Nou begin die ernstige deel van die Curriebeker.
Die manne is van die kaf geskei en dit raak nou warm vir almal, veral die afrigters. Dis ongelukkig hoe dit werk. Die afrigters word gemeet aan die eindstryd en nie die goeie werk wat deur die jaar gedoen is nie.
As ons na verlede week Vrydagaand se wedstryd tussen die Sharks en die Griekwas kyk, dan is dit duidelik dat die Griekwas deur ʼn beter span geklop is.
Die Sharks het die Griekwas in ʼn wurggreep geplaas en nooit weer laat los nie. Griekwas verdien lof vir die feit dat hulle die kleinste Unie in die Curriebeker is en nie heel laaste op die punteleer geëindig het nie.
Daar is met groot verwagting uitgesien na die wedstryd op Nuweland tussen die Cheethas en die WP. Ook hier het die WP met redelike gemak gewen. Dit het toe beteken dat daar tot na die wedstryd op Coca-Colapark gewag moes word om te sien wie laaste sal eindig.
Die WP het eenvoudig te veel skietgoed vir die Cheetahs gehad. Die hegte verdediging het ook meegehelp dat die Vrystaters nie met hulle flambojante speelstyl die WP onder druk kon plaas nie.
Die beste wedstryd is vir laaste gebêre.
Die spanning was voelbaar toe die twee spanne opdraf. Alhoewel die Leeus reeds vir ʼn tuis halfeindstryd gekwalifiseer het en van hulle senior spelers laat rus het, was dit geensins maklik vir die Bulle nie. Tien minute na halftyd was die telling gelykop met 29 punte elk.
In daardie stadium het die Bulle, met ses Springbokke nuut in hulle geledere, die oorhand begin kry.
Dan was die Leeus ook hulle eie grootste vyand met vinnige ingooie en klap van balle wat die geleentheid vir die Bulle gebied het om dit uit te buit. Die eindtelling dui op ʼn klinkende oorwinning vir die Bulle, maar so maklik was dit ook nie. Of dit goed genoeg is om die Haaie in die haaitenk te gaan versuip, moet nog gesien word.
Die Haaie speel goeie rugby op hulle tuisveld en die Bulle sal op hulle beste moet wees as hulle hond haaraf wil maak. Die ander halfeindstryd is net so moeilik om te voorspel, maar ek sal die Leeus net, net die voordeel van die tuisveld gee.
Die Blitsbokke het gisteroggend ʼn gulde geleentheid om die eerste kompetisiewenners van die sewes-toernooi te wees, deur die vingers laat glip met ʼn swak vertoning teen Fiji in die semi-finaal.
Hulle beklee nou die derde plek met ʼn goeie, gemaklike oorwinning oor Kenya in die uitspeelwedstryd om die derde plek.
Rugbygroete uit die Bosveld.