burgers, en veral die armste en behoeftigste mense.

Die era van dubbelspraak is in volle swang, en terwyl die ANC meedoënloos werk om ʼn Oceania te vestig, is daar positiewe tekens dat die burgery self en op ʼn verskeidenheid van wyses organiseer om ʼn nuwe werklikheid te bou.

Die betekenis en dryfkrag van die “Ons Sal Self”-slagspreuk is die beste teenvoeter teen die dubbelspraak wat ten doel het om mense te paai en in gelid agter die vervallende staat te probeer hou.

  • Werner Human is die operasionele hoof van die Solidariteit Beweging.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Heinrich ·

Maar alles is apartheid se skuld; hoe het hulle gedurf funksionele dienslewering en beplanning in plek stel terwyl ‘n kommunistiese “bevrydingsorganisasie” nooit sulke waardes kan volhou nie…

OW ·

Uitstekende skrywe.Min Motsoaledi ry ook die apartheids perd.Volgens hom is die grensposte ontwikkel vir veiligheid en die handel is buite rekening gelaat wat grense so swak maak,tydens die vorige bedeling.Hierdie is ‘n politieke cliché,want die regering weet die 2024 verkiesing lê voor.

Chris ·

Ek stem 100% saam met die persone wat apartheid die skuld gee oor die verval van alles. Die apartheid regime (bevolking) het die standaard van beskaafdheid, orde en ontwikkeling gans te hoog gestel. Die standaard sal nooit weer gehandhaaf kan word nie. Wanneer jy aan ‘n minderwardigheidskomplek lei blameer jy alles en nog wat vir jou onbekwaamheid. Wanneer jy ook aanhoudend lieg, lieg jy jouself naderhand in ‘n hoek vas. Wanneer jy egter die waarheid praat hoef jy nie eers te dink voordat jy praat nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.